VOËLS VAN ONS KONTREI
VREESLIKE VAAL VOËLTJIES - KOESTERS
As jy die lysie van voëls wat in die Klein-Karoo voorkom so volledig moontlik wil hê is dit onvermydelik dat die rêrige vaal voëls ook ter sprake sal kom. Verlede keer het ons juis oor die lewerikke (larks) gesels en glo my, die einde is nog glad nie in sig nie. Vandag dan die tweede van ons familiegroepe VVV’s – of dan Vreeslike Vaal Voëltjies – die Koesters (Pipits) van Kannaland.
Net soos die lewerikke is die koesters ook ‘n groterige familie – so 15 landwyd – waarvan ons definitief twee, maar dalk drie of moontlik selfs vier by ons kry. Die groot probleem is – koesters en lewerikke lyk so na aan mekaar dat jy nie net sukkel om een koester van ‘n ander te onderskei nie, jy kan selfs sukkel om die twee spesies van mekaar te onderskei! Hoe’s daai vir jou?
Kom ek gee eers ‘n riglyn of twee oor hoe om die twee spesies van mekaar te onderskei voor ek oor die koesters selfs gesels. (Glo egter vir my, dit gaan beginners min help. Dis leeuwêreld dié.)
Koesters lyk meer dikwels maer en slank met langer bene; hulle loop meer. Lewerikke lyk gewoonlik meer bonkig/stewig en wip meer. Meeste Koesters wip hulle sterte. Koesters se bene is duidelik pienk of pienkbruin. Lewerikke se bene is meesal ‘n dowwer pienkbruin tot donkerbruin. Koesters vlieg op en dip dan. Hulle vlieg merkbaar golwend. Lewerikke vlieg ook golwend, maar meer reguit en sterk.
As jy na al bogenoemde nog hier lees wil jy regtig meer weet van ons vaal voëltjies! Dankie vir jou deursettingsvermoë.
Die mees algemene koester hier by ons is die Gewone Koester (African Pipit – sy ou naam was Grassveld Pipit). Hy is lief daarvoor om langs die pad te wei, maar sy gunsteling plek hier by ons is oop grasvelde. Staan een dag ‘n bietjie by enige stuk grasveld stil en kyk hoe lank dit neem voor jy ‘n beweging in hierdie oënskynlik voëllose stuk aarde sien. As jy gelukkig is sal een selfs met ‘n “tjissit!” opvlieg en golwend in ‘n rigting vlieg. Kry jy hom van naby te siene sal jy duidelike strepe op sy bors sien en sy buitestertvere is wit. Hy is geneig om sy stert soos ‘n kwikstertjie so 1 tot 3 keer te wip wanneer hy gaan staan.
Koester nommer twee is die Nicholsonse Koester (Long-billed Pipit) en hom kry jy eerder op klipperige heuwelrante met min gras. Sy buitestertvere is meer vaal as wit en die strepe op sy bors is ligter. Hy wip sy stert ook baie min, indien ooit. Wanneer hy opvlieg sal hy ‘n metaalagtige “kilienk” geluid maak.
Die laaste twee het ek nog nie hier gesien nie. Die kanse dat jy die Klipkoester (African Rock Pipit) wel in die Swartberge met geluk of ‘n groot gesoek sal kry, is redelik goed. Dit is ideale habitat vir hom daardie, maar hy ontwyk my al vir jare. Hy is lief vir berghange, steil klipheuwels en Karoo-koppies. Die probleem is, hy is baie skugter, jy moet sy roep ken om hom op te spoor. Hy staan gewoonlik regop op ‘n klip met sy neus in die lug wanneer hy sy “triee-terrooe” liedjie sing. Die Donker koester (Plain-backed Pipit) het ek ook nog net aan die seekant van die Outeniekwas gesien, maar kan wel hier voorkom. Kyk, hy is nou vir jou regtig vaal!! Sy buitestertvere is vaalbruin en verder het hy bitter min uitkenmerke. Sien jy ‘n koester in afgebrande veld moet jy kyk of dit nie hy is nie, dis ‘n gunsteling-kuierplek vir hom.
Source: Reinderd Visser
(Illustrasie uit SASOL se “Birds of Southern Africa“)
VREESLIKE VAAL VOËLTJIES - LANGSTERTJIES
Soos ek in die vorige geselsie gewaarsku het – nog is dit het einde niet! En dan word die VVV’s boonop al hoe kleiner ook nog! Vandag kyk ons na die Klein-Karoo se kleine Langstertjies. Langstertjies het darem een kenmerk wat hulle maklik onderskei van die ander vaal voëltjies – hulle het regtig lang stertjies soos hul naam ons wil laat glo, met drie wat hier by ons voorkom. Wat hulle besonders maak is dat hulle endemies is, m.a.w., jy kry hulle net in Suider-Afrika. Trouens, een kom net in die Karoo-streke voor!
Die eerste twee Langstertjies wat jy hier kry skep nogal probleme wanneer jy hulle van mekaar wil onderskei, juis omdat hulle so na aan mekaar lyk. Dit help nogal as jy weet hoe hul roepe klink en waar om hulle te verwag (hul habitat). Die derde Langstertjie het gelukkig duidelike merktekens op die gesig wat uitkenning vergemaklik. (Langstertjies het almal pienkrooi beentjies.)
Die voorbarige Karoolangstertjie (Karoo Prinia) is die mees algemene langstertjie by ons. Jy kry hom gereeld in sowel die fynbos-areas as ons Karoostruike, wat vertaal met – feitlik orals. Kyk jy na die illustrasie sien jy duidelike strepies op sy geelwit bors. Hy is lief om sy stertjie so te wip-wip en as jy hom steur, sal hy maklik op ‘n takkie gaan sit en luidkeels “tweet-tweet-tweet” protesteer. Pleks hy is nie so voorbarig nie, want so adverteer hy sy teenwoordigheid aan die verkeerde voëls! Diederikke (Diderick Cuckoos) en Meitjies (Klaas’s Cuckoos) stel beslis belang in waar hy is, of sy nes, want hul wyfies lê hul eiers in Karoolangstertjies se neste en die langstertjies moet so die parasiterende kuikens grootmaak!
Heelwat skamer as hy is ons eie Namakwalangstertjie (Namaqua Warbler). Ek sê ‘ons eie’, want hom kry jy net hier by ons en in die Karoo. Ernstige voëlkykers ry van heinde en verre om hom hier te kom soek! Die strepies op sy spierwit bors is ligter en jy kry hom veel eerder in riete naby water en in doringbome in droë rivierlope as in die fynbos en Karoostruike. Hy kom as gevolg van sy skugterheid ook nie so maklik tussen die takke uit soos ons vriend hier bo nie. Sy roep gee hom egter weg – anders as die Karoolangstertjie se “tweet-tweet” klink sy roep byna soos ‘n metaalbal wat op ‘n plaat val – “tiek – – – tiek – – tiek – tiek-trrrrrrrr”.
Dan is daar die Rooioorlangstertjie (Rufous-eared Warbler). Met sy wit oogbank en duidelike rooi wange asook die dun swart band op sy wit bors is hy die maklikste om uit te ken. Jy soek hom ook in droë areas in die Klein-Karoo waar daar net lae struike voorkom (ek sien byvoorbeeld heelwat van hulle in die omgewing van die vliegveld). Hy wei grotendeels op die grond tussen hierdie struike en sal so nou en dan op ‘n die top van so ‘n struik gaan sit om die wêreld te vertel hy is nog baas. Laasgenoemde twee hou van klein vrugte, terwyl al drie se hoofdieët ‘n groot verskeidenheid ongewerweldes is.
Source: Reinderd Visser
(Illustrasie uit SASOL se “Birds of Southern Africa“)
VREESLIKE VAAL VOËLTJIES - TINTINKIES
‘n Mens kan kwalik kleiner as dit gaan. En valer! Sommige van hierdie outjies kan jy feitlik net van hul neefs onderskei deur te weet hoe hul geluide klink en waar jy hulle hoor of sien. Ek stel bekend – die Tinktinkie familie, waarvan seker die heel moeilikste kalante – die Klopkloppies – ook deel is. Die land is boonop vol van beide so waar jy kom, is jy in die moeilikheid. Nie net omdat hulle so eenders lyk nie, maar omdat hul kleurskakerings in die verskillende streke ook nog verskillend is. Maar moenie dat dit jou afskrik nie, as jy in die veld gaan stap, luister en kyk tog of jy nie een van hulle raakloop nie.
Ek het al drie soorte tinktinkies hier by ons raakgeloop en al drie kry jy sommer hier om die dorp. Een wat ek gereeld in die veld naby die dorp (byvoorbeeld agter die hospitaal en naby die nuwe gevangenis) raakloop is die Grysrug-tinktinkie (Grey-backed Cisticola). Hy is lief vir die fynbos in die Swartberg en Outenikwa omgewing, maar is net so tuis in die Karoo-struike van die Klein-Karoo. Soos sy naam sê het hy ‘n grys gevlekte rug en vir wat dit werd is – sy stert is effe langer as ander tinktinkies. Dit is egter sy pragtige roep wat jou aandag sal trek – ‘n borrelklank gevolg deur drie hoë note. Hy is ook glad nie skaam nie.
Sy neef wat meer van water hou en wat jy in die riete langs riviere (ook die Grobbelaarsrivier), by vleie en damme sal kry is die Vleitinktinkie (Levaillant’s Cisticola). Sy rug is donkerder gevlek as die Grysrugtinktinkie en hy het ‘n rooi stertjie. Sy geluid is byna die omgekeerde van eersgenoemde – 1 tot 3 nootjies en dan ‘n borrelgeluid. Ook hy is nie skaam nie – hy sal oop en bloot sit en gesels met wie ookal belangstel om te luister.
Die derde tinktinkie is die feitlik totaal grys Neddikkie (Neddicky) met sy kort stert en roesrooi mussie. As jy op ‘n warm somersdag in die veld kom is die kanse goed dat jy sy treurige en aanhoudende ‘tjirrie-tjirrie-tjirrie’ geluid sal hoor, amper soos ‘n onge-oliede kruiwawiel. Dit is die mannetjie wat besig is om sy gebied te verklaar.
Die enigste van die klopkloppies wat ek al hier raakgeloop het, is die Landeryklopkloppie (Zitting Cisticola, vroeër Fan-tailed Cisticola). Boere sal hom beslis al gehoor het – vroegoggend en hoog bokant lusern landerye, grasvelde en braakland is daar dikwels ‘n aanhoudende ‘tjik . . . tjik . . . tjik’ roep. Dis hy daardie. Ek hoor hulle selfs hier binne die dorp, bokant die landerye langs die rivier. Spoor jy die pronkende mannetjie tussen 10 en 50 meter die lug in op, sal jy sien dat hy met elke ‘tjik’ duik – alles deel van sy pronkvlug om die meisies te beindruk. Gaan sit hy, wikkel hy sy stert wild van kant tot kant. Parmantig!
Daar is nog een groep vales waaroor ek wil gesels – die Sangers. Onthou ook, hoe vaal hulle ookal mag lyk, hulle is almal deel van die omgewing en speel so elkeen hul rol om die eko-sisteme gesond te hou.
Source: Reinderd Visser
(Illustrasie uit SASOL se “Birds of Southern Africa“)
VREESLIKE VAAL VOËLTJIES - SANGERS (1)
Ek sal verstaan as jy teen hierdie tyd die oënskynlik eindelose lys vaal voëls uiters moeilik vind om te verteer. Hoeveel is daar dan? Byt vas, die einde is naby. Tog hoop ek dat dit jou tot dusver onder die indruk gebring het van watter groot verskeidenheid gevleueldes hier in die Klein-Karoo voorkom. Hierdie rubriek is al ‘n hele paar jaar aan die gang en die meer as 130 voëls (gekleurd en vaal) waaroor ek en my voorgangers tot dusver gesels het, kom ALMAL hier in die Klein-Karoo voor!
Vandag se drie is weer van daardie erge vales – kan jy hulle van mekaar onderskei as jy na die afbeeldings kyk? Dink net hoe moeilik dit in die veld sal wees wanneer jy hulle nie langs mekaar sien nie. Ten minste sal jy weet dis ‘n sanger wanneer jy een van hulle raakloop, en hul roepe help darem ook. Voordat ek oor die sangers gesels net eers ‘n opmerking oor hul Engelse name. Die Engelse name van alle Suider-Afrikaanse voëls is onlangs gestandardiseer om in pas te kom met die name van voëls wêreldwyd. In die proses het heelwat voëls se name verander en vandag sien jy ‘n goeie voorbeeld hiervan. (Dieselfde proses sal hom heel waarskynlik binnekort met die Afrikaanse name herhaal).
Kom ons begin by die Kaapse Rietsanger (Lesser Swamp-Warbler, vroeër African Reed Warbler). Hom kry jy nooit vêr van water af nie – hy is altyd tussen riete en ander oewerplantegroei. Trouens, hy is meeste van die tyd naby of op stingels reg langs die waterrand waar hy soek vir kos. Hy is nie ‘n skaam voëltjie nie en het ‘n pragtige, melodieuse, borrel-liedjie.
Die Kaapse Vleisanger (Little Rush-Warbler, vroeër African Sedge Warbler) daarenteen is nogal skugter, maar sy geluid is kenmerkend. Dit klink soos iemand wat ‘n stok teen ‘n fietswiel hou en dan die wiel al vinniger draai – ‘krrup . . . krrup . krrup krup krup-krupkrup.’ Vir wat dit werd is, hy het fyn strepies op sy bors waar eersgenoemde voor heeltemal wit is. Hy is ook effe “verder” van die waterrand af, maar steeds in digte plantegroei naby water.
Ons derde en effe kleiner sanger as die vorige twee, die Kleinrietsanger (African Reed Warbler vroeër African Marsh Warbler), noem ek sommer die drieroep-voëltjie. Hy sê alles drie keer oor, bv. ‘tuk-tuk-tuk/tiek-tiek-tiek/tjerie-tjerie-tjerie’. Hy verskil in nog twee opsigte van die ander 2. Eerstens sal jy hom maklik verder van water af kry (ek het hom al in struike in die dorp, ‘n hele ent weg van die rivier af, gekry), en tweedens hou hy nie van ons winters nie en en wyk dan noordwaarts. Jy sal sy kenmerkende roep dus net in die somer hoor.
As jy dalk in die omgewing van een van ons riviere of damme met riete stap, kyk of luister dan gerus of jy nie een van hierdie sangertjies raakloop nie. Volgende keer vertel ek van nog 3 sangers.
Source: Reinderd Visser
(Illustrasie uit SASOL se “Birds of Southern Africa“)
VREESLIKE VAAL VOËLTJIES - SANGERS (2)
Die naam “Sanger” is eintlik ‘n baie losse begrip vir ‘n groot groep voëls wat onder hierdie versamelnaam ingedeel word. Erger nog, sommige in hierdie groep het selfs nie “sanger” in hul naam nie. Dan is daar boonop voëls wat nie in hierdie groep val nie wat ewe mooi, indien nie mooier nie, kan sing. Dink maar aan die pragtige klanke van die Kaapse Kanarie (Cape Canary) – ‘n saadvreter – waar hy vrolik heel bo in ‘n boom sy liedjies sing. Musiek! Wel, ek het nie die indelings gedoen nie so kom ons beur voort! Ons gesels vir oulaas oor drie klein vaal voëls, wat toevallig ook sangers is. Hulle is lief vir dié areas in die Klein-Karoo waar struike, doringbome en ruigtes meer prominent is. Ek weet nie van die ander dorpe in Kannaland nie, maar ek het nog nie een van hulle in Oudtshoorn self opgemerk nie.
Vandag se vaal sanger nommer 1 is die Kaapse Kapokvoël (Cape Penduline-Tit). Al sien ek hom nie gereeld genoeg nie (ek kom bloot nie genoeg in sy omgewing nie) is hy een van my allergunstelinge, net omdat ek dink dat hy een van die slimste en mooiste nessies van al die voëls in ons omgewing bou! Ek reken hy kry sy Afrikaanse naam van een van die plante waarvan hy sy nessie bou – die sogenaamde Kapokbos (vir die plantkenners – Eriocephalus spesies, onder andere E. ericoides en E. africanus,– dankie Louis van Minwater). Hy gebruik die katoenagtige dons asook spinnekopweb en selfs skaapwol om ‘n sagte, ovaalvormige saknessie te bou. Die afbeelding wys die nessie. Let net mooi op, die opening wat jy sien is ‘n VALS opening om slange en ander potensiële vyande te kul!! Die regte ingang is daaronder weggesteek – so ‘n lippie wat hy met een poot oplig en wat weer platval sodra hy binne is. Net dat jy weet, dit neem tot 30 dae om hierdie meesterstuk te bou wat hy met spinnekopweb aan ‘n tak vasmaak. Uniek! En die egpaar bly heeljaar in hom, nie net wanneer hulle broei nie. Laat hom dus maar hang as jy een raakloop.
Moenie mislei word deur nommer 2 se naam nie – jy moet maar mooi kyk om die Geelpensbossanger (Yellow-bellied Eremomela) se geel pensie raak te sien. As ‘n mens vinnig kyk, verwar jy hom sommer maklik met die Kapokvoël. ‘n Paar minute met ‘n verkyker sal egter sy ware kleure na vore bring – hy is altyd ooraktief aan’t kos soek en sal een of ander tyd sy geel onderkant vir jou flits. Het jou! Hy het ‘n bakvormige nessie en ai, as die Meitjie (Claass’s Cuckoo) dit ontdek, lê sy gou-gou haar eier daarin en bossanger-ma moet ‘n ander ma se kind grootmaak.
Die Hofsanger (Willow Warbler) is vir my een van die daardie merkwaardige voëltjies wat jy dadelik respekteer sodra jy weet wat hy jaar vir jaar vermag! Hy is ‘n somerbesoeker, soos baie ander voëls (byvoorbeeld sommige swaeltjies, ‘ n paar roofvoëls en meeste koekoeke). Die verskil is, hy is klein – op sy swaarste 10 gram (hoeveel weeg die bottertjies wat jy in ‘n restaurant kry? 12 gram?) – en hy vlieg in ons herfstyd van bossie tot bossie tot so vêr as Finland! Hy kan mos nie sweef nie. Net om weer die volgende lente al die pad terug te vlieg hiernatoe.
Source: Reinderd Visser
(Illustrasie uit SASOL se “Birds of Southern Africa“)
KLEURVOLLE SANGERS
Dis nou eers genoeg van Vreeslike Vaal Voëls! Vandag gesels ek wat voorkoms betref oor ‘n paar uiteenlopende voëls, maar wat tog losweg nog onder die sangers gesorteer word.
Die kleinste van die spul dra ‘n mooi naam – Bandkeelkleinjantjie (Bar-throated Apalis). Die swart halssnoer om die keel wys duidelik waar hy sy naam vandaan kry. En om een of ander rede hou ons Afrikaanssprekendes van die naam Jan, want dit kom nogal gereeld by naamgewing van ons voëls voor.
Daar is Janfrederik en Jangroentjie, met ‘n volksnaam soos Jan-Tatterat ook in die rondte. (Ken jy nog ‘n paar voëls waarin die naam Jan voorkom?) Die Bandkeelkleinjantjie is lief vir struike en kan maklik in die tuine op ons dorpe waar daar genoeg struike is gesien word. As insekvretertjie beweeg hy al langs die stamme op op soek na enige klein insekte wat dit sou waag om te beweeg met hom in die omgewing.
Baie voëls het hul name te danke aan die geluide wat hulle maak. Dink maar aan die klompie waaroor ons al in die verlede gesels het – Piet-my-vrou, Hoep-hoep, Hadeda, Bokmakierie en Meitjie. Wel, vandag voeg ons nog een by ons lys – die Bosveldtjeriktik (Chestnut-vented Tit-babbler). As jy lief is om in ons karoo-veld te gaan stap, is die kanse goed dat jy al een of ander tyd ‘n tjrrrriktik-geluid uit ‘n struik hoor kom het – tjeriktik se kind.
Gaan soek hom ‘n slag, dit is ‘n uiters mooi voëltjie! Wat mens eerste opval is sy pragtige kristalhelder oë!
Dan het hy sulke donker strepies onder sy grys bors met die mooi kastaiingbruin onderstertvere as afronding. Pragtig! Hy het ‘n neef wat byna net soos hy lyk wat jy ook hier rond kan opmerk (hy is al selfs op Oudtshoorn gesien!), maar dié is heelwat skaarser, sonder die kastaiingbruin onderstertvere en ook sonder die tjrrriktik geluid. Sy naam is Grystjeriktik (Layard’s Tit-babbler).
Die Grasvoël (Cape Grassbird), is die laaste van ons voëls vir vandag. Soos sy naam sê verkies hy grasse en daarom is dit nie snaaks dat ek hom die gereeldste in die restoides teen die Swartberg-pas sien nie. Hy is glad nie skaam nie en sy kenmerkende roep sal gou jou aandag op hom vestig. Ek glimlag altyd as ek sy deurmekaar stert sien – waar kry hy daardie verslete stert vandaan? Grasvoëls is soos alle sangers insekvreters. Sy kos soek hy op die grond tussen die grasspriete en hy hou van torre, sprinkane en wurmpies, met ‘n saad of twee vir nagereg.
Source: Reinderd Visser
(Illustrasie uit SASOL se “Birds of Southern Africa”)
WINDSWAELS - GEEN DRAADSITTERS
Toe ek oor die verskillende swaeltjies in ons kontrei gesels het, het ek genoem dat hulle glad nie familie van windswaels is nie. Wanneer jy hier klaar gelees het sal jy verstaan hoekom. Daar is maar min ooreenkomste tussen die twee groepe.
Windswaels is letterlik geen draadsitters is nie. Anders as die meeste swaels kan hulle glad nie op ‘n draad of tak, of selfs op die grond, sit nie – hul onderontwikkelde beentjies is nie aangepas daarvoor nie. Daarom verkies hulle om teen ‘n muur, rotswand of boomstam aan hul kort kloutjies te hang. Maar dié doen hulle ook net wanneer hulle nesbou, broei of saans gaan slaap. Verder is hulle heel dag in die lug, druk besig om na vlieënde insekte of fyn donsies te soek.
Ek dink nie dat daar ander landvoëls is wat langer as hulle in die lug bly nie – daar is immers van hulle wat selfs snags in vlug slaap! Swaeltjies sal darem so nou en dan gaan sit om te rus of te gesels. (Seevoëls is, wat lang tye in die lug bly, in ‘n klas van hul eie. Daar is sommiges wat selfs maande in die lug bly!)
As daar waar jy woon windswaels is, hou hulle dop wanneer hulle vlieg – jy kan hulle hoog in die lug opspoor deur te luister vir die skril skreegeluid wat hulle meeste van die tyd maak. Anders as die swaels wat egalig vlerke klap en soms lang ente sal sweef, klap windswaels hul lang, geboë vlerke ongemaklik vinnig en sweef net kort ente. Verder is windswaels donker voëls met wit uitkenmerke hier en daar. Swaels daarenteen het beslis meer kleur.
Swaels gebruik meestal klei om hul neste te bou. Windswaels gebruik die fyn donsies en gras wat hulle in die lug vang (stel jou voor hoe lank dit neem om genoeg bymekaar te maak) om hul neste mee te bou. Hulle plak die neste met speeksel aanmekaar – in Asië is windswaelneste wat net uit speeksel bestaan en word deur die plaaslike mense ge-oes om te eet! Dit gebeur ook dikwels dat ‘n windswael ‘n Grootstreepswael uit sy nes sal dryf om dit dan self te gebruik.
Ek het al vier soorte windswaels by ons opgemerk. Die eerste twee, die Kleinwindswael (Little Swift) met sy ronde stert, en die Witkruiswindswael (Whiterumped swif) met sy swaelvormige stert, is somertyd in groot getalle op die dorp te sien. Laasgenoemde gaan wintertyd Noordwaarts. Die Witpenswindswael (Alpine Swift) hou van die berge en kranse, maar hulle kom tog nou en dan – veral in die wintertyd – op die dorp ‘n draai maak. Hulle is die grootste van ons windswaels en voorwaar ‘n plesier om in vlug dop te hou. Rats en vinnig se moses! Terloops, die vinnigste voël in gelykvlug, teen 170km/h, is juis ‘n soort windswael, maar hy kom nie in Suid-Afrika voor nie. (Die Swerfvalk duik teen tot soveel as 350km/h.)
Hier is natuurlik ‘n windswael in ons kontrei wat heeltemal buite sy verspreidingsgebied kom kuier het – die Palmwindswael (Palm Swift) – wat ongereeld by die CP Nel-museum en Seppie Greeff-gebou se palmbome opgemerk word. Hulle is egter so skaars dat ’n mens hulle net met groot geluk raaksien. Kyk mooi na die illustrasie – die lang, spits stert is ‘n duidelike kenmerk.
Source: Reinderd Visser
(Illustrasies uit SASOL se “Birds of Southern Africa“)
WITOOG - BESOEKERS IN JOU TUIN
Hoe langer ek met hierdie artikels besig is hoe meer kom ek agter dat daar sommer ‘n groot getal lesers is wat – veral as dit by die voëllewe in hul tuine kom – fyn oplet wat om hulle gebeur. Weereens dankie vir al die oproepe en geselsies op straat, ek geniet die uiters interessante gewaarwordinge wat julle met my deel! Hierdie tyd van die jaar is daar die ekstra bonus dat die voëls ywerig nesmaak, kyk gerus hoeveel verskillende voëlneste jy in jou tuin kan tel. Jy sal verras wees hoe vaardig en uitgeslape hulle kan wees. ‘n Spekvreter het juis ‘n interessante nes in die saal van die museum gebou, kompleet met klippies wat paadjie maak tot by die nes.
Lente en vroeg-somer is ook vrugtetyd en dan is voëls vir baie tuiniers nie die gewildste besoekers aan hul tuine nie, veral nie as die voëls vrugtevreters is nie. Vandag se twee – die Kaapse Glasogie (Cape White-eye) en die Kaapse Tiptol (Cape Bulbul) – is ook nie altyd onskuldig nie. Ek ken die frustrasie van ‘n vrug pluk en dan is daar ‘n groot gat in gevreet. ‘n Mens moet seker maar ‘n keuse maak of jy die vrugtevreters in jou tuin hul deel sal gun aldan nie, ek weet dat windbukse hierdie tyd van die jaar oortyd kan werk. Iemand het my juis met trots vertel dat hy al 6 Bont Houtkappers in sy koejawelboom geklits het.
Die glasogie en tiptol is glad nie familie van mekaar nie, ek plaas hulle bloot saam omdat hulle die wit om hul oë in gemeen het wat hulle die kenmerkende kraalogies gee. Die verskil is dat die glasogie (of ook “meel-ogie” in die volksmond) se kraaltjies uit klein, wit veertjies bestaan terwyl tiptol s’n wit, kaal ringetjies is.
Die glasogie is seker een van die bekendste voëltjies in ons tuine, al is hy so klein. Trouens, hy kom wyd oor die wêreld voor. Ek het hom tot in Taiwan raakgeloop! Hy verkies nektar en insekte op sy bord, maar sal nie by ‘n beskikbare vrug verbygaan nie – veral die sap van lemoene en ryp avokadopere skep ‘n groot versoeking! Al het hy nie ‘n lang snawel nie, is sy tong spesiaal aangepas om by die nektar in blomme uit te kom.
En wat hom ‘n bonus in die tuin maak, is dat hy ‘n groot voorliefde vir plantluise het. Sonder glasogies sou die probleem na my mening veel groter gewees het! Glasogies beweeg gewoonlik in groepies deur die takke op soek na versnaperinge. Daar is ook niks met hul stembande verkeerd nie, want hulle is van die grootste raasbekkies vroegoggend met dagbreek. Hulle raak nie so mak soos kwikkies en janfrederikke by jou agterdeur nie, maar sal tog gereeld van die voëlbad in jou tuin gebruik maak.
Daar is drie tiptolfamilies in Suid-Afrika en hulle word hoofsaaklik aan hul oë uitgeken. By ons is die Kaapse Tiptol met die wit ogie, in die droër streke (so na as Prins Albert net anderkant die berg) die Rooi-oogtiptol en meer Oos die Swartoogtiptol. Hulle name in die volksmond is o.a. “Toppie” as gevolg van die kroontjie wat hulle soms wys deur die veertjies te lig, en “Bottergat” as gevolg van hul geel onderkante. Tiptolle is raserige voëls, en die desibels neem dramaties toe as daar gevaar is, soos wanneer ‘n slang, kat of uil dit sou waag om hul gunsteling boom te besoek.
Tiptolle geniet ook insekte en nektar soos die glasogies, maar vrugte is hul groot liefde, wat hulle meer van ‘n vyand kan maak. Iemand het gesê dat dit maklik is om die skade wat voëls in landerye of boorde aanrig vas te stel, maar dat dit onmoontlik is om die goed wat hulle doen deur die eet van skadelike insekte, te meet. Moenie die positiewe rol van die tiptol en glasogie in jou tuin onderskat nie.
Source: Reinderd Visser
(Illustrasies uit SASOL se “Birds of Southern Africa“)
WIT REIERS VAN DIE KLEIN KAROO
Bosluisvoëls – dit is hoe ek die wit Veereiers (Cattle Egret), wat ‘n mens so dikwels op landerye en veral tussen beeste sien, geken het. Ook nie sonder rede nie, want al is bosluise maar ‘n klein deel van hulle diëet, sal hulle nie ‘n bosluis op ‘n bees of perd (en in die wilde areas op buffels en selfs olifante) los nie. Het jy al gekyk hoe hulle op die rug van ‘n koei sit en rondsoek vir ‘n versnaperinkie? Die ander rede waarom hulle so gereeld saam met vee gesien word is omdat, soos die vee loop en wei, insekte tussen hulle bene opvlieg en die reiers hulle dan makliker sien om te vang. Handig, nie waar nie?
Veereiers is geneig om in swerms te wei (ook waar geploeg word) en kan so in die proses groot hoeveelhede sprinkane en wurms verorber, wat hulle natuurlik goeie vriende van boere maak. Ek lees dat hulle al gehelp het om insekplae op plekke onder beheer te bring! Veereiers is die kleinste van ons wit reiers, en in die broeityd vanaf Augustus het die mannetjies sulke pragtige oranje pluimvere (nou nie so groot soos volstruise s’n nie) op die kop, nek en bors. Terloops, volwasse veereiers het ‘n oranje-geel bek en geel bene, net ingeval jy hulle dalk met die ander wit reiers wil vergelyk. Ja, daar is ten minste nog 3 ander wat hier by ons rondloop.
Anders as veereiers wat lief is om eerder weg van water af te jag, sien jy die Kleinwitreiers (Little Egrets) byna altyd by damme of langs riviere. Hulle is maklik om uit te ken, want bekyk jy hul swart bene, sal jy sien dat dit lyk of hulle met hulle pote in geel verf gaan staan het. Die tone is sommer so ‘n helder geel. Hulle is elegante voëls met pragtige wit pluime in die broeityd, en met daardie lang swart snawel vang hulle veral vissies, paddas en water-insekte.
Dis nogal lekker om een dop te hou terwyl hy jag – hy sal soms so met die een voet in die modder trap-trap om potensiële kos op te jaag, net om dan met sulke koddige maar vinnige swenke al agter die systappende padda of vissie aan te hardloop tot hy dit vang.
Die Grootwitreier (Great White Egret) is nie so algemeen hier by ons nie, maar tog ‘n pragtige voël om dop te hou as jy hom wel te siene kry. Hy is wat sy naam sê – groot en wit. En as jy regtig wonder of dit nie dalk ‘n Kleinwitreier is waarna jy kyk nie (veral as die pote onder water is), kyk na sy snawel, dit is duidelik geel, behalwe in die broeiseisoen in die middel van die somer, wanneer dit swart is. Van broeiseisoen gepraat, soos die ander wit reiers het die Grootwitreier-mannetjies ook pragtige pluime op die rug om by die dames mee te spog.
Hulle jag ook langs en in die water. Die Geelbekwitreier (Intermediate Egret) is nog skaarser hier by ons as die Grootwitreier en ‘n ongeoefende oog wat sy geel snawel sien mag hom maklik met eersgenoemde verwar. Hy is darem ietwat kleiner en sy bene is nie heeltemal swart nie.
Source: Reinderd Visser
(Illustrasie uit SASOL se “Birds of Southern Africa“)
WOELIGE KOEKOEKE
Nou ja, vandag leer ons dat mooi en ordentlik nie altyd bymekaar pas nie. Hierdie 3 kalante, wat gereeld by ons in die Klein-Karoo kom kuier, is regtig mooi voëls, maar in die voëlwêreld het hulle maar ‘n vrotterige reputasie! Meer daaroor later, kom ons gee hulle net eers name. Soos die Bokmakierie van verlede keer het al drie van hulle hul Afrikaanse name aan die geluide wat hulle maak te danke. Seker die bekendste is die onmiskenbare roep van die Piet-My-Vrou (Red-chested Cuckoo).
Dan is daar die “die-die-die-diederik” van die Diederikkie (Diederick Cuckoo). En het jy al die duidelike “mei-tjie . . mei-tjie” roep van die gelyknamige Meitjie (Klaas’s Cuckoo) gehoor? Die Engelse name verklap dat hulle deel is van die koekoek-familie – ‘n naam wat natuurlik ook met geluid te make het. In Europa is daar een wat saggies “koek-koek” roep en wat onder andere die inspirasie vir gedigte, musiek en die koekoek-horlosies was. Maar dis waar die inspirasie ophou – hulle is andersins maar karnallies.
Maar waarom Karnallies? Want – as jy nog nie weet nie – hierdie gevleueldes hou nie van self kinders grootmaak nie. Hulle het die kuns vervolmaak om hul eiers in ander voëls se neste te lê en die opvoeding aan die arme surrogaat-moeders (en vaders) oor te laat. Erger nog, die koekoek-kuiken word gewoonlik eerste gebore en begin dadelik om die ander eiers uit die nes te skop. Hy/sy wil ALLEEN eet! Wat ook merkwaardig is, is dat die koekoek se eier meeste van die tyd op ‘n haar na soos dié van die ongelukkige gasvrou s’n lyk. Die “wreedste” vir my is dat koekoeke nogal groterige voëls is en dat die gas-ouers meestal baie kleiner is, tot so klein as suikerbekkies!! Wel, die natuur is nie vir sissies nie en dit is deel van die natuur.
Die Piet-my-vrou se roep is sekerlik nie onbekend onder ons nie, maar dit beteken nie dat jy hom gereeld sal sien nie. Hy is maar sku en sit nie maklik oop en bloot en roep nie. Trouens, hy kan veral in die nag nogal ‘n ergernis wees wanneer hy vir ure aaneen in die donker roep. Gelukkig is hy net gedurende broeityd so aanhoudend. Ander tye is hy stiller. Terwyl manlief roep, is vroutjie natuurlik baie stil en soek na veral Janfrederikke se neste.
Vind sy een sal sy blitsvinnig haar eier lê en een uit die nes haal, net ingeval die gasvrou kan tel. Wel, gasvrou mag dalk kan tel, maar sy is beslis kleurblind, want toevallig lyk die Piet-my-vrou se eier glad nie soos die van die Janfrederik s’n nie. Wintertyd trek Piet-my-vrou en sy familie (al ontmoet die kinders nooit eens hul ouers nie) na die trope vir ‘n lekker warm wintervakansie.
Beide die Meitjie en die Diederikkie trek ook gewoonlik in die winter trope toe, maar ek het al Meitjies gehoor wat in die winter hier roep – seker te lui gewees om die karavaan te pak. Hulle is twee regtige mooi voëls, met die groen rugvere wat glim in die son. Die spikkels op die Diederik se vlerke onderskei hom van die Meitjie. Soos meeste koekoeke is hul gunsteling gereg harige wurms. Wat vir ander voëls giftige kos is, is vir hulle ‘n lekkerny! Diederikke is lief om hul eiers in veral vinke se neste te lê – ek het een dag aanskou hoedat ‘n diederik-wyfie worstel om uit ‘n vink se geweefte nes te kom nadat sy die eier gelê het. Meitjies verkies weer bontrokkies en selfs suikerbekkies se neste. Hoe sy in daardie klein toe nessie kom sal net sy weet! Voorwaar woelige voëls, wat ander se lewens goed kan versuur!!
Source: Reinderd Visser
(Illustrasies uit SASOL se “Birds of Southern Africa“)