Oudtshoorn Info
Tuesday, 17 October 2017  3:52am SA Time 
Back to Main News page
Vier vir Twee met Mareli Stolp (klavier) en Morné van Heerden (klarinet)

Vier vir Twee met Mareli Stolp (klavier) en Mornévan Heerden (klarinet) bied op Saterdag, 13 Augustus ’n geleentheid aan liefhebbers van klassieke musiek om seldsame werke deur Suid-Afrikaanse komponiste by Klein Karoo Klassique op Oudtshoorn te hoor.

"Ons is baie opgewonde om nuwe note van twee Suid-Afrikaanse werke na die verhoog te bring. Double Take deur Kevin Volans is selde vantevore in Suid-Afrika uitgevoer en Priaulx Rainier se Suite vir Klarinet en Klavier, ’n fantastiese stuk musiek, is ook vir meeste Suid-Afrikaners onbekend", vertel Stolp.

Volans en Rainier se werke word gekombineer met Franse komponis Claude Debussy se Premiére Rhapsodie, een van die mees geliefde komposisies vir klavier en klarinet en die Sonate vir klarinet en klavier deur landgenoot, Camille Saint-Saëns.

Stolp sê hulle program is saamgestel om iets vir elke klassieke smaak te bied. "Vier vir Twee bied fantastiese en welbekende werke uit die kanon-repertorium vir klavier en klarinet, saam met twintigste-eeuse komposisies wat sag op die oor, maar totaal nuut en oorspronklik is. Daar is romanse in Saint-Saëns, ’n reënboog van toonkleure in Debussy, wilde ritmes en sagte oomblikke in Rainier en ’n ander wêreldse klank in Volans. Dit is die hele spektrum van wat klavier en klarinet saam kan uitrig", sê sy.

Volgens Van Heerden sal die gehoor na dié uitvoering op hierdie kombinasie van instrumente verlief wees. "Vier vir Twee bevat merkwaardige musiek vir klavier en klarinet, gekomponeer oor ’n tydperk van bykans 100 jaar (1910 tot 2004), met diverse style deur internasionaal gerekende komponiste", vertel hy.

"Klein Karoo Klassique bied ’n geleentheid aan kunstenaars om slegs te fokus op die kuns van klank en bied ’n platform aan Suid-Afrikaanse musici - spelers én komponiste - om gehoor te word. Feesgangers kan hiér kom luister na van Suid-Afrika se beste talent", sê Van Heerden. Vir Stolp lê die uniekheid van Klein Karoo Klassique daarin dat die fees spesifiek vir liefhebbers van klassieke musiek - beide uitvoerders en gehore - tot stand gekom het. "Dit beteken dat die gehoor werklik kom om die musiek te waardeer. Klassique skep ’n belangrike platform vir musici om uitvoerings aan te bied vir toegewyde gehore wat groot waardering en ’n belangstelling in klassieke musiek het," sê sy.

Beide Stolp en Van Heerden het aan die Universiteit van Pretoria studeer en is reeds meer as ’n dekade betrokke by kamermusiek in Suid-Afrika. Hulle vars en jeugdige benadering gee nuwe lewe aan wonderlike werke vir klavier en klarinet.

Verskeie ander uitvoerings by Klassique, trek Stolp se aandag. "Ek is gek oor tango en sien uit na Piazzolla and Beyond (Vrydag, 12 Aug. 18:30). Die kombinasie wêreldklas kunstenaars van Nagmusiek (Saterdag, 13 Aug. 15:00) sien mens nie aldag nie en ek is ook ’n groot bewonderaar van Erik Dippenaar en sien uit na die Helderberg Baroque Trio (Sondag, 14 Aug. 10:00) se uitvoering."

Stolp, wat tydens die eerste Klein Karoo Klassique in 2009 opgetree het, sê sy is geweldig opgewonde om by Klassique 2016 op te tree. "Die fees is ’n wonderlike ervaring. Oudtshoorn is vol musiek-entoesiaste, warm en toegewyde gehore en hope musiek. ’n Musikant kan nie vir beter vra nie. Ek is seker Klassique 2016 gaan net so ’n goeie ervaring wees," sluit sy af.

Source: Klein Karoo Klassique


  Article Date: 18 July 2016

Older articles filed under Archives

Google

WWW Oudtshoorn Info
Back to Main News pageTo Top

Did You Know ?

South Africa is home to the world's smallest succulent plants (less than 10 mm) and the largest (the baobab).

Book Online Hlangana LodgeSurval Boutique Olive EstateBackpacker's Paradise - Oudtshoorn AccommodationOudtshoorn Grassnyers - Herstel of Te KoopKlein Karoo WeddingsThree times AA award winning Guest HouseRoute 62Lugro Ostrich Leather ProductsSwartberg Circle Route

Local Flora

Succulent Karoo species
Web Design and Development
Copyright © 2017  ::  Oudtshoorn Info  -  Site designed, built and hosted by:  WebWorX

•  Privacy Policy: No Personal Details are divulged  •