Die omgewingspesifieke drama Betésda, uit die pen van die aktrise Nicola Hanekom, is vanjaar tydens die Absa KKNK Kanna-toekennings met drie Kanna-pryse bekroon. Die stuk wat in en rondom die munisipale swembad in Oudtshoorn afgespeel het, is as die beste aanbieding en die beste Absa KKNK-debuutwerk bekroon, terwyl Hanekom die prys vir beste regie ontvang het. Betésda het tydens die Absa KKNK gedebuteer met Neels van Jaarsveld, Stian Bam, Bronwyn van Graan, Gretha Brazelle, Mark Elderkin, Eben Genis en Carishma Basday in die rolle. Dié stuk se musiek is gedoen deur Braam du Toit en die choreografie deur Fiona du Plooy.
Die wenners van die 2010 Kannas in die onderskeie kategorieë was:
1.Kanna vir die Beste Manlike Kunstenaar – James Grace in Around the world in 60 minutes
Ook benoem in hierdie kategorie, wat alle genres insluit, was:
Nataniël in Nataniël – Die een konsert
Chris van Niekerk in Dinsdae by Morrie.
2.Kanna vir die Beste Vroulike Kunstenaar, geborg deur Sarie – Antoinette Kellermann in As die broek pas
Ook benoem in hierdie kategorie, wat alle genres insluit, was:
Ilse Oppelt in Die proponentjie
Karen Zoid in Karen Zoid Live
3.Kanna vir die Beste Regie, geborg deur Windhoek Lager – Nicola Hanekom vir Betésda
Die ander benoemdes in hierdie kategorie was:
Marthinus Basson vir As die broek pas
Helen Iskander vir The Famished Road
4.Die Slurpie Kanna, wat alle genres insluit, vir die Beste Opkomende Professionele Kunstenaar –
Moenier Adams in Afrikaaps
Die ander benoemdes in hierdie kategorie was:
Theodore Jantjies in Vaselinetjie
Themba Ntuli in The Famished Road
5.Kanna vir die beste Absa KKNK-debuutwerk – Die produksie Betésda
Die ander produksies benoem vir hierdie Kanna, met die doel om werk wat spesiaal vir die Absa KKNK geskep is, insluitend nuwe teks, musikale komposisie, choreografie en visuele kunswerk, te bekroon was:
Die produksie Afrikaaps
Nataniël vir die teks van Swanemeer – Die ware verhaal
6.Kanna vir die Beste Aanbieding, geborg deur Absa – Die produksie Betésda
Die ander produksies benoem vir hierdie Kanna, waar gelet word op hoe goed alle aspekte van teater naamlik optrede, regie, tegnies en choreografie geďntegreer is in ’n kwaliteit aanbieding, was:
Afrikaaps
Bach Goldberg
7.Die Herrie Kanna Gewildheidsprys, geborg deur Absa – die produksie Bloemers & roemers
Dié Kanna gaan aan die produksie wat tydens die Absa KKNK die meeste kaartjies verkoop het.
8.Die Kanna vir buitengewone bydrae tot 'n kontemporêre musiekproduksie, geborg deur Huisgenoot, is aan David Kramer se Kaapse breyani toegeken. Vanweë die uitsonderlike gehalte van musiekproduksies tydens vanjaar se Absa KKNK is daar gevoel om hierdie noodsaaklike teaterbydrae tot kontemporêre musiek te erken met 'n Kanna aan 'n uitblinker in hierdie genre.
Die Afrikaans Onbeperk-prys vir lewensbydrae is aan die dramaturg Pieter Fourie oorhandig. Hy het vanjaar, tydens die 16de Absa KKNK, sy 70ste verjaardag gevier. Fourie se klug, Die proponentjie, is ook tydens vanjaar se fees opgevoer met Paul Eilers as die regisseur.
Die Spesiale Kanna vir vertolking is aan die akteur Cobus Rossouw oorhandig.
Die pryse is op Sondag 9 Mei in die Hugo Lambrechts Ouditorium in Kaapstad oorhandig. Die wenners het elk 'n trofee ontvang asook 'n kontantprys. Die trofee is 'n kunswerk wat deur die beeldhouer Marieke Prinsloo ontwerp en gemaak is.
Die gasvrou van dié geleentheid was die bekende aktrise Shaleen Surtie-Richards, onder andere bekend vir haar rol in die Absa KKNK-trefferproduksie Shirley Valentyn asook vanjaar se Bloemers & roemers.
Die Absa KKNK, wat vanjaar vir die sestiende keer aangebied is, bekroon elke jaar die beste werk op die fees met Kanna-toekennings. Die Kannas – ook in die volksmond bekend as die Klein Karoo Oscars – is vanjaar beoordeel deur 'n paneel onder leiding van Herman van der Westhuizen. Die res van die Kanna-paneel het bestaan uit Ivor Price, Woutrine Theron, Diane de Beer, Ronnie Samaai, Denise Bester, Hilde Roos, John Theodore, Eduard Greyling, Wayne Muller, Christiaan de Swardt, Wim Vorster, Erns Grundling en Zuanda Badenhorst.
Source: KKNK Mediaverhoudinge Article Date: 10 May 2010
|