Oudtshoorn Info
Sunday, 21 April 2019  2:20pm SA Time 
Back to Main Archives page
Die 19de Absa KKNK is ’n fees van ‘nuwe goed’

Trippie

Die 19de Klein Karoo Kunstefees spog vanjaar met 52 debuutproduksies.

Mnr Theo Kemp, programbestuurder van die fees, sê hierdie jaar is die program propvol "opwindende produksies, nuwe venue’s en is die program so saamgestel om iets vir almal se smake te waarborg".

Die 52 nuwe produksies vergelyk goed teenoor die aantal nuwe stukke van vorige jare. In 2010 was daar 32 debuutproduksies, in 2011 het dit gespring na 40 nuwe produksies en in 2012 was daar 37 nuwe stukke te sien. Daar is verder ook bykans 40 meer toneel- en musiekproduksies om van te kies.

Kemp sê die feesprogram kon meer produksies vanjaar bied, deurdat ’n nuwe skeduleringsmodel ingestel is. Volgens hierdie model speel produksies in vaste tydsgleuwe en is dit makliker vir feesgangers om hul beplanning te tref. Sodoende word die feeslokale en -teaters baie beter benut.

Alhoewel toneel die hoof-fokus van die fees is, is daar verskeie nuwe musiekproduksies, woordkunsprogramme en kinderteaterstukke om die hele gesin te trakteer.

Die 52 debuutproduksies sluit in:

  • 20 toneelstukke
  • 24 musiekproduksies (insluitende klassieke, musiekteater- & kontemporêre musiekproduksies)
  • 5 woordkunsprogramme
  • 2 kinderteaterstukke
  • 1 dansteaterproduksie

Skrikkeljaar Met die Absa KKNK se volgehoue rol om in die vervaardiging van nuwe werke te belê, kan feesgangers uitkyk vir van die volgende debuut-toneelstukke, om ’n paar hoogtepunte uit te lig:

  • Dramaturg en teater-entrepreneur Saartjie Botha bring rugby vanjaar verhoog toe met Balbesit. Daar is dinge wat saakmaak op die veld, én van die veld af.
  • Landskapkunstenaar Strijdom van der Merwe maak die landskap deel van die stel in Garin Hauptfleisch se debuutproduksie Bly. Die stuk spreek tot almal wat al gebly het, agtergebly het of bloot net bly was.
  • Charles J. Fourie as dramaturg en regisseur van Offer, vertel die storie van 'n eertydse politiese aktivis wat terugkeer na Suid-Afrika en die waarheid agter 'n township-tragedie ontmasker.
  • Die debuutproduksie Pruttel, gaan die feesmure verskuif by vanjaar se nuwe Baanbreek-venue. Alle fisieke, visuele en nie-verbale teaterproduksies gaan by dié venue afspeel.
  • Skrikkeljaar is 'n nuwe plekspesifieke produksie met Layla Swart as regisseur en David Johnson as rolspeler. Dié multimedia kragtoer vertel die storie van Vincent wat sy verjaarsdag op 29 Februarie vier en opsoek is na sy identiteit.
  • Bekroonde dramaturg en aktrise Nicola Hanekom se debuutdrama Trippie vat die gehoor op 'n riller bus-"trippie" deur die beeldskone Karoo. Jaco Bouwer is regisseur met Nicola Hanekom en Stian Bam in die rolverdeling. Hierdie produksie word in samewerking met die US Woordfees gedoen.

Op die spyskaart van nuwe musiekproduksies is onder meer:

  • Hennie van Greunen se checkityt@route62 met Pedro Kruger in die regisseurstoel. Die stuk is soortgelyk aan Gly 2011 waar nuwe talent al singend, dansend en op die maat van hip-hop en kletsrym aan feesgangers bekend gestel word.
  • Dorothy / 60 jaar bring hulde aan die formidabele Dorothy Masuka en die stempel wat sy die afgelope 60 jaar op die musiek-erfenis van ons land afgedruk het. Laurika Rauch, Karen Zoid, Zolani Mahola en die Africa Voices koor vergesel haar op die verhoog.
  • Christiaan Olwagen se Droom vertel 'n storie van nagklubs, verlief-wees en hoe vinnig dinge bos, broos en boos kan raak. Elana Afrika vertolk een van die rolle.

Onder die nuwe woordkuns trekpleisters is Hardop, Karoo - My Hartland en My Mense.

Digters soos Danie Marais, Toast Coetzer en Ronelda Kamfer gaan van hul eie poësie voorlees in Hardop. Die skoonheid van die Karoo, haar mense en haar stories is die fokus van Niël Rademan se Karoo-My hartland. Antionette Kellerman is op die verhoog te sien in My Mense. Dié stuk is uit die pen van Dot Serfontein, wat vanjaar by die fees se jaarlikse Kanna-toekennings vereer sal word vir haar lewensbydrae tot Afrikaans.

Die fees duur vanaf 29 Maart tot 6 April.

Kaartjies is beskikbaar by Computicket of besoek www.absakknk.co.za vir die volledige feesprogram.

Source: Absa KKNK


  Article Date: 5 February 2013

Google

WWW Oudtshoorn Info
Back to Main Archives pageTo Top

Did You Know ?

Joubert-Tradauw Private Cellar makes the only R62-trademarked wine on the R62 Wine Route.

Book Online Surval Boutique Olive EstateLugro Ostrich Leather ProductsThree times AA award winning Guest HouseSwartberg Circle RouteKlein Karoo WeddingsRoute 62Backpacker's Paradise - Oudtshoorn AccommodationHlangana LodgeOudtshoorn Estate Agent - Pam Golding

Local Flora

Succulent Karoo species
Web Design and Development
Copyright © 2019  ::  Oudtshoorn Info  -  Site designed, built and hosted by:  WebWorX

•  Privacy Policy: No Personal Details are divulged  •