'N VOORMALIGE sakeman van Oudtshoorn en lid van 'n bekende plaaslike gesin, mnr Nelius Vermaak (48), het Saterdag in Knysna aan 'n massiewe hartaanval gesterf.
Vermaak was die seun van die bekende senior munisipale amptenaar mnr Boet Vermaak en sy vrou, Willa, en die broer van mnre Christo Vermaak, redakteur van die Oudtshoorn Courant, en Peet Vermaak, 'n bestuurder by Wilgewandel.
Vermaak, wat bekend was op Oudtshoorn as 'n internet-konsultant, rekenaarprogrammeerder en omroeper by Reënboog FM, het 'n aantal jaar gelede na Knysna verhuis. Hy was nie getroud nie.
Volgens mnr Christo Vermaak was sy broer se dood heeltemal onverwags en het hy geen hartprobleme ondervind nie. Hy het Saterdag omstreeks 12:00 in die straat inmekaargesak net nadat hy inkopies by Checkers gedoen het. Hoewel nooddienste hom op die toneel te hulp gesnel het en hy na die George Hospitaal geneem is, is hy breindood verklaar en die masjiene waaraan hy gekoppel was, Sondagoggend omstreeks 02:30 afgeskakel.
Die begrafnisdiens vind vandag om 10:30 in die Gereformeerde Kerk op Oudtshoorn plaas.
Hy word ook oorleef deur 'n broer Hendrik wat die week uit Australië, waar hy woon, na Oudtshoorn gereis het vir die begrafnis. |