Oudtshoorn Info
Friday, 24 May 2019  5:04am SA Time 
Back to Main Fauna page
Streek– en Volksname

Terug na Voëls van ons Kontrei

Pietoto; klaaskluitjie; baketoerie; klouterbok; bottergat; skuimogie; geelgat; kuifkop; appelvreter…. Net 'n paar volksname van die Kaapse Tiptol (Cape Bulbul) wat hier by ons voorkom!! Daar is nog sommer baie ander name – pietpatat; gertcloete, klapperjot, druiwedief, pietblinkgat…

Dit gebeur dikwels dat iemand my in die straat voorkeer en van 'n bepaalde voël vertel, en wanneer ek vra wat sy naam is, gebruik die persoon 'n naam wat ek nog nooit van gehoor het nie! En so is dit – voëls het amptelike name (latynse name en ook die amptelike Afrikaanse en ander landstaal name, wat soms tot groot diskussies lei oor wat dan nou die absolute regte naam is!), maar ons as Afrikaanssprekendes was nog altyd goed kreatief en die gee van voëlname het nie hier agtergebly nie. Egte volksname.

So het my paaie 'n jaar of 3 gelede met Prof. EJM Baumbach gekruis. Hy is gepensioeneer, maar beslis nie afgetree nie! Sy groot passie is juis dit – om soveel van die Afrikaanse streekname van voëls moontlik bymekaar te maak en te boek te stel! Ons het in die proses lang gesprekke gehad oor veral voëlname van ouds en die rol wat die Nederlandse name op ons voëlname gehad het. 'n Rukkie gelede het hy my toegang gegee tot die vrug van sy arbeid – 'n boek met 'n versameling van Afrikaanse Streekvoëlname. Fassinerend!

Ek wil ter wille van die onderwerp 'n paar van die voëlname wat hy in sy boek het, uitlig. En dan 'n uitnodiging aan jou rig – as dink jy het 'n unieke naam vir 'n bepaalde voël, sms dit gerus aan my. So kan ons dalk egte Klein-Karoo name aan hom voorsien en so help voorbou aan hierdie pragtige versameling streekname.

Een van die mees algemene voëltjies in ons tuine is die Kaapse Glasogie (Cape White-eye). So noem mense hom ook meelogie, kersogie, ringogie en piet-la-pok. Nog een is die pragtige Gewone Janfrederik (Cape Robin-chat). Seker een an die mooiste name vir hom is Jantattarat. 'n Ander naam wat mense al teenoor my gebruik het is 'dagbrekertjie’. Van dagbrekertjie gepraat – daar is sommer 'n lang lys voëls wat mense 'n dagbrekertjie noem! Kyk hierna – sowel die bontrokkie (stonechat), die mossie (sparrow), die spekvreter (chat) en soms selfs die spreeu (starling) word in verskillende streke 'n dagbrekertjie genoem!

Ons ken ook almal die Fiskaallaksman (Common Fiscal) wat so op die telefoondraad of op 'n heining sit en wag om op prooi toe te slaan. Hy het nogal erg beskrywende name: janhanger, kanariebyter, biltongmaker, moordenaarsvoël, klaasskaapwagter, janfiskaal. Terloops, sy latynse naam – lanius collaris – vertaal met 'slagter met 'n kraag’. 'n Regte roofvoël!

En dan is daar die Gewone Tarentaal (helmeted guineafowl) met sy prettige streekname – bankrotvoël, kewerkonstabel, bylkop, poelpetaat, droëkopvoël en belhoender. Wie ken nie die bekende gedig van AG Visser "Die berggans het 'n veer laat val", nie? Wel, die berggans verwys na die Kolgans (Egyptian Goose). Die Hoep-hoep (Hoopoe) op die gras in jou tuin het name soos kamvoëltjie, kuifkop en kommandovoël. Wat ek hartseer vind is die name van die pragtige Nonnetjiesuil (Barn owl) – doodsvoël of doodsuil, teenoor 'n meer gepaste naam, kerkuil (waar hy gereeld nesmaak, soos in die toring op Calitzdorp en Volmoed, as ek reg kan onthou).

En so kan ek aangaan. Daar is nog honderde interessante name! Onthou my uitnodigng – laat gerus weet as jy enige streeksname ken wat jy met my wil deel. My nommer is 0729033707.

Terug na Voëls van ons Kontrei

Source: Reinderd Visser


  Article Date: 11 October 2011

Google

WWW Oudtshoorn Info
Back to Main Fauna pageTo Top

Did You Know ?

The Cape fox is the only true fox in Southern Africa.

Book Online Hlangana LodgeBackpacker's Paradise - Oudtshoorn AccommodationSwartberg Circle RouteOudtshoorn Estate Agent - Pam GoldingRoute 62Three times AA award winning Guest HouseSurval Boutique Olive EstateLugro Ostrich Leather ProductsKlein Karoo Weddings

Local Flora

Succulent Karoo species
Lugro Ostrich Leather Products - Exclusively Handmade
Copyright © 2019  ::  Oudtshoorn Info  -  Site designed, built and hosted by:  WebWorX

•  Privacy Policy: No Personal Details are divulged  •