VOELS VAN ONS KONTREI
BLOUKRAANVOËL - BEDREIGDE IKOON
Dis eers wanneer jy ‘n bietjie begin nalees oor die statige maar skaars Bloukraanvoël (Blue Crane), wat tog gereeld in ons kontrei te siene is, dat jy agterkom hoe ‘n (meestal) geliefde en gerespekteerde geveerde hy by die mens is. Trouens, hy het sy spore duidelik op ons as mense nagelaat. Boesmans het hom belangik genoeg geag om hom op rotstekeninge te verewig; Net lede van die Zoeloe-koningshuis mag sy stertvere in hul hooftooisels gedra het; ‘n Dorpie in die Oos-Kaap dra sy Xhosa-naam – Indwe; Die malva se Engelse naam (geranium) kom van sy griekse naam geranos, omdat die malva se peule soos sy snawel lyk; Selfs die kraan in jou kombuis is na hom vernoem (en die “kraan” in sy naam erf ons van sy Indo-Europese naam wat hy gekry het as gevolg van die geluid wat hy maak). Die Bloukraanvoël is in die sestigerjare as ons nasionale voël aangewys, hy word deur baie as simbool van vrede en standvastigheid gesien en hy pryk vandag nog op ons vyfsent-stuk.
Nasionale ikoon dus, maar ‘n bedreigde een! Hy is endemies tot Suider Afrika (99% kom in Suid-Afrika voor!) en dit maak hom uiters kwesbaar. Dit is onder andere sy eetgewoontes wat byna veroorsaak het dat ons hom nog net op foto’s en op die vyfsentstuk kan sien. Sy voorliefde vir saailinge (naas oa grassade, graan, insekte, paddas, reptiele en vis) bring hom in konflik met die boer, en in die verlede is selfs honderde op ‘n slag vergiftig. Indirekte vergiftiging daarmee saam het veroorsaak dat getalle van ongeveer 100 000 in die sestigerjare tot net meer as 20 000 tans verminder het. Daar is egter talle mooi verhale van hoe boere (soos in die Overberg wat hul aanplanting-siklusse aangepas het) saamwerk om te verhoed dat ons hierdie voël verloor.
En verloor wil ons hom mos nie. Dit is vir my een van die mooiste voëls wat wild in ons kontrei voorkom en as gevolg van sy grootte so maklik om te sien wanneer ‘n mens byvoorbeeld George toe ry. Terloops, wat soos lang stertvere lyk, is eintlik sy vlerkpunte, en dié gebruik hy tot die maksimum wanneer hy en vroulief ‘n dansritueel saam uitvoer (of jonges wat probeer om potensiële huweliksmaats te beindruk). Die vorm van sy kop is nie ‘n verdikking van sy beenstruktuur nie, maar word deur vere gevorm. En dit is ‘n kraanvoël ding, hierdie interessante “kopstukke”. Sy twee neefs wat elders in ons land voorkom het hul eiesoortige hooftooisels – die Mahem (Crowned Crane) het ‘n pragtige kroon, en die Lel-Kraanvoël (Wattled Crane) het weer sulke lang lelle langs sy wange af. Soos die Witkruisarend van verlede keer sweer pare trou aan mekaar tot wanneer een sterf. Trouens, hulle is so geheg an mekaar (as ek die menslike term mag gebruik) dat hulle mekaar feitlik nooit uit die oog verloor nie! Waar jy tydens broeityd ‘n klomp bymekaar sien wei, is dit waarskynlik jonges wat nog nie gereed is om af te paar nie – en dit neem 5 jaar vanaf uitbroei voor dit gebeur!
Volgende keer, wanneer jy weer die lang pad vat, kyk gerus uit vir hulle in die lande langs die pad, hou dalk stil, vat ‘n ruskansie en geniet hul prag vir ‘n paar oomblikke.
Source: Reinderd Visser
(Illustrasie uit SASOL se “Birds of Southern Africa“)
BOKMAKKIERIE, PIET KOKKEWIET
“Bok-bok-bok-makierie, makierie” . . en. . . “Piet-kokkewiet, piet-kokkewiet” – Twee geluide wat hierdie gevleuelde vriend van ons maak, en dis ook hoe hy aan twee van sy name gekom het. (Terloops, sy Engelse naam is ook Bokmakierie.) Ek is oortuig daarvan dat jy hierdie roepe al een of ander tyd in jou lewe gehoor het – dit sal eintlik snaaks wees as jy dit nie onlangs gehoor het nie, want die Klein-Karoo is volop van hierdie pragtige geelbors-met-swart-beffie-voels. As jy ooit die geleentheid het om vroegoggend iewers op ‘n plaas in die omgewing te kuier, gaan staan buite en luister of jy die pragtige beurtsang van ‘n Bokmakierie en sy maat kan hoor. Daar is heelwat voëls in die natuur wat in beurtsang sing, maar jy sal ver soek om so ‘n ge-oefende sangpaar op te spoor. Die tydsberekening van die twee is so perfek, ‘n mens dink maklik dat jy na net een voël luister!! Dit is ook ‘n bewys van hul lojaliteit teenoor mekaar – hulle bou saam nes, sit saam op die eiers en voer die kuikens saam. (Hoor jy dalk vals bokmakierie note, kan jy maar weet dat dit ouboet is wat begin oefen . . . . )
Die geleerdes sê dat die Bokmakierie familie is van die laksmanne, so dit beteken dat hy definitief ‘n jagter is en daarom ‘n vleisvreter. Wel, kyk net na die spyskaart – naas insekte vreet hy ook akkedissies, paddas en selfs klein slangetjies. Maar anders as die Fiskaallaksman, wat op die draad sit en uitkyk vir prooi en dan blitsvinnig toeslaan, is hy ‘n grondjagter. Hy gaan soek sy prooi onder die struike en bosse, baie soos die Olyflysters wat in ons tuine blare omdop op soek na ‘n wurm. Dit beteken egter nie dat hy ‘n skaam voël is nie. Ek het vroeër genoem van die beurtsang – hulle sal op ‘n paal sit en oop en bloot met mekaar sit en gesels. Die roepe is natuurlik nie net altyd liefdesduete nie. Bokmakieries is nie baie lief om hul jagveld met ‘n ander gesin te deel nie, so vroegoggend se roepe veral is om vir die ander te sê, bly liewer weg hier!
Ek het nog nie Bokmakieries in Oudtshoorn self raakgeloop nie, maar op die kante van die dorp in die veld wel. Hulle is ook baie volop op die plase. Kyk dus gerus uit vir hulle.
Die skoolhoof van die laerskool waar ek skoolgegaan het het altyd gesê, “As die Bokmakierie vandag roep, gaan iemand se boude brand.” Wel, hy en sy maat het te gereeld na ons sin geroep!! As strepe permanent op boude bly sit het, sou ek vandag ‘n hele paar kon wys wat Bokmakierie se kind losgeroep het. Ai, eina! Maar hulle is mooi genoeg dat ek dit nooit teen hulle sal hou nie.
Source: Reinderd Visser
(Illustrasie uit SASOL se “Birds of Southern Africa“)
DIE HAMERKOP - SUPER NESBOUER
Ek het die afgelope paar maande oor ‘n hele paar voëls wat WATER as hul blyplek verkies, gesels. Sommige woon letterlik op die water (eende, bleshoenders, dobbertjies), terwyl ander – die sogenaamde waadvoëls – langs of in die vlak water rondwandel (soos strandkiewiete, elsies en reiers). Vandag se koddige voël – die vuilbruin Hamerkop (ook sy Engelse naam) met sy naamgewende kuif op die agterkop – pas by laasgenoemde. Hy is lief om al langs riviere, damme of by vleie te stap op soek na ‘n roekelose padda of vissie wat sy skerp oë tart.
Meer as een leser het al vertel van hul dammetjie in die agterplaas met klein vissies in. Of dan – sonder vissies – nadat meneer Hamerkop ‘n paar keer ‘n draai kom maak het. Vlak poele met klein Talapias of selfs jong khoi visse is vir ‘n Hamerkop soos ‘n kitskos-kafee. ‘n Net oor die poel totdat die vissies te groot is vir die karnallie om te vang is miskien ‘n goeie idee.
Die Hamerkop is, ten spyte van die ergernis wat hy vir ‘n paar mag bring, eintlik ‘n spesiale voël. Hy word gerespekteer en selfs in sommige kulture gevrees, en ‘n afbeelding van een is al tussen oeroue rotstekeninge waargeneem. Buiten vir enkele plekke soos Madagaskar en Suid-Arabië kom hy net in Afrika voor en is enig in sy soort. En ja, ons het hom hier by ons ook. Hy is boonop ‘n rekordhouer in eie reg – geen voël in die wêreld bou ‘n groter nes as hy nie! Dit kan ‘n deursnee van tot 2 meter hê, is byna net so hoog en kan tot 100kg weeg! Die geduldiges wat hom al dopgehou het, sê dit kan tot 6 maande neem om ‘n rêrige grote te bou.
Hy versier sy nes met allerhande rommel, ook wat hy van jou ashope en selfs (by uitsondering) jou wasgoeddraad kan steel. Dit gebeur darem nie gereeld nie, maar daar is al selfs ‘n silwer teelepel in een se nes gevind. Binne hierdie deurmekaar massa is ‘n tonnel en ‘n kamer waar hy sy eiers lê. Bye en uile is bekend daarvoor dat hulle Hamerkop neste oorneem en dan moet hy maar weer voor begin. Hulle word tot so oud as 20 jaar, so daar is darem genoeg tyd vir die bou van ‘n volgende rekordgrootte nes.
Hamerkoppe is redelik individualisties (jy sien hulle selde in groepe saam), maar kom jy een (of sy nes) teë, knyp gerus ‘n tydjie af om hom dop te hou.
Source: Reinderd Visser
(Illustrasie uit SASOL se “Birds of Southern Africa“)
DIE HOEPHOEP - KLEURVOLLE KUIFKOP
Nog ‘n kromsnawel-besoeker in ons tuine op die dorp (naas die hadeda, skoorsteenveër en die suikerbekkies) is die Hoephoep (Hoopoe) baie opvallend met sy helder kleure en lang kuif, wat hy regop flits wanneer hy skrik of as iets sy aandag trek. Dis ook hy wat parmantig regop op ‘n paal sit en “hoep-hoep-hoep” roep, veral in die lente. Andersins is hy op jou grasperk doenig waar hy soos die ibisse, vooroor gebuig, steek-steek vir ‘n versnaperinkie in die gras soek. Ek hoor dat sommige mense hom met houtkappers verwar – dalk oor sy eienaardige kop of die kap-aksie wanneer hy kos soek – maar hy is heeltemal ‘n familie op sy eie.
Hy kom wel regoor die land voor, maar is op sommige plekke baie skaars. Oudtshoorn is egter bevoorreg om sommer ‘n hele klomp broeipare te hê. Kanse is goed dat jy hierdie jaar al meer as een keer sy roep gehoor het, of beter nog, sy swaar skoenlappervlug (hou hom bietjie dop) in jou tuin of omgewing gesien het. Met sy helder kleure kan jy hom in elk geval nie miskyk nie. En wat ‘n genot is dit nie om op jou stoep te sit en ‘n paar op jou grasperk dop te hou nie. As jy gelukkig is, sal jy boonop sien hoe die een die ander bederf met ‘n versnapering of drie – gewoonlik insekte of sappige wurms. Hulle sê ook nie nee vir klein paddatjies of selfs klein slangetjies nie.
Ek weet van ‘n paar hoep-hoep-neste in die dorp, maar sal graag van jou wil hoor as jy ook een in jou tuin het. Dit sal in jou dak of ‘n gat in ‘n muur of in ‘n hol boomstam wees (of jou posbus, as die gat groot genoeg is). Wat ek ook sal wil weet is of die nes sleg ruik. Hoep-hoepe se neste het ‘n reputasie om, veral na die kuikens gebore is, vreeslik te begin stink. Trouens, hoep-hoepe se neste het die onderskeiding in die voëlwêreld dat hul neste die meeste van almal stink. Waar sommige ander voëls die kleintjies se mis wegdra om nie aandag op die nes te vestig nie, bemors hulle die nes willens en wetens. Dit is blykbaar ‘n verdedigingsmeganisme – jy hoor amper hoe die voëlkuikenjagter sê, “Nee, kos wat op so ‘n stink bord lê eet ek beslis nie!”.
Die Hoep-hoep het ook vroeër in Egipte, soos die Skoorsteenveër, ‘n heilige plek ingeneem. Sou dit die rede wees waarom hulle volgens Levitikus 11:19 as onrein beskou en die Israeliete daarom verbied is om hulle te eet?
Op ‘n warm somersdag op Oudtshoorn sê ons mos gewoonlik, ‘Die kraaie gaap weer vandag’. Die Xhosas se uitdrukking is: ‘Ilanga liqatsa Ubhobhoyi’, wat in Afrikaans lees, ‘Die son laat die hoep-hoep gaap!’
Source: Reinderd Visser
(Illustrasie uit SASOL se “Birds of Southern Africa“)
DIE KWIKKIE - HIPERAKTIEWE HUISVRIEND
“As hy gaan, dan staan hy. As hy staan, dan gaan hy. Wie is hy?” Dit was een van die eerste raaisels wat ek as kind geleer het. Die antwoord is natuurlik die Kwikkie, want terwyl hy stap, is sy stert stil. Gaan staan hy, dan wip hy sy stert. Dis ook geen wonder dat sy naam “wagtail” in Engels is nie. Daar kom ‘n hele paar soorte in Suid-Afrika voor, maar by ons kry jy die Gewone Kwikkie (Cape Wagtail).
Kwikkies is loshande die makste wilde voëltjies in ons tuin. In die natuur kry jy hulle gewoonlik naby water, soos riviere of damme. Hier in die dorp is jou agterdeur hul gunsteling kuierplek, altyd aan’t bedel vir ‘n bietjie gerasperde kaas of, as hulle regtig gelukkig is, rou maalvleis. Terloops, wees maar versigtig met broodkrummels – dit is nie so gesond vir die krop nie. Skoffel of hark jy in die tuin sal hulle maklik tot onder jou voete kom soek vir ‘n wurm. Hulle is, soos die Janfrederik, voorwaar tuis om jou huis.
As jy ‘n kat het is dit dalk raadsaam om hom ‘n klokkie om die nek te hang. Kwikkies is rats en word nie maklik gevang nie, maar ‘n klokkie sal hom ‘n beter kans op oorlewing gee en verseker dat jy ‘n lang vriendskapsverhouding met jou huisvriende het. Ek het ‘n oom en tannie in ‘n ouetehuis geken wat vir jare ‘n pad met ‘n kwikkiegesin gestap het. Die kwikkies het altyd by ‘n venster ingekom vir hul kaas, en op winderige dae het hulle ongeduldig aan die toe venster geklop wanneer dit etenstyd was. Die ouers het hul jonges ook gebring vir versnaperinge, maar het hulle na ‘n paar dae weggejaag om hul eie huisvriende te gaan soek.
Kwikkies is maklik uitkenbaar aan hul grysblou rugkante en witterige onderkante, lang, wippende sterte, ‘n grys band op die bors en die kenmerkende twieep-geluid wanneer hulle aandag soek of opvlieg. Jy sal hulle ook meeste van die tyd op die grond sien rondwei. Moet ook nie verbaas wees as jy soms ‘n kwikkie met ‘n gebreklike pootjie of wat sonder tone is raakloop nie – kwikkies is om een of ander rede geneig om voetprobleme op te tel.
En waar kom die grys halssnoer op die bors vandaan? ‘n Pragtige boesmanlegende vertel die storie. Lank, lank gelede het sandvlooie ‘n boesmanfamilie by hul skerm lastig geval. Net toe hulle uit radeloosheid wou wegtrek, daag daar ‘n kwikkie op en hy pik al die vlooie op. Uit dankbaarheid wou hulle hom ‘n pragtige halssnoer van volstruisdop en skulpies gee, maar besef toe dit gaan te swaar wees – Kwikkie sou nooit daarmee kon vlieg nie. Toe vra hulle hul beste kunstenaar om as herinnering ‘n halssnoer op Kwikkie se bors te teken. So onthou hulle tot vandag toe wat hy gedoen het wanneer hulle sy grys halssnoer sien.
Source: Reinderd Visser
(Illustrasie uit SASOL se “Birds of Southern Africa“)
DIE LUDWIGSE POU
Hoor ‘n mens die woord POU dink jy dadelik aan die voël met die pragtig gekleurde pronkstertvere en die skril roep. Nee, daardie een is ingevoer en terloops Indië se nasionale voël. Ons het egter ook ‘n paar voëls in Suid-Afrika wat as poue bekend staan. Die grootste hiervan is die Gompou (Kori Bustard) – jy kry hom redelik wyd verspreid Noord asook Oos van ons – en hy staan bekend as die swaarste voël in die wêreld wat kan vlieg! Volstruis se kind het ophou probeer om hierdie rekord te verbeter.
Die pou hier by ons is die Ludwigse Pou (Ludwig’s Bustard). Al is hy nie baie algemeen nie (statistieke sê 4 tot 48 voëls per 100 vierkante kilometer kom in ons omgewing voor), sal vele boere sekerlik kan vertel dat hulle al ‘n groot swaar voël op die plaas gesien het wat beslis nie ‘n Sekretarisvoël, ‘n Swartkopreier, ‘n Bloukraanvoël of Wit Ooievaar was nie. Sy diep stem met voorafgaande voetestamp op ‘n stil oggend wanneer hy pronk behoort mens ook te laat wonder wat op aarde dit is wat nou so maak.
Anders as ander groot voëls hou Ludwigse Poue nie baie van bewerkte landerye nie – slegs ‘n gemiddelde van 5% van alle voëls gesien is op bewerkte gronde. Kyk dus eerder in areas met lae natuurlike struike as jy hom wil soek. Hy hou beslis ook meer van droër gebiede – jy sal hom byna glad nie aan die kus se kant kry nie. (Sy neef, die Veldpou – Denham’s Bustard – is daar weer heel tuis.) Hier in die Klein-Karoo is waar Ludwig in sy element is, trouens, sou jy die voorreg hê om op ‘n stadium deur die dorre en droë Namib woestyn ry, is die kanse goed dat jy hom daar ook sal sien.
Ons het hier met ‘n omnivoor te doen – hulle is net so gelukkig met “vleis” (o.a. insekte, spinnekoppe, skerpioene en selfs muise) as met groen goed (sade, besies en blare). En heelwat van die voëls waaroor ons tot dusvêr gesels het, was monogaam – getroud tot die dood hul skei – maar die Ludwigse pou voel nie so sterk daaroor nie. “As jy van my gepronk hou, kan ons hierdie seisoen afpaar. Volgende seisoen voel ek dalk anders oor jou, of jy oor my”, sou hulle kon sê. Volgens hul beperkte getalle word hulle as kwesbaar geklasifiseer, met telefoon- en kragdrade hul grootste vyand. Strikke en gif eis ook hul tol. Die Witkruisarend is hul grootste natuurlike vyand. As daar een of ‘n paar in jou omgewing is, geniet, en beskerm.
Source: Reinderd Visser
(Illustrasie uit SASOL se “Birds of Southern Africa“)
DIE SKAAM SWART KORHAAN
Vandag se grondbewoner – die Swart Korhaan (Southern Black Korhaan) – kry jy sommer reg rondom Oudtshoorn. As jy lief is om vroegoggend aan die buitewyke van die dorp te gaan stap of fietsry (veral aan die Weste-kant), is die kanse goed dat jy sy kras geroep al gehoor het. Trouens, met ‘n bietjie geluk het jy dalk al oog op hom gelê. Sy geroep mag dalk vir ‘n ander korhaan soos musiek in die ore klink, maar glo my, vir my klink dit ver van ‘n nagtegaal s’n. Die mannetjie roep regdeur die jaar, maar probeer veral tydens die broeiseisoen om aandag te trek en dan hoor jy hom meer. Swart korhane hou van die Klein-Karoo se struikveld, solank daar net plek tussen-in is om te kan stap.
Die wyfie is baie moeilik om te sien – nie net is sy vaal-kleurig nie wat haar met die omgewing laat saamsmelt, maar sy hou ook van wegkruipertjie speel wanneer sy mense sien. Sodra sy beweging sien sal sy kop omlaag flink wegsluip totdat sy agter ‘n struik tot stilstand kom om vir die dreigende gevaar te kan wegkruip. Manlief doen dit ook as hy voel ‘n mens kom te na aan hom, maar hy is nogal nuuskierig en sal nou en dan om of oor die struik loer om te sien of die gevaarlike tweebeengestalte al padgegee het. Hy vergeet natuurlik dat hy ‘n duidelike swart en wit kop het wat uitstaan wanneer hy so loer.
Hy is met sy duidelike swart kop en nek, pienk snawel, geel snawel en gestreepte rug eintlik ‘n mooi voël. As hy nie van jou weet nie, of as jy ver genoeg van hom af is, sal hy op ‘n muurshoop of klip gaan staan om die wêreld “uit die hoogte” te beskou.
Ek het vroeër genoem van die mannetjie se roep. Dit is nogal ‘n gesig om hom te hoor en sien wanneer hy lentetyd pronkvlieg om die wyfies se aandag te probeer trek. Hy vlieg met oordrewe vlerkgeklap, sy swart kroon (wat andersins nie sigbaar is nie) opgehewe, en gee die kras roep totdat hy voel hy het hul aandag, dan sal hy sy bene soos landingswiele laat afhang voordat hy fladderend land. Wat vir haar so aantreklik is daaraan sal ek as mens nie weet nie, maar blykbaar werk dit tog. Sy vertrou hom egter nie met kinders grootmaak nie, want sy broei die kuiken (daar is gewoonlik net een eier) self uit en maak dit self groot. En as sy praat, luister hy, want sy is groter as hy. Wat kos betref eet hulle insekte, klein reptiele en ook plante se jong lote en sade.
Source: Reinderd Visser
(Illustrasie uit SASOL se “Birds of Southern Africa“)
DIE VOËL MET 'N LEPEL VIR 'N BEK
‘n Mens sien heelwat wit voëls langs die water of op landerye wat natgelei word – die meeste is natuurlik reiers – maar vandag se wit voël is nie ‘n reier nie. Nie eens naby nie! Ek praat van die koddige Lepelaar (African Spoonbill) met sy lang bene, rooi gesig en die lang snawel met die lepelvormige ronde punt wat by ons damme boer. Het jy hom al dopgehou waar hy op en af in die vlak water loop, met die halfoop snawel wat hy so van kant tot kant deur die water of modder trek op soek na kos wat daarin skuil? Dit herinner nogal baie aan die kop-onderstebo-manier van kos-soek van flaminke, die snawels lyk net ietwat anders.
Die slim mense sê dat die binnekant van die punt van die lepelaar se snawel sensitief is vir vibrasies – sodra hy ‘n padda of nog iets lekkers (klein vissies of ander waterkreatuurtjies) naby sy bek voel, klap hy dit toe en siedaar . . . . ontbyt, middag- of aandete, afhangende van die tyd van die dag.
Lepelaars en reiers het iets in gemeen – hulle deel dikwels dieselfde bome vir nesmaak. By so ‘n nesboom het ek nog een van die lepelaars se snaakse gewoontetjies ontdek – die gewoonte om hul snawels so nou en dan hard te klap-klap. Hoekom? Seker omdat hulle kan. Die snaaksegeitjies hier en daar (bv. hul snaakse snawel, wat hulle so klap-klap) maak egter nie van hulle slegte ouers nie. Trouens, beide ouers bring hul kant om die kinders suksesvol, en binne 2 en ‘n half maande, groot te maak.
Lepelaars lyk natuurlik op hul koddige manier heel elegant wanneer hulle vlieg. Anders as reiers wat met ‘n ingetrekte nek vlieg, vlieg lepelaars met die lang snawel na voor uitgestrek. Een van die min kere wat hulle ‘n geluid maak (lepelaars is stillerige voëls), is juis in vlug en ook maar beter so – die kraakgeluid is nou nie die mooiste geluid wat in die voëlwêreld bestaan nie. Maak dit maar eerder daar vêr, ja!
Ek het, terwyl ek in Taiwan was, die voorreg gehad om een van die skaarste voëls op ons planeet sien – die Swartkoplepelaar – met net meer as ‘n duisend van hulle oor. Daar het ek besef hoe groot (en vernietigend) die mens se invloed op die natuur kan wees. Die meeste van hierdie 1000 voëls oorwinter op een plek in Taiwan. In 2003 het daar gifstowwe in die water beland en byna 100 van die lepelaars het gevrek -10% van alle Swartkoplepelaars op die planeet . . . weg! Ons eie lepelaars is darem nog nie bedreig nie, so geniet hulle wanneer jy hulle weer by ‘n plaasdam raakloop.
Source: Reinderd Visser
(Illustrasie uit SASOL se “Birds of Southern Africa“)
DIE VISAREND
Vlieg jy met ‘n Boeing van George af oor die Klein-Karoo Johannesburg toe is die kontras tussen die groen grasvelde aan die kus met die droë veld binneland-kant van die Outenikwas duidelik sigbaar. Dis droog en bruin met net ‘n bietjie groen hier en daar, behalwe vir ‘n breë groen strook van Oos na Wes – die landerye al langs die Olifantsrivier, die hoofaar deur Kannaland. En dis ook hierdie rivier wat meehelp dat een van die mooiste voëls in ons land hier by ons bly.
Die Visarend (African Fish-Eagle) is vir my dié voël wat Afrika vergestalt. Daar is seker geen bekender geluid as sy roep in Afrika nie, trouens, ek kry hoendervleis elke keer wanneer ek dit hoor! Wat ‘n voorreg dat boere in ons omgewing ook sy geluid in die oggend of laatmiddag kan hoor. Ek weet van ‘n hele paar broeipare – byvoorbeeld in die Volmoed omgewing en verder af met die rivier op die sementpad Calitzdorp toe.
Die Raubenheimerdam is ook groot genoeg en as jy gelukkig sal jy die pragtige roep daar ook hoor – hulle is daar. Laat weet gerus as jy gereeld ‘n paar in jou omgewing opmerk. Dit sal interessant wees om te weet min of meer hoeveel pare daar wel in die Klein-Karoo is. As jy die moeite wil doen om met ‘n verkyker na die visarende in jou omgewing te kyk, kyk sommer of jy ‘n plastiese vlaggie aan een vlerk sien. Kuikens is gemerk as deel van ‘n navorsingsprojek.
Dit is darem nie net sy roep – wanneer hy sy kop ver agteroorgooi en sy territorium luidkeels afbaken – wat indrukwekkend is nie. Sy manier van jag is net so indrukwekkend. Nie-voëlkykers sien gewoonlik min van roofvoëls se jagmetodes, maar ek is seker almal van ons het al een of ander tyd op televisie gesien hoe ‘n visarend swierig oor die water swiep, sy pote in die water steek, sy prooi vang en trots daarmee wegvlieg. Navorsing wys dat ‘n visarend visse tot 3 kilogram so uit die water kan lig!
Vang hy enigiets swaarder, val hy in die water, bly klou aan die vis en “swem” dan land toe deur sy vlerke soos spane te gebruik. ‘n Bietjie nattigheid sal hom nie van sy kos ontneem nie! Besoedelde riviere of damme is natuurlik ‘n bedreiging vir visarende, want siek water veroorsaak siek visse, wat die voël uiteindelik kan benadeel of selfs doodmaak.
Visarende gebruik dieselfde nes, of ‘n paar neste in een omgewing, oor en oor (een paar het ‘n nes 21 keer gebruik om te broei!). Hul kuikens ly, soos meeste roofvoëls, ook aan die Kain en Abel sindroom – die grootste kuiken probeer die swakker een doodmaak. Vreemd, maar deel van hul manier van doen en oorleef.
source: Reinderd Visser
(Illustrasie uit SASOL se “Birds of Southern Africa“)
DIE WITKRUISAREND - KONING VAN ONS LUGRUIM
Genoeg vir eers van vrugtevretertjies, insektevangertjies en nektardrinkertjies, kom ons gesels vir ‘n slag GROOT! En in ons streek is daar min wat die Witkruisarend (Verreaux’s Eagle, of vroeër Black Eagle) se gelyke is wanneer dit by groot kom. Ja, die volstruis staan dalk hoër op sy tone as hy, so ook die bloukraanvoël en die sekretarisvoël (ons gaan in elk geval nog oor hulle ook gesels), maar daar is iets aan hierdie majestieuse voël wat hom net in ‘n klas van sy eie plaas! Dis soos om ‘n buffel langs ‘n leeu te sit – jy weet sommer dadelik watter een die koning is.
‘n Mens hoef ook nie baie slim te wees om te weet dat jy hier met ‘n roofvoël te doen het nie. En wanneer jy daardie reuse kloue en snawel van naby sien, weet jy – versigtig wees nou, want lyk jy dalk vir hom soos kos, of jy probeer hom kaalhande aanpak, is jy diep in die moeilikheid! Trouens, hy het juis ‘n slegte naam gekry omdat hy oënskynlik van mense se eiegoed vat . . . hy is mos die berugte Lammervanger! Vang hy regtig lammers? Toe wel, maar dit vorm iets soos 3% van sy dieët. Boonop sluit hierdie syfer die dooie karkasse, waarop witkruisarende aas, in (ja, hulle gee nie om om aan ‘n stukkie koue vleis te kou nie).
Ek kry die indruk dat boere al hoe meer besef dat die persentasie lammers gevang nie opweeg teen die potensiële skade wat die “ongediertes” – wat sy prooi is – sal aanrig sou jy hom uit die sisteem haal nie. Neem nou maar sy stapelvoedsel, dassies. Tydens ‘n studie by een nes is getel dat in die 26 weke wat dit geneem het om die kuiken groot te maak, die ouers meer as 230 dassies nes toe gebring het! Hoeveel skade kan so ‘n spul dassies nie veroorsaak nie! Dassies vorm ongeveer 90% van hul spyskaart, maar Witkruisarende sê ook nie nee vir ape, hase, meerkatte, muishonde, klein bokkies en selfs skilpaaie wanneer die hongerte regtig knaag nie!
Witkruisarendpare bly maats totdat een wegval – hulle neem dus die belofte “tot die dood ons skei” baie ernstig op. Nesmaak gebeur teen ‘n hoë krans of in ‘n hoë boom waar die wêreld plat is. ‘n Raaisel wat mense al vir jare, en steeds vandag nog, met vrae los is die “Kain en Abel”-verhouding wat die kuikens het. Twee eiers word gewoonlik gelê, maar sodra die kuikens uitgebroei het, begin die ouer een die jonger een te pik totdat hy hom letterlik “vermoor” het. Soos dit vir my lyk voel die meeste slimmes dat 2 eiers gelê word om te verseker dat daar wel ‘n kuiken is (een eier mag dalk nie uitbroei nie), maar dat die ouers nie genoeg energie het om twee kuikens te kan grootmaak nie.
Hier is natuurlik ook ander arende in die omgewing. Van die Visarend (Fish Eagle) en die Dwergarend (Booted Eagle) het ons jou reeds vroeër in hierdie reeks artikeltjies vertel en die net so mooie Breëkoparend (Martial eagle) is ook al hier opgemerk. Maar sal jy ‘n Witkruisarend in ons omgewing kan sien? Ek sien hulle nogal gereeld in die Swartbergpas, maar fyn kyk hier op die dorp – ek was eendag besig om ‘n groepie Taiwanese kinders die meerkatte by die Kango Wildlife Ranch te wys toe die meerkatte eensklaps in hul gate verdwyn! En toe ek opkyk om te sien wat hulle so skrik op die lyf gejaag het, sweef hy grasieus oor ons koppe – die koning van die Klein-Karoo lugruim!!
Source: Reinderd Visser
(Illustrasie uit SASOL se “Birds of Southern Africa“)
DIKKOPPE - NAGKIEWIETE?
Ons gesels op die oomblik oor grondbewoners onder die gevleueldes in ons omgewing. Vandag se twee noem ek sommer die “nag-kiewiete”, al is hulle nie familie van die Kroonkiewiet en Bontkiewiet van verlede keer nie. Hulle verdien die naam omdat hulle byna dieselfde gedrag as kiewiete openbaar, maar eerder skemeraand en snags aktief is. Die ongeoefende oog kan dikkop se kind maklik met kiewiet verwar, maar dikkoppe het groter lywe en . . . kyk net hul groot oë!! “Om beter in die donker te kan sien, my kind.”
Dikkoppe (Spotted Thick-knees) is vir sommige Oudtshoorniete geen vreemde voëls nie. Hier is heelparty van hulle in die dorp en hulle is nogal lief om saans in en langs die strate rond te hardloop. Motorligte vind hulle maklik (ry maar versigtig, veral as daar kleintjies is). En het jy al ooit gewonder watter voël die redelike skril ti-ti-ti-tit-ti geluid in die donker maak? Wonder nie meer nie. Hulle broei in tuine en op sportvelde waar hulle nie bedreig voel nie. ‘n Interessante en belangrike feit om te onthou is dat dikkoppe nie lief is vir rondtrek nie. As hulle nie onnodig gesteur word nie, sal hulle vir jare in dieselfde omgewing bly (‘n spesifieke dikkop is al vir langer as 20 jaar in dieselfde omgewing aangeteken!!). As jy ‘n paar van hulle in jou omgewing het, laat weet gerus of dit jou ervaring ook is.
Hier is heelwat Gevlekte Ooruile in die dorp soos ek al by ‘n vorige geselsie genoem het – wel, hulle is seker dikkoppe se grootste bedreiging. Ek sien Witkruisarende is ook op die lys van top 10 ongewildes by Dikkoppe. Dikkoppe self is insekvreters met saad vir slaai.
Die Waterdikkop (Water Thick-knee) is ietwat skaarser om te sien – soos sy naam sê verkies hy nat omgewings soos riviere en damme en ek het self nog nie een in die dorp raakgeloop nie – maar hier is beslis ‘n hele paar broeipare in die Klein-Karoo. Anders as die dikkop wat verkies om vir jare in een omgewing te bly, is waterdikkoppe afhanklik van water en sal in geval van droogte ver gaan soek vir die naaste nattigheid. Hul hoofdisse kom juis uit die water (o.a. krappe en paddavissies) maar sal ook nie nee sê vir sappige insekte en saad nie. Soos meeste grondbewoners is waterdikkop se nes net ‘n holtetjie in die grond, met baie min nesmateriaal. Waterdikkoppe kruip ook bedags weg, net om met skemer uit te kom op soek na geselskap en ‘n eet-dingetjie.
Source: Reinderd Visser
(Illustrasie uit SASOL se “Birds of Southern Africa“)
DOBBERTJIES - WAARDIGE WATERDANSERS
Normale mense wonder seker hoe voëlkykers met ‘n verkyker voor die oë vasgeplak vir ure lank onsosiaal en alleen in ‘n voëlskuiling langs ‘n dam kan sit. Vandag se 3 gevleueldes is een goeie verduideliking daarvoor. Voëlkyk is darem baie meer as net om deur ‘n verkyker na ‘n klein dingetjie met vlerke en vere te kyk en te wonder wat op aarde dit dan nou is. Hoe meer fanaties ‘n mens oor voëls raak, hoe meer wil jy van hulle gewoontes weet, en as die tyd dit toelaat, om dit ook in lewende lywe waar te kan neem. Dobbertjies se spel van die liefde en versorging van hul kleintjies is fasinerend genoeg om ‘n ywerige voëlkyker vir ‘n lang tyd vasgenael te hou.
Die drie dobbertjies in Suid-Afrika – die Kleindobbertjie (Little Grebe), die Kuifkopdobbertjie (Greater Crested Grebe) en die Swartnekdobbertjie (Black-necked Grebe) – kom al drie hier by ons voor. Die Kleindobbertjie is die mees algemene van die drie. Jy sal hulle almal op damme, by rioolplase en in vleie kry, en die kleintjie hou ook van stil poele in riviere. Laasgenoemde is ook die raserigste van die klomp, met so ‘n skril skree wat deur jou lyf sny as jy naby hom is. Hulle eet almal klein vissies, paddavissies en inseklarwes en duik meeste van die tyd onder water om hulle te vang.
Moenie verbaas wees as ‘n dobbertjie duik en jy sien hom eers byna ‘n minuut later en 30 meter verder uitdop nie. Ek het toe ek oor die uile gesels het, vertel dat hulle die vel en skelet van hul prooi opbring. Dobbertjies het byna dieselfde gewoonte – hulle bring die visgrate op sodra die voedsame vleis verwyder is. Wat egter interessant is, is dat hulle vere insluk wat op hul beurt om die visgrate koek om beserings te verhoed met die opbringslag.
Dit is egter hul romantiese sy en rituele wat regtig aandag trek. Dit is niks anders nie as gesinchroniseerde waterballet! Die mannetjies van die twee groter dobbertjies sal eers enige opposisie verjaag voordat hulle saam met hul maat die eintlike hofmakery begin. Dit is hierdie hofmakery wat so indrukwekkend is. Elk van die drie dobbertjies het hul eie rituele/roetines – ekself droom nog daarvan om dié van die Kuifkopdobbertjie lewendig te kan sien. Die paartjie het ‘n reeks uitsonderlike danspatrone en kopbewegings wat hulle uitvoer voordat die huwelik voltrek word (dankie National Geographic vir die beeldmateriaal). Die Kleindobbertjie staan darem nie ver terug nie en dié kon ek darem al beleef. Om dit hier te probeer beskryf sal nie reg daaraan laat geskied nie.
Nog ‘n interessantheid is dat, wanneer die kuikens uitgebroei het, hulle vir ‘n tyd op hul ouers se rug ry terwyl dié besig is om kos te soek. Hulle oefen ook van jonks af om die danspatrone reg te kan doen. Inderdaad fassinerende waterdansers, wat hier onder ons neuse hul ding doen. Die kanse om die Swartnekdobbertjie en Kuifkopdobbertjie te sien (wat nog te sê hul danspassies) is egter nie so goed soos die Kleindobbertjie nie, hulle is nogal skaarserig, ek het hulle nog maar enkele kere by die rioolwerke en by plaaslike damme opgemerk.
Source: Reinderd Visser
(Illustrasie uit SASOL se “Birds of Southern Africa“)
DUIWE - GROOT DORPSDUIWE
Duiwe is sekerlik dié sigbaarste voëls in ons dorpe, bloot omdat hulle in sulke groot getalle voorkom, so luidkeels koer en boonop ‘n hele handvol verskillende spesies verteenwoordig! Dis daarom dat ek hulle vir die doel van ons gesprek in groepe indeel, met vandag ‘n kykie na die heel grootste duiwe.
Ek het van skoolkoshuis-dae af nie goeie herinneringe aan die Kransduif (Speckled Pigeon, previously called Rock Pigeon) nie! Dis mos hy wat so ‘n vervelige, temerige, nimmereindigende doo-doo-doo-doo-doo geluid maak. Daar het altyd ‘n paar in die luggate op die dak van ons studiesaal gesit en wanneer ‘n mens die hardste wou konsentreer terwyl jy voorberei vir eksamen, het die mannetjie met sy “pronklied” (bid jou aan!) begin. Tot vervelens toe! Ja, ek het baie aan moord gedink. En dis juis groot geboue soos koshuise, hospitale en tehuise vir bejaardes wat hoë lysies het wat so tipies is van waar hulle eintlik vandaan kom – kranse. Hulle voel hulleself baie tuis in ons dorpe met soveel nesmaakplek en slaapplek beskikbaar.
Dit natuurlik tot groot ergernis van die eienaars, want groot voëls maak groot kolle! Mense het my al gevra wat hulle kan doen om die gemorsery te kan keer, maar ek het ongelukkig nie ‘n eenvoudige of goedkoop antwoord daarop nie. Laat weet as jy dalk het. As ek iets positief van kransduiwe kan sê (en daar is darem heelwat meer), dan is dit dat hulle streng monogaam is. Hou die twee gerus dop wanneer hulle byvoorbeeld begin nesbou – een dra aan en die ander bou.
‘n Duif wat nie so algemeen nie, maar tog gereeld in veral ons middedorpe gesien word, is die Tuinduif (Rock Dove, previously called Feral Pigeon). Gaan jy stad toe kom jy sommer baie van hulle op die pleine en in stadsparke teë waar hulle rondstap en vlieg op soek na saad en oorskietkos! Anders as die ander duiwe by ons het die mens hulle van die noorde af ingebring en het ontsnaptes gou hul vryheid geniet, aangepas en kom hulle nou wydverspreid voor. Hulle lyk natuurlik ook nie almal dieselfde nie, want tuinduiwe het ‘n verskeidenheid van vereskakerings. Al lyk hulle byna dieselfde, moet jy hulle nie met ons kranige vliegduif-entoesiaste se kampioenduiwe verwar nie. Tuinduiwe vlieg nouwel ook soos die vliegduiwe in sulke kolomme saam, maar ek dink nie hulle sal by die rasegte vliegduiwe kan kersvashou wanneer dit by langafstandvlieg kom nie!
Ek is regtig opgewonde om jou van ons laaste groot duif te vertel. Die Bosduif (African Olive-Pigeon, previously called Rameron Pigeon) met sy heldergeel snawel verwag ek eintlik eerder in die inheemse woude aan die kuskant. So is hy intussen tog al hier in die Klein-Karoo, veral teen die Swartberg, aangeteken, wat opsigself ‘n deurbraak is. Wat my egter opgewonde maak, is dat hulle nou al by meer as een geleëntheid in Oudtshoorn self opgemerk is! Dis daarom dat ek gekies het om hom hier in te sluit.
Anders as die kransduif en tuinduif sien jy hom baie min op die grond loop en kos soek, en waar eersgenoemde twee sade in hul dieët verkies, het hy eerder ‘n aptyt vir vrugte. Kyk gerus fyn wanneer jy groot duiwe in boomtoppe sien sit of iewers sien vlieg, jy mis hom moeilik, want hy is regtig groot en die geel snawel help om hom van die Kransduif te onderskei.
Onthou dat Oudtshoorn nou ‘n voëlklub het. Hulle het byvoorbeeld op stemdag die Swartberg-pas aangedurf en pragtige (en skaars) fynbosvoëls aangeteken. Jy kan my gerus by 072 9033 707 skakel as jy sommer in die algemeen oor voëls wil gesels of meer van die voëlklub wil weet. Volgende keer het ek dit oor die kleiner dorps-duiwe.
Source: Reinderd Visser
(Illustrasie uit SASOL se “Birds of Southern Africa”)
DUIWE - KLEIN DORPSDUIWE
Ek sit vanoggend en dink aan die titel van hierdie artikel – Klein DORPS-duiwe. Al die voëls waaroor ek al die afgelope klompie jare gesels het, is sogenaamde wilde voëls wat om ons in die natuur voorkom. Wat ek nou so met my dinkery besef, is dat hierdie voëls almal heel goed in die wilde natuur reggekom het lank voordat ons dorpe begin bou het. Dorpe het dinge net makliker gemaak vir baie van hulle en dis daarom dat hulle hulleself nou so tuis vind hier.
Neem nou maar die Rooiborsduifie (Laughing Dove), of die lemoenduifie, soos baie mense hom noem. Getallegewys is hy, wat Oudtshoorn betref, die algemeenste duif, en hy het hom sommer goed tuis gemaak! Waar jy ookal ry of stap, sal jy hom, of sommer ‘n groepie bymekaar, op kragdrade of op die grond sien. Tipies saadvreter loop hy meestal op die grond en soek vir saad wat onder struike lê, deur die wind rond gewaai is, of wat in die pad lê en deur motors se bande fyn getrap is (dis waarom hulle so gereeld doodgery word). Hy sê darem ook nie nee as ‘n sappige insek of larwe so nou en dan sy pad kruis nie en moenie verbaas wees as jy hom aan ‘n halfge-ete vrug wat op die grond lê sien knibbel nie.
En al sien ‘n mens hulle soms in groot getalle by plekke waar daar baie te ete is, is hulle wanneer dit by nesmaak kom nie groepsvoëls nie. Trouens, hulle is monogaam en boonop aggressief as ‘n ander duif dit na aan die paartjie se nes sou waag! Hulle het wel heelwat vyande in die dorp, anders sou hul getalle dalk heeltemal handuit geruk het. Hulle is die hoofvoedselbron vir die verskeidenheid roofvoëls wat in die dorp tuis is (veral sperwers en valke). Ek het self al gesien hoe ‘n edelvalk een wat rustig op ‘n telefoondraad gesit het, uit die son aanval en gryp.
Die gekoer van die Gewone Tortelduif (Cape Turtle-Dove) is een van die geluide wat ek al van kindsbeen af ken en ek kan nie anders as om na aan die natuur te voel wanneer ek dit hoor nie! As ek die etimologie-boeke reg verstaan, word hy juis ‘n TORTEL-duif genoem na aanleiding van die geluid wat hy maak – die Nederlanders het gesê hy “tortelen”. Van name gepraat, sy latynse naam is Streptopelia capicola. Groot woorde, maar dit beteken eenvoudig kraag- (streptos) duif (peleia), inwoner van die Kaap (capicola). Beskrywend, nie waar nie? Daardie kraag is darem net te opvallend. Sy eetgewoontes stem baie ooreen met die van die rooiborsduifie en jy sal hulle dikwels saam sien. Hulle moet ook gereeld water drink en sal ten minste twee maal per dag by jou waterbak ‘n draai maak as daar een in jou omgewing is.
Net om dinge effe moeilik te maak, is daar nog ‘n duif in ons dorpe met ‘n ring aan die nek! Ek praat van die Grootringduif (Red-eyed Dove), en hy kom ook hier voor. Hy is effe groter as die tortelduif en as jy hom van naderby kan bekyk, sal jy sien hy het, soos sy Engelse naam sê, ‘n rooi oog (met ‘n rooierige ring daarom). En terwyl ek netnou groot latynse name aangehaal het – hy is Streptopelia semitorquata – Kraagduif met ‘n halwe (semi) kraag (torquata). Hy koer natuurlik nie soos ‘n tortelduif nie, trouens, sy roep is baie sagter en byna stemmiger. Sy eetgewoontes is effe anders as die van genoemdes hier bo, hy kan groter sade inkry, eet minder lewendige diertjies en, interessant, die slimmes sê hy sal makliker onder bome kos soek as die tortelduif en rooiborsduifie. Let bietjie op daarna.
Volgende keer vertel ek van die duiwe wat eerder in die veld, as in ons dorpe, opgemerk word, en dan wonder ek ook waarom juis die duif die simbool van (onder andere) vrede is. Die Klein-Karoo Voëlklub het die 16e Junie by Red-Stone Hills gevleueldes gaan soek en, nogal op ‘n koue wintersdag, 49 spesies opgeteken! Jy kan my gerus by 072 9033 707 skakel as jy oor voëls wil gesels.
Source: Reinderd Visser
(Illustrasie uit SASOL se “Birds of Southern Africa”)
DUIWE - NATUURDUIWE EN KORTLIKS - DUIFSIMBOLIEK
Watter duiwe het ons tot nou toe al van nader bekyk? Die groot dorpsduiwe was mos die Kransduif (Speckled Pigeon), die Geelbekbosduif (African Olive-Pigeon) en die Tuinduif (Rock Dove). Verlede keer was dit die kleiner dorpsduiwe – die Gewone Tortelduif (Cape Turtle-Dove), die Grootringduif (Red-eyed Dove) en die Rooiborsduifie (Laughing Dove).
Wat oorbly is die twee duiwe wat ons nie maklik in ons dorpe sal raakloop nie. Die eerste een is die pragtige Namakwaduifie (Namaqua Dove) met sy swart gesiggie en bors en lang stert, wat jy byna altyd in ons droër streke op die grond sal sien rondloop. Namakwaduifies is lief om in kort struikwêreld, oop vlaktes en soms selfs langs die pad vir grotendeels fyn sade te soek. Een van die plekke waar ek hulle al gereeld in die verlede raakgeloop het, is op die Mosselbaai-pad net buite die dorp. ‘n Leser het my onlangs voorgekeer en ook vertel dat, wanneer hy met sy fiets daar langs ry, hy hulle soms teëkom. Fyn kyk.
Soos jy dalk op die illustrasie kan sien, die wyfie lyk anders, selfs effe valer, as die mannetjie (die een in die middel is ‘n jonge). By al ons vorige duiwe lyk die mannetjie en die wyfie min of meer dieselfde. Tipies duif, en soos die ander, vorm hierdie duifies egter ook pare vir solank hulle bly leef, en hul gunsteling broeiplekke is in veral akasiabome.
Die tweede een is die skamerige Witborsduifie (Tambourine Dove), wat jy selde buite veral breëblaarwoude en rivierwoude te siene sal kry. Ek sien hulle gereeld in Schoemanshoek, agter in die Matjiesrivier omgewing en in Meiringspoort, maar dit kos fyn soek as hulle nie hul treurige woo, woowoo, woo, tu tut tu tu . . . deuntjie sing wat hul sitplek in die boom weggee nie. Hulle soek ook op die grond vir sade soos die ander duiwe, maar hou ook van klein vruggies en bessies en as daar nie op die grond lê nie, sal hulle hulle sommer so van die takke af pluk. Verras jy hom waar hy op die grond loop, is dit net ‘n harde vlerkgeklap en sig-sag, weg is hy! Mannetjie en vroutjie lyk by hulle ook effe verskillend. En vir die soveelste keer herhaal ek myself – ook die witborsduifies maak pare vir solank hul leef!
Daar moet tog ‘n les hierin weggesteek wees, in die feit dat alle duiwe so afpaar en getrou by mekaar bly en saam nes bou en die kleintjies saam grootmaak! Wel, daar is. Ek het ‘n bietjie op die wye web gaan krap om meer te probeer uitvind oor waarom ons so lief is om die duif as simbool te gebruik – en juis hierdie feit kom soos ‘n refrein deur! Van vroeg af (soos in, duisende jare gelede, tot in die tyd van Egiptenare, Grieke en Romeine) was ons mense bewus van hierdie mooi eienskap van die duif. Soveel so, dat die duif nie net as offerdier of kos gedien het nie, maar gerespekteer is vir hierdie getrouheid aan mekaar en selfs mak gemaak is. Die Europieërs van vroeër het byvoorbeeld geglo dat duiwels en hekse in alle voëls, behalwe duiwe, kan verander! En het jy geweet dat duiwe melk produseer? Wel, dit is nou wel kropmelk, maar dis juis hierdie eienskap wat aan duiwe deur sommiges die simbool van moederskap toegeken het. Duiwe is in verskillende kulture al as simbool van liefde, genade, toewyding, belofte, heiligheid, offervaardigheid hemelvaart, suiwering, boodskapper en hoopvolheid gesien. ‘n Mens sien duiwe orals in mosaieke van ouds. Die wit duif word blykbaar al vir duisende jare as simbool van VREDE beskou. Vir christen-gelowiges is die verhaal van Noag natuurlik baie prominent, met die duif wat met die groen olyftakkie teruggekom het. Duiwe verteenwoordig ook die Heilige Gees na aanleiding van tekste in die Nuwe Testament.
Ja, hulle kan ons soms irriteer en hulle kan goed mors ook as hulle wil, maar erken maar, ons het tog maar diep binne in ons ‘n sagte plekke vir die duif. Jy kan my gerus by 072 9033 707 skakel as jy iets oor duiwe met my wil deel.
Source: Reinderd Visser
(Illustrasie uit SASOL se “Birds of Southern Africa”)
EUROPESE BYVRETER - KLEURVOLLE KARNALLIE
As jy so na die afbeelding kyk wil ek byna vra, kan jy glo dat daar nog so ‘n kleurvolle voël hier by ons rondvlieg? Ek sien die Europese Byvreter (European Bee-eater) so ongereeld dat ek byna van hom vergeet het, maar die ander dag sit ek op die stoep hier in Oudtshoorn met ‘n koffie in die hand en al krr, krr, krr, krr, vlieg ‘n groepie voëls hier oor my huis. Toe onthou ek, hulle is ook mos soms hier by ons! Soms, want hulle is getrou aan hul naam somerbesoekers uit die Noorde (die suide van Europa, Wes-Asië en Noord-Afrika).
Ek dink ons dorpenaars sal hulle moeiliker te sien kry as die mense buite op die plase, en ek sien hulle veral op telefoondrade en in bome in die rigting van die Swartberge. Plekke waar ek hulle byvoorbeeld al opgemerk het is in die Lategansvlei omgewing en ook Red Stone Hills. Tog hoor ek hulle gereeld in groepies oor die dorp vlieg, heel waarskynlik op pad na of van eet- of slaapplekke. En hulle is gewoonlik in groepe bymekaar.
Ek het vroeër genoem dat hulle besoekers is en hul broeiplekke is juis in die lande in die noorde wat ek hierbo genoem het, maar interessant genoeg is daar tog van hulle wat tydens ons somer hier by ons broei. Ek twyfel of hulle hier by ons in die Klein-Karoo broei, maar as jy dalk al tevore van hulle by gate aan rivieroewers of teen grondwalle sien in en uitkom het, laat weet my dadelik, asseblief! Mens weet nooit!
Kan ek hom ‘n karnallie noem? Wel, moontlik sal byeboere dit tog doen. Sy naam is nie verniet byvreter nie. Hy is ‘n insekvreter, maar verkies nogal bye en perdebye as hy hulle in die hande kan kry. Een statistiek sê dat hulle tot 250 bye per dag kan eet! Wanneer hy een gevang het, sal hy hom woes teen die grond of op ‘n rots slaan om van die angel ontslae te raak.
Skakel my gerus by 072 9033 707 as jy meer inligting oor byvreters het om met my te deel. Daar was byvoorbeeld ‘n tydjie gelede ‘n ander spesie byvreter hier by ons opgemerk, maar ek was nie in die omgewing om hom te gaan soek nie.
Onthou ook dat ons nou ‘n voëlklub in die dorp het. As jy meer inligting verlang, skakel gerus vir Jan Bester by 082 4618 253.
Source: Reinderd Visser
(Illustrasie uit SASOL se “Birds of Southern Africa”)
FYNBOS - VRIENDE 1
Die Kaapse Blommeryk. As een van Suid-Afrika se 8 wêrelderfenisgebiede en ‘n wêreldwonder in eie reg met sy ongeveer 9600 plantspesies, beslaan dit maar iets soos 4% van Suider-Afrika (dit strek van die Kaapse Skiereiland Noord tot by die Cederberge en Oos tot by Baviaanskloof). Tog verteenwoordig dit 40% van al ons plante! Groot woorde. In Afrikaans noem ons dit sommer net fynbosveld en ons wat in die Klein-Karoo woon word letterlik omvou daardeur. Die Swartberge vorm amptelik deel uit van die beskermde wêrelderfenisgebied, maar steek jy die Outenikwa-, Robertson-, of selfs die Rooiberg-pas oor kry jy nog meer blootstelling aan die wonderlike fynbosveld vol proteas, heide en bolplante, om net ‘n paar te noem.
Al die gesels oor hierdie spesiale gebied en spesiale plante wil jou maar net inlei tot 6 baie spesiale voëls – voëls wat jy net in die fynbos en feitlik nêrens anders sal kry nie. Voorwaar FYNBOS-VRIENDE. En so by my kool, jy kry al ses in ons omgewing! Vandag die eerste 3.
Die verskillende Protea spesies gebruik nektar om voëls en insekte te lok. Trouens, die Suikerbos (Protea repens) van “Suikerbos, ek wil jou hê” faam het tot soveel as ‘n teelepel en meer daarvan beskikbaar! En dis hierdie oorvloed van nektar wat die Kaapse Suikervoël (Cape Sugarbird) ‘n fynbos-fynproewer maak. Die geleerdes sê een voël sal tot 300 blomme besoek om aan sy daaglikse behoefte aan energie te voorsien! Die voordeel vir die blomme is natuurlik dat hulle van bestuiwing gewaarborg is. Suikervoëls is maklik herkenbaar met hul lang snawels en lang sterte (die mannetjie s’n is langer as die van die wyfie) en die kombinasie van hul grootte, luidrugtigheid en die feit dat hulle in groepe saam beweeg maak dit net so maklik om hulle op te spoor.
Die Oranjeborssuikerbekkie (Orange-breasted Sunbird) is vir my loshande een van die mooiste suikerbekkies in Suid-Afrika. Hy is ongelukkig so klein dat jy ‘n verkyker nodig het om sy mooiheid te kan waardeer. Hy is net so lief vir proteas, maar is, anders as die suikervoël, minder suksesvol met die bestuiwing daarvan. Dit is omdat hy langs die blom, en nie bo-op waar die stuifmeeldrade nektar soek. Sy bydrae tot b is nie, sit wanneer hyestuiwing is by die kleiner blomme van die Erica-spesies. Beide suikervoëls en suikerbekkies het natuurlik proteiene ook nodig, so moenie snaaks dink as jy enige van hulle ‘n gogga sien vang en opvreet nie.
Kaapse Kliplysters (Cape Rockjumpers) is nog pragtige en kleurryke (selfs koketterige) fynbos-vriende wat jy veral hoër op teen byvoorbeeld die Swartberg-pas kan raakloop. Ek noem hulle die mak wilde voëls van die berge – om een of ander rede is hulle nie bang vir mense nie en sal maklik kom bedel vir ietsie as jy daar sou piekniek hou. Een het al aan die pasassierskant van ‘n motor ingespring, die voorkant verken, net om weer aan die bestuurskant uit te spring. Waarom verkies hy spesifiek fynboswêreld? Moeilik om te sê, want sy kos – ‘n verskeidenheid insekte, spinnekoppe en selfs akkedisse – kan hy eintlik enige plek kry. Hoe ookal, hy is een van ons baie spesiale fynbosvriende. Volgende keer die ander drie voëls wat jy in die fynbos-omgewing moet gaan soek.
Source: Reinderd Visser
(Illustrasie uit SASOL se “Birds of Southern Africa”)
FYNBOS - VRIENDE 2
Ek het verlede week begin vertel van die voëls wat spesifiek die Kaapse Blommeryk as hul woonplek gekies het. Net om te beklemtoon waarom hierdie blommeryk met sy 9 600 verskillende plante regtig so spesiaal is – daar is byvoorbeeld byna dubbel soveel plantspesies (2 285) op die Kaapse Skiereiland alleen as wat op al die Britse Eilande (600 keer groter as die Skiereiland) voorkom (1 443)! Indrukwekkend! En dan praat ek nie eens van al die skaars diertjies en goggas wat jy ook net hier kry nie. Ons ken almal die pragtige Rooi Disa, embleem van die Westelike Provinsie. Ek lees dat hy net deur 1 spesifieke skoenlapper bestuif word – die een kan dus nie sonder die ander nie!
Maar ons gesels voëls, en spesifiek fynbosvriende. Vandag se drie is effe moeiliker om op te spoor as verlede week se drie – eerstens omdat hule valer is, maar ook omdat hulle ‘n bietjie skamer is.
Die Witvlerkkanarie (Protea Seedeater, vroeër Protea Canary) doen wat jy van ‘n kanarie verwag – hy sing. Hy gaan selfs ‘n entjie verder, hy probeer tot om ander voëls van sy omgewing n ate maak, met gemengde sukses! Dit maak beslis op vir sy vaal voorkoms. Trouens, as dit nie vir die duidelike wit strepe op die vlerke was nie (vandaar sy naam) sou hy totaal vaal gewees het! Soos sy Engelse naam sê het hy gespesialiseer in sy dieët – hy eet feitlik net protea sade. As jy gelukkig is, sal jy ‘n groepie bo-op protea struike met saadskietende blomme kry, maar hulle soek ook op die grond tussen die struike en dan is dit regtig moeilik om hulle op te spoor. En hou hulle dop as die groepie skielik opvlieg – anders as meeste groepies wat ‘n entjie sal vlieg en dan gaan sit, hou hulle aan met vlieg tot jy hulle nie meer kan sien nie!
Die Kaapse Pietjie-kanarie (Cape Sisken) is vir my seker een van die mooiste saadvretertjies wat ek ken, ten spyte daarvan dat hy nie die helder kleure van sommige ander het nie. Dit is ‘n fyn, sagte (amper ordentlike) voëltjie en die wit vlekkies op die punte van die vlerke asook die wit stertpunte onderskei hom van enige ander voëltjies waarmee jy hom sou kon verwar. Hy is meer van ‘n grondbewoner en leef op die verskeidenheid sade wat die verskillende fynbosplante afgooi.
Ons laaste fynbos-vriend – die Rooiborsruigtesanger (Victorin’s Scrub-warbler) is uiters gesog onder ernstige voëlkykers. Nie net is hy beperk tot ‘n klein gebied van ons land nie, maar hy is boonop lief vir wegkruip ook. Hy sit en beweeg gewoonlik diep in en onder struike. Hy het ‘n uiters kenmerkende en selfs luidrugtige roep, maar kom baie min tot bo-op ‘n struik sodat jy hom kan sien. Dink bietjie terug na hoe die vaal sangers gelyk het waaroor ek vroeër gesels het – wel hy lyk ook so, maar definitief donkerder met ‘n mooi rooibruin kleur (soos sy naam beskryf). Ons is bevoorreg om sommer ‘n hele familie in die Swartberge te hê wat makliker opspoorbaar is as die ruigtesangers elders.
Source: Reinderd Visser
(Illustrasie uit SASOL se “Birds of Southern Africa”)
GROOT DORPSJAGTER
Dit gebeur sommer hier onder ons neuse – in ons rustige en oënskynlik geweldlose dorpie (in vergelyking met sommige ander plekke, moet ek seker sê). Daagliks word daar geweld en moord gepleeg in die naam van . . . . kos. En dit is natuurlik roofvoëls wat verantwoordelik is vir die “slagting”. Trouens, daar is so baie roofvoëls wat in Oudtshoorn aktief is dat ek jou nie van almal op een slag kan vertel nie. Vandag praat ek oor die groter – en volgende keer die “kleiner” – dorpsjagters.
Die eerste grote op my lys – die Dwergarend (Booted Eagle) – se Afrikaanse naam is nogal misleidend. Hy mag dalk klein lyk in vergelyking met ander arende, maar hy bly steeds ‘n formidabele voël en ongeveer so groot soos die pragtige Rooiborsjakkalsvoël waaroor ek al gesels het (onder Telefoonpaaljagters)! Ek sien hom gewoonlik uit die Noordekant (Schoemanshoek-area) die dorp insweef en ‘n goeie uitkenmerk is die “kopligte” op sy skouers – wit vere wat soos helder ligte aan beide kante van sy kop sit. Sou hy op ‘n paal sit sal jy dadelik aan sy bene sien dat hy ‘n arend is – anders as die meeste ander roofvoëls wat kaal bene het, het arende vere tot by hul tone. Sy dieët bestaan hoofsaaklik uit kleiner voëls en hy vang hulle in vlug! Die ander twee arende in ons omgewing wat ek redelik gereeld sien is die Witkruisarend en die Visarend.
Die Kaalwangvalk (African Harrier-hawk – sy ou naam was Gymnogene) met sy lang (kaal) bene is wel effe groter as die Dwergarend. Hy kan met sy grys kleur maklik met die Bleeksingvalk (die groot voëls wat jy so gereeld op die telefoonpale op pad Calitzdorp toe sien) verwar word. Hy het tog kaal wange soos sy naam sê, so kyk maar net daarvoor uit. In die broeityd (lente tot vroegsomer) is sy wange helderrooi, andersins ‘n helder geel. En as ‘n groot grys roofvoël by jou verbyvlieg en sy stert het ‘n prominente wit streep onder – Kaalwangvalk se kind. En anders as die Dwergarend wat in vlug jag, verkies hy om neste te roof. Met sy smal kop kan hy in klein gaatjies inkom om ‘n akkedis of ander reptiel te vang, maar werk dit nie, gebruik hy sy handige lang bene. Hy sal met die een aan ‘n vink- of wewernes of rotslysie hang en met die ander krap-krap tot hy ‘n kuiken raakvat. Ek het hom selfs al by ‘n kerkgebou in aksie gesien waar hy aan die geut hang en ‘n nes daaronder beroof.
Die derde groot jagter wat ek soms langs die Grobbelaarsrivier sien, is die Swartsperwer (Black Sparrowhawk). Hy is uit en uit ‘n woudjagter en ‘n mens verwag hom dan nie eintlik in die barre Klein-Karoo nie, maar die dorp met sy baie bome is in die oë van ‘n roofvoël mos ‘n mini-woud, ideaal vir Swartsperwer se kind. (Ek het hom ook al in die Red Stone Hills omgewing tussen die populiere gesien en daar is ‘n broeipaar by die golfbane, so hy is darem nie vreemd aan ons omgewing nie). Hierdie is in my oë ‘n kragtige jagter wat nie speel nie! Hy sien selfs kans vir fisante en tarentale, voëls tot dubbeld so swaar as hy. Duiwe is egter sy hoofmaal. Hy gebruik sy lang stert om behendig tussen bome deur te swenk agter sy prooi aan.
Volgende keer dan ‘n paar van die kleiner dorpsjagters. Net ‘n waarskuwing: sou jy voëls sien wat bruin of gespikkeld is en andersins amper soos bogenoemdes lyk en jou daarom verwar– dit is heel waarskynlik jongeres.
Source: Renderd Visser
(Illustrasie uit SASOL se “Birds of Southern Africa“)
GROOT REIERS VAN DIE KLEIN KAROO
Hoe groter ‘n voël is, hoe makliker sien ‘n mens dit mos raak, nie waar nie? Dan val hierdie drie gemaklik binne daardie katagorie, want hulle is groot genoeg om sommer op ‘n ver afstand raakgesien te word. As jy vinnig kyk en hy is regtig ver, kan jy een van die groot reiers dalk nog met ‘n kraanvoël verwar, maar ‘n tweede kyk sal jou oortuig – dis reier se kind daardie. Selfs as hy vlieg is dit maklik om te weet dis ‘n reier – kraanvoëls vlieg met hul nekke ver uitgestek terwyl reiers hul nekke intrek om so ‘n mooi ‘S’ te vorm.
Maar watter een is dit waarna jy kyk wanneer jy hom raaksien? Veral die Bloureier (Grey Heron) en Swartkopreier (Blackheaded Heron) lyk vir die ongeoefende oog sommer baie op mekaar, veral as jy laasgenoemde se swart nek nie duidelik kan sien nie! Kyk mooi na die illustrasies, die verskille is klein genoeg dat hulle op ‘n afstand redelik maklik met mekaar verwar kan word. En terwyl hulle nog jonk is, is dit nog moeiliker. Gelukkig het een van die twee – om die uitkenning vir ons makliker te maak – besluit om ‘n heel ander leefstyl aan te kweek. ‘n Mens assosieer reiers mos met water – die meeste reiers is immers vis- en paddavangers – maar spesifiek die Swartkopreier het besluit om weg te breek van die norm. Sou jy ‘n groot reier in die veld of op ‘n landery sien, is die kanse byna 100% dat dit ‘n Swartkopreier sal wees, want hy verkies eerder insekte, klein voëltjies en muise as vis op sy spyskaart. ‘n Leser wat in Millenium-park woon het my juis ‘n tydjie gelede vertel dat hy op sy voorstoep sit en kyk hoe een gereeld – feitlik daagliks – ‘n muis of twee in die veld daar naby kom vang. Swartkopreiers en Bloureiers het darem ook verskillende kleure snawels en bene om hulle van mekaar te kan onderskei.
Wat hulle egter wel in gemeen het is die nesmaak-plek wat hulle dikwels deel. Sou jy dalk op ‘n reier-kommune afkom – en hier kan jy sommer baie reiers van elke geur en kleur bymekaar kry (oor die kleiner wit reiers gesels ons later) – ontdek jy ‘n raserige, maar uiters interessante geroesemoes! Daar is voornemende pa’s wat die beste plek vir ‘n nes soek; voornemende ma’s wat vlerksleep by die voornemende pa’s; pa’s wat takkies aandra sodat die gekose ma’s by die gekose plek kan nes bou; bure wat gevaarlik na mekaar pik as die een te na aan die ander kom; ouers wat om die beurt op die nes sit en later kos vir die twee of drie donskop-kleintjies aandra – voorwaar ‘n spreekwoordelike malhuis.
Die derde van ons groot reiers, die Reusereier (Goliath Heron) en terloops die grootste in die wêreld, is beslis nie algemeen by ons nie. Trouens, ek weet net van een paar wat so ‘n paar seisoene gelede hier by ons ingetrek het. Maar boeta, as jy nou groot wil sien dan moet jy hulle van naderby beskou! ‘n Leser het my onlangs gebel om te vertel dat sy een van hulle by die dam langs die Safari Volstruisplaas opgemerk het. Dit is ook die omgewing waar hulle die meeste van die tyd boer. Volgens een van die seuns in die omgewing wat hulle gereeld dophou probeer hulle feitlik elke jaar broei, maar sonder sukses.
Source: Reinderd Visser
(Illustrasies uit SASOL se “Birds of Southern Africa“)