Oudtshoorn Info
Friday, 19 April 2019  8:38am SA Time 
Back to Main Culture page
ABSA KKNK OP TOER IN SUID-KAAP EN KAROO

Ongeveer 30 000 inwoners van die Suid-Kaap en Karoo kan uitsien na 'n wonderlike belewenis gedurende Augustus 2006, wanneer Absa KKNK op Toer, 'n gratis fees van drama, dans en sang op die kleiner dorpies in die streek aangebied word.

Hierdie projek, wat voorheen as die Voorbrandfees bekend gestaan het, is daarop gemik om bekende akteurs en produksies van hoë gehalte na die platteland te neem. Die projek, wat in 'n groot mate op leerders gerig is, word met die seën van die Wes-Kaapse Onderwysdepartement aangebied.

“Ons het van die beste produksies op vanjaar se kunstefees gekies vir die toerprogram, waaronder die Kanna-wenners ‘Die Avonture van Wilde Wildemientjie’ (Beste Kinderteater) en Lerato Moloi (Beste Nuweling). Die meeste kunsstyle sal verteenwoordig word en 'n drama in Xhosa word ook opgevoer, ”sê Karen Meiring, besturende direkteur van die Absa KKNK.

"As naamborg van die Absa KKNK, "sien ons uit na ons betrokkenheid by hierdie inisiatief, veral omdat dit teater aan gemeenskappe bring wat gewoonlik nie toegang het tot die betowerende wêreld van die uitvoerende kunste het nie. Ons is trots daarop om met hierdie projek geassosieer te word,” sê Absa se Happy Ntshingila, Groep Uitvoerende Hoof: Groep Bemarking en Kommunikasie.

Terwyl die voorskoolse kinders besig is om die avonture van die sproetneus Wildemientjie te geniet, word grade 6 en 7 bekendgestel aan die lewe en werk van Wolfgang Amadeus Mozart, in die kinderteaterproduksie 'WAM'. Die wêreld vier vanjaar die 250ste gedenkjaar van Mozart se geboorte.

Hoërskoolleerders in grade 10 en 11 word bederf met gedramatiseerde uittreksels uit hul voorgeskrewe werk en in die aande word die hele gemeenskap uitgenooi om die Absa KKNK Konsert by te woon, onder regie van Jaci Smith van “Imbumba/Samesyn”-faam.

“Die Absa KKNK Konsert is nie jou gewone verskeidenheidskonsert nie”, sê Jaci. “Dit bevat uittreksels uit van die gewildste produksies wat tydens die 2006 Absa KKNK aangebied is. Dit sluit dans sang en musiek in en van die talentvolle akteurs wat daarin te sien sal wees, is: Gys de Villiers, Jolette Odendaal, Lerato Moloi en die bekende Kaapse komediant, Oscar Petersen,” sê sy.

Die Xhosa-produksie, “Nosel'eyibethile Akakayoji”, word deur Artscape aangebied en is gebaseer op die Graad 12 voorgeskrewe boek met dieselfde titel. Die drama gaan oor die tragiese verhaal van Nozibele wat in haar graad 10-jaar swanger raak by Sipho. Die drama is geskryf deur NT Gwegwe met Itumeleng Wa-Lehulere as regisseur.

Die Absa KKNK se personeel is tans druk besig om die praktiese aspekte van die toer uit te werk. Die stelle, akteurs en tegniese personeel moet na die verskillende gemeenskap-, kerk- en skoolsale vervoer word. Met opvoerings op sommige dae honderde kilometer van mekaar af, moet die geselskappe vinnig reis en blitsvinnig in 'n nuwe venue kan intrek.

Absa KKNK op Toer vind tussen 21 Augustus en 1 September plaas, en skop in die klein landelike nedersetting van Zoar af, waarna dit op Van Wyksdorp 'n draai maak voordat dit van Ladismith ooswaarts beweeg na Calitzdorp en Uniondale, waarna dit weswaarts draai na Waboomskraal, Zebra en Herold. Dan De Rust aan die beurt waarna die toerspan noord draai oor die Swartberge na Beaufort-Wes, Prins Albert en Klaarstroom in die Groot Karoo. Die toer eindig in die Oudtshoorn-distrik op Dysselsdorp en Schoemanshoek.

Vir verdere inligting oor die program, skakel Linda Wilson op (044) 203 8600 of lwilson@kknk.co.za

EINDE

Media navrae kan gerig word aan:
Karen Meiring, besturende direkteur, Absa KKNK
Sel: 083 200 3970
Justine Nofal, mediabeampte, Absa KKNK
Sel: 082 448 2195

Source: Klein Karoo Nasionale Kunstefees


  Article Date: 15 August 2006

Google

WWW Oudtshoorn Info
Back to Main Culture pageTo Top

Did You Know ?

South African mountain waters offer trout that can weigh 1 kg or more.

Book Online Swartberg Circle RouteRoute 62Oudtshoorn Estate Agent - Pam GoldingLugro Ostrich Leather ProductsSurval Boutique Olive EstateThree times AA award winning Guest HouseKlein Karoo WeddingsBackpacker's Paradise - Oudtshoorn AccommodationHlangana Lodge

Local Flora

Succulent Karoo species
Lugro Ostrich Leather Products - Exclusively Handmade
Copyright © 2019  ::  Oudtshoorn Info  -  Site designed, built and hosted by:  WebWorX

•  Privacy Policy: No Personal Details are divulged  •