Agt onvergeetlike dae vanaf 2 tot 9 April, met twee naweke ingesluit, propvol uitnemende musiek, teater, vermaak, kos, kuns, kuier, kultuur en nog vele meer, lê voor in 2011. Dit is slegs 'n paar redes vir Absa KKNK-geesdriftiges om hul vere solank reg te skud vir die 17de jaarlikse Absa Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) in Oudtshoorn. Die feesdatums vir die 2011 Absa KKNK is onlangs tydens 'n direksievergadering van dié kunstefees vasgeknoop. Dié datums val nie in 2011 oor die Paasnaweek nie, maar is wel gerieflik vir alle provinsies gedurende die April-skoolvakansie.
"In die bepaling van die feesdatums kry die skoolvakansie voorkeur bo Paasnaweek en met Paasnaweek volgende jaar baie laat in April en heeltemal buite die skoolvakansie, begin die fees op die Saterdag nadat die kusprovinsies se skole gesluit het. Die fees eindig op die Saterdag net voor die skole weer vir alle provinsies open." So sê mnr. Brett Pyper, Uitvoerende Hoof van die Absa KKNK. "Die feesdatums is soortgelyk aan dié van vorige feeste waar die skoolvakansies in April korter was", verduidelik Pyper.
Die verskuiwing van die feesdatums kom nadat menige feesgangers vanjaar versoek het dat daar, soos in die verlede, twee naweke by die feesdatums ingesluit word. "Ons verwag dat daar positiewe terugvoer hieroor sal wees", sê Pyper. "Ons verwag ook dat die fees meer gelykmatige bywoning oor die onderskeie dae sal hê, eerder as wat dit, soos vanjaar, verskriklik besig was oor Paasnaweek en toe stiller geword het. Ons is baie positief oor die nuwe datums", voeg Pyper by.
Maak dus gereed vir 'n aksie-belaaide April vakansie in 2011, op die Klein-Karoo manier. Besoek gerus die webblad by www.absakknk.co.za vir meer inligting.
Source: KKNK Mediaverhoudinge Article Date: 18 May 2010
|