SCHOEMANSHOEK
Ongeveer halfpad tussen Oudtshoorn en die Kangogrotte het op die plaas Roodewal ‘n sametrekking van verskillende Schoeman-gesinne ontwikkel wat mettertyd as Schoemansdorp (Schoemanshoek) bekend geraak het. Geleë in die vrugbare Grobbe- laarsriviervallei waar besproeiingsmoontlikhede vir die grootste deel van die jaar bestaan het, het hierdie gemeenskap een van die mees welvarende in die distrik geword.
Reeds teen die middel van die veertigerjare van die 19de eeu is hierdie plaas deur die Sentrale Padraad vir £2 250 gewaardeer. Van alle waardasies in die veldkornetskappe Attakwaskloof, Bo- en Onder-Olifantsrivier en die Kango was dit die hoogste.
Volgens ‘n sensus wat ds. Van der Riet in 1857 opgeneem het, het 118 persone op Schoemansdorp gewoon: van hulle het 22 gesinne aan die N.G. Kerk behoort.
Dit is hoogs waarskynlik dat privaatonderwysers reeds van vroeg af deur sommige van hierdie gesinne in diens geneem is. Na ds. Van der Riet se aankoms in 1857 is kenlik op sy inisiatief die volgende jaar ‘n kerkskool met A. Rheeders as onderwyser tot stand gebring. Teen September 1859 het reeds 32 leerlinge die skool, waar hulle onderrig in albei tale ontvang het, bygewoon. Vier van die ouers het £100 per jaar vir die salaris van die onderwyser gewaarborg. Ook is met die oprigting van ‘n ruim skoolvertrek begin. Na die voltooiing daarvan is die skool sedert November 1859 as ‘n derdeklas openbare skool geregistreer. Tot Augustus 1862 is onderwys hier ononderbroke eers deur genoemde Rheeders en sedert Mei 1861 deur M. C. Reyerkerk gegee. Teen 1860 was daar 30 ingeskrewe leerlinge met ‘n gemiddelde bywoningsyfer van 24. Vyftien van die kinders het leer Engels en 27 leer Nederlands lees, terwyl ses ook nog Engelse grammatika en stelwerk gedoen het. Origens is die gewone elementere werk van hierdie kategorie skool gehanteer. Na sy dood is Reyerkerk deur Rheeders, sy voorganger, opgevolg wat aan die einde van 1864 die distrik verlaat het.
Vir feitlik twee en ‘n half jaar het geen openbare onderwysinrigting hier bestaan nie. Maar gedurende 1867 het die inwoners weer eens £100 jaarliks vir drie jaar tot die salarisfonds van die onderwyser geborg asook ‘n woonhuis gratis beskikbaar gestel.
Voorts was dit hulle begeerte om ‘n hoër graad van onderrig in die beoogde skool te vestig. Gevolglik is H. A. Dreyer, wat onder andere drie jaar aan die universiteit van Leyden gestudeer het, in Mei 1867 as hoof van die tweedeklas-openbare skool aangestel. Maar van die aanvanklike verwagtinge het weinig tereggekom, want in Junie 1868 het Dreyer vertrek. Volgens ds. Van der Riet was die ouers se ontevredenheid met die kinders se vordering die werklike motief wat daartoe gelei het. Van April 1869 tot Junie 1872 het H. Rheeders, voorheen van Kammanassie, die skool behartig. Gedurende die laaste kwartaal van 1869 was die gemiddelde bywoningsyfer slegs 14.
Gevolglik het die regeringsubsidie in gedrang gekom. Met die besoek van die inspekteur gedurende 1870 is talle onwenslike sake opgemerk. Daar was slegs 13 leerlinge teenwoordig wat baie minder as die in die register was. Geen verklaring kon daarvoor aangebied word nie. Ook die klassifikasie van die leerlinge is as gebrekkig bevind. Die oorheersende indruk was dat die onbevredigende toestand van die skool hoofsaaklik aan die agtelosigheid van die onderwyser te wyte was. In die lig daarvan is die subsidie verminder en die skool vir ‘n kwartaal lank op die proef gestel. Daar het inderdaad geen verbetering in hierdie toestande ingetree nie sodat die skool sedert 1871 tot die derdeklas gedegradeer
is. Kenlik het hierdie omstandighede daartoe gelei dat die ouers die dienste van Rheeders teen Junie 1872 beëindig het.
In September 1875 het J. van Wassenaar die skool met 33 leerlinge heropen. Hy het aanvanklik ‘n heel gunstige verslag van die omgangsinspekteur ontvang, maar die verdere geskiedenis van hierdie skool is nie bekend nie. Daarmee het ‘n fase van wisselende en onderbroke openbare onderwys in hierdie deel van die distrik geëindig. Dit is besonder opvallend dat die ekonomiese hooggety van die laat sewentiger- en vroeg tagtigerjare nie met uitgebreider voorsienirig van onderwysgeriewe in Schoemansdorp gepaard gegaan het nie.
Source: Johlene Ellis