Oudtshoorn Info
Tuesday, 12 December 2017  4:33am SA Time 
Back to Main News page
TALLE WENNERS KENMERK AGSTE KLEIN KAROO KLASSIQUE MUSIEKPROGRAM

Onder die vele bekroonde kunstenaars vanjaar by Klein Karoo Klassique op Oudtshoorn tel ’n Grammy-wenner, SAMA-wenner, wenners van groot internasionale en plaaslike klassieke musiekkompetisies, asook wenner van twee boekpryse. Dié fees van klassieke musiek, kuns, kos en wyn word van Vrydag, 12 tot Sondag, 14 Augustus vir die agtste keer aangebied.

"Ons sien daarna uit om dié uiteenlopende bekroonde kunstenaars op Oudtshoorn te verwelkom en gehore kan ’n diverse klassieke musiekprogram verwag. Dit is nie aldag dat liefhebbers van klassieke musiek soveel formidabele kunstenaars in die Klein Karoo kan sien nie." So sê Hugo Theart, kreatiewe hoof van Klein Karoo Klassique.

Een van die hoogtepunte is Suid-Afrikaanse fluitspeler, Wouter Kellerman. Kellerman het in 2014 die Grammy vir beste New Age-album gewen. Hy het ook reeds ses SAMA-toekennings gewen, die mees onlangse een vir beste instrumentale en/of klassieke album in 2016. Kellerman voer op Saterdag, 13 Augustus om 18:00 saam met Luke van der Merwe (kitaar), Phresh Makhene (baskitaar en sang) en Della Tamin (kitaar en sang) die Franse barok-komponis Marin Marais se Folies d’Espagne, Antonio Vivaldi se Winter, Brian Boru se March en Kellerman se eie modern klassiek-geïnspireerde Buenos Aires, The Long Road, Sylvia, Half Moon, Wind, Samami en Notre Futur uit.

Klassique eindig met die ATKV Afsluitingskonsert, ’n pragkonsert waar drie bekroonde kunstenaars vir die eerste keer saam optree. Sopraan Noluvuyiso Mpofu het vanjaar ’n algehele tweede plek tydens die Hans Gabor Belvedere Internasionale Sangkompetisie - een van die grootste sangkompetisies in die wêreld - ontvang. Sy is ook tydens dié kompetisie met die gehoorprys én prys as beste Suid-Afrikaanse deelnemer bekroon. Mpofu was in 2015 die wenner van ATKV-Muziqanto. Klarinetspeler Junnan Sun, algehele wenner van ATKV-Muziq in 2015, sluit by haar aan. Die Suid-Kaap Kinderkoor, o.l.v. Jan-Erik Swart, tree saam met Mpofu en Sun op. Dié koor is vanjaar as wenners van die Europese Musiekfees vir Jongmense in België aangewys. Die ATKV Afsluitingskonsert word op Sondag, 14 Augustus om 12:00 aangebied, met musiek soos Verdi se È strano! uit La Traviata en dele uit Mozart se Klarinet Concerto, bekend as deel van Out of Africa se temamusiek.

Kitaarspeler James Grace, in 2011 beloon met die kykNET Fiësta vir beste prestasie in klassieke musiek en Kanna-wenner as beste manlike kunstenaar by die KKNK in 2010, speel musiek van sy SAMA-genomineerde albums, sowel as nuwe, oorspronklike interpretasies uit sy konsert Guitar Hero en Spaanse komposisies deur Albeniz, Rodrigo en Tárrega. Sy uitvoering vind op Saterdag, 13 Augustus om 09:30 plaas.

Erik Dippenaar (klavesimbel) is ’n gevierde musikant en het die Kanna vir beste klassieke musiekuitvoering tydens die KKNK in 2016 ontvang. Hy is op Sondag, 14 Augustus om 10:00 te sien in Baroque Trio: Handel in die Voorkamer met musiek deur die komponis GF Handel, wat verwerkings van Music for the Royal Fireworks, die Harmonious Blacksmith klavesimbel-suite, ander gewilde opera-arias en kamermusiek insluit.

Daar is ook ’n bekroonde skrywer op die verhoog vanjaar. Stephanus Muller, tans ’n professor aan die konservatorium van die Universiteit Stellenbosch, se Arnold van Wyk biografie, Nagmusiek, is in 2015 bekroon met die kykNET/Rapport-prys vir Nie-Fiksie, sowel as die UJ debuutprys. Muller doen op Saterdag, 13 Augustus om 15:00 voorlesings uit sy boek tydens Nagmusiek, saam met Grethe Nöthling (klavier) en Matildie Thom Wium (mezzo-sopraan).

Klein Karoo Klassique word van 12 tot 14 Augustus vir die agtste keer op Oudtshoorn aangebied. Kaartjies is beskikbaar by Computicket, Shoprite/Checkers en House & Home. Meer inligting is op Klassique se nuwe webblad by www.klassique.co.za beskikbaar. Bly ook op hoogte van feesnuus op Facebook (@KleinKarooKlassique), Twitter (@kkarooklassique) en Instagram (@kleinkarooklassique).

Source: Klein Karoo Klassique


  Article Date: 19 July 2016

Older articles filed under Archives

Google

WWW Oudtshoorn Info
Back to Main News pageTo Top

Did You Know ?

Truly an opportunistic feeder, the hyena's powerful jaws and digestive tract allow it to process and obtain nutrients from skin and bones.

Book Online Lugro Ostrich Leather ProductsHlangana LodgeThree times AA award winning Guest HouseSurval Boutique Olive EstateOudtshoorn Grassnyers - Herstel of Te KoopBackpacker's Paradise - Oudtshoorn AccommodationKlein Karoo WeddingsRoute 62Swartberg Circle Route

Local Flora

Succulent Karoo species
Web Design and Development
Copyright © 2017  ::  Oudtshoorn Info  -  Site designed, built and hosted by:  WebWorX

•  Privacy Policy: No Personal Details are divulged  •