fbpx

VOËLS VAN ONS KONTREI

HENSOPPERS

Hul vermoë om seepglad en met groot gemak tot diep onder die oppervlak van die water te duik is genoeg om enige snorkel-entoesias groen van jaloesie te maak. En kom hulle aan land, herken jy hulle as sulke groterige donker voëls wat luilekker op ‘n tak of rots sit met die vlerke sonkant toe oopgesprei. Daar is ‘n paar verskillende soorte, veral langs die kus, maar die Klein-Karoo staan mos vir niemand terug nie en ons het self drie van hulle – die duikers wat so kenmerkend oopvlerk langs die rivier en damme in die son sit en bak.

Hulle het heelwat in gemeen – die belangrikste natuurlik dat die meeste van hul vere nie waterdig is nie. Ek sê “die meeste vere”, want hul vliegvere het wel genoeg olie aan om hulle gebind te hou. Hoe anders gaan hulle dan gevlieg kry wanneer hulle nat is? Maar die res van die vere absorbeer water net so goed soos jou motor se “chammy”. Die rede hiervoor is darem ook seker voor die hand liggend – dit maak dit net vir die voël soveel makliker om onder die water te kan bly terwyl hy jag. As jy al ‘n eend – waarvan die vere goed ge-olie is – dopgehou het wanneer hy onder die water induik, sal jy sien hy kom op soos ‘n hengelaar se dobbertjie! Hy vind dit met ander woorde moeilik om lank onder te bly. Nie ‘n duiker nie.

En dan is daar die hensop-houding nadat hulle geswem en gejag het. Ja, een belangrike rede is natuurlik om te sorg dat die vere weer droog word – hulle kan by tye tot ‘n anderhalfuur so sit. Maar nog ‘n interessantheid rondom hierdie oopvlerk-houding is dat die hitte wat die son op ’n duiker se lyf genereer, help met die spysvertering! Wie sou dit kon raai?

Die algemeenste en kleinste een hier by ons is die Rietduiker (Reed Cormorant). Jy behoort hom oral naby vars water te kan sien, solank dit net nie te vinnig vloei nie. Hy duik gewoonlik tot so 2 meter diep waar hy vir veral vis soek, maar is al tot op 10 meter onder die oppervlakte waargeneem! Hy eet sy vangs gewoonlik kop eerste. Let egter op wanneer hy die hensopper-posisie inneem – hy sit gewoonlik met sy rug na die son toe, en nie sy bors nie, soos wat ‘n mens sou verwag. Het hy vyande? Iemand het al gesien hoedat ‘n Visarend een vang.

Sy groter neef met met die beskrywende naam Witborsduiker (White-breasted Cormorant) is net so ‘n goeie duiker en bly van 20 sekondes to ‘n minuut-en-‘n-half op ‘n keer onder die water, met baie kort asemskep tussen duike. Anders as die rietduiker wat vars water verkies, is hy ewe tuis in vars en sout water. En met sy groot lyf is hy die opportunis vanself – hy sal maklik ‘n ander voël se vangs probeer roof. Wanneer hy oopvlerk in die son bak, hou, anders as rietduiker, sy bors sonkant toe. En sy vyand? Aan die kus is robbe veral ‘n bedreiging.

Die Slanghalsvoël (African Darter) se naam is eweneens beskrywend. Trouens, as hy in die water swem, is sy hele lyf onder die water en net die lang gekrulde nek steek slangagtig bo die oppervlak uit. Anders as die ander twee wat hul prooi met ‘n knyptangaksie van hulle bekke vang, is die punte van sy snawel skerp genoeg om hulle deur die vis te steek – soos ‘n duiker met ‘n pylgeweer. Op die oppervlak sal hy dan die vis behendig die lug opgooi, vang en insluk. Ook hy is maar versigtig vir Visarende, want hulle hou van sy vleis.

Kyk gerus uit vir hierdie drie hensoppers wanneer jy weer langs ‘n dam gaan sit en ontspan.

Source: Reinderd Visser
(Illustrasie uit SASOL se “Birds of Southern Africa“)

HOENDERS MET 'N VERSKIL

Ons ken almal tant Souf op die hoek se Bantompies wat soms 3 uur in die oggend in haar agterjaart wakkerskrik en skril begin kraai. Dit is soort van werfhoenders, daardie. Vandag se gevleueldes dra ook die naam hoender, maar hulle kraai nie. Trouens, ek sal verbaas wees as jy hulle iewers op ‘n plaaswerf raakloop, want hulle is nie skrophoenders nie. Nee, vir hulle kry jy in en by ‘n dam, of onder in die Grobbelaarsrivier. En omdat albei donker is, word hulle op ‘n afstand maklik met mekaar verwar. Ek praat vandag oor die Waterhoender (Common Moorhen) en Bleshoender (Redknobbed Coot). Eersgenoemde ken jy darem aan sy pragtige rooi en geel snawel, die wit onder sy stert en helder-geel bene uit, terwyl die bleshoender die kenmerkende bles gesig met die twee rooi knoppies bo-op sy kop het. (Die rooi knoppies het iets met die broeiseisoen te doen, want dan is hulle groter).

Elke voël in die natuur het sy plek – sommige vreet vrugte en dra so sade weg om op ‘n ander plek te ontkiem; ander bestuif blomme deur die nektar te drink, en dan is daar die jagters wat muisgetalle in bedwang probeer hou. Net so staan hierdie twee ook hul plek beskeie vol waar hulle hul tuiste in ‘n dam of rivier gemaak het. Met hul gekrap en gewerskaf help hulle die natuur by die ater in stand hou.

Die waterhoender het die groter dieët van die twee. Waar die bleshoender meer op plante konsentreer (hy is byvoorbeeld baie lief vir hiasinte), is die waterhoender die een wat enigiets sal eet, plant of klein diertjie. ‘n Egter omnivoor. Beide sal land toe kom om kos te soek, maar verkies om in die water en tussen riete te wei. Die bleshoenders is die meer gewillige swemmers en jy sal hulle in groot groepe (tot ‘n duisend op plekke) op oop water kry. Waterhoenders is meer tussen die riete en kom ook nie in sulke groot getalle bymekaar nie. Van swem gepraat, beide se tone is vir swem aangepas. Hulle lyk nou wel nie soos ‘n eend met gewebde pote nie, maar elke toon het tog sulke smal stukkies web om hulle te help swem. Waar bleshoenders maklik sal duik agter kos aan, bly waterhoenders bo en sal hoogstens die kop in die water steek. Hulle sal wel duik as hulle in gevaar is.

Waterhoenders is nie skaam voëls nie, maar as hulle senuweeagtig raak word daardie stert kort-kort op en af geflikker en sal hulle vinnig padgee. Hulle bly ook gewoonlik vir lang tye op een plek, terwyl bleshoenders sommer maklik die pad sal vat as die kos skaars raak.

Hou hierdie twee gerus ‘n bietjie dop wanneer jy weer by ‘n plaasdam stilhou. Dankie weereens vir al die oproepe. Onlangs was daar ‘n vraag oor kwikkies wat saans in groot groepe bymekaarkom. Dit gebeur gewoonlik hier rondom wintertyd. Tydens die somer en broeityd word daar afgepaar en kry jy dit feitlik glad nie dat hulle in sulke groepe vergader nie.

Source: Reinderd Visser
(Illustrasie uit SASOL se “Birds of Southern Africa“)

HOUTKAPPER OF SPEG - KAP KAN HY KAP

Wat is in ‘n naam? Wanneer dit by die kap-kappers in ons omgewing kom voel dit vir my ek is in ‘n smartie-boks! Wat ons ouers enkele jare gelede Baardmanne genoem het, dra nou die naam Houtkappers. En wat vroeër Houtkappers genoem was, is nou skielik Spegte. Wat ons vandag Spegte noem, noem die Engelstaliges Woodpeckers, en wat ons Houtkappers noem is by hulle . . . Barbets. Hoe dit ook al sy, kap sal hulle kap en as jy fyn luister mag jy gelukkig genoeg wees om ‘n houtkapper of speg iewers in jou tuin te hoor timmer. Trouens, ‘n paar lesers op die dorp het al my aandag daarop gevestig dat hulle wel van hierdie interessante besoekers in hul tuine het.

Wanneer jy ‘n gekappery in jou tuin hoor, is dit heel waarskynlik die kleinerige Kardinaalspeg (Cardinal Woodpecker) wat met kossoek of selfs nesbou besig is. Hy is ‘n tipiese voorbeeld van ‘n regte houtkapper – sy skerppunt-snawel is net reg vir presisie-timmerwerk (en sy kopbeen is ekstra dik om die brein te beskerm); twee tone wys vorentoe en twee agtertoe vir beter vasvat; en selfs die stertvere is ekstra styf om met die kapslag ‘n stewige anker te vorm. Meeste van die kap-kap wat jy hoor is wanneer hy ‘n hol plekkie in ‘n takkie soek, want daar kan ‘n vet wurm in wees. Kry hy een, sal hy dit oopkap en sy lang skerppunttong insteek, die wurm uittrek en siedaar – middagete!

Die kleurvolle Bont Houtkapper (Acasia Pied Barbet), is nie skaam om sy lyf te wys nie, maar sou jy sukkel om hom raak te sien sal sy kras “pê-pê-pê”-roep jou gou op sy spoor sit. Die geluid is onmiskenbaar en as jy dit eers ken sal jy dadelik weet wanneer daar een in jou omgewing stem dikmaak. Hulle is meer algemeen op die plase en in die veld om die dorp en as daar ‘n klompie soetdorings –hul gunsteling bome – bymekaar staan is die kanse goed dat jy hulle daar sal raakloop. Heelwat Bont Houtkappers het egter al dorp toe getrek, so, fyn luister vir die roep. Soos die illustrasie wys het hy ‘n sterk snawel en hy gebruik dit om ‘n gat vir ‘n nes in sagte hout te kap en kou. Let wel, neste is by meeste voëls net vir eiers lê en kuikens grootmaak – hierdie ouens gebruik hul neste egter jaardeur as slaapplek, al broei hulle nie meer nie. En dinge kom nie altyd maklik nie – dis op rekord dat een Bont Houtkapper-paar ses maande lank moes werskaf om ‘n nes pasklaar te kon maak!

Jy kan dit natuurlik vir enige voornemende huisbouers in jou tuin baie makliker maak deur ‘n stuk garingboomstam (so 1.5m) met ‘n gat deur die harde deel teen een van jou bome vas te maak. Voornemende bonthoutkapper-ouers het een vyand – die Klein Heuningwyser (Lesser Honeyguide) – wat op hulle parisiteer deur ‘n eier in hul nes te lê. En heuningwyser-kleintjie maak al die houtkapperkinders dood om alleen al die kos te kan kry. Vabond!!

Ons laaste kapper – die Grondspeg (Ground Woodpecker) – het ek nog net bo-op Swartbergpas gesien, maar hy is interessant genoeg om tog ook genoem te word. Om die een of ander rede het hy besluit dat dit makliker is om gate in walle of selfs in termietneste, as in ‘n boomstam te maak. Hul stapelvoedsel is dan ook miere, en veral die eiers en larwes, wat hulle met hul taai tong onder klippe of uit neste trek en vreet.

En onthou, ‘n Hoep-hoep is nie ‘n houtkapper nie, al lyk hy met sy groot kop en lang snawel wat so kap-kap in die grond nogal baie soos een.

Source: Reinderd Visser
(Illustrasies uit SASOL se “Birds of Southern Africa“)

IBISSE - VAN HOOGTEVREESLYERS TOT HOOGHEILIGES

‘n Vriend van my se seuntjie kon nog nie eens “Mammie” of “Pappie” sê nie, maar het jy hom gevra om die Hadeda (Hadeda Ibis) (ons eerste Ibis) se roep na te maak, kon hy die “Ha-ha-hadeda” feitlik foutloos nadoen – ‘n seker teken dat die kras geluid vir ewig in sy jong en steeds ontwikkelende brein ingeskree is. Hadedas is loshande die luidrugtigste van die voëls wat hulle hier op ons dorp kom tuismaak het. Daar is juis al – tong in die kies – gesê dat voëls wat met soveel lawaai opvlieg (die kenmerkende “ha-haa-haa”) beslis aan hoogtevrees moet ly en dat dit uit vrees is wat hulle so skree. Selfs die koddige manier hoe hulle hul breë vlerke in vlug klap laat jou wonder of hulle nog vlieglesse nodig het. Hadedas is op hul lawaaierigste vroegoggend of laatmiddag, veral as hulle op pad is na of van hul slaapplekke. Hulle sal egter enige tyd van die dag, sonder klaarblyklike rede, in ‘n boom sit en raas.

Die Hadeda het sekerlik geen bekendstelling nodig nie – hy is (buiten die onmiskenbare geraas) die groot, koddige, grysbruin voël wat sy lang, krom snawel op natgeleide sportgronde of selfs jou voortuin in die gras steek-steek, op soek na ‘n wurm. Maar probeer gerus om op ‘n sonskyndag na aan hom te kom en kyk of jy die wit wangstrepe, pienk op sy skouers en die glansgroen of pers op sy vlerke kan raaksien. Jy sal amper begin dink hy is mooi en van hom hou as jy die weggesteekte kleure ontdek. ‘n Mens waardeer die Hadeda eers regtig wanneer jy sien hoe behendig hy sy ete met daardie lang snawel kan opspoor en uitgrawe. Hy ruik blykbaar uitstekend met sy uiters sensitiewe snawel!

Ou Hoogtevrees is een van vier ibisse in Suid-Afrika. ‘n Nefie van hom, wat jy dalk al in ons omgewing op veral lusernlande, by damme en langs riviere gesien het, is die wit en swart Skoorsteenveër. Sy Engelse naam – Sacred Ibis – verklap iets van sy status in die verre verlede. Die Egiptenare het hom aanbid as ‘n god van kennis en baie is selfs gemummifiseer en saam met die faraos begrawe. Ek het terwyl ek in Taiwan was ‘n regte ibis-mummie by ‘n uitstalling uit oud-Egipte gesien. Ek lees ook dat hulle steeds deur boere gerespekteer word omdat hulle help met (insek-) plaagkontrole – boer se vriend, dus.

Net vir interessantheid: Ibis nommer 3 – die bruin, langbeen Glansibis (Glossy Ibis) – kry jy kuslangs asook in die ou Vrystaat en Transvaal. Wat kleure betref vir my die mooiste, maar die koddigste van die vier met sy bloedrooi kaalkop – die Kalkoenibis (Southern Bald Ibis) – kry jy veral in en om Lesotho. En al drie laasgenoemdes het beslis beter maniere as Hadeda wanneer dit by gesels kom.

Source: Reinderd Visser
(Illustrasies uit SASOL se “Birds of Southern Africa“)

KANARIES - SANGERS VAN FORMAAT

Nie alle geel voëltjies wat mooi sing is noodwendig kanaries nie, en nie alle kanaries is noodwendig geel nie. Trouens, daar is heelwat van hulle wat maar erg vaal is. Vandag kyk ons na die sewe kanariesoorte wat hier in die Oudtshoorn-omgewing voorkom, nl. Die Geel-, Kaapse-, Dikbek-, Swartkop-, Streepkop-, Witkeel-, en Witvlerkkanarie.

Almal wat kosmosse in die tuin het en al gekyk het wie dit is wat die kosmossaadjies so verniel net voor hulle ryp word, sal die Kaapse Kanarie (Cape Canary) ken. Dit is ‘n klein, gelerige voëltjie met duidelike grys op die agterkop, oordekvere en sykante van die nek. Die wyfies en jonges is valer as die mannetjies. Hulle maak ‘n verskeidenheid geluide wat beskryf word as “a fast jumble of rolling warbles, trills and twitters”. Jy kan jou verluister wanneer ‘n klomp mannetjies uit aangrensende bome gelyktydig lostrek. Dat soveel vrolikheid uit so ‘n klein lyfie kan kom, is ongelooflik en laat ‘n mens jou kop in skaamte sak oor jou dikwelse onvergenoegdheid met die lewe.

Witvlerkkanaries (Protea Canaries) is vir die meeste dorpsjapies redelik onbekend omdat hulle eerder in proteastruike teen die hange van die Swartberg en soms in beboste klowe in ons omgewing aangetref word. Hulle is skugter voëltjies, maar kom gelokaliseerd (in een gebied) voor en as jy weet waar om te soek, kan jy hulle redelik maklik opspoor. Hulle is groot, vaal kanaries met bleek snawels en twee duidelike strepe op hul toegevoude vlerke. Hulle is endemies, wat beteken dat hulle net in Suidelike Afrika voorkom (vanaf die Sederberge tot in die Baviaanskloof) en hou veral van protea-sade.

Die Witkeelkanarie (Whitethroated Canary) en die Streepkopkanarie (Streakyheaded Canary) is twee kanaries waarna jy goed sal moet kyk om te weet presies watter een voor jou is. Albei is vaalbruin en het wit wenkbroue, maar die Streepkopkanarie se wenkbroue is breër en duideliker as dié van die Witkeelkanarie. Albei het strepies op die kroon, maar soos die naam aandui is die Streepkopkanarie se strepies baie duideliker as dié van die Witkeelkanarie. Albei voëltjies het ‘n witterige keel, maar getrou aan sy naam is die Witkeelkanarie se keel witter as dié van die Streepkopkanarie. Albei het sterk, stewige snawels. Nes jy begin dink jy sal hulle nooit uitmekaar ken nie, skep moed, want daar is een baie duidelike kenmerk wat jou sal help om hulle sommer maklik van mekaar te onderskei.

Sodra jy seker is dat jy na een van hierdie twee kanaries kyk, jaag hom dat hy van jou af wegvlieg. Die Witkeelkanarie het ‘n duidelike geelgroen kruis wat totaal afwesig is by die Streepkopkanarie. Maklik né! Hulle is beide lief vir kosmosse en plante wat nektar gee soos aalwyne en Tecomaria capensis (Kanferfoelie, Cape Honey Suckle), veral wanneer die sagte peultjies met die saad gevorm is. Dis ongelooflik om te sien hoe behendig hierdie voëls ‘n saadpeul met hulle bekkies oopwoel om die saadjies binne-in by te kom.

Volgens inwoners van Oudtshoorn wat hier grootgeword het, was Swartkopkanaries (Black Headed Canaries) vroeër volop, maar deesdae sukkel jy nogal om hulle te siene te kry. Die mannetjie het ‘n swart kop en nek en die swart vorm ‘n omgekeerde letter V op die wit bors en maag. Die bo-dele en stert is kastaiingbruin. Die wyfie is maar vaal. In die broeityd bly hulle op een plek, maar is nomadies buite die broeiseisoen. Ek het hulle al op die De Rust-pad raakgeloop.

Om die laaste twee – die Dikbekkanarie (Bully Canary) en die Geelkanarie (Yellow Canary) – van mekaar te onderskei is vir ongereelde voëlkykers net so moeilik as met die Witkeel- en Streepkopkanarie. Daar is darem ‘n paar kenmerke wat jou kan help. As jy op ‘n swermpie van hierdie voëltjies afkom en daar is geles én vales, is dit Geelkanaries, want die wyfies en mannetjies van Dikbekkanaries lyk dieselfde. Dikbekkanaries het ‘n olyfgroenerige bors teenoor die heeltemal geel bors van die Geelkanaries. As jy hulle van naby te sien kry, kyk mooi na die vlerkdekvere. Die rande van die vlerkdekvere van die Geelkanarie is wit. Dit ontbreek by die Dikbekkanarie. Kyk maar gerus vroegoggend in die veld naby die hospitaal uit vir Geelkanaries. Hulle kom gereeld daar voor.

Geniet die kanaries in jou tuin. Plant blomme en struike wat hulle aantreklik vind en kos aan hulle voorsien en jy sal op gereelde basis hierdie voëltjies met hulle strelende sang om jou hê.

(Hierdie is ‘n verkorting van ‘n stuk geskryf deur Wilmar Matthee, ‘n dominee by NGK Oudtshoorn-Noord en ook ‘n kranige voëlkyker.)

Source: Reinderd Visser
(Illustrasies uit SASOL se “Birds of Southern Africa“)

KLEINER DORPSJAGTERS

Ons is steeds by gevleuelde vleisvreters na verlede keer se geselsie oor GROOT dorpsjagters. Moet egter nie hierdie jagters onderskat net omdat hulle ‘n bietjie kleiner is nie, trouens, een van hulle het die reputasie as die vinnigste jagter in die wêreld!

Het jy al vroeg-oggend ‘n ent gaan stap en dan hoog in die lug ‘n fyn “tsip . . . . tsip . . . . .tsip” geluid gehoor? Dit is die vroegoggend-roep van die Afrikaanse Sperwer (African Goshawk), waar hy baie hoog in die lug in sirkels vlieg. ‘n Halfuur of so na hy begin het met hierdie vertoonvlug, verdwyn hy tussen die takke van hoë bome en vir die res van die dag is hy moeilik om te sien. Tipies sperwer kan hy met sy lekker lang stert behendig tussen die bome deurvleg as hy ‘n duif of ander voël jaag. Hy hou ook van grondkruipers soos akkedisse, slangetjies en paddas. En net na sononder sal hy nie nee sê vir ‘n sappige vlermuis nie. Hier is beslis meer as een paar in die omgewing van Oudtshoorn so luister en kyk fyn.

Die kleinste van ons dorpjagters is die Witkruissperwer (Gabar Goshawk). Hy lyk baie soos die Afrikaanse Sperwer (meeste sperwers is grys, met lang bene en ‘n lang stert), maar hy is niks groter as ‘n kransduif nie. So klein soos wat hy is, is hy steeds ‘n behendige jagter wat kleiner voëls rats tussen die bome deur kan jaag en in die lug vang. Ek het op ’n keer ‘n komiese voorval aanskou waar ‘n Witkruissperwer ‘n kransduif “aangeval” het, en die duif skaars ‘n oog geknip het! Kransduiwe het egter al op Witkruissperwer se etenstafel beland – as hy regtig honger is sal hy beslis prooi so groot as hyself met mening aanvat!

Die laaste twee lyk baie na mekaar – soveel so dat ‘n ongeoefende oog maklik sal dink dat dit dieselfde voël is. As jy fyn kyk sal jy mettertyd die verskille kan raaksien, maar net sodra jy dink jy het hom, dan sien jy ‘n jonge, en jy is van voor af deurmekaar. Hoe ook al, hierdie twee is die Porche en die Ferrari onder die gevleuelde jagters! Ek praat van die blitsige Edelvalk (Lanner Falcon) en die nog vinniger Swerfvalk (Peregrine Falcon). Anders as die sperwers wat woude as jaggebied verkies, verkies die twee om in die ooptes te jag en val ander voëls aan deur gewoonlik met ‘n verblindende spoed op hulle af te duik. Dit is op rekord dat die Swerfvalk gemiddeld so vinnig as 300km/h duik.

Die manne met die dik brille sê sy duik is al teen 380km per uur gemeet, wat hom loshande die vinnigste lewende wese op aarde maak. Hoe daardie liggaam die skok tydens impak kan hanteer, is ‘n raaisel, want dit klink letterlik soos ‘n geweerskoot wanneer een van hulle ‘n duif tref! Duif se kind is egter nie so gelukkig nie. Eersgenoemde bly heeljaar by ons terwyl die Swerfvalk wintertyd Noordwaarts uitwyk.

 

 

 

 

Source: Reinderd Visser
(Illustrasie uit SASOL se “Birds of Southern Africa“)

KLEURVOLLE BONTROKKIES

Voëls. Hulle is oral om ons – in ons tuine, in die bome, in struike en op die grond in ons dorpe, en daar’s nog meer van hulle buite ons dorpe op telefoonpale, langs riviere en op damme, in klowe en kranse. Dit is net so jammer dat ‘n mens hulle nie altyd kan waardeer sonder dat dit ‘n bietjie moeite vra nie. Ja, die groot verskeidenheid voëls om ons vra soms ‘n goeie verkyker en kosbare tyd uit ons besige lewe om hul ware kleure te ontbloot. Veral die kleintjies. Vandag se Kaapse Bontrokkie (African Stonechat) illustreer my punt baie goed! Sonder ‘n verkyker lyk hy op ‘n afstand na net nog ‘n vaal klein voëltjie wat iewers op ‘n grasspriet of tak sit en vinnig wegvlieg wanneer jy te na aan hom kom.

Sou jy die kans kry om nader aan hom te kan kom, sien jy egter ‘n heel ander prentjie. Die mannetjies is (soos gewoonlik) die kleurrykste van die twee. Met sy swart kop, wit kragie, roesbruin borsie en swart vlerke is hy onmiskenbaar. Vroulief staan egter nie vêr terug nie – anders as ander voëlwyfies wat maar vaal is, het sy ‘n pragtige oranje borsie. Beide het ‘n wit kruis wat duidelik wys wanneer hulle wegvlieg. Klein, maar kleurvol!

Bontrokkies is glad nie skaam voëltjies nie, hoor. Hul gedrag maak hulle eintlik heel maklik om raak te sien, jy moet net op die regte plekke kyk. Ek het hulle nog nie in ons dorpe raakgeloop nie, maar ry jy na een van jou buurdorpe sit daar heelwat van hulle sommer na aan of langs die pad op ‘n heining of tak vanwaar hulle jag. Hulle is voëls wat hou van ooptes – grasvelde, fynbos, landerye, areas met struike wat nie te na aan mekaar lê nie. Dit maak dit vir hulle maklik om te jag – meeste van hul kos is insekte en ander ongewerweldes wat op die grond rondkruip (hulle is dus nie Blou Bulle nie, want hulle eet van die “vloer” af, reg?).

Sou jy die geleentheid kry en ‘n paar raakloop (hulle is gewoonlik nie vêr van mekaar nie), staan gerus ‘n stukkie van jou tyd af om hulle dop te hou terwyl hulle jag. Jy sal sien dat hulle soms direk op die prooi afduik, maar ander kere sal een vir ‘n kort rukkie twee meter of so bo die grond fladder, byna soos ‘n blouvalkie of bontvisvanger, voordat hy rats op sy maal toesak. Hulle sal ook vruggies eet en saad oppik as aanvulling tot hul vleisdieët.

Dis my ervaring dat die natuur in die algemeen en voëls in besonder vir my persoonlik dieselfde waarde bied as wat ‘n hele handvol anti-strespille sou doen. Die tyd wat ek daaraan afstaan sal nou wel nie die onkruid in die tuin minder maak nie (soos ‘n vriend een dag tong in die kies opgemerk het), maar dit het beslis dieselfde, indien nie ‘n groter nie, verrykende uitwerking op my lewe. Ek verruil dit vir niks.

Source: Reinderd Visser
(Illustrasie uit SASOL se “Birds of Southern Africa”)

KOPKNIKKENDE KIEWIETE

Die volstruis is darem nie die enigste voël wat verkies om op die grond leef nie, daar is sommer heelwat ander, al kan hulle vlieg. Ons het trouens al oor ‘n paar van die groteres gesels – jy sal die Bloukraanvoël, die ooievaars en die Sekertarisvoël nog onthou, voëls wat verkies om eerder op die grond te beweeg en te jag. Vir die volgende paar kere kyk ons na nog ‘n paar grondbewoners en ons begin by die twee pragtige kiewiete wat algemeen by ons voorkom.

Die Kroonkiewiet (Crowned Lapwing) kry jy sommer in en om Oudtshoorn! Hulle verkies oop veld met gras wat nie te lank is nie, en waar sal jy meer ideale blyplekke as die sportvelde, die golfbaan en die oop stukke langs ons paaie kry! Kroonkiewiete met hul knikkende koppe (hou hulle ‘n bietjie dop) het goed aangepas by die mens en sy omgewing. Dit maak dit juis vir ons maklik om hulle dop te hou, selfs wanneer hulle broei en kleintjies het (en vra ook dat ons verantwoordelik sal optree as ons weet waar hul nes is). Die nes is sommer in ‘n holtetjie in die grond, gevul met droë grassies, wortels en fyn klippies.

Sodra die kuikens uitbroei word die eierdoppe ver weggedra en fyngetrap sodat moontlike vyande nie die nes maklik opspoor en die kleintjies vang nie. Slim, nê? En anders as die kuikens van die meeste ander voëls (mossies, kwikkies, arende ens) – wat soms weke neem om selfstandig te raak en vir hulle self te kan sorg – kan ‘n kiewiet-kuiken op dag een al rondhardloop en begin kos soek. Het jy al dopgehou hoe goed die kleintjies in die gras kan wegkruip as jy te naby kom, en hoedat die ouers jou sal aanval of probeer weglei van waar hulle is deur te maak of hulle vlerk beseer is? As kroonkiewiete kan kies, sal hulle net termiete eet! Indien termiete nie beskikbaar is nie, smul hulle aan ander miere, insekte, kewers en ‘n sprinkaan of twee.

Die swart-, grys-en-wit Bontkiewiet (Blacksmith Lapwing) vind jy meer gereeld by damme, riviere en nat grasvelde. Die “Blacksmith” in sy Engelse naam kry hy n.a.v. die geluid wat hy maak – dit klink soos ‘n hamer wat op ‘n aambeeld kap. Ek sien hulle ook in die dorp, net minder gereeld, veral op sommige van die sportvelde wanneer hulle natgelei word. Die geleerdes sê dat hulle tot 14 jaar oud kan word en dat hulle nie baie vyande het nie aangesien hulle . . . sleg smaak. Dit beteken nie dat hulle (en veral die kuikens) nie prooi kan word nie, daarom sal hulle al wat ‘n kraai of valk of arend wat dit in die omgewing waag met groot geraas en vlerkgeklap probeer verwilder.

Anders as die kroonkiewiete wat feitlik net op termiete as kos fokus, vreet Bontkiewiete ‘n groot verskeidenheid van insekte en waterdiertjies. Hulle sal selfs dieremis omdolwe op soek na larwes. Die pasgebore kuikens is, soos by die kroonkiewiete, ook binne ure gereed om vir hulleself te kan sorg.

Source: Reinderd Visser
(Illustrasie uit SASOL se “Birds of Southern Africa“)

KWIKKIE VOETKWALE

Ons het al vroeër oor kwikkies gesels, maar baie mense vra my spesifiek uit oor kwikkies wat hulle raakloop wat met ‘voetprobleme’ sit. Ek is oortuig daarvan dat jy ook al ‘n kwikkie of twee teëgekom het wat erg gebreklik voorkom. Sommige het mos sulke dik opgeswelde tone en beentjies, terwyl ander weer letterlik op sulke dik, toonlose stompies loop. ‘Maar wat veroorsaak hierdie horrelpote?’ is die vraag gewoonlik. Vandag wil ek probeer antwoord gee.

Ek het onlangs die voorreg gehad om oë te lê op ‘n M-verhandeling in Zoologie, met die titel “The Search for the reason(s) causing feet abnormalities in the Cape Wagtail (Motacilla Capensis)”, wat juis hierdie vraag probeer aanspreek. Die navorser, Tracy Monday, se vertrekpunt was die vermoede dat kwikkies se dieët (besoedelde kos deur insekdoders en swaar metale by mynafval) veral iets met die voetprobleme te doene gehad het. (Ek is ook al gevra of dit nie kaas is wat dit kan veroorsaak nie, hulle is juis so lief daarvoor.)

Na ‘n hele paar seisoene se intense navorsing by studiepunte regoor die land het sy tot ‘n paar interessante gevolgtrekkings gekom. Die eerste daarvan was dat sy nie ‘n direkte verband tussen kwikkies se dieët en die voetkwale kon kry nie (kaas is dus ook vireers veilig). Sy het drie hoofoorsake ge-identifiseer, waarvan die laaste een die meeste van haar studie in beslag geneem het, omdat dit volgens haar die grootste invloed op pootmisvorming het.

Die eerste oorsaak, het sy gesê, is hare en wolletjies wat om die beentjies draai en die bloedtoevoer afsny. Dit lei gewoonlik tot infeksies en die uiteinde is dat die toontjies afval. Kwikkies hou daarvan om hulle nessies met hare en wolletjies uit te voer en om een of ander rede gebeur dit dan dat ‘n wolletjie of haartjie om die beentjie(s) draai en knoop. Hulle kan dit ook optel terwyl hulle rondstap. Die tweede is moontlike infeksies onder die pote as gevolg van besmette oppervlaktes waarop hulle loop (bv. kieme op warm teer). Die derde oorsaak, en eintlik volgens haar die HOOFOORSAAK, is infeksie deur ‘n spesifieke parasiet.

Tydens haar navorsing het sy ‘n wit, poeieragtige afskeiding op kwikkies se beentjies teëgekom. Van nader bekyk (lees mikroskopies) loop sy toe ‘n parasiet, die Skubpootmyt raak. In Engels heet hy Scaleyleg-mite (en vir die slim mense wat sy hoge naam wil weet, knemidocoptus jamaicensis). Dis blykbaar een van 3 myte wat voëls se pote infekteer (mense met troetelvoëls soos papegaaie het dalk al met een van die ander 2 te doene gekry, en hoenderboere weer met die derde een). Hulle boor onder die vel in en daar woon, eet en broei hulle. Die hele siklus van hierdie byna mikroskopiese spinnekopagtige leef homself hier uit, van eier na larwe na nimf tot volwasse myt. En dis veral die eet-gedeelte wat die skade veroorsaak deurdat die myte die vel stelselmatig wegkou. Al kouende skei hulle speeksel af en op sy beurt veroorsaak dit infeksies, sere, vergroeiings en selfs arthritis! Hoe erger die infeksie, hoe meer misvorm word die beentjies en toontjies en lei dan selfs tot die verlies van sommige of selfs al die tone. ‘n Myt se lewenssiklus is maar kort, 7 dae of so, maar, die nageslag word net meer en meer wat die probleem groter en groter maak.

Dit is tog opvallend dat die nagevolge van infeksie by kwikkies groter is as by ander voëls. Die myt kom immers ook by ander voëls voor. Ek kan egter nie dink dat ek al ‘n ander voël met dieselfde misvormde bene gesien het nie. Tracy voel verdere studies is nodig om die antwoord daarop te kry. Kwikkies ly egter beslis die meeste onder hierdie parasiete. Sy het wel ‘n antwoord op die vraag hoekom so baie kwikkies ge-infekteer word. Volgens haar is dit as gevolg van hul gewoonte om, veral wanneer dit koud en nat is, met slaaptyd in groot getalle saam te koek. Dit skep vir die myte die ideale geleentheid om van een gas na ‘n volgende oor te klim. Die meeste ander grondlewende voëls (lysters, janfrederikke ens.) groepeer nie in sulke groot getalle saam nie, wat die kans op kruis-infeksie verminder. Net vir interessantheid, Somerset-Wes en Port-Elizabeth het die hoogste voorkoms van infeksie gehad, met die Gauteng area geen infeksies!

Voëls dra ‘n verskeidenheid van parasiete, onder andere dan hierdie Skubpootmyt, maar gelukkig is meeste van hulle gas-spesifiek (hulle bly by voëls). Weet dus dat jou voete nog veilig is. Wees net steeds versigtig met die tuingiwwe, asseblief. Tracy se studie toon nou wel dat dit nie die oorsaak vir kwikkies se voetsiektes is nie, maar ander studies wys duidelik dat gif voëlsterftes direk (inasem en aanraking) en indirek (deurdat voëls onder andere vergiftigde insekte vreet) veroorsaak.

Source: Reinderd Visser
(Illustrasie uit SASOL se “Birds of Southern Africa”)

MOSSIES - DRIE VIR 'N SENT

Nee, ek ken darem die Bybelvers – daar is is eintlik twee mossies vir ‘n sent te koop, maar hier op die dorp kry ons drie verskillende soorte mossies en daarom my titel. Wat kan ek van hulle sê? Een is ‘n local, nog een ‘n indringer en die derde ‘n redelik onlangse inkommer.

Die Gewone Mossie – ons local – is wat my betref ook die mooiste. Maar kan ‘n mossie dan mooi wees, hy lyk dan so vaal as ‘n mens op ‘n afstand na hom kyk? Kyk gerus weer. Die Gewone Mossie se mannetjie het ‘n mooi swart kop en keel met ‘n prominente wit oogbank in die vorm van ‘n C (sy Engelse naam is Cape Sparrow en die C vir “Cape” help hulle om dit te onthou). Verder het hy ‘n wit pensie en sy rug is ‘n helder roesrooi. By die wyfie kom die swart kort, maar sy het ‘n mooi grys koppie en ook ‘n wit oogbank. Die Gewone Mossie is, met die uitsondering van ‘n stukkie in Angola, eie aan Suidelike Afrika, ‘n Leser het my onlangs gekontak en naby die skougronde ‘n albino-mossie uitgewys.

Die mees algemene mossie in en om die dorp – die Huismossie (House Sparrow) – is, net soos die Europese Spreeu waaroor ek al gesels het, ‘n indringer uit Europa en Asië. Huismossies is in die 1890’s in Durban, en om en by 1930 in Oos-Londen, losgelaat. Dis duidelik dat hulle goed in hul nuwe omgewing aanpas, want hulle het intussen oor die hele land tot so ver as Angola, Zambië en Malawi versprei. Die mannetjie het ‘n grys kroon, wit wange en ‘n swart beffie onder die keel. Vroulief is so vaal as kan kom.

Ian Mileham het ‘n ruk gelede van ons nuutste inkommer – die Gryskopmossie (Greyheaded Sparrow) – vertel. Hy is ‘n Afrika-voëltjie en die kenners sê hy versprei Suid-Weswaarts teen 75km per jaar. Hy trek blykbaar al verby Montagu, maar is beslis nie algemeen by ons nie. Jy sal moet mooi kyk om ‘n paar te sien. Sowel die mannetjie as die wyfie het ‘n duidelike grys kop, keel en pensie en ‘ n kastaiingbruin rug.

Mossies is grotendeels saadvreters en daarom het al drie spesies kort, stomp bekkies. Hulle is egter nie heeltemal vegetaries nie en sal beslis nie nee sê vir ‘n sappige wurm of insek nie. Mossies word ook redelik mak en sal gereeld by jou agterdeur kom bedel vir krummels. Kyk gerus of jy al drie soorte in jou tuin het, hul onnet neste is gewoonlik in jou dak of in bome in jou agterplaas.

Maar hoe het die twee mossies eers op ons oortjies (die kwartpennie), later die half sent en toe op die 1 sent beland? ‘n Groep vroue, wat gedurende die Anglo-Boere-oorlog in die Bethulie-konsentrasiekamp gevange gehou is, het Matt.10:29 as hul oorlewingstema aangeneem. Hulle het hulle toe voorgeneem dat, indien Suid-Afrika self munte sou uitreik, hulle sou poog om die twee mossies (hul simbool van hoop en geloof) op die laagste denominasie te laat druk. So het dit dan ook vanaf 1923 gebeur. Die sent (en 2c) is intussen uit sirkulasie onttrek wat waarskynlik die einde van ‘n era beteken.

Is twee mossies nie vir ‘n sent te koop nie?
En tog sal nie een van hulle op die grond val
sonder die wil van julle Vader nie.

Source: Reinderd Visser
(Illustrasies uit SASOL se “Birds of Southern Africa“)

MUISVOËLS - KODDIGE SONBAAIERS

Muisvoëls was in my jongdae handige voëls om te skiet. As vegetariër-voëls het hulle gemaai onder my gunsteling vrugte en my karnivoor-kat het sommer dadelik sy lui lyf opgetel as ek die windbuks gevat en boom se kant toe gestap het. Muisvoëls het baie vleis om die lyf en kat het geweet, hier kom ‘n sappige ete. Boonop kon my pa sy pyp met die lang stertvere skoonmaak. Min het ek geweet watter interessante voëls dit is wat ek sommer so maklik geklits het. Hopelik maak my toewyding deesdae op vir die wreedhede van die verlede.

Hulle is uit-en-uit Afrikavoëls en daar is 6 spesies in totaal. Die Klein-Karoo kan spog met 3 van hulle – voorwaar ‘n prestasie! Daar is die bruinerige Gevlekte Muisvoël met sy wit en swart bek (Speckled Mousebird), die Rooiwangmuisvoël met sy kaal wange en kenmerkende ‘tshivovo’ roep (Red-faced Mousebird) en die grys Witkruismuisvoël met sy bloedrooi pote asook die wit kruis wat jy sien wanneer hy wegvlieg (White-backed Mousebird). Van die drie hoor ek die ‘tshivovo’ die gereeldste en sien ek die minste van laasgenoemde in ons dorp.

Muisvoëls kry hul naam natuurlik van die donserige voorkoms van hul vere, hul lang sterte en muisagtige geskarrel tussen die takke. En hulle is soms so stil soos muise. Vrugteboere sê hulle is ook so lastig soos muise, want hulle kan groot skade in ‘n boord aanrig. Die Gevlekte Muisvoëls is hier die grootste skuldiges. Maar kom ons fokus op hul andersheid, eerder as hul swakheid vir vrugte.

Al drie soorte opereer in groepe en doen alles saam, maar bestudeer jy hulle afsonderlik kom jy agter dat elke spesie eiesoortige gewoontes het. Byvoorbeeld – ‘n groep Rooiwangmuisvoëls vlieg reguit en vinnig as ‘n groep saam, terwyl die ander twee eerder “volg-die-leier” speel. Die Gevlekte Muisvoëls sal letterlik een-vir-een van een boom na ‘n ander vlieg totdat almal oor is.

Het jy al gesien hoe koddig ‘n spul muisvoëls, veral soggens en laatmiddag, wydsbeen aan ‘n tak hang, met hul bors son toe gedraai? Hulle kan dit doen omdat twee van hul vier tone aan elke poot, anders as meeste ander voëls, na albei kante toe kan draai om so die vasgryp te vergemaklik. Daar is goeie redes vir die gewoonte. Een is om sonenergie (hitte) deur hul donker vel op te vang. Snags koek hulle dan saam om so min as moontlik van die hitte te verloor. Sonbaai moet ook die vere droogmaak.‘n Muisvoël se vere het nie waterwerende olie soos ander voëls nie en word maklik sopnat in reënweer. Hy verkluim sommer gou in skielike koue, veral as hy nat is.

Daarom verkies hy ook eerder ‘n daaglikse sandbad as ‘n bad in water. Terloops, muisvoëls is een van die min voëlspesies wat ‘n brandwag gebruik om vir gevaar uit te kyk terwyl die res bad. Daar is ‘n vermoede dat sonbaai ook help met die verteer van hul kos, daarom die gewoonte om na ete krop-in-die-lug in die son te hang. Naas vrugte eet hulle ook nektar, blomme, blare en so dan en wan ‘n vlieënde termiet vir proteiene.

Source: Reinderd Visser
(Illustrasies uit SASOL se “Birds of Southern Africa“)

NAGUILE - MAAR GEEN UILE NIE

Vandag se voëls is om twee redes uiters moeilike voëls. Nie net is hulle beide nagvoëls en daarom moeilik om te sien nie, maar byna al die naguile (nightjars) in Suid-Afrika (daar is 7 van hulle in totaal) lyk op ‘n haar na dieselfde, wat uitkenning – in die dag of nag – ‘n nagmerrie maak! Dit kos eksperts om ‘n naguil op sig uit te ken, en dan kan hulle dit byna net doen op grond van sy gedrag (soms net op die manier hoe hy op die grond of tak sit), of van naby, wat beteken dat jy hom letterlik moet vang en in die hand bekyk. Ek het al een of twee wat in die pad doodgery is so bekyk en is tot nou toe nie seker of ek die voëls reg ge-identifiseer het nie. Nee wat, ons gewone mense ken naguile wat ons raakloop maar op hul geluid uit, as of wanneer hulle ‘n geluid maak, natuurlik! Daar is een wat totaal stil is wanneer hy uit Europa hier kuier. Probleme, probleme.

Van geluid gepraat – die kanse dat jy een van die naguile wat by ons in die Klein-Karoo voorkom al gehoor roep het, is groter as wat jy dink, jy het dalk net nie geweet dit is na hom wat jy luister nie. Dit kon gewees het toe jy een aand êrens in die veld gestaan het (nie net in die Klein-Karoo nie, hoor, hy kom wyd verspreid voor), of terwyl jy na ‘n dokumentêre program oor een van ons nagdiere in Afrika gekyk en hy in die agtergrond geroep het. Ek praat van die Afrikaanse Naguil (Fiery-necked Nightjar) en hy het vir my sekerlik een van die mooiste roepe wat jy ooit in die nag sal hoor, trouens, dis een van ons bekendste nag-geluide!

Hy doen met ‘n gewone nag wat die Visarend en sy pragtige roep met ‘n gewone dag maak – verander dit van doodgewoon na ‘n fenominale Afrika-moment. Hoor jy daardie geluid, weet jy, Ek is in Afrika en nêrens anders nie! Vir ons Afrikaans-sprekendes klink dit, wanneer hy roep, of hy sê: “Jaag-weg-die-wewenaar!”. In Engels klink dit kompleet of hy sê: “Good-Lord-deliver-us!”. Wathy ookal in voëltaal sê (en in broeityd sê hy dit tot 100 keer of meer per nag), dis ‘n geluid waarmee ek nooit verveeld sal raak nie.

Hier is ‘n vraag aan die boere in ons omgewing – Het jy dalk al in die nag op jou plaas in die lande water gelei en gewonder watter dier, voël of insek die lang, uitgerekte ‘trrrrrrrrrrrrrrrrr’ geluid, wat lank en ononderbroke aanhou, maak? Hier is jou antwoord – dis ‘n voël, en sy naam is die Rooiwangnaguil (Rufous-cheeked nightjar). Hy is nie so algemeen hier by ons nie wat die kans dat jy hom sal hoor skraler maak, maar luister fyn wanneer jy dalk een somernag iewers in die natuur is, jy mag net gelukkig wees. Wintertyd vlug hy noordwaarts.

Genoeg eers oor geluide. Daar is nog die vraag oor hoeveel ‘uil’ daar in ‘naguil’ is. As jy die titel gelees het, ken jy reeds die antwoord – hulle is geen familie van mekaar nie. Ek het nog nie presies kon uitwerk hoekom hy die naam ‘naguil’ het nie, die vermoede is dat dit ‘n streeknaam uit die verlede is wat later ‘n versamelnaam geword word.(Hy het ook name soos ‘nagswael’, ‘nagvalk’ en ‘nagspreeu’ gehad, sê ‘n voëlkenner my.) Die punt is, ‘uil’ kom in sy naam voor, maar ‘n uil is hy nié. Uile se oë sit byvoorbeeld langs mekaar en kyk beide vorentoe, met ‘n snawel wat afgebuig is om dit moontlik te maak. Hulle sit ook regop soos roofvoëls, wat hulle is – hulle eet immers muise, slange, vis, noem op. Naguile se oë daarenteen sit aan die kant van die kop, met ‘n bek wat vorentoe wys en, terloops, wyd kan oopmaak. Hulle sit verder plat op die grond of tak, soos die afbeeldings wys. En hulle is feitlik uitsluitlik insekvreters, wat hulle saans en snags rats uit die lug of op die grond vang. Baie word ongelukkig doodgery, omdat hulle life is daarvoor om in die pad (veral grondpaaie) te sit vanwaar hulle insekte vang. Bedags slaap hulle op die grond of in struike.

Die mees onlangse interessante voëlverwante vraag wat ek van ‘n leser gekry het, was wat om te doen as ‘n groot groep mossies ‘n boom in die tuin as oornagplek ontdek het.. Vier of tien is nog hanteerbaar, maar hy het honderde wat twee bome oorgeneem het en glo my, hulle kán mors! ‘n Eenvoudige wenk is, hang ou cd’s, blink deksels van bv. koffieblikke, of sommer net plastiese sakke wat raas, tussen die takke op. Dit mag hulle dalk ontmoedig om weer daar te oornag.

Source: Reinderd Visser
(Illustrasie uit SASOL se “Birds of Southern Africa”)

OOIEVAARS - KOERIERS?

My bure het onlangs ‘n seun ryker geraak, maar waar het die knapie vandaan gekom? As kind was daar vir my vertel dat ek in die berg gaan haal en my stertjie afgekap is. Onsin! Ek het onlangs op ‘n kaartjie van gelukwensing met my geboorte aan my ma-hulle afgekom – voorop is daar definitief ‘n ooievaar met ‘n baba wat in ‘n doek hang in sy snawel! ‘n Ooievaar het my gebring en basta, ek lyk dan nie eens naastenby soos die boggoms nie! (dink ek . . . .)

Sou ooievaars wel kindertjies in die Klein-Karoo moes aflewer sou dit nie ‘n groot problem gewees het nie, want hier is met tye verbasend baie van hulle in die lusern-landerye om die dorp! Dit is gewoonlik Wit Ooievaars (White storks) wat somertyd veral sprinkane (hulle het vroeër as Sprinkaanvoëls bekend gestaan) en ander klein lewendige goetertjies (soos paddas, muise en jong voëltjies) by ons kom soek. Ek het gesê somertyd, want hulle is eintlik somerbesoekers wat gedurende ons herfstyd na die Noorde migreer en dan daar broei. Wat baie mense egter nie weet nie is dat daar klein groepies Wit Ooievaars is wat vir ‘n geruime tyd al wel in die Suidelike halfrond broei – ‘n soort omgekeerde migrasie.

Trouens, die Klein-Karoo kan daarop roem dat die HEEL EERSTE Wit Ooievaar-nes wat in die Suidelike halfrond ontdek is, in 1940 in ‘n droë bloekomboom op ‘n boer se plaas tussen Oudtshoorn en Calitzdorp gevind is! Deesdae is daar nog ‘n paar broeipare in die Bredasdorp-omgewing en by die Tygerberg-dieretuin buite Stellenbosch. Hierdie pragtige voëls verkies om in groepe saam te woon en in veral grasveld en landerye kos te soek. Laat somer versamel hulle in nog groter groepe om so saam die groot trek Noorde toe aan te pak. Wit ooievaars het die interessante gewoonte om op warm dae op hul rooi bene te mis om af te koel, wat die bene dan pienk of wit laat lyk. Op die warmste deel van die dag sal die hele groep gewoonlik hoog die lug in vlieg en dan in sirkels sweefvlieg.

Nog ooievaars wat in kleiner getalle hier by ons voorkom (hulle word deur sommige selfs as raar beskou), is die Grootswartooievaars (Black Storks). As mens hulle met die Wit Ooievaar vergelyk, kom jy agter dat hulle feitlik soos swart en wit van mekaar verskil. Anders as die Wit Ooievaars kom hulle nie in groot groepe bymekaar nie. Hulle sal eerder enkel , in pare of hoogstens klein groepies saam beweeg. Hul broeineste is ook eerder op hoë rotslyste as in bome, waar Wit Ooievaars se broeineste gewoonlik is. Hoofdis op hul spyskaart is vis en daarom sien mens hulle meestal naby water, met paddas, klein voëltjies, sprinkane en selfs klein skilpaaie as bykos. Hulle broei ook wel in Suid-Afrika en daar is een nes in die Klein-Karoo waarvan ek bewus is – dit is in die Red Stone Hills omgewing. Beide ooievaars is egter die boer se vriend, omdat hulle ‘n groot aandeel het in die beheer van dit wat die boer as pestilensies beskou.

Source: Reinderd Visser
(Illustrasies uit SASOL se “Birds of Southern Africa“)

OOR KRAAIE EN DRINKGOED VIR DIE SOETTANDE

Ons ken almal die liedjie “Aai, aai, die witborskraai”, en meeste mense wil “aai” sê wanneer hulle aan kraaie dink. Kraaie het mos die reputasie dat hulle blinkgoed steel en as jy al met hoenders geboer het, sal jy weet dat kuikens en veral eiers nooit veilig is met hulle in die rondte nie. Aan die ander kant het ‘n kraai die onderskeiding dat hy, wanneer hy mak gemaak word (nie aan te beveel nie!) met enige papegaai kan kersvashou wanneer dit by gesels kom! Hopelik het jy net positiewe herinneringe aan kraaie (soos Carika Keusenkamp se Kraaines van ouds)…

Ons het drie kraaie in ons omgewing – die Swartkraai (Cape Crow), die Witborskraai (Pied Crow) en die Withalskraai (White Necked Raven). Ek het al gehoor dat mense laasgenoemde soms ‘n raaf ook noem, is dit dalk na aanleiding van sy Engelse naam? Ek gesels net oor hul eetgewoontes, want ek wil ook oor soetigheid vir die voëls in jou tuin gesels.

Die Swartkraai en Witborskraai soek beide hul kos op die grond, terwyl die Withalskraai meestal soos ‘n wafferse valk of arend in die lug sal rondsweef op soek na sy kos. Laasgenoemde hou ook meer van heuwel- of bergagtige gebied en jy sal hulle meer daar opmerk. Al drie is omnivore (eet vleis, vrugte en plantmatreriaal) maar tog verskil hul diëte ietwat van mekaar. Swartkraaie fokus op veral insekte, larwes, torre en klein diertjies, met vrugte so nou en dan en sal wel aan ‘n dooie dier of voël in die pad peusel. Witborskraaie daarenteen fokus veel meer op vrugte, sade en wortels, met ‘n eier as lekkerny en klein diertjies as die proteiene aangevul moet word.

Withalskraaie het stewige bekke en sal voëls, klein diertjies en selfs skilpaaie aanpak. Ek lees dat hulle die skilpad die lug in dra en dan op ‘n klip laat val sodat die dop breek. Hul geliefde dis word ongelukkig deur die mens verskaf – jy sal hulle eerste by ‘n dooie dier in die pad sien! (Kyk gerus watter kraaie jy in die pad sien vreet wanneer jy weer ‘n lang ent ry en hulle teëkom). Withalskraaie het nog ‘n soettand ook en sê nie nee vir die nektar van ‘n bergaalwyn nie.

Van soettand gepraat – jy sal onthou dat ek die vorige keer gesels het oor water in jou tuin om voëls te lok. Daar is baie soettande in die dorp en omgewing – ek dink hier veral aan die suikerbekkies. Hoe gaan jy hulle tuin toe lok? Daar is veral twee maniere – die een is om die regte plante te plant en tweedens kan jy ‘n houer met nektar vir hulle voorsien. Wat plante betref is daar verskeie wat geskik is, probeer maar en kyk wat groei in jou tuin – jy kan kies tussen heides, proteas, vuurpyle, kanferfoelies, kraanvoëlblomme, aalwyne en klipdagga of wildegagga, om ‘n paar te noem. Kyk gerus watter nektarblom in jou tuin die meeste voëls lok.

Jy kan ook ‘n nektarvoeder maak en in jou tuin ophang. Hieroor kan boeke geskryf word en die spasie hier is te min daarvoor. Daar is verskeie voeders te koop, maar dit is ook nie moeilik om self een te maak nie. Die belangrikste om te onthou is dat jy miere moet weghou, die houer moet skoon hou en elke twee tot drie dae vars nektar moet ingooi. Daar is vele nektar resepte – gewone suikerwater werk net so goed. As jy dit rooi wil kleur (die kleur lok nektardrinkers), wees versigtig met koskleurmiddels, dit is nie noodwendig goed vir hulle nie. Gebruik eerder die water waarin jy ‘n beet gekook het. Wees ook geduldig wanneer jy die eerste keer nektar uitsit, dit mag ‘n tydjie neem voor hulle dit ontdek, maar dan . . .

Source: Reinderd Visser
(Illustrasie uit SASOL se “Birds of Southern Africa“)

OPEN JOU EIE VOËLSPA EN RESTAURANT

Daar is sommer nog heelwat voëls wat in en om ons dorp rondvlieg waaroor ons nog nie gesels het nie. Wees verseker, ek wil jou nog van elkeen van hulle vertel. En sommer so vroeg-vroeg in die jaar het ons boonop ‘n vreemde en heel interessante gevleuelde besoeker in ons omgewing! Ek praat natuurlik van die Maraboe (‘n soort ooievaar) wat uit die verre Swaziland tans hier by ons amptelike vullishoop buite die dorp kuier! [Ons weet dat hy daarvandaan kom omdat hy ‘n geel etiket aan die vlerk het wat hom identifiseer. Iemand wat in die Hlane Koninklike Natuurreservaat in Swaziland op maraboes navorsing doen het die etiket aangesit toe dit nog ‘n kuiken in die nes was.] Weereens dankie aan die wakker leser wat hom opgemerk het. Ons kon so ‘n positiewe bydrae tot die navorsingsprojek maak.

Dit wil tog vir my lyk asof daar heelwat lesers is wat begin het – en ander wat lankal reeds besig is – om hul tuine voëlvriendelik te maak. Ek is alles behalwe ‘n ekspert op tuinrestourante, maar wil tog hieroor my stuiwer in die armbeurs gooi. Hou die volgende paar geselsies dop. Onthou net, dit is ‘n onderwerp waaroor boeke al geskryf is – hierdie wil nie ‘n volledige gids probeer wees nie. As die artikeltjies jou egter motiveer om self ‘n tuin-restourant te begin, of om verder daaroor na te lees, het dit in sy doel geslaag.

Vandag wil ek kortliks oor die basiese drankie wat jy in jou tuin kan aanbied gesels – Water! As jy later disse wil byvoeg, word water ook jou restourant se hoof-advertensie. Iets soos: “Kom les jou dors en was jou vere, en kyk wat is op die res van die spyskaart!”.

Mense reken dat, as hulle ‘n mooi voëlbadjie in die middel van die grasperk geplaas het en gereeld vol water hou, dit tonne voëls sal lok. Nie regtig nie. Net jou vrypostiges (soos duiwe, vinke, mossies en spreeus) sal dit uitprobeer. Jou meer skugter voëls (en ons het baie en mooies in ons tuine wat jy ook sal wil nooi) waag dit nie om daar te bad nie. Hulle soek ‘n plek waar hulle vinnig in ‘n struik kan verdwyn as daar gevaar sou kom. Heelwat voëls verkies ook om op GRONDVLAK water te drink. Hou die voëlbadjie daar op die grasperk, dit lyk mooi en lok wel voëls, maar oorweeg ook ‘n poeletjie op die grond, onder struike of in ‘n meer beskutte deel van jou tuin. Hoe hy lyk los ek aan jou inisiatief oor (dit kan byvoorbeeld klein of groot wees; van sement of sommer ‘n ou omgekeerde wieldop; net een poeletjie of selfs meer as een).

Hou net in gedagte dat dit nie te diep moet wees nie, of dat, as dit dieperig is, daar iets stewig in is waarop die voëltjie kan staan wanneer dit drinktyd of badtyd is. ‘n Bad ofpoeletjie met ‘n geleidelike helling is die beste. Die vastrapplek moet ook nie glad wees nie – daardie lywe word met badtyd rof rondgeskud en dan wil hulle stewig staan. As jy die poeletjie gereeld skoonmaak en vol water hou (as dit reënwater is eerder as kraanwater, selfs nog beter), sal jy later verras wees om te sien wie almal in jou tuin kom kuier! Wees tog net versigtig met gifstowwe naby die poeletjie – voëls is maklik vatbaar vir vergiftiging.

Source: Reinderd Visser

KOS IS OP DIE TAFEL!

Ons gesels vandag verder oor hoe om jou tuin in ‘n voël-restourant te omskep. Jy sal onthou dat ‘n “kroeg” en spa (drinkwater en badplek op die regte plek) die ideale omgewing skep om ‘n groot verskeidenheid voëls na jou tuin te lok. Verder het ek verlede keer genoem dat ‘n soetigheidjie (suikerwater en nektardraende blomme) die gulsige soettand in jou omgewing vriendelik sal uitnooi om te kom kuier. Vandag begin ek oor die restourant self gesels. Eet is een van ons basiese instinkte, en dit geld vir voëls ook. Plaas die regte kos op die spyskaart en binne ‘n ommesientjie is jou tuin een van die gewildste restourante in Oudtshoorn. Vir voëls, natuurlik.

Om mee te begin moet jy onthou dat voëls, net soos ons, kieskeurig is wanneer dit by eet kom. Sommiges hou van vleis, ander is vegetaries. Die verskillende vegetariërs hou ook nie noodwendig van dieselfde soort vegetariese kosse nie. En dan is daar sogenaamde vegetariërs wat wel so nou en dan ‘n vleisie sal eet. Kophou.

Wanneer dit by kosgee kom is ek ‘n voorstaander van ‘n tuin wat sommer vanself kos gee. Ek dink hier aan bome en struike wat vrugte en bessies dra of wat blomme met baie nektar dra. Dit is egter ‘n langtermynprojek, maar met goeie beplanning en ideale kosgeeplante op die regte plekke in jou tuin behoort dit die voëls in jou omgewing jaar in en jaar uit te lok. Maar wat plant mens? Daar is ‘n groot verskeidenheid geskikte bome en struike en dit regverdig ‘n geselsie op sy eie. ‘n Kwekery wat sy sout werd is sal jou beslis ook kan help met die kies van die geskikste plante wat voëls sal lok.

‘n Kits-restourant gee egter net soveel, indien nie meer nie, bevrediging. Dit is waar jy self soggens of saans vir die gevleueldes in jou tuin kos uitsit. Volgende keer gesels ek meer oor die spyskaart self, vandag eers net ‘n paar inleidende opmerkings. Soos met die drink- en badplekke, is dit belangrik waar jy kos gee. Sommige voëls eet sommer van die grond af, maar ander verkies die veiligheid van ‘n boom of struik naby en en sal eerder ‘n voertafel wat hang verkies. Kyk gerus hoe buurman se eetplekke lyk as hy reeds ‘n restourant het.

En wat eet jou tuinbesoekers? Ek verdeel hulle in drie groepe – saadvreters, vrugtevreters en insekvreters. As jy wil hê dat al drie jou tuin besoek, sal jy moet sorg dat daar ietsie vir elkeen op die spyskaart is. Dit is belangrik dat jou restourant altyd skoon is – kos wat suur geword het kan die besoekers eerder benadeel as voed.

PLATPOOTWATERTRAPPERS

Tensy jy ‘n paar mak eendjies in jou tuin het, of naby ‘n plaasdam of rivier bly, of moeite doen om die wildes te gaan soek, is eende nou nie juis voëls wat jy gereeld te siene sal kry nie. Buiten dalk vir die Kolgans (Egyptian Goose), wat nie skaam is om hier op die dorp te kom nesmaak nie. En tog is daar ‘n groot verskeidenheid van hulle op ons voorstoep. Dit kos fyn kyk, maar dis moontlik om met verloop van tyd ten minste 9 tot 10 platpootspesies op damme en riviere in ons omgewing raak te loop. Naas die eerste drie wat jy op die illustrasies sien kan jy ook uitkyk vir voëls met name soos Teeleend (Cape Teal), Kaapse Slop-eend (Cape Shoveller), Rooibekeend (Redbilled Duck), Bruineend (Redeyed Pochard), Swart Eend (African Black duck) en Bloubekeend (Maccoa Duck).

Die vraag is: Hoekom lees ons van ‘n gans, ‘n eend en ‘n makou? Is hulle nie maar voëls van eenderse vere, of dan eenderse pote, nie? Dis nogal ‘n vraag met ‘n ietwat ingewikkelde antwoord, moes ek uitvind. Want, al het hulle verskillende name, is hulle almal verrassend genoeg wel . . . eende,! Ek probeer baie kortliks verduidelik.

Tipiese EENDE soos die Geelbekeend (Yellowbilled duck) kan reguit van die water opvlieg sonder om met die pote op die water te trap. Hulle voed ook kop-onder-die-water teen of naby die watervlak. Daar is egter uitsonderings – soos die Bruineend. Sy bene is vir duik aangepas en hy kan nie direk van die water opvlieg nie. Verwarrend, nê? Dit word nie beter nie. Tipiese GANSE is weer aangepas om op gras te wei of om saad op lande en vlaktes te vreet. Daarom is hul bene goed ontwikkel en vorentoe geplaas. Hulle sal ‘n ent op die water hardloop voor hulle kan opstyg. Plaasganse is voorbeeld hiervan. Die slimmes sê egter dat werklike ganse glad nie wild in ons streek voorkom nie. Kolganse toon bloot kenmerke van die ware ganse (in Engels word hulle as “goose-like” beskryf) en daarom word hulle so genoem. Hulle bly steeds eende. Daar is blykbaar net een regte MAKOU in die wêreld, en hy kom van Suid-Amerika.

By ons kry jy van hulle op plase waar hulle mak rondloop (kom ons noem hulle plaasmakoue). Ons Wildemakou (Spurwinged Goose) – ook familie van die eend – is eintlik fisies en volgens sy gewoontes vergelykbaar met ‘n gans, maar kry sy naam omdat die rooi merke op sy voorkop hom baie soos ‘n regte makou laat lyk. Om saam te vat – in my onkunde wil dit voorkom asof al die wilde watertrappers in ons omgewing deel van die eend-familie is, met kenmerke van ander soorte (wat elders in die wêreld voorkom) by hulle teenwoordig.

By ‘n volgende geleentheid gesels ek dalk oor nog van ons plaaslike eende, maar met my laaste opmerkings vandag het ek dit oor die Groenkopeend (Mallard). Hy kom nie natuurlik by ons voor nie, maar is uit die Noordelike halfrond as ‘n soort troeteldier hierheen gebring. Dis ‘n eend wat baie, en uiteenlopende, emosies by mense losmaak. Aan die een kant oorrompel sy mooi voorkoms onkundiges en wil hulle hom graag as ‘n mak eend aanhou, wat deesdae in elk geval onwettig is. Aan die ander kant is daar diegene wat Groenkopeende, sodra hulle hulle teëkom, voor die voet vankant maak. Wat ander weer ongelukkig maak. Waarom dan so ‘n mooi eend vankant maak, word gevra?

Omdat hulle ongelukkig met die Geelbekeend en Swart Eend – plaaslik beskermde spesies – kruisteël en hulle as spesies bedreig. En dit mag mos nie! As jy die regte ding wil doen sal jy – as jy ‘n Groenkopeend iewers opmerk – dadelik vir Cape Nature laat weet.

Source: Reinderd Visser
(Illustrasies uit SASOL se “Birds of Southern Africa“)

RARE BESOEKERS IN DIE KLEIN KAROO

Rooikophoutkapper (23/08/2007)

Die duet-roep van die Rooikophoutkapper (Black-collared Barbet) saam met sy maat is seker een van die bekendste klanke in die Bosveld. Jy kry hom ook redelik algemeen in Kwazulu-Natal en die Oos-Kaap, maar is (sal ek sê amptelik?) nog nooit in die Wes-Kaap opgemerk nie. Tot ongeveer ‘n maand gelede. En hy (daar is net een en aangesien mannetjie en wyfie dieselfde lyk, weet ons eintlik nie of dit ‘n “hy” of “sy” is nie) is hier by ons, in Oudtshoorn! Hy het hom in ‘n Kardinaalspeg se ou nes (‘n gat in ‘n dooie boom) tuisgemaak en lyk heel gelukkig. Die ernstige voëlentoesiaste in die Wes-Kaap is heel opgesmuk met hom en yweriges beplan om selfs van so ver as Kaapstad te ry om hom gade te slaan. Hy word ook amptelik as ‘n rare besoeker by die Wes-Kaap Rariteits-komitee aangeteken. Hierdie waarneming is te danke aan die wakker huiseienaars wat gewonder het wat die vreemde voël met die helder-rooi kop is wat in hul tuin rondkarjakker. Fyn kyk, Oudtshoorn kry meer toeriste as wat ons dink!

Maraboe Uit Swaziland (07/01/2008)

Een van ons oplettende lesers het my verlede Maandag (7 Januarie) geskakel en vertel van ‘n Maraboe, ‘n soort ooievaar, (sy Engelse naam is Maraboe Stork) wat hy by die dorp se stortingsterrein raakgesien het. Sy waarneming was 100% korrek, soos die foto toon. Maraboes kom grotendeels in die Noorde en Noord-Ooste van die land voor, met baie min wat elders opgemerk word. Ons het dus weereens ‘n unieke vakansieganger (of –gangers, daar is intussen ‘n tweede een saam met hom opgemerk) in die Oudtshoorn omgewing. Wat die voël interessant maak, is dat hy aan die regtervlerk gemerk is – dit is ‘n geel flappie met S64 daarop. Die slim mense het my laat weet dat ‘n proffie in Swaziland (Prof. Ara Monadjem) met ‘n navorsingsprojek op Maraboe’s besig is. Hierdie een is in ‘n nes van ‘n kolonie in die Hlane Nasionale Park gemerk. Die waarneming dra by tot sy navorsingsprojek (kyk net hoe ver het hy gevlieg!!) en daarom ‘n groot dankie aan die wakker leser!

As opvolg op hierdie verhaal kan ek nou vertel dat hy, nadat hy ons verlaat het, minder as ‘n maand later by Springfield in die Vrystaat se asgate opgemerk is. Hy is weereens aan die geel flappie uitgeken en het net soveel opgewondenheid daar ontketen as hier.

Oopbekooievaar (30/12/2009)

Gereelde lesers van hierdie voëlrubriek sal teen die tyd weet dat ons sommer ‘n groot verskeidenheid voëls in die Klein-Karoo het. Kom ons noem hulle, “die plaaslike bevolking”. Glo my, daar is nog ‘n hele paar waarvan ek jou nog wil vertel. Die mense van Oudtshoorn en die Klein-Karoo is ook nie vreemd met die gedagte van duisende toeriste wat jaarliks hier ‘n draai kom maak om al ons gewilde plekke te kom besoek en ons ekonomie kom bevorder nie. So nou en dan daag daar egter ‘n besoeker van ‘n ander veer op wat die spesifiek die plaaslike voëlkykers se lewens kom verryk! Deur die jare het ons jou van hulle vertel sodra hulle hier opgemerk is: Daar was onder andere die Palmwindswael (Palm Swift); die Blou Visvanger (Halfcollared Kingfisher); die Rooikophoutkapper (Blackcollared Barbet) en onlangs die Maraboe (Maraboe Stork). Nou is daar nog een om by die lys te voeg.

Die eienaars van die Yotklub gastehuis in Oudtshoorn het my op die 30ste Desember geskakel met die nuus van ‘n “vreemde” voël wat op hul grasperk langs die Grobbelaarsrivier rondloop, een wat vir hulle baie soos ‘n Oopbekooievaar (African Openbill) lyk. As ‘n mens na sy verspreidingsarea kyk (tot onlangs het jy hom nie verder Suid as die Noorde van sowel KwaZulu Natal en die Vrystaat gekry nie) sal julle verstaan waarom ek dadelik – en opgewonde – op my bromponie gespring het om hom van nader te gaan bekyk. En inderdaad, daar staan ta toe – Oudtshoorn se eerste Oopbekooievaar!! ‘n Paar oproepe later en sommer gou was daar ‘n paar ander voël-entoesiaste met verkykers ook na die ooievaar aan’t stare. Hy het aanvanklik moeg gelyk (dalk vêr gevlieg?), maar nie lank daarna nie het hy rivier se kant toe gestap en binne minute ‘n stewige middagete gevang – so ‘n knewel van ‘n krap! Die volgende dag was hy weg.

Ek lees dat hy sy snawel op veral twee maniere handig gebruik. Die eerste is waar hy die onderkant, wat dun en skerppuntig is, gebruik om onder andere mossels en ander skulpdiere oop te dwing. En dan is daar die koddige oop gedeelte waar hy sy naam vandaan kry – dié gebruik hy blykbaar om veral slakke oop te kraak, byna soos ‘n neutekraker.

Die goeie nuus is dat daar die afgelope tyd meer van hulle in die Wes-Kaap opgemerk is (vir die eerste keer middel Desember 2009). Daar is ‘n vermoede dat daar om die een of ander rede ‘n skielike migrasie van Oopbekooievaars Suid, in hierdie rigting, is. Kyk dus mooi as jy ‘n groterige voël met ‘n snaakse oop snawel sien, dit mag dalk net een van hulle wees!

Source: Reinderd Visser
(Illustrasie uit SASOL se “Birds of Southern Africa”)

RATSE VLIEËVANGERS - DEEL 1

As jy hierdie reeks tot nou toe gevolg het, sou jy agtergekom het dat elke voël waaroor ons tot nou toe gesels het uitstekend by sy omgewing aangepas het en meeste selfs spesifieke diëte ontwikkel het. Dink aan die saadvreters (mossies, vinke), vrugtevreters (muisvoëls, tiptolle), nektardrinkers (suikerbekkies), en die Visarend wat grotendeels vis vang (oor hom gaan ons nog gesels), om maar ‘n paar te noem. Vandag se voëlvriende word nie verniet “vlieëvangers” genoem nie – hulle hou van vlieë en ander vlieënde insekte.

Meer verskillend kan die drie seker nie van mekaar lyk nie, en tog dra hulle dieselfde naam – vlieëvanger. Daar is boonop nog ‘n hele paar ander hier by ons en oor hulle praat ek by ‘n volgende keer.

Dis nou al sterk somer so as jy gelukkig is behoort jy die mooiste een van die drie in die dorp op te merk. Ek praat van die Paradys Vlieëvanger (Paradise Flycatcher) met sy pragtige blou kuifkop, roesbruin lyf en lang stert (terloops, wyfie s’n is bietjie korter). Die dorp, veral waar daar baie bome in tuine is, is ‘n ideale blyplek vir die pragtige paradysvlieëvangers. Hulle is sku en beweeg gewoonlik vinnig tussen die bome deur terwyl hulle vir insekte jag, maar jy sal nie die dag vergeet wanneer jy hulle die eerste keer sien nie. ‘n Hoogtepunt sal wees as jy die klein nessie kan sien wat hulle bou. ‘n Mens kan jou beswaarlik indink dat hulle met hul lang sterte daarin pas, maar hulle doen! Onthou, mannetjie help ook die eiers warm sit. En wintertyd verdwyn hulle tot so ver as iewers in Midde-Afrika.

Die gebeur maklik dat ‘n mens die Fiskaalvlieëvanger (Fiscal Flycatcher) met die Fiskaallaksman (of Janfiskaal, soos baie hom ken) verwar. Hulle lyk nogal baie na mekaar, maar die laksman het beslis ‘n sterker snawel – amper soos die van ‘n roofvoël – terwyl die vlieëvanger s’n tipies insekvanger is, dun en plat na agter. Sy gedrag is ook tipies soos baie vlieëvangers – hy sit lank op een plek stil en sodra hy ‘n insek op die grond sien of wat vlieg, sal hy hom agterna sit en vang, om dan weer terug te kom na dieselfde uitkykpunt. Anders as die paradysvlieëvanger, wat tussen bome aktief is, verkies hy om sy kos in die oopte te vang.

Die kleinste van ons drie vlieëvangers van vandag is die Feëvlieëvanger (Fairy Flycatcher). As gevolg van sy grootte verkies hy struike eerder as bome vir sy jag- en broeiplek, maar jy sal moet mooi kyk om hom te sien. Hy is regtig klein en die meeste van sy kos is insekte wat binne die struike rondkruip en vlieg. Vra egter enige voël-entoesias en hy/sy sal sê dat hierdie een van hul gunsteling voëls is om dop te hou. Sy grootte, kleure, wipstert en hangvlerkies maak hom ‘n regte “ag, cute” voëltjie. Hy verdien die naam Feëvlieëvanger.

Terloops, laasgenoemde twee is endemies aan Suidelike Afrika (hulle kom net hier voor).

Source: Reinderd Visser
(Illustrasie uit SASOL se “Birds of Southern Africa“)

RATSE VLIEËVANGERS - DEEL 2

Verlede keer het ons begin met ons mini-reeksie oor vlieëvangers. Al dra twee van die drie waaroor ons vandag gesels nie die naam vlieëvanger nie, is hulle na genoeg familie dat hulle my nie sal verkwalik as ek hulle saam met hul “neef” gooi nie.

Vlieëvanger nommer een lyk regtig koddig – hy het immers geen stert nie! En sy naam sê dit ook – Stompstert . . . Bosveldstompstert (Longbilled Crombec). Al is hy nie baie skaam nie sal jy eerder sy krrr-krrr geluid in struike hoor as wat jy hom sal sien. Met insekte as sy hoofdieët begin hy gewoonlik laag in ‘n struik en werk boontoe terwyl hy vir sy maaltyd onder die blare of op die fyner takkies soek. In ‘n woud sal hy saam met van sy eie soort en verskeie ander soorte kleiner voëltjies saam tussen die bome of struike beweeg op soek na kos – voëlkykers noem dit ‘n “bird-party”.

Nommer twee het ek ook al in Oudtshoorn gesien, en wat ‘n pragtige voëltjie! Die baie aktiewe Kaapse Bosbontrokkies (Cape Batis) aard eerder aan die kus met sy boomryke woude, maar die vele bome langs ons riviere in die Klein-Karoo asook in die dorp is ideale habitat vir hulle om te floreer. Die mannetjie en wyfie lyk byna dieselfde, maar die wyfie het ‘n roesbruin borsie waar manlief s’n swart is. Hul hoofdieët is logies insekte en spinnekoppe. Mense vra gereeld hoe oud sulke klein voëltjies word – daar is rekords van ‘n groepie bosbontrokkies wat meer as 8 jaar oud geword het. Groter voëls soos jakkalsvoëls en arende kan tot 25 jaar oud word. Papegaaie word interessant genoeg selfs ouer! Nog ‘n bosbontrokkie wat baie na aan die Kaapse een lyk en wat jy moontlik in die droër areas van die Klein-Karoo mag raakloop is die Pririt Bosbontrokkie (Pririt Batis).

En nou die een wat wel vlieëvanger genoem word – die Donker Vlieëvanger (Dusky Flycatcher). Hy is klein en regtig vaal, maar jy sal dadelik aan sy gedrag kan sien dat hy ‘n vlieëvanger is – die stilsit op een plek (gewoonlik in die skaduwee van ‘n boom of struik), die skielike aanval op ‘n vlieënde insek en dan weer terugvlieg na die gunsteling uitkykplek. Hy is ook ‘n boom-en-struik voël en het goed in die dorp aangepas. As jy een raaksien, hou hom vir ‘n rukkie dop, jy sal sien dat hy sy vlerke nou en dan so flap-flap regskud. In die somer kan jy hom met die besoekende Europese Vlieëvanger (European Flycatcher – nie afgebeeld) verwar. Hulle lyk baie dieselfde en het dieselfde gewoontes. Wat my altyd verstom is die afstand wat hierdie voëltjies elke seisoen aflê. In Johannesburg is een gevang wat in Finland gering is! Moenie die vermoëns van die voëls in jou tuin onderskat nie.

Source: Reinderd Visser
(Illustrasie uit SASOL se “Birds of Southern Africa“)