Deur Garnett Wicomb DIE staking van sowat 90 werknemers van Klein Karoo Internasionaal (KKI) se leerlooiery op Oudtshoorn het die week voortgeduur.
Die werkers het verlede Donderdag begin staak as deel van hul eise vir loonverhogings en meer vakansieverlof.
Die werkers eis volgens mnr George Andries van die vakbond Sactwu 'n verhoging van 8% , 'n verdere vyf dae vakansieverlof en twee dae vakansie vir openbare vakansiedae wat aan die einde van die jaar op 'n Saterdag val.
Mnr Eben Delport van Nulaw het die KKI gekritiseer omdat daar volgens hom 40 addisionele sekuriteitsbeamptes aangestel is, maar die werkers nie beter betaal word nie.
Die werkers het Dinsdag-oggend onder polisiebegeleiding met plakkate via Voortrekkerweg na die hoofkantoor van die KKI in Parkweg opgeruk waar hulle gesing en gedans het.
'n Versoek om 'n memorandum aan die bestuur te oorhandig is geweier.
Volgens mnr Jurie Thysse, personeelbeampte van die KKI, is loononderhandelings tans op nasionale vlak aan die gang en kon 'n ooreenkoms tussen die betrokke vakbonde nog nie bereik word nie.
"Die proses is aan die gang en ons pleidooi aan die stakende werkers is om terug te keer na die werkplek sodat hulle betaal kan word en brood op die tafel kan kry."
Volgens Delport neem net sowat 30 kontrakwerkers by die looiery nie aan die staking deel nie. Thysse sê egter meer as 50% van die werkerskorps is wel by die fabriek en dat produksie voortgaan.
"Die stakers is in die minderheid," sê hy. |