fbpx

AS BOERDERY EN BEWARING HANDE VAT

BELANGRIKHEID VAN VENNOOTSKAPPE

Die Gouritz Inisiatief (Gl) met die tema “bewaring van biodiversiteit”, het gekom om te bly. Maar wat beteken dit vir die inwoners van hierdie nywerheidsarm gebied wat hoofsaaklik van die landboubedryf afhanklik is? Swaar druk word op boerdery geplaas om die gebied te onderhou. Het vuisvoos volstruis- en ander boere wat sukkel om kop bo water te hou, binne ‘n ewigdurende veranderde omgewing met nuwe idees, nog ‘n nuwe bedreiging bygekry?

Die boerdery en verwante bedrywe beleef tans moeilike tye met die sterk rand en gevolglik swak uitvoerpryse, asook strenger wetgewing en vereistes vanuit ‘n binnelandse sowel as buitelandse politieke omgewing. Die vraag is: Bied die Gouritz Inisiatief ‘n uitkoms in hierdie moeilike tye? Die antwoord is ja. Dit bied beslis ander moontlikhede of alternatiewe (byvoorbeeld ekotoerisme).

Maar die mate waartoe die Gouritz Inisiatief daarin sal slaag om ‘n oplossing te bied, is direk afhanklik van die gehalte van vennootskappe wat daar tussen die verskillende bedrywe, owerhede, organisasies en plaaslike inwoners soos byvoorbeeld Landbou, Onderwys, Toerisme, plaaslike owerhede, Bewareas, Justisie, die volstruisbedryf, ens. gesluitword.

DOEL VAN VENNOOTSKAPPE

‘n Vennootskap is ‘n onderneming waarbinne twee of meer partye saamwerk ter bereiking van ‘n gemeenskaplike einddoel wat aanvullende hulpbronne saamvoeg om wedersydse rigting te bepaal of – om ‘n projek wat wedersydse voordeel inhou, te begin en suksesvol aan die gang te hou.

Mense met ooreenstemmende doelwitte kom bymekaar, om spesifieke kwessies aan te spreek. So word die beskikbare hulpbronne in terme van bekwaamhede saamgevoeg. Binne so ‘n vennootskap word werk en kennis gedeel. Die kapasiteit van die groep verhoog dus en take word mettertyd meer kostedoeltreffend afgehandel, omdat die nodigheid nie meer bestaan om inligting en hulpbronne te dupliseer nie.

Voor daar ‘n vennootskap aangegaan word, moet ‘n mens jouself afvra hoekom jy dit doen en wat jy uit hierdie vennootskap gaan kry. Met ander woorde, is dit die moeite werd vir jou?

VENNOOTSKAPPE VERSTERK DIE GROEP

Sterk vennootskappe is vir die Gouritz Inisiatief onontbeerlik as die einddoel bereik wil word. Hierdie vennootskappe moet. geïntegreerd wees met alle sektore wat belang mag hê. Daar moet dus bree deelname van sterk vennote wees. Hierdeur word die begrips- en redenasievermoë van die groep versterk. Verder is daar meer mense wat uit verskillende hoeke en perspektiewe na sake kan kyk om sodoende ingeligte, en weldeurdagte besluite te neem.

Deur hierdie werkswyse te volg, waar insette deur middel van plaaslike kennis op die grond gelewer word, word ‘n beter beeld van die situasie verkry. So byvoorbeeld word ‘n oningeligte individu met ‘n sterk persoonlikheid, wat uit ‘n subjektiewe oogpunt ‘n situasie in die verkeerde rigting mag stuur, beinvloed om ‘n geheelbeeld van al die aangeleenthede en probleme te verkry.

Die voordeel om geïntegreerd na probleme te kyk, is dat verskillende probleme oplossings vir ander kan bied.

NETWERKE

Hierin bestaan ‘n groot potensiaal om goedkoper oplossings te verkry asook ‘n uitdaging dat probleme hulself kan oplos deurdat mense uit verskillende sektore netwerk en mekaar ondersteun. Dit is dus belangrik dat vennote nie net sal kyk watter voordeel daar vir hulself is nie, maar wat hulle vir almal na die tafel kan bring.

Hierdie onselfsugtige werkswyse bied ondersteuning en waardetoevoeging, waar moontlike leemtes binne die verskillende afdelings mag bestaan. So word hande gevat en die las saamgedra.

GROTER PRENTJIE

Die vennote moet terselfdertyd besef dat almal nie altyd volkome gelukkig sal wees nie. Die regte gesindheid en ingesteldheid met betrekking tot die groter prentjie is belangrik. Soms moet ‘n vennoot bereid wees om die argument vir die oomblik te verloor, sodat die einddoel bereik kan word.

ONS MAG VERSKIL

Integriteit en betrokkenheid met passie, skep sekerlik die grootste resep vir konflik, maar dit skep ook die platform vir suksesvolle onderhandeling. Sodoende beland al die moeilike en sensitiewe kwessies vir bespreking en afhandeling op die tafel. Lede kan openlik met mekaar redeneer en van mekaar verskil. Soms moet mense ooreenkom, dat hulle nie altyd kan saamstem oor alles nie.

Mense mag verskil, dit mag egter nie die verhouding tussen lede beïnvloed nie. Dit word veral bemoeilik omdat vennootskappe vrywillig is en die doel daarvan binne die Gouritz Inisiatief juis is om saam die hoofdoel te bereik.

Daar is dus nie plek vir lede wat slegs daarna streef om hul eie eer te soek of om eie mishope te bou nie.

PROJEKTE

Vennootskappe hoef nie net vir beplanning aangewend te word nie, maar word veral getoets by die implementeringsfase, waar projekte uitgevoer word. By die implementering word daar van lede verwag om drywers te wees. So ‘n drywer is iemand wat nie bang vir frustrasies en probleme is nie. Dit is iemand wat self sy moue oprol en direk in die veld betrokke raak om toe te sien dat die dinge op die grond gebeur.

Drywers is mense met praktiese ondervinding, wat taak ge- orienteerd is en nie bang is om foute te maak nie. Hulle leer uit foute en bou op suksesse. Vir sterk drywers moet daar egter ‘n gedragskode binne vennootskappe bestaan waar lede hulself tot die ander se voordeel verbind en mekaar se integriteit hierin bewaar.

SLEUTEL

Goeie vennootskappe binne die Gouritz Inisiatief sal mense, wat ‘n belang het by die bewaring van hierdie unieke gebied, in staat stel om probleme doeltreffend aan te spreek. Befondsing vir die bewaring van biodiversiteit kan sodoende doeltreffend beding word. Om volhoubaarheid binne die gebied te verseker, moet daar nie net na bewaring gekyk word nie, maar moet besigheidsekonomie en sosiale verpligting ook aangespreek word.

Dus, samewerking tussen vennote is die sleutel tot werkbare oplossings wat die eksterne druk op die bepaalde gebied die hoof kan bied.

VAT HANDE

Selfs al klink ‘n vennootskap tussen boer en bewaarder na ‘n amperse onmoontlikheid, is dit juis een van die belangrikste doelstellings wat met hierdie bewaringsinisiatief nagestreef word. Want dis net deur hande te vat dat sterk vennootskappe gevestig kan word om uiteindelik bewaringsprojekte te help realiseer.

Dis net deur met vennote openhartig te gesels en idees en planne uit te ruil en ook deur te luister na mekaar se probleme dat ons uiteindelik gemeenskaplike oplossings tussen mede-vennote sal vind.

Source: Jan Smit