DIE Oudtshoorn Polisie het Sondag ná wenke van die publiek beslag gelê op dwelms met 'n straatwaarde van sowat R45000 wat met twee passasiersbusse vervoer is. Die busse is deursoek nadat hulle Sondagoggend op die Queen's Mall-parkeerterrein gestop het om passasiers op en af te laai.
Drie mans is in hegtenis geneem en het reeds in die landdroshof op Oudtshoorn verskyn.
Volgens kapt Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, is 213 bossies chat in die bagasie van 'n City to City-bus gevind wat om 06:50 op die parkeerterrein gestop het. Die straatwaarde van die chat beloop sowat R21 300 en 'n 26-jarige man van Johannesburg is in verband hiermee in hegtenis geneem. Daar is ook 17 kg dagga op die bus gekry, maar daar kon nie vasgestel word aan wie die dagga behoort het nie.
Omstreeks 07:25 is 'n Greyhound-bus deursoek en twee sakke met onderskeidelik 10,7 kg en 12,8 kg dagga gevind. Die straatwaarde hiervan beloop sowat R23500. Twee mans van Mosselbaai is in verband hiermee in hegtenis geneem. |