HOE HET DIE KKNK BEGIN?
Die KKNK is gebore uit ‘n droom deur ‘n sakeman/prokureur van Oudtshoorn, Nic Barrow en die destydse skakelhoof van Nasionale Pers, Andrew Marais, om ‘n Afrikaanse fees in Oudtshoorn, na afloop van die Grahamstad-fees, te hou.
Daar was groot entoesiasme vir die idee en in Januarie 1994 het ongeveer 100 belangstellendes van dwarsoor Suid-Afrika op Oudtshoorn opgedaag vir ‘n openbare vergadering om dié moontlikheid te bespreek.
Reeds op daardie vergadering is besluit dat die fees selfstandig – met ‘n eie identiteit – moet wees. ‘n Loodskomitee bestaande uit plaaslike persone is aangewys om die idee verder te ontwikkel. Dit was veral ‘n onvoorwaardelike borgskap van Nasionale Pers wat die bal behoorlik aan die rol gesit het.
Die loodskomitee het besluit op die stigting van ‘n Artikel 21 Maatskappy en die eerste direksie is aangewys.
Die lede was:
- Nic Barrow (voorsitter)
- Jans Rautenbach (visevoorsitter)
- Rosie Schoeman
- Liz Olivier
- Vincent Abrahams
- Andrew Marais
Jans Rautenbach het aan die einde van 1999 as voorsitter by Nic Barrow oorgeneem. David Piedt het aan die begin van 2002 die leisels oorgeneem.
Daar is eenparig besluit op die naam Klein Karoo Kunstefees, wat na ongeveer ‘n maand gewysig is tot Klein Karoo Nasionale Kunstefees. Alhoewel dit steeds die fees se amptelike naam is, word die akroniem KKNK deesdae meer algemeen gebruik.
Die eerste fees is beplan vir September 1994. Die direksie het egter gou besef dat dit nie haalbaar was nie en die datum is aangeskuif na Maart 1995.
Daar was aanvanklik ‘n groot soektog na ‘n gepaste feesdirekteur. Gerrit Geertsema, voormalige hoofdirekteur van Truk, het die pos vir ‘n kort rukkie beklee, waarna die bekende dramaturg, Pieter Fourie in Julie 1994 by hom oorgeneem het.
In die eerste maande van Pieter se aanstelling is daar hard saam met die stigtersadviseurs, Adam Small, Merwe Scholtz en Franklin Sonn gewerk om ‘n grondslag onafhanklik van enige politiek, kultuur of geloof vir die KKNK te verseker.
In November 1994 is Karen Meiring as feesorganiseerder aangestel en daar is enorme vordering gemaak met die saamstel van ‘n program en ander praktiese feesaangeleenthede. Op hierdie stadium was finansies kritiek en danksy onderhandelings met Transnet is ‘n substantiewe borgskap – waarsonder die eerste KKNK waarskynlik nooit sou plaasvind nie – verseker. Karen is sedert die einde van 1999 die KKNK se besturende direkteur.
Die KKNK het ‘n ver pad gekom sedert sy eerste dae. Dié projek is in 2000 aangewys as die Premier MTN Wes-Kaap Toerisme Gebeurtenis van die Jaar en in 2001 het oud-pres Nelson Mandela die Vryheid van die Stad aan die KKNK oorhandig. KKNK10 is amptelik geopen deur President Thabo Mbeki.
KKNK KUNSVERSAMELING
Die KKNK het in 1995 begin bou aan ‘n eie kunsversameling. ‘n Bekende kunstenaar word jaarliks gevra om ‘n opdragwerk vir die fees te maak.
Die versameling bevat ‘n kunswerk elk van:
- Jan Vermeiren
- Hardy Botha
- Erik Laubscher
- Willie Bester
- Wendy Malan
- Piet Grobler
- Claudette Schreuders
- Wim Botha
- Lien Botha
AFRIKAANS ONBEPERK
Die KKNK vereer jaarliks persone vir uitmuntende skeppende of uitvoerende bydraes tot die verruiming en verryking van Afrikaans. Sedert 2000 word die vererings in twee kategorieë gedoen: lewensbydrae en vernuwende denke.