Bewareas in die Groot Karoo
kan die oewerkonyn red!
'n Bewarea is 'n area wat
volgens 'n vrywillige ooreenkoms tussen grondeienaars of grond-gebruikers
gevestig word om die omgewing te bestuur. Dit is 'n nasionale strategie
waarvolgens bewaringsdoelwitte bereik word deur samewerking en toewyding.
Die
oewerkonyn is die mees bedreigde soogdier in Suid-Afrika. Hierdie
blaarvretende nagdier se habitat is beperk tot diep toegeslikte beddens van
seisoenale riviere in die Karoo - en kom nerens elders in die wereld voor nie.
Die oewerkonyn word gewoonlik nie ouer as drie jaar nie en ongeveer vier
kleintjies word gedurende hul leeftyd gebore.
Die vernietiging en fragmentering
van sy habitat hou groot gevaar in vir die toekoms van hierdie uiters skaars
konyn. Gunsteling kos soos die rivierganna word verwyder om plek te maak vir
gesaaides. Hul natuurlike habitat val nie binne die bestek van enige formeel
beskermde area nie.
Die oorlewing van hierdie spesie is afhanklik
van die grondeienaars wat aan 'n netwerk van bewareas deelneem om die
oorblywende habitats te bewaar en 'n uitgebreide oewerkonynbewaringsgebied te
vorm.
'N NETWERK VAN BEWAREAS SAL VERSEKER DAT:
- ekosisteme, soos riviere bewaar word, met 'n gevolglike toename in wild
- riviergebiede van belang onderhou en bestuur word
- die omgewing deur 'n vennootskap bestuur word tot voordeel van alle betrokkenes
- bewaringsbelange en ontwikkeling meer effektief hanteer word
- onkoste vir noodsaaklike bewaringsaktiwiteite gedeel word
- daar 'n toename is in omgewingsbewustheid
Indien u 'n
bewarea wil stig, nooi almal wat belangstel na 'n vergadering. Vra die plaaslike
natuurbewaarder of woordvoerders van ander erkende bewareas om die vergadering
te fasiliteer en ruil inligting uit. Stig 'n reelingskomitee om die bal aan die
rol te sit.
Stel jy belang om meer uit te vind oor die oewerkonyn? Sal jy graag
deel wil vorm van 'n poging om die spesie te red? Stel jou bure dalk belang? Kan
'n groep grondeienaars wat kragte saamspan vir bewaring jou op meer as een
manier bevoordeel? As die antwoord JA is, kontak ons!
Cape Nature Conservation
Area Manager: Klein Karoo 044 - 874 2160
Project Coordinator: 044 - 279 1739
E-mail: kknatser@mweb.co.za
Website: www.capenature.org.za
Northern Cape Nature Conservation Services
Regional Manager: 027 - 341 1779
E-mail: leon@natuur.ncape.gov.za
Article Date: 20 July 2004
|