Nederduitse Gereformeerde Gemeente Volmoed
Nederduitse Gereformeerde Gemeente Volmoed
(Eeufees 1921 – 2021)
INLEIDEND
Die Nederduitse Gereformeerde Gemeente van Volmoed se eeuwording word gevier tydens ‘n feesgeleentheid wat plaasvind gedurende die naweek van 26 tot 28 November 2021.
Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe!
Hy het ons in Christus geseën met al die seëninge van die Gees wat daar in die Hemel is.
Efesiërs 1:3
FEESPROGRAM – Eeufees 2021
Vrydag, 26 November
Kerkgebou:
• 19:00: Orrel- en musiekuitvoering
Saterdag, 27 November
Kerksaalkompleks
• 07:30 Inskrywings vir pretstap
• 08:00 Pretstap
• 08:00 Kiosk open vir verkoop van verversings
• 09:00 Prysuitdeling vir pretstap
• 10:00 Vleisfees (en verkoop van eeufeesbekers, resepteboeke en sleutelhouers)
• 11:00 – 12:00 Wegneemetes beskikbaar
Sondag, 28 November
Kerkgebou
• 09:30 Erediens en nagmaal gevolg deur kliplegging
AGTERGROND
Ekonomiese aktiwiteite
Ander ekonomiese bedrywighede wat tans beoefen word, sluit in sekere vertakkings van die toerismebedryf, o.m. gasteplase en Highgate, ‘n volstruisvertoonplaas.
Die Nederduitse Gereformeerde Kerk in die huidige Oudtshoorndistrik
Wat die geskiedenis van die N.G. Kerk in hierdie gebied betref, was daar as gevolg van die afgeleënheid daarvan en konflik tussen persoonlikhede van die begin af baie stampe en stote. Aanvanklik is die gebied bedien deur die N.G. Gemeente van Land van Waveren (die huidige Tulbagh)!
Sedert 1798, met die totstandkoming van die N.G. Gemeente Swellendam, het dit effens beter gegaan. Hoewel die meeste lidmate darem nou minstens een keer per jaar die geleentheid gehad het om persoonlik kontak met ‘n leraar te maak en met die sakramente bedien kon word, was die Kango- en Olifantsrivierwyk geleë feitlik aan aan die verste buitewyke van die Swellendamgemeente en was die situasie dus steeds baie onbevredigend.
In 1845 is verdere vordering gemaak met die verdeling van die geestelike bediening van die huidige Oudtshoorngebied tussen die N.G. Gemeentes van George en Mosselbaai (wat albei intussen tot stand gekom het).
Met die oprigting van ‘n kerkgebou langs die Grobbelaarsrivier (die kerkgebou van die huidige Moedergemeente in Oudtshoorn) gedurende 1838 – 1839, is nog ‘n groot tree gegee op die gebied van geestelike bearbeiding van die inwoners van hierdie deel van die Klein Karoo. Uiteindelik het ‘n onafhanklike N.G. Gemeente in Oktober 1853 in Oudtshoorn tot stand gekom, hoewel daar aanvanklik nie ‘n voltydse leraar aangestel is nie.
As gevolg van die stadige vervoermiddels wat destyds beskikbaar was en die toename in lidmaatgetalle in die distrik, insluitend die Armoedstreek, was gereelde kerkbywoning en bevredigende bediening van lidmate egter steeds nie na wense nie.
Die totstandkoming van die N.G. Gemeente, Volmoed
Aanvanklik het die Kerkraad die aanbod van die hand gewys, maar dit uiteindelik wel in 1910 aanvaar. In dieselfde jaar is die hoeksteen van die kerkgebou gelê.
Die kerkgebou is toe in 1911 voltooi. Die kerkklok is geskenk deur O.J. Fourie en eggenote.
Die kerkgebou is op 18 Februarie 1911 ingewy as die N.G. Kerk Armoed Dorp. By die geleentheid is die transportakte vir die perseel aan die Kerkraad van die N.G. Gemeente Oudtshoorn oorhandig.
Die Armoedwyk het daarna aansoek gedoen om afstigting, maar ook dit het teenkanting ontvang. Gedurende 1921 het die Kerkraad van die N.G. Gemeente Oudtshoorn, egter uiteindelik toegestem dat die Armoedwyk kon afstig en op 29 November 1921 het die Nederduitse Gereformeerde Gemeente van Volmoed tot stand gekom, ‘n volle eeu gelede!
Ander wetenswaardighede
- Volmoed se kerkgebou is in die vorm van ‘n kruis gebou, soos baie groot katedrale en ander kerkgeboue in Europa en in Suid-Afrika, insluitend die kerkgebou van die N.G. Moedergemeente Oudtshoorn.
- As gevolg van ‘n tekort aan water in die streek, en spesifiek waar die kerkgebou geleë is, is daar destyds besluit om ‘n vetplanttuin met vetplante uit die omgewing op die kerkperseel aan te lê. Die resultaat van daardie wyse besluit is vandag steeds daar om bewonder en geniet te word!
- Aanvanklik was daar, tesame met die leraar, vier ouderlinge en vier diakens op die Kerkraad.
- ‘n Nasaat van W.G. Olivier, ‘n agterkleinseun, Anton Olivier, is steeds ‘n lidmaat van die Gemeente.
- Ten tye van die oprigting van die kerkgebou is daar ook op W.G. Olivier se grond aanliggend tot die kerkperseel erwe uitgemeet met die oog op die totstandkoming van ‘n dorp. Hoewel daar op sommige erwe huise gebou is, is die ideaal van ‘n volwaardige dorp nooit verwesenlik nie, onder meer as gevolg van die ineenstorting van die volstruisbedryf kort daarna asook ‘n gebrek aan voldoende bruikbare water.
- Die eerste pastorie is in 1913 op ‘n deel van die kerkperseel aan die westekant van die kerkgebou opgerig deur R.B. Esterhuizen en sy seun, Leenderd. Dit is later o.m. as koshuis vir skoolkinders gebruik en daarna as privaatwoning.
- Die huidige pastorie en kerksaalkompleks is later in die twintigste eeu in gebruik geneem.
- As gevolg van stadige vervoermiddels was dit makliker vir een of net ‘n paar persone om te reis en gevolglik is kerkdienste, ook na die totstandkoming van die Gemeente, gereeld in die meer afgeleë streke van die Gemeente se bedieningsgebied gehou, bv. in Moerasrivier, Kandelaarsrivier, Paardebond (oftewel Perrebond) en Slangrivier. Baie van die jonger lidmate en mense wat nog nie lank hier woon nie, was nog nie eens by al die plekke nie of weet selfs nie eens van al die plekke nie!
- Die kerkorrel is in 1959, 48 jaar na die inwyding van die kerkgebou, geïnstalleer
- Die kerkgebou is verklaar tot Nasionale Gedenkwaardigheid.
- Gedurende 2003 is die kerkgebou, wat toe al ernstige restourasiewerk vereis het, tot sy vorige glorie gerestoureer. Twee ouderlinge van die Kerkraad, M.P. du Toit (Thys) en H.O. Schoeman (Hein), het hierdie omvangryke taak onderneem en binne sewe maande afgehandel.
- Ten spyte van vals inligting wat in hierdie verband versprei word, ook op die internet, was die N.G. Gemeente Volmoed se kerkgebou tot op hede nog nooit te koop nie.
BEDIENAARS VAN DIE WOORD
In die jare voor afstigting is die Armoedwyk van die N.G. Gemeente Oudtshoorn, bedien deur di. S.P. Helm, J.G. Muller en Koos Snyman.
Deur die loop van die eeu sedert afstigting is die N.G. Gemeente Volmoed, bedien deur die volgende leraars:
- A.H. Stander: 3 Junie 1922 – 16 Maart 1931 (8 jaar en 9 maande). Hy sterf in 1959.
- J.J.M. Calitz: 23 Mei 1931 – 15 Oktober 1944 (13 jaar en 5 maande). Hy sterf op 11 Januarie 1965.
- W. Fullard: 4 Maart 1945 – 29 Januarie 1949 (3 jaar en 10 maande). Hy sterf in 2004.
- B. Alheit: 15 Mei 1949 – 27 November 1955 (6 jaar en 6 maande). Hy emeriteer hier en sterf op 8 April 1964.
- W.F. Liebenberg 25 Maart 1956 – 26 September 1958 en weer van 26 Augustus 1967 – 4 Februarie 1973 (8 jaar altesaam). Hy aanvaar beide keer ‘n beroep na die N.G. Gemeente Oudtshoorn-Noord. Hy emeriteer in 1988 in Oudtshoorn-Noord en sterf op 2 Maart 1997.
- L.P. Du Preez: 6 Desember 1958 – 31 Maart 1963 (4 jaar en 3 maande). Hy sterf op 18 Maart 2021.
- C.W.I. Pistorius: 11 April 1964 – 25 April 1967 (3 jaar). Hy sterf na ‘n lang siekbed op 25 April 1967, kort voor sy 65ste verjaardag en emeritaat.
- N.J. Burden: 8 Desember 1973 – 5 September 2004 (30 jaar en 9 maande). Hy emeriteer hier. Ds. Nico Burden woon tans in die Rotariëraftree-oord, Oudtshoorn.
- B.S. Griebenow: April 2005 – Augustus 2009 (4 jaar en 4 maande).
- E.J. Smith: 4 Oktober 2009 – 25 Desember 2014 (5 jaar en 2 maande). Ds. Evert Smith woon tans Millenniumpark, Oudtshoorn
- A. Fourie: Sedert 1 Maart 2015 (6 jaar en 9 maande tot op hede).
Sedert Augustus 2009 het die Gemeente nie meer ‘n predikant wat op ‘n permanente basis aangestel word nie, maar word predikante kontraktueel vir vaste termyne aangestel. Dit was die geval met ds. Evert Smith en is tans die geval met ds. André Fourie.
LIDMATE, WYKE EN KERKRAAD
Die Gemeente word bedien in ses wyke: Kandelaarsrivier, Rooistraat, Muldersbank (saam met die gebied bekend as die Dorp), Armoed-Noord (saam met die gebied bekend as die Eiland), Paardebond en Moerasrivier. Die Kerkraad is veronderstel om te bestaan uit die dienende predikant en ‘n ouderling en ‘n diaken wat verkies word vir elke wyk. Weens dalende lidmaatgetalle in veral sommige wyke is dit egter deesdae nie altyd moontlik om ‘n ouderling en diaken vir elke wyk te verkies nie.
Hoewel dit tradisioneel die gebruik was dat die dienende predikant ook dien as voorsitter van die Kerkraad, is daar in 2009 besluit dat die verkose kerkraadslede self verantwoordelikheid sal neem vir die bestuur van die Kerkraad en Gemeente. Die besluit het berus op die feit dat predikante voortaan op vastetermynkontrakte aangestel sou word en dat druk op hulle verlig behoort te word. Gevolglik word een van die ouderlinge sedertdien verkies tot voorsitter van die Kerkraad. Tans is die Voorsitter van die Kerkraad die Leierouderling, Johan van der Nest.
EREDIENSTE EN ANDER GEESTELIKE BYEENKOMSTE
- Kwartaalikse wyksbyeenkomste.
- ‘n Reeks gebedsbyeenskomste aan die begin van elke jaar (Week van Gebed).
- Pinksterdienste.
- Sondagskool (Sondagoggende na die erediens, behalwe tydens skoolvakansies en Sondagskoolafnaweke).
DANKFEESTE EN FONDSINSAMELINGSFUNKSIES
Min lidmate bring maandeliks hulle dankoffers – tradisioneel bring hulle dit jaarliks tydens die dankfeeste van hulle wyke.
Soos reeds genoem, bestaan die gemeente uit ses wyke. Vroeër het elke wyk sy eie dankfees gehou en die wyke wat die verste van die kerksaalkompleks geleë is, nl. Moerasrivier en Paardebond, se dankfeeste is op persele binne die betrokke wyke gehou. A.g.v. dalende lidmaatgetalle is daar egter mettertyd besluit dat wyke twee-twee dankfeeste sou hou. So het die gebruik ontstaan dat Moerasrivier en Paardebond so sou saamwerk, en so ook Kandelaarsrivier en Armoed-Noord (insluitend die Eiland), en dan Rooistraat en Muldersbank (insluitend die Dorp).
Tans word daar egter net twee dankfeeste per jaar gehou en werk die wyke drie-drie saam in hierdie verband, nl. Kandelaarsrivier, Moerasrivier en Paardebond, en dan Rooistraat, Muldersbank (insluitend die Dorp) en Armoed-Noord (insluitend die Eiland). Elke dankfees is ‘n belewenis en dit is opmerklik hoe baie kinders van lidmate van ver “huis toe” kom om die geleenthede te ondersteun!
Om die Gemeente se koffers verder te styf, word daar ook jaarliks teen die einde van November ‘n funksie gehou waarna verwys word as die Vleisfees. Lidmate werk saam om heelwat slaggoed wat deur gemeentelede geskenk word, te bewerk en die vleisprodukte tydens ‘n basaar te verkoop. Dit word elke jaar goed ondersteun deur inwoners van Oudtshoorn, ander vriende en familie.
Tydens die maandelikse veilings wat deur Klein Karoo Bpk. by Kansaveilingkrale aangebied word, lewer gemeentelede dienste waarvoor die Gemeente vergoed word.
Ander fondsinsamelingsgeleenthede wat gereeld plaasvind indien boerderyomstandighede gunstig is, is die kollekteer en verkoop van lusernsaad en dagoudvolstruiskuikens.
GEMEENTEVROUE
Dit is verstommend wat ‘n klein groepie toegewyde vrouens vermag met baie min fondse en harde werk!
SONDAGSKOOL
LIEF EN LEED
‘n Klompie voorbeelde van die meer onlangse ervarings in hierdie verband is die volgende:
- Groot droogtes gedurende die sestiger- en neëntigerjare van die vorige eeu en ook die afgelope jare.
- Geweldige oorstromings gedurende onder meer 1961, 1981, 1996 en 2006.
- Kongokoorsuitbraak in die neëntigerjare van die vorige eeu en periodieke uitbrake van New Castlesiekte (bv. in 2011/12) en voëlgriep.
- Die huidige Covid 19-pandemie.
Omdat feitlik al die lidmate uit die boerderygemeenskap kom en sulke rampe ‘n geweldig negatiewe impak op die inkomste van die boere het, ly die Gemeente se inkomste ook daaronder. Nog ‘n faktor wat bydra tot die druk wat in hierdie verband ondervind word, is dalende lidmaatgetalle, ‘n tendens wat ntuurlik nie uniek aan Volmoedgemeente is nie. Boonop word veral die toerismesektor in die gemeentegebied baie swaar getref deur die huidige Covid 19-pandemie.
Deur al hierdie rampe en ander tye van swaarkry heen kon die Gemeente egter strykdeur die onderskragende hand en genade van ons heilige en liefdevolle God ervaar en kan ons steeds saam met Habakuk sê:
Al sou die vyeboom nie bot nie
en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie,
al sou die olyfoes misluk
en die lande geen oes lewer nie,
al sou daar geen kleinvee in die kampe meer wees nie
en die beeskrale sonder beeste wees,
nogtans sal ek jubel, sal ek juig in God, my Redder.
Habakuk 3: 17 & 18
GROETEBOODSKAPPE
Ds. Nico Burden
Ons as Burden-familie, wat 31 jaar lank in Volmoed-gemeente was, is saam met die gemeente dankbaar teenoor die Heer vir hierdie besondere geleentheid so saam naamlik die HONDERJARIGE BESTAAN van die GEMEENTE!. Dit is vir my en Maryna ‘n besondere voorreg die fees saam met julle te kan deel.
Ons wens julle as gemeente toe: Eksodus 13:9:”Die fees moet vir julle soos ‘n teken op die hand of ‘n merk op die voorkop wees, sodat julle altyd sal getuig dat die Here Hom aan julle geopenbaar het.”
Op die manier is julle wandelende, feesvierende getuies van God se sorg. Niemand wat so’n fees bywoon, sal vergeet waar dit alles vandaan kom nie.
Alle Seën!
Burdens
Ds. Evert Smit
Ons hartlike gelukwensing aan die gemeente met sy eeufeesviering. Dit is ‘n besondere mylpaal in die geskiedenis van ‘n gemeente. Ons kyk terug en moet bely – alles is genade.
Ons kan waarlik sê: Eben-Haeser… tot nou toe het die Here ons gehelp. (1 Sam 7:12b) Dit is goed om ‘n oomblik stil te staan, terug te kyk en voorraadopname te maak. Die gemeente het moeilike tye gehad, terugslae en teleurstellings beleef. Daar was tye van droogte, wat nie net die boeregemeenskap nie, maar ook die gemeente swaar getref het. Dit was in sulke tye dat die gemeente ervaar het hoedat die Here hulle met ‘n vaste hand gelei het. Sy goedheid en guns was met hulle al die dae.
Dit was my voorreg om vanaf Oktober 2009 tot Desember 2014 die gemeente te bedien – 5 jaar en 3 maande. Wat my opgeval het, was die hartlike saamwerk en saamstaan van die gemeentelede. Die gemeetebasaars was ‘n besondere geleentheid waar almal saamgewerk het. Die gees in die konsistorie en ook by kerkraadsvergaderings het my getref en het my versterk in my amp as predikant.
Deur die jare het baie mense gekom en gegaan. Baie dinge het verander. Dit is egter die Woord van God wat steeds dieselfde is en nog nooit sy krag verloor het nie. Die gemeente kan die onbekende toekoms met vertroue ingaan met Christus as Hoof en die Woord as ons enigste maatstaf. Dis is hierdie Woord wat die gemeente in ‘n nuwe Millennium inlei en bring by die nuwe Jerusalem.
Ons kyk vorentoe met die oortuiging dat God wat die goeie werk in ons begin het, dit end-uit sal voer en dit sal voleindig op die dag wanneer Christus Jesus kom. (Fil1:6) Hou die oog op Hom gevestig, die Begin en Voleinder van die geloof. (Heb 12:2)
Ons beste seënwense word die gemeente van Volmoed toegebid op sy pad vorentoe.
Groeteboodskappe van die Ring van Oudtshoorn
Ds. Jan Marais, N.G. Gemeente, Oudtshoorn-Wes, Voorsitter van die Ring van Oudtshoorn
Hiermee ons hartlike gelukwense aan die Gemeente van Volmoed met hul eeufeesviering. Julle as gemeente is vir ons ‘n bewys van die waarheid van Paulus se woorde in Rom 5:3-5, waar hy ons daaraan herinner dat swaarkry ons geloof louter en ons volharding leer, sodat ons op die Here kan bly hoop!
Julle as gemeente het al julle kwota swaarkry gehad, veral ook met al die droogtes en teenspoed wat die landbougemeenskap deur die loop van 100 jaar deurleef het. Maar julle is vir ons ‘n inspirasie omdat julle steeds aanhou om Kerk van ons Here Jesus te wees, in voorspoedige tye, maar ook in moeilike dae. Ons wens julle toe dat julle sal voortgaan om sout en lig te wees, en dat die Koninkryk van ons Here Jesus in julle lewens en in julle gemeente sal wortel skiet en groei, sodat die mense van julle omgewing ook die Here se lig kan sien wat uit julle lewens straal.
Ds Jan Marais
Voorsitter: Ring van Oudtshoorn
Ds. André Orffer, N.G. Gemeente, Oudtshoorn-Wes, Konsulent
Ek bid dat julle liefde al hoe meer sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling, sodat julle die dinge kan onderskei waarop dit regtig aankom. Dan sal julle op die dag wanneer Christus kom, onberispelik en sonder blaam wees, en deur Jesus Christus sal julle geheel en al in die regte verhouding met God wees, tot sy lof en eer.
Mag julle vrugte dra deur goeie werke en toeneem in die kennis van God. Mag God deur sy wonderbare krag wat in julle werk aan julle die sterkte gee om in alle omstandighede geduldig te volhard. Mag julle in staat wees om saam met al die gelowiges van Oudtshoorn te begryp hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek. Mag julle sy liefde ken, liefde wat ons verstand te bowe gaan, en mag julle heeltemal vervul word met die volheid van God.
Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sal by julle almal wees.
Groete in Christus
André Orffer (Konsulent)
Ds. Smuts Janse van Rensburg, Oudtshoorn Moedergemeente
Oudtshoorn Moedergemeente (Dolerend) deel in die dankbaarheid en vreugde van Volmoed se 100 jaar van genade! Alle dank en eer aan ons hemelse Vader!
Ons is saam dankbaar omdat Volmoed ‘n gemeente is waar:
- lidmate in hulle geloof in die Drie-enige God deur die Woord gevoed en versterk word,
- lidmate hulle geloof deur die gemeenskap van gelowiges kan deel,
- lidmate toegerus word om ook in die wêreld die getuienis uit te dra dat Jesus Heer en Verlosser is, en dat Hy die een is wat nuwe lewe gee.
Ons is ook saam dankbaar dat ons Vader in sy goedheid deur 100 jaar versorg, gelei en voorsien het – selfs deur moeilike tye en te midde van baie aanslae. Ons sing saam met julle “Hou Christus self sy kerk in stand – vergeefs die hel se woede.”
Moedergemeente se gebed vir Volmoed vir die pad wat voorlê is die woorde van Kol 1:9-11:
Ons vra God dat Hy deur al die wysheid en die insig wat die Gees gee,
julle sy wil duidelik sal ken,
sodat julle tot eer van die Here sal lewe deur net te doen wat Hy verlang.
Mag julle vrugte dra deur goeie werke en toeneem in die kennis van God.
Mag God deur sy wonderbare krag julle alle sterkte gee
om in alle omstandighede geduldig te volhard.
Groete in Christus.
Ds Smuts Janse van Rensburg
(Leraar en voorsitter kerkraad)
Boodskap van die huidige leraar
Boodskap van die huidige leraar, ds. André Fourie
10 November 2021Dit is vir my ‘n eer en voorreg om deel te wees van die NG Kerk Volmoed se Eeufeesvieringe. In die afgelope 7 jaar wat ek deel van die gemeente is, het ek die Here se genade, trou en liefde ervaar en beleef. Die gemeente van Volmoed ken goeie tye asook swaarkry tye, blydskap en vreugde asook hartseer, sukses asook teleurstellings. n Gemeente wat hul liefde vir die Here en medemens uitleef. ‘n Gemeente wat hard werk en hul alles gee om dit wat hul voorgangers opgebou het te laat voortleef vir die volgende nageslag.
Volmoedgemeente doen sy naam gestand want dit is ‘n gemeente wat moedhou, aanhou, uithou en nie terughou. Dit is met so gesindheid, gewerk deur die Heilige Gees, geïnspireer deur die Heilige Gees, dat die gemeente ‘n 100 jarige bestaan kan vier. Omdat Christus ons Rots is, sê die Bybel, die
storms kan aanrol maar wie op die Rots gebou het bly vir ewig staan.
Baie geluk Volmoed met jul 100ste verjaarsdag. Die Here se seën gaan jul vooruit vir die volgende 100 jaar.
My Feesbede vir die gemeente Volmoed is na aanleiding van Jer 29:11, “Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ‘n toekoms gee, ‘n verwagting!”
Feesgroete in Christus
Ds André Fourie
ONTHOUSTORIES
Oom Jan Olivier (83 jaar) onthou…
Oom Jan het baie stories, maar is nie ‘n man vir pen en papier nie en ek moes die stories by hom gaan haal. Aanvanklik het dit maar gesukkel om die stories te kry, maar toe ons eers aan die gang is het dit “geloop soos ‘n oop Lister enjin”.
Oom Jan se pa, Phillipus Lodewikus Olivier, was net soos hy ook kerkmeester by Volmoedgemeente. As oom Jan nou reg onthou, was hyself die laaste kerkmeester by Volmoedkerk. Die kerkmeester moet nie verwar word met die koster nie. Daar was nog ‘n koster ook. Die kerkmeester moes ‘n kerkraadslid wees en het ‘n hele paar take gehad, soos om die breekware vir al die funksies uit te tel en weer terug te tel en toe te sien dat alles reg loop by die kerk. Sy grootste taak was om die antrasiet vir die Agastoof in die pastorie aan te ry. En die dominees kon goed vuurmaak, so dit was volgens hom ‘n voltydse taak.
Vanwaar die wit stofjassies? Gemeentelede uit Moerasrivier het Sondae met ‘n vragmotor kerk toe gekom. Almal is ingepas, mans, vrouens en kinders. Hulle het die bak van die lorrie vol gesit. Die mans het wit stofjassies aangehad sodat hulle swart pakke nie vuil raak nie. By die kerk het hulle dit dan weer uitgetrek en na kerk weer aangetrek. Boere het beurte gemaak om hulle vragmotors vir die geleentheid te gee. Daar was ook dié wat nog met perdekarre kerk toe gekom het.
Die uitdeel van wyn en brood tydens die Nagmaal, was ‘n baie belangrike deel van die Kerkraad se verantwoordelikheid en “in daai jare het mens opleiding gekry om dit te doen”, volgens oom Jan. “Daai jare was daar nog baie mense in die gemeente en die eerste vyf rye is met ‘n lint afgesper vir die ‘groot drinkers’ – die gemeentelede wat die beker wyn verkies het. Die diaken het by die eerste punt die beker vir die gemeentelid gegee, dit met ‘n lappie afgegee wat hy soos ‘‘n butler’ oor sy arm moes hang. Dan het dit tot aan die einde van die bank beweeg, waar nog ‘n diaken dit weer met ‘n wit lappie moes afvee voordat dit na die volgende ry beweeg het”.
Kerkraadsvergaderings was nie so vinnig en doeltreffend soos in vandag se tyd nie. Daar is ure gepraat en kerksraadslede het soms ‘n uiltjie geknip tydens vergaderings en het dan die stemming oor belangrike aangeleenthede gemis, wat natuurlik soms katastrofiese gevolge gehad het. “Smoke breaks” is aangevra selfs deur dié wat nie eers rook nie om aan meneer Visser, die destydse skoolhoof van die Volmoedskool en die skriba van daardie jare, tyd te gee om vorige notules te raadpleeg sodat hulle uitsluitsel kon kry oor sekere sake wat dikwels maar weer oorgestaan het tot ‘n volgende vergadering. Oom Jan verwys dikwels in sy stories na Piet Keller en dit blyk dat die twee ‘n gedugte span in die kerkraad was, en wat ook dikwels vir ‘n bietjie humor gesorg het.
Sondagmiddae om 15h00 was katkisasietyd. Oom Jan onthou hoe hy in die snikhete somershitte vanaf Nooitgedacht, waar hy groot geword en gebly het, moes stap vir katkisasie. Maar mis kon jy dit nie mis nie en jy moes reg wees om oom Pietertjie se vrae te beantwoord. Hulle was omtrent so tien in die klas en moes elke keer op dieselfde plek sit sodat oom Pietertjie kon weet waar hy laas opgehou het met die vrae en waar hy weer moet begin. Sommige het oom Pietertjie probeer flous en rondgeskuif, maar hy was skerp en het dit sommer gou agtergekom en stopgesit. Oom Pietertjie het ‘n klein stukkie grond gehad, maar het ‘n groot hart en ‘n oop hand gehad en mildelik bygedra – van die kerk tot ‘n vreemdeling wat aangeklop het vir ‘n donasie.
En waar pas “Diener en die daggaboom” in? Sosiale geleenthede in die Volmoedgemeenskap is hoofsaaklik gedryf deur die Volmoedgemeentelede. So was daar die Volmoedtoneelgeselskap wat uit gemeentelede bestaan het en in die kerksaal opgetree het. Van hulle treffers was o.a. “Diener en die daggaboom” en die “Agterstevoortroue”. In laasgenoemde toneelstuk was oom Jan die ouma van die bruid met hoë hakskoene, groot plastiek aanknip-oorbelle, krale om die nek en natuurlik bloedrooi lippe. Voorwaar ‘n prentjie om te onthou! Oom Piet Keller was die moeder van die bruid en, as oom Jan reg onthou, Ds. Burden die bruid. Iewers is daar nog ‘n video van die troue. Hierdie toneelgroep het selfs getoer na ander dorpe vir optredes en het dikwels staande applous gekry. Mense het uit die dorp gestroom om die konserte by te woon.
Almal het almal geken en daar is baie saam gekuier by die kerksaal tydens geleenthede soos vasvra-aande en wanneer saam pluimbal gespeel is.
As ‘n mens luister na oom Jan se stories, is dit duidelik dat Volmoedgemeente ‘n interessante en geseënde 100 jaar beleef het en dit is ‘n voorreg dat hy as een van die oudste gemeentelede so ‘n paar daarvan met ons kan deel.
Geskryf deur Sonja Olivier, skoondogter.
Tannie Christina Fourie (82 jaar) onthou…
Die eerste predikant wat ek kan onthou, was ds. Calitz. Ek was maar nog jonk en kan nie veel van hom onthou nie.
Ds. Fullard was die volgende predikant. Sy vrou was baie ywerig betrokke by die kinderkrans en ons het konserte gehou. Sy het sommer self alles geskryf wat ons opgevoer het en ek onthou steeds nog van my woorde. Hulle was die eerste predikantspaar wat in die nuwe pastorie gebly het. Ek onthou nog ds. Fullard se afskeidspreek. Dit was Lukas 12:22-33 in die ou Bybel.
Ds. Alheit het ds. Fullard opgevolg. Hy was baie kwaai, maar was ‘n baie toegwyde predikant. Sy vrou was ‘n pragtige en sagte mens en het in ons almal se harte ingekruip. Ds. Alheit het ‘n swart Austin motor gehad en julle kan julle indink met die swart motor op die stofpaaie. Paardebond was seker die mees uitgestrekte wyk. Die Rooiberg het baie fonteintjies gehad en oral het mense gewoon. Hulle het boerbokke gehad, groentetuine en vrugtebome. Een maal in ‘n jaar is daar huisbesoek gedoen (swart pak klere en al!) en die ouderling moes saamgaan. Die motor kon nie daardie paaie ry nie, want dit was paaie vir donkiewaens, donkiekarre en oop perdekarre. Ds. Alheit het by my skoonouers oornag en Skoonpa het hom dan na die verskillende gemeentelede geneem.
Ons het Die Môrelig-tydskrif gekry. Dit was ‘n christelike tydskrif. Daarin was melding gemaak van Bybelkenniseksamens wat jaarliks deur sondagskoolkinders geskryf is. Ds. Alheit het besluit dat ons St. 8’s ook moes skryf. Ons het een periode in die week pastorie toe gegaan. Ds. Alheit het ons soos ‘n wafferse drilsersant onderrig. Ons was bang vir hom en het ons bes probeer om alles te leer en te onthou. Dit het seker vrugte afgewerp, want van ons kinders het onder die top drie in die Unie geëindig. Louisa Gerber het die eerste plek behaal. Glo my, daardie kwaai dominee was baie trots!
Ds. Pistorius was baie kort en kon nie die gemeente oor die preekstoel sien nie. Mnr. Visser moes vir hom ‘n bankie maak om op te staan.
Paardebond se dankfees is in ‘n groot tent onderkant my skoonouers se huis gehou. Die mense van Minwater en Heimersrivier het voordag met ‘n donkiewa dankfees toe gery. Al die gebak is netjies verpak en saam karwei. Ek dink oom Johan Raubenheimer het self gery, want hy het ‘n Ford motor gehad met seilklappe by die vensters. My pa het vir my ‘n hele daalder gegee om iets mee te koop. Vandag is dit 15c.
Nagmaaltye het oom John Ellis met sy vragmotor gekom en almal van Paardebond agterop sy lorrie gelaai. Oom Pieter Meyer het met sy vragmotor Moerasrivier se mense gebring. Almal met hul swart nagmaalrokke en pakke.
Oom Bartel Cilliers, tannie Sussie du Toit se pa, was ‘n regte platjie. Al die kerkraadslede het nog manelle gedra. Daar was ‘n kapstok waar hulle die manelle opgehang het, want die namiddag na nagmaal was dit die Nabetragtingsdiens (later die Dankseggingsdiens genome). As almal uit is, het oom Bartel die manelle omgeruil en as die manne terugkom, was die manelle of te groot of te klein!
Die kerkbanke was met iets gesmeer wat baie verleentheid veroorsaak het, veral vir besoekers. Almal het mos pakke gedra en as dit somer is en jy sweet, sit jy aan die bank was. So het ek ook ‘n mooi blompatroontjie met fluweelblommetjies in die vyfde bank van voor af gelos.
Die vrouens se groot hoede was ook ‘n probleem. Skuif die vrou voor jou, moet jy ook skuif, want anders sien jy nie die dominee nie. Die ‘pudding basins’ was een keer vreelik in die mode. Dit was ‘n hoedjie wat net bo-op die kop gepas het. Jan Olivier vertel dat hy en Kobie agter ‘n vrou gesit het wat bietjie vaak geraak het. Die kop het skuins gesak en die ‘pudding basin’ het mooi in Jan se skoot geval. Hy vertel dat hy dit netjies en styf op haar kop teruggedruk het – natuurlik tot die vrou se groot verleentheid!
Ons glo en vertrou dat Volmoed se gemeente sal bly voortbestaan. Ons Hemelse Vader sal weer vir ons reën gee. Hy is ons Anker en die Rots waarop ons vas kan staan.
Tannie Elsa Mulder (83 jaar) onthou…
Ons was net getroud (ek was maar 21 jaar oud) en op pad huis toe van wittebrood, toe gooi Hannes die blou Ford daar in Wes-Transvaal om. As gevolg daarvan kom ons toe eers in die vroeë more-ure van Saterdag, 5 Desember 1959 by die huis aan. Daardie selfde Saterdagmiddag word hy as diaken voorgestel in Volmoed. So, ek as jong, onervare meisie is sommer in die diep kant ingegooi. Van toe af was Hannes maar altyd twee jaar in en twee jaar uit die kerkraad. Vir die volgende 12 jaar moes ons vier keer doop terwyl hy in die diakensbank was.
Ons wyk was Muldersbank/Dorpsgebied en in daardie dae het daar blanke mense in elke ou huisie in Dorpsgebied gewoon. Vir die wat nie weet nie, dis die gebied rondom die kerkgebou. Een keer per jaar het ons by almal gaan kollekteer vir hul bydrae. Sommige lidmate het ons vriendelik ontvang en hul bydrae (hoe klein ookal) het reg gelê onder die kleedjie op die voorhuistafel. Ander het jou begroet met die woorde: “Hier kom die aasvoëls alweer”. Die aasvoëls het maar aangehou aas!
Een insident wat ek goed kan onthou is die volgende. Ds. Pistorius was leraar in die gemeente; hy was ‘n kort man. Hulle het vir hom ‘n bankie op die preekstoel gesit sodat hy beter bo-oor kon sien. Dit was die Sondag nagmaal en daar was ’n besoekende leraar, ek kan nie meer sy naam onthou nie. Hy het ook aan die nagmaalstafel gesit. Terwyl die diakens die wyn en brood uitdeel, staan ds. Pistorius agter die tafel terwyl die ander dominee langs hom sit. Hy wou seker die bord met broodjies nader skuif, maar terwyl hy ver oorbuk om dit te doen, sleep sy toga oor die wynbeker. Die volgende oomblik val dit om en die wyn mors alles op die vreemde predikant se kerkpak. Wat ‘n verleentheid vir ds. Pistorius! Ek het hom so jammer gekry. Ek hoop hulle kon daardie muskadelreuk uit sy pak klere kry!
‘n Ander insident was gedurende ds. Burden se tyd. Toe het ons die Sondagmôre nagmaal gehou, daarna vir so tien minute uitgegaan en dan weer ingegaan vir die dankseggings diens.
Gedurende die “pouse” het die koster die glasies verwyder, maar die houertjies het nog in die banke gebly. Die houertjie het ‘n “steeltjie” gehad met twee ronde openinge bo waarin die glasies geplaas is. Met die danksegging, sit mev. Burden en kroos net voor my in die bank. Gedurende die diens raak die kroos bietjie verveeld en begin speel met die houertjies. Hulle hou die houertjie aan sy “steeltjie” vas met die twee openinge voor die oë, nes ‘n outydse brilletjie. Hulle draai hulle om in die bank en so word die hele gemeente deur die brilletjies bekyk. Mamma is onbewus daarvan, want sy luister aandagtig wat Pappa preek. Was dit buite die kerk, sou jou lagspiere nie so geprikkel gewees het nie.
Volmoedgemeente het my gevorm en ek kan maar net ons Hemelse Vader daarvoor dank. Baie dankie vir almal wat my gehelp vorm het, baie al oorlede.
Baie geluk met die 100ste feesviering van die gemeente. Mag die gemeente vir baie jare nog kan voortbestaan en van krag tot krag gaan.
Die Here seën Volmoedgemeente!
Met baie liefde en groot waardering
Elsa Mulder
Dottie Brink geb. Olivier (Agterkleindogter van G.W. Olivier) onthou...
Anton was nog nie in die skool nie, maar hy het met ons saamgestap, my ma, my suster, Susan, en ek. Tydens die diens het hy op my ma se skoot aan die slaap geraak en sy moes hom huis toe abba.
Ek sal nooit die stem van ds. Alheit se vrou gedurende die Pinksterbidure vergeet nie. Sy het ‘n gorrel in haar stem gehad wat bo almal in die saal uitgestyg het. My ma moes my gereeld knyp omdat ek haar wou naboots. Die gebede was dikwels oor uitkoms teen droogtes wat nou nog steeds die boere se grootste nagmerrie is.
Die nou stofpaadjie teen die bultjie op na die kerksaal was veel makliker terug huis toe, veral vir my ma met Anton op haar rug.
Sondagskool
Sondagnamiddae, na ‘n hewige maaltyd, het die grootmense gaan slaap en ons kinders moes regmaak vir Sondagskool. In die Karoosomer, geskoen, gekous en gehoed, met die grondpad langs terwyl die stof en die son jou met mening aanval. Somtyds het Ludvick Olivier, van oorkant Moerasrivier, op pad na die kerksaal by ons aangesluit.
Oom Pietertjie het vir ons katikisasie gegee. As ek nou daaraan dink, voel ek steeds die warm son wat deur die venster van gekleurde glas skyn terwyl ons elkeen ons versie moes opsê. Uit rebelsheid het ek soms myne afgelees en gevoel dat ek oom Pietertjie uitoorlê… Nou met die terugkyk, besef ek dat hy eintlik gewen het deur my tienernukke te ignoreer. Nou wens ek dat ek vandag weer met hom kon gesels.
Die terugstap huis toe was veel makliker, want Pa en Ma het vir ons gewag. Ons het dan dorp toe gery, in die straat voor Browns Kafee geparkeer, ons “cones” in die kar geëet en die mense in die straat bekyk.
Ek is vandag baie trots daarop dat ek in Volmoed gebore is, grootgeword het, skoolgegaan het en in die kerk wat deur my familie gebou is, aangeneem is.
Aan Hom wat vir ewig Koning is, die onverganklike, onsienlike, enigste God,
kom toe die eer en die heerlikheid tot in alle ewigheid!
Amen.
1 Timoteus 1:17
PRYS DIE HERE!!
Recent Comments