'n Kort Geskiedenis
Gedurende 1857 is besluit om die dorpsgebied van
Oudtshoorn nader aan die Grobbelaarsrivier te verskuif. Die plaas
Hartebeesrivier is aan die gemeente geskenk vir die bou van die nuwe kerkgebou.
Omdat die oorspronklike argitek, George Wallis, se planne misverstaan is en die
fondse ontbreek het, staak die bouery aan die kerkgebou in 1863. Eers gedurende
1876 is Otto Hager as nuwe argitek aangewys. Die opbloei van die volstruisbedryf en
meegaande fondse help mee dat die bouery na ± 13 jaar weer hervat kon word.
Uiteindelik word die kerkgebou in 1879 voltooi.
Skotse klipkappers is spesiaal
ingevoer om die kerk se klipstene te kap en het na 1879 op Oudtshoorn aangebly
om ook ander sandsteengeboue op te rig. Die besondere sagte sandsteen leen hom
tot fyn graveerwerk soos sigbaar teen die pragtige preekstoel. Die engele is in
Skotland gemaak, nadat twee foto's van plaaslike boerenooiens aan die beeldhouers
verskaf is - sodat die engele nie soos Europese meisies moet lyk nie! Op die
gewels van die kerk is ses gargoyles aangebring. Die huidige orrel se orrelfront
bestaan uit 'n Skandinawiese geelhoutpaneel met 73 statige sierpype en huisves
ook die oorspronklike speeltafel en blaasbalk wat dateer uit 1899.
Die
grondlegger van die gemeente was ds T.J. van der Riet wat op 3 Mei 1857 hier
begin arbei het onder die 1 403 lidmate. Toe hy in Desember 1879 uittree, was hy
dus byna 'n kwarteeu lank in diens van die gemeente. Die tweede leraar, ds G.W.
Stegmann (1880 - 1891) is opgevolg deur ds George Murray (seun van die bekende
ds Andrew Murray) (1892 -1911) wat ook saam met sy vrou en 16 kinders die eerste
inwoners was van die pastorie wat in Mei 1882 voltooi is.
Albei hierdie geboue is tans Nasionale Gedenkwaardighede.
Nadat die ou CJV gedurende 1881 gestig is,
het die behoefte aan 'n geskikte vergaderplek mettertyd ontstaan. In 1895 is die
bekende CJV-saal agter die kerkgebou teen 'n bedrag van £1 000 opgerig. Met
verloop van jare het hierdie saal as kerksaal begin diens doen. 'n Verdere
geskiedkundige gebou is die Drilsaal. Die Drilsaal se hoeksteen is in 1892 deur
Cecil John Rhodes gelê. Die saal is gebruik om jong manne te leer dril, en na
die oorlog is dit as die kultuursaal vir danse en konserte gebruik. In 1962 koop
die gemeente die saal as kerksaal vir die bedrag van £7 000.
Mag hierdie brokkie
uit die ryke geskiedenis van Oudtshoorn Moedergemeente aan die leser toon dat
die Here, aan wie alles behoort, en van wie die gemeente in alles afhanklik is,
deur die jare vanaf 1853 Sy hand getrou oor ons gehou het. Aan Hom alle dank en
eer! Tans bestaan die gemeente uit 930 volwasse lidmate en 217 kinders.
Die
gemeente word bedien deur ds Gerrit van Schalkwyk en ds Schalk Kotzé.
Vir enige
verdere inligting, kan u vir Lisa van Schalkwyk skakel by (044) 279-1751. Source: NG Moedergemeente Article Date: 7 July 2004
|