Terug na Voëls van ons Kontrei
Gevrees en geliefd – twee uiteenlopende beskrywings van ons gevoelens teenoor uile. Ek het
dit eerstehands ervaar toe ‘n uil homself een aand teen ‘n muur katswink gevlieg het naby
waar ‘n groep van ons gesellig verkeer het. Die meeste van ons het die voël se sagte vere
en sterk kloue met groot belangstelling van naderby bekyk terwyl hy bygekom en voor hy
uiteindelik weggevlieg het. Daar was egter iemand wat die gebeure erg traumaties ervaar
het, omdat uile in haar kultuur nog beskou word as brengers van slegte boodskappe. Soveel
so, sê sy, dat as iemand in haar gemeenskap ‘n uil sou vang, hulle dit dadelik sal doodmaak
en verbrand. Sy het daardie nag sleg geslaap. En hoeveel bygelowiges voel nie steeds
ongemaklik wanneer ‘n uil op die huis se dak sit of iewers in die donker roep nie? Hoe jy
dan nou ookal oor hulle voel, uile is hier om te bly en vandag gesels ek oor die twee wat
ek al in en om die dorp raakgeloop het.
Maar eers, wat is ‘n uil? Dit is doodeenvoudig ‘n roofvoël wat eens op ‘n tyd besluit het hy
verkies om snags te jag. Om daarby aan te pas en beter in die min lig te kon sien, moes albei
sy oë vorentoe skuif (arende en valke s’n sit mos aan die kant van die kop). In die proses het
die krom snawel afgebuig om sig nog verder te verbeter (dis nie in die pad nie). Die vere het
ook verander – hulle is sagter om die voël stiller te laat vlieg (anders hoor die prooi hom mos
wanneer hy aankom). Uile se ore het ook aangepas om beter in die donker te kan hoor. Die
kenmerkende gesigspatroon verbeter blykbaar ook die gehoor (dit dien as klankbord). ‘n
Interessantheid is dat uile - soos wat ‘n kat haarbolle opbring - ook die oorblyfsels (hare,
vere, bene, skelet ens) van hul prooi opbring, netjies in ‘n bondeltjie.
Die mees algemene uil hier by ons (en in die land) is die Gevlekte Ooruil (Spotted Eagle Owl) -
daar is selfs ‘n klompie broeipare in die dorp! Dis ‘n groot, grys voël met groot, heldergeel oë,
fyn dwarsstrepies op die bors en die kenmerkende vere op die kop wat soos ore lyk (die regte ore
sit heelwat laer af). Hy eet wat beskikbaar is, maar verkies insekte. Gevlekte Ooruile is nie net
die mees algemene uile nie, maar ook die grootste slagoffers wanneer dit by “padsterftes” kom. In
die dorp vang veral jong uile insekte wat onder lamppale op die grond kruip en word so raakgery.
Ek het al op ‘n hele paar dooies afgekom (ry veral versigtig in Albertstraat). Op die oop pad sal
hulle aan muise of voëls wat in die pad lê, vreet, deur ‘n motor se ligte verblind word en dan
self doodgery word.
Die uil wat die aand by ons kom kuier het (en sekerlik ‘n kopseer gehad het daarna) was ‘n
Nonnetjie-uil (Barn Owl). Sy goudkleurige rugkant, wit voorkant met fyn spikkels en
hartvormige gesig met uitsonderlik klein ogies vir ‘n uil is sy duidelikste uitkenmerke. Dit is nog
‘n uil wat goed by die mens aangepas het en sal sommer maklik in ‘n kas broei wat vir hom teen ‘n
paal of boomstam opgehang word. Boere sal kan getuig van Nonnetjie-uile in hul skure. Ek hoor
Calitzdorp se NG kerk het ook sy eie broeipaar. En as jy wil hoor van ‘n mens se vriend – dis op
rekord dat ‘n Nonnetjie-uilpaar een aand 24 muise binne 15 minute gevang en by hul nes aangebring het!
Terug na Voëls van ons Kontrei Source: Reinderd Visser (Illustrasies uit SASOL se "Birds of Southern Africa") Article Date: 9 March 2006
|