TWEE trekkers wat bestem is vir twee sendingstasies in Mosambiek beweeg die komende week met die R62 deur die Klein Karoo op pad na die noorde, terwyl 'n bedieningspan by al 50 dorpe op die roete Christelike uitreikgeleenthede sal aanbied.
Die Suid-Afrikaanse deel van die rit begin môre in Durbanville en eindig op 24 Augustus op Phalaborwa. Die span reis Maandag van Barrydale na Oudtshoorn en Dinsdag van Oudtshoorn na Beaufort-Wes. Die trekkers sal Maandag omstreeks 10:00 deur Ladismith, 13:00 deur Calitzdorp en 16:00 deur Oudtshoorn beweeg, en Dinsdag omstreeks 07:30 deur De Rust.
Die rit het sy oorsprong gehad by twee boere van Rawsonville, mnre Tienie Smith van die plaas Holland en Calla Botha, wyn- en beesboer van Cabriere, wat met die twee trekkers en 'n ondersteuningspan deur die land gaan reis om die Woord te bedien.
Deur die twee boere se inisiatief is Wheels of Hope, 'n niewinsgewende organisasie, verlede jaar ná 'n manne-ontbyt op Rawsonville gestig. Begeleiding- en logistieke spanne, asook 'n opheffing- en bediening-span sal vooruit ry om die Woord op die dorpe op hul pad te versprei en werk te verrig by skole, weeshuise, outehuise, tronke, kerke en ander organisasies. |