Oudtshoorn Info
Wednesday, 16 January 2019  3:02pm SA Time 
Back to Main Culture page
Meiringspoort (Afr.)

In die lig van die feit dat daar sedert 1848 met die oopstelling van die Montagupas 'n doelmatige verbindingsroete tussen die Oudtshoorn-omgewing en die suidkus bewerkstellig is, het die behoefte aan 'n dergelike uitgang na die noordelike markte toegeneem. Dit is reeds genoem dat voetpaaie al van die dertigerjare af 'n vorm van handelsverkeer tussen die wyke onmiddellik suid en noord van die Swartberge in die hand gewerk het. Enkelinge en groepe het dan ook by geleentheid verskillende standpunte oor die geskikste ligging van sodanige pad ingeneem. Teen die laat veertigerjare is Towerwaterpoort en Spitskop as alternatiewe genoem.

Dit moes teen hierdie agtergrond gewees het dat die natuurlike skeur in die Swartberge op P. J. Meiring se plaas De Rust mettertyd die aandag van die boere getrek het. Die vroegste vorme en omvang van verkeer daardeur is onbekend. Maar in Februarie 1855 het die padraad van George 'n inspeksieverslag oor hierdie poort aan die regeringskantoor in Kaapstad voorgelê.

Op daardie tydstip was daar wel nog meningsverskil oor die beoogde oopstelling daarvan, aangesien sommige persone blykbaar ten gunste van die bou van 'n pad deur Seweweekspoort in die Swartberge oos van Ladismith was. Voorts is gedurende dieselfde tyd groter openbare aandag op Meiringspoort gevestig deurdat op die plaas Jagersrivier langs die Olifantsrivier groot hoeveelhede van 'n sekere stof wat as steenkool bestempel is, gevind is. Vir sommige persone was dit juis 'n argument dat die ontginning daarvan tot groter verkeer deur die poort sou lei.

Intussen het die bekende padinspekteur en geoloog, A. G. Bain, teen November 1855 ook 'n verslag oor die poort uitgebring. Teen Maart 1856 moes hierdie gunstige rapport redelik bekend gewees het, want aan die einde van daardie maand is 'n openbare vergadering op George gehou waar 'n petisie aan die regering gerig is met die versoek om 'n bedrag vir die bou van 'n pad deur die Swartberge te beraam.

Reeds in April het die Wetgewende Vergadering 'n gekose komitee benoem om die oopstelling van die poort te ondersoek. Volgens hulle verslag was dit 'n projek wat onmiddellik aandag behoort te geniet het, aangesien so 'n pad groot handelsvoordeel vir die distrikte George en Beaufort-Wes sou meebring. Na aanleiding van hierdie gunstige uitspraak het die regering in Julie opdrag vir die uitvoering van die projek gegee. Dit sou onder toesig van Thomas Melvill, subinspekteur van paaie in George, met behulp van vrye arbeid onderneem word. Teen Augustus is met hierdie werk begin, maar Melvill se finale kosteberaming van £12 767 het die sentrale padraad laat besluit om aan Bain 'n tweede opname van die beoogde pad op te dra. Teen die middel van Desember het hy dit afgehandel gehad. Volgens hom kon die pad vir £4 110 gebou word. Verder was hy nie heeltemal tevrede met die reëlings wat Melvill tot op daardie stadium getref het nie.

Gevolglik is besluit dat Bain self van die begin van 1857 af die leiding van hierdie projek op hom sou neem. Terselfdertyd is ook sy seun, Thomas, wat eweneens aan die paaiedepartement verbonde was, na Meiringspoort oorgeplaas om die werk onder sy vader se toesig te begin. Nadat aanvanklik probleme in verband met die arbeidskwessie ondervind is, het die werk sodanig gevorder dat die poort op 4 Maart 1858 amptelik oopgestel is. Die konstruksiekoste het ongeveer £5 000 bedra en die afdelingsrade van Beaufort-Wes, Prins Albert asook Victoria-Wes sou gesamentlik vir die instandhouding daarvan verantwoordelik wees. Sodoende is 'n verbindingsroete tussen die Groot-Karoostreke en die Klein Karoo voltooi.

Ongeveer dieselfde tyd was daar 'n beweging in Swellendam om Seweweekspoort as verbindingsroete tussen die Groot-Karoo en die Suidkus (deur Tradouwspas) oopgestel te kry wat, in die woorde van A. G. Bain self, "of first-rate colonial importance" was. Dit val egter op dat feitlik alle tydgenootlike beoordelinge van die waarde van Meiringspoort, veral soos in die getuienisse voor die gekose komitee van 1856 weerspiëel, slegs die belange van George en Beaufort-Wes in ag geneem het. Die potensiaal van die distrik Oudtshoorn wat reeds gevestigde handelsverkeer met Beaufort-Wes, Victoria-Wes en ander noordelike gebiede gehad het, is kwalik vermeld.

Dat hierdie nuwe pad van die begin af in 'n behoefte voorsien het, word deur die styging in tolgeld van feitlik £37 in 1859 tot ongeveer £65 twee jaar later bevestrg. Benewens die Suurbergroete was hierdie deurgang die enigste enigsins doelmatige verbinding met die binnelandse afsetgebiede. Weliswaar het die afdelingsraad van Oudtshoorn gedurende 1868-1869 'n pad deur Towerwaterpoort gebou, maar dit is reeds in November van laasgenoemde jaar weggespoel en is nooit herbou nie.

Ten spyte van die algemeen aanvaarde uitstekende vakmanskap van A. G. en T. Bain as 19de-eeuse padbouers het die bepaalde natuurlandskap van Meiringspoort sekere beperkinge aan enige konstruksiewerk daardeur gestel. Hierdie eerste pad was dan ook geensins permanent nie, want reeds in Desember 1861 is sewe myl daarvan oorstroom, terwyl twee myl heeltemal weggespoel is. Weer eens het 'n onderbreking in die kommunikasie voorgekom. Met die goedkeuring van die regering is herstelwerk dadelik aangepak sodat die poort teen April 1862 heroop-gestel kon word. Daarmee het 'n ritme begin wat tot diep in die 20ste eeu sou voortduur. Gedurende 1866 en 1875 het vloedskade die poort weer onbegaanbaar gemaak. As gevolg van hierdie onbeheerbare situasie het die George Advertiser in eersgenoemde jaar die feit betreur dat hierdie pad hoegenaamd gebou is, aangesien die herhaaldelike herstelwerk groot bedrae sou beloop, terwyl die verspoeling daarvan telkens openbare verkeer en kommunikasie sou ontwrig.

In hierdie opsig was die oordeel van die koerant korrek, want gedurende 1859-1863 het die afdelingsraad van Prins Albert alleen £1 805 aan die pad bestee. Ondanks hierdie periodieke onderbrekings in die handelsverkeer het die poort steeds en veral vir die boere van die sentrale Olifantsriviervallei in 'n basiese behoefte voorsien. Juis vanwee die verkeer wat dit mettertyd op daardie punt saamgetrek het, het dit as stimulus vir die ontwikkeling van verskeie kommersiele funksies gedien. Teen die middel van 1870 het Annie Carew op Rietvlei, suid van De Rust, 'n herberg vir reisigers begin. In 1873 het G. C. Keyter op Oudemu-ragie, wes van De Rust, as apteker, klein- en kruithandelaar sake gedoen, terwyl James Rankin in die omgewing van die poort ook aptekersdienste en drankgeriewe aangebied het. Die intrede van die vervoerrewolusie in die vorm van die spoorweg tussen Kaapstad en Kimberley het in talle kringe tot 'n herwaardering van hierdie poort as verbindingsroete gelei. Gevolglik het die afdelingsraad van Beaufort-Wes reeds in 1883 probeer om van hul verpligtinge met betrekking tot die instandhouding daarvan onthef te word.

Maar Oudtshoorn is tot aan die begin van die 20ste ecu regstreekse deelname aan spoorvervoer ontse. Gevolglik het die totale verspoeling van Meiringspoort tydens die geweldige oorstrominge van Mei 1885 inderdaad 'n krisis vir die distrik geskep. Drie weke na die vloed was daar by Klaarstroom, aan die noordelike punt van die poort, meer as 50 waens voorgekeer. Tegelykertyd het alle noordwaartse verkeer absoluut tot stilstand gekom. Boonop is 'n debat oor die verdere gebruik van die poort as verkeersweg begin. Die voorspel daarvan was gerugte vroeg in Junie dat die regering dit nie sou herbou nie, maar Towerwaterpoort as nuwe verkeersroete sou ontwikkel. Hierdie voorlopige berigte was verrassend juis, want in sy verslag wat op 22 Junie aan die regering voorgele is, het Thomas Bain die bou van 'n "low level route" deur laasgenoemde poort om die oostelike vallei te bedien, voorgestel. Vir die boere in die westelike deel van die distrik kon Caledonkloof voorlopig begaanbaar en daarna behoorlik teen hoogstens £300 voltooi word. Die statistieke met betrekking tot Meiringspoort was ongunstig. Waar die oorspronklike boukoste £5 000 bedra het, is jaarliks gemiddeld £900 aan die instandhouding daarvan bestee.

Sedert die oopstelling van die poortpad is dit drie keer onbegaanbaar beskadig sodat dit teen £4 000 herbou moes word. Twee dae voor die verskyning van Bain se verslag is tydens 'n openbare vergadering op die dorp 'n mosie aanvaar waarin die regering versoek word om stappe vir die onmiddellike heroopstelling van Meiringspoort te doen, aangesien die boere groot verliese ly en die algemene handel in die distrik tot niet gaan. Hierdie besluit was blykbaar bedoel om die verwagte aanbeveling van Bain enigsins teen te werk. Nadat die padinspekteur se verslag bekend geword het, het die debat 'n ernstige wending geneem, want dit is aanvaar dat die regering veel eerder in die lig van die aanbeveling deur een van sy amptenare sou handel. Terselfdertyd het hierdie kwessie 'n verdere aspek ontbloot, en dit was die onderlinge verdeeldheid in die distrik self oor Meiringspoort as hoofverkeersroete. Vroeg in Julie het hierdie uiteenlopende standpunte op 'n drie uur lange openbare vergadering na vore gekom. Uiteindelik is 'n mosie met 'n groot meerderheid aanvaar met die versoek dat die regering aan die afdelingsraad van Beaufort-Wes hulp verleen vir die herbouing van die poort of vir die konstruksie van enige ander pad volgens goeddunke van die owerheid. Dit is nie duidelik waiter oorweginge die deurslag gegee het nie, maar op Julie het die Wetgewende Vergadering die herbouing van Meiringspoort goedgekeur en die nodige fondse daarvoor bewillig. Die werk is met behulp van gevangene-arbeid vanaf Klaarstroom begin sodat aan die einde van 1885 reeds vier myl vir verkeer oopgestel is.

Teen Mei die volgende jaar was die hele poort begaanbaar, maar die voile rekonstruksie was eers aan die begin van 1888 afgehandel. Hierdie herbouing van Meiringspoort was vir die Oudtshoornse distrik allerweë 'n belangrike beslissing. Daarmee het hulle aan die einde van die tagtigerjare twee verbindingsroetes met die noordelike gebiede gehad, naamlik hierdie poort en die Swartbergpas. Gevolglik het dit groter handelsverkeer moontlik gemaak en is die sentrale en oostelike dele van die distrik elk deur sy eie roete oor die berg bedien. Hierdie besluit het ook finale beslag aan Meiringspoort as 'n wesenlike kommuni-kasieroete gegee, aangesien dit tot in die 20ste eeu as sodanig gebruik is.

Source: C.P. Nel Museum


  Article Date: 15 July 2004

Google

WWW Oudtshoorn Info
Back to Main Culture pageTo Top

Did You Know ?

Chacma baboons usually forage for grass, insects, roots and eggs.

Book Online Swartberg Circle RouteLugro Ostrich Leather ProductsThree times AA award winning Guest HouseKlein Karoo WeddingsHlangana LodgeBackpacker's Paradise - Oudtshoorn AccommodationOudtshoorn Estate Agent - Pam GoldingSurval Boutique Olive EstateRoute 62

Local Flora

Succulent Karoo species
Web Design and Development
Copyright © 2019  ::  Oudtshoorn Info  -  Site designed, built and hosted by:  WebWorX

•  Privacy Policy: No Personal Details are divulged  •