Gereelde feesgangers wat die Absa KKNK bywoon, sal weet dat die Absa Wynsaal die plek is om te wees. Wynliefhebbers
sal getuig dat slegs die beste wyne van die land se voorste wynplase en lewende vermaak in die De Jager Sportsentrum
aangetref word.
Die Absa Landbou-tent gee besoekers by die fees ’n kans om uit die hittige son van Oudtshoorn te ontsnap en in
’n lugverkoelde area af te koel. Sekere van verlede jaar se gunstelingkunstenaars is terug, insluitend Romanz
en die ABBA-konsert, met Nadia Louw, Rene van Reenen, Hugo Nieuwoudt en Lee Scott, wat ’n nuwe vertoning met
nuwe ABBA-liedjies aanbied. Ook terug in die rol van seremoniemeester is Chris van Niekerk (Francois van 7de
Laan) – hierdie keer met die bystand van die geliefde Lizz Meiring.
’n Paar nuwe gesigte in die Wynsaal, wat tog nie vir die Suid-Afrikaanse publiek nuut is nie, is kunstenaars
soos Heinz Winkler en disselblom. Die ingang na die Absa Wynsaal is in Voortekkerweg, en dit is daagliks tussen 10:30
en 19:30 oop. Die toegangsfooi van slegs R40 vir besoekers sluit in die proe van wyne van ongeveer 25 wynplase en die
opsie van ware boerekos vir diegene wat hulle kele en mae wil prikkel.
Op Sondag 2 April word die Absa Wynsaal in ’n plek van aanbidding omskep vir ’n spesiale Goeie
Vrydag-kerkdiens, wat deur die bekende ds. Manie Botha van die NG-gemeente Bergsig in George gelei sal word. Die sang
sal deur Rene van Reenen, Lee Scott (voorheen van Hi-5) en Tobi Jooste gelei word. Die kerkdiens begin om 08:00 en
duur tot 09:30. Toegang is gratis, maar feesgangers moet daarop let dat sitplekke beperk is.
Hieronder is ’n volledige program van gebeurtenisse in die Absa Wynsaal.

 Source: Carrie Greenstone - Exp Sponsorship (namens Absa) Article Date: 1 April 2010
|