STANDARD BANK
STANDARD BANK - EERSTE BANK IN OUDTSHOORN
Ons kyk nou na die vroeë geskiedenis van die Standard Bank in Oudtshoorn. Die Oudtshoorn-tak is op 17 Januarie 1876 geopen, dus 128 jaar gelede. Dit was die eerste bank op Oudtshoorn en – volgens Dr Boemkhe – is dit bedryf uit slegs een vertrek wat in die Devine Hall Building geleë was.
Die gebou met die naam Devine Hall was op die hoek van Kerkstraat en Hoogstraat geleë, waar Schoemans Radio vandag is. Binne vier jaar was dit nodig vir die bank om ‘n groter perseel te bekom en in ongeveer 1880 skuif hulle na ‘n woonhuis in Baron van Reedestraat wat aan Gert “Towers” Olivier behoort het. (Onthou julle nog dot die oorspronklike naam van hierdie straat Main Street en later Queen Street was?) Hierdie gebou was geleë waar Spur vandag is en daar het hulle tot 1889 gebly.
Mnr Seymore het nie ‘n te hoë ding van die eerste bestuurer, Jan Willem Stuckeris Langerman – toe slegs 24 jaar oud – gehad nie, en hy sou heelwaarskynlik verbaas gewees het oor Langerman se sukses, want Mnr Langerman het gevorder tot Sir John Langerman, die mynmagnaat!
1889 SKUIF DIE BANK WEER
Hierdie keer skuif Standard Bank na die hoek van Baron van Reedestraat en Kerkstraat – daar waar Pam Golding geleë is tot waar Golden Scissors is.
Dit was ‘n gebou wat aan P.R. Schoeman (Philip) behoort het, volgens Ferreira se uitstalling in die C.P. Nel museum.
Die foto wat by die ingang van die huidige Standard Bank-gebou hang met die onderskrif “Second Branch”, is eintlik ‘n foto van die derde perseel – waarheen hulle in 1897 getrek het – wat in die Ou Mutual gebou aan die suidekant van Kerkstraat geleë was. (Dit was ‘n pragtige gebou en dit is ‘n baie groot jammerte dat hy nie meer bestaan nie.)
Dit was ‘n dubbelverdieping gebou en op die boonste vloer was ‘n losieshuis en daar het dit soms so jolig gegaan dat die bankbestuurder gekla het dat hy en die kliente mekaar nie kon hoor nie!
Van daar af, in 1904, het die bank geskuif na die gebou waar hulle tans is. Die gebou is op 10 Mei 1904 amptelik geopen.
Source: Ronnie van Rensburg