fbpx
Voëls van ons Kontrei 3

Voëls van ons Kontrei 3

VOËLS VAN ONS KONTREI

ROOIBEKKE

Een oggend na ‘n erediens keer ‘n omie my voor en vra vir my: “Wat is daardie wit-en-swart voëltjie met die lang stert wat hom so kapokhaan hou in my tuin?” Dit was natuurlik die parmantige Koningrooibekkie-mannetjie (Pin-tailed Whydah), wat soos gewoonlik sy stempel probeer afdruk het deur die ander saadsoekers te probeer verwilder. Hy kan so erg raak dat hy die eetplek later feitlik heeltemal net vir homself, en sy vrouens, ge-eien het. Vrouens, ja, want Koningrooibekkies is veelwywers, met tot 6 vrouens op ‘n slag! Dis ook nie al nie. Die vrouens is nie juis baie lief vir huiswerk (nesbou) en kinders grootmaak nie.

Wanneer dit tyd raak om ‘n gesin te begin, gaan soek hulle na surrogaat-ma’s om hul eiers uit te broei en die kinders groot te maak. Lekker, nê? En wie is die ongelukkiges? Die eiers word een-een in Rooibeksysies (Common Waxbills), of rooibekkies in die volksmond, se neste gelê. Anders as by die koekoeke, waar die koekoek-kuiken die ander eiers uitskop, gebeur dit darem nie hier nie en is hier net ‘n ekstra mond om te voer.

As jy ‘n Koningrooibekkie in jou tuin het, en jy dalk wonder waarheen hy in die wintertyd verdwyn – hy is steeds in die omgewing, maar het sy lang stert en sy swart en wit vere verloor. Hy lyk dan net so vaal soos die wyfies. Nie dat hy dan minder parmantig en aggressief is nie, maar die ander voëls voel net minder ge-intimideer deur sy “normale” grootte. Die stert laat hom somertyd immers heelwat groter lyk.Vir sy “wangedrag” verdien hy die titel ‘Stout Rooibek’.

Die Rooibeksysies met hul strepies-lywe, pragtige rooi bekkies, rooi oogbanke en sagte maar melodieuse geroep, is daarenteen gewilde voëltjies. Trouens, ek sien dat daar mense is wat voëlhokke het met rooibekkies daarin. Het hulle self daar ingekom? Of is hulle gevang? Hulle is gelukkiger in die natuur, so laat hulle gerus vry as hulle op soek na saad per ongeluk in die hok beland het. Hierdie lewendige voëltjies kan jou net soveel vreugde gee as jy die regte saadplante of ‘n voerbak in jou tuin het, sonder dat hulle in ‘n hok vasgevang hoef te wees.

Rooibeksysies boer gewoonlik in riete en ander plante naby aan water. Dis hier waar hulle in groepies saamwoon, of in broeityd afpaar en nesbou. Anders as die luie Koningrooibekkies deel beide mannetjie en wyfie al die take, van nesbou tot kleintjies uitbroei en voer. Die ouers sal etlike kilometers aflê op soek na geskikte kos vir die tot 6 kuikens wat honger bly. Hul neste is ook baie interessant. Bo-op die regte nes is nog ‘n nessie, dikwels ook volledig met vere uitgevoer. Die vermoede is dat hierdie ‘n vals nessie is wat kuikenjagters moet mislei.

Een voël wat beslis nie mislei word nie, is die Koningrooibekkie-wyfie wat altyd plek kry om haar eiers te lê. Terloops, roobekkies se Engelse naam (waxbills) het hulle gekry omdat hul bekkies baie soos die rooi was, wat vroeërjare gebruik is om ‘n brief of belangrike dokument te seël, lyk. Rooibeksysies kry my stem vir ‘Oulike Rooibekke’.

Source: Reinderd Visser
(Illustrasie uit SASOL se “Birds of Southern Africa”)

SEKTRETARISVOËL - SIMBOOL VAN BESKERMING

Ons gesels nog steeds groot, want die Sekretarisvoël (Secretarybird) is, soos verlede keer se Bloukraanvoël, ook een van die grotes onder die gevleueldes – hy Sekretaris Voëlstaan nie verniet tot 1.5 meter hoog in sy “skoene” nie! Glo my, die rerige grote kom nog, al kom hy streng gesproke glad nie meer in ons kontrei voor nie! Kan jy raai? Maar meer oor hom volgende keer.

Die statige sekretaris word baie min in die Klein-Karoo gesien, tog kom hy wel hier voor en is hy indrukwekkend genoeg dat hy ons aandag vir ‘n oomblik verdien. Ek lees byvoorbeeld dat hy as die wêreld se enigste grondlewende arend beskou word, omdat sy leefwyse en broeigedrag so baie met dié van arende ooreenstem. En teen die tyd weet almal seker al hoe ek oor dié konings van ons lugruim voel! Maar daar is meer. Hy pryk deesdae trots met uitgespreide vlerke op ons landswapen, as simbool van beskerming.

‘n Sekretarisvoël-paar (wat ook tot die dood trou sweer) baken ‘n groot stuk grond (gewoonlik in grasveld en tot 50 vierkante kilometer) af as hul plaas, met die nes-en slaapboom reg in die middel. (As dit maar vir die mens so maklik was!) Hier word daar gestap (tot 20km op ‘n dag), gejag en gebroei. Hulle is maar lui vir vlieg en sal net in uiterste gevalle die lug in, waar hulle wys dat hulle tog kan en sal, behendig soos aasvoëls, tot so hoog as 4000m rondsweef. Met die landing moet hulle soos ‘n swaar vliegtuig ‘n hele ent hardloop voordat hulle tot stilstand kom.

RSA WapenDaar is ‘n Afrikaanse uitdrukking wat iemand met lang dun bene beskryf as dat hy sekretarisbene het – natuurlik na aanleiding van ons voël se lang bene. Dis seker nie noodwendig ‘n kompliment nie, maar die sekretarisvoël weet dat hy syne baie nodig het – dis immers sy belangrikste jagwapen. Ek het die voorreg gehad om by meer as een geleentheid te sien hoe ‘n sekretarisvoël ‘n slang (een van die lekkernye op sy spyskaart naas insekte, reptiele en klein soogdiere) met daardie lang pote takel en sekuur trap tot hy dood is voordat hy hom insluk.

Wat ek amusant vind is dat ‘n sekretarisvoël blykbaar koue voete het – hy sal in die boom, waar hy die nag geslaap het, sit en wag totdat die son die veld goed droog bak voordat hy “opstaan” om te gaan jag. Wat het geword van “The early bird catches the worm”?! Die uitdrukking “Ek het rooi gesien van woede” geld egter wel vir vandag se voël – sy kaal wange is oranjerooi, maar wanneer hy ontsteld of kwaad raak, word die vel nog rooier!

En waar kry hy sy naam? Die geleerdes is nie heeltemal seker nie, maar die gewildste verklaring is dat die vere op sy kop ‘n mens herinner aan die verepenne wat die sekretarisse en klerke van ouds gebruik het.

Source: Reinderd Visser
(Illustrasies uit SASOL se “Birds of Southern Africa“)

SLANGVERKLIKKER

Ek het al vroeër genoem dat die pragtige Gewone Janfrederik (Cape Robin-Chat) een van die makste wilde voëltjies in ons dorpe is. Hy het nogal ‘n groot familie buite die Klein-Karoo met name soos Lawaaimaker Janfrederik (Chorister Robin-chat), Natal Janfrederik (Red-capped Robin-Chat) en Witkol Janfrederik (White-starred Robin-Chat) – net sulke pragtig gekleurde voëls en boonop meesterlike mimiek-kunstenaars! En dan kry jy die vaal Slangverklikker (Karoo Scrub-Robin). Hom noem ek sommer die Janfrederikke se vaal klein-neef. Waarom? Behalwe vir die vaal donkerbruin kleure van die slangverklikker lyk hulle en gedra hulle hulle nogal ietwat na mekaar. Hulle deel selfs die mooi wit streep bokant die oog. Jy kry beide ook meestal op die grond waar hulle op soek is na insekte en larwes. Klein vruggies pluk hulle sommer van die struike af.

‘n Groot verskil is dat, waar Janfrederik se kind hom gerieflik in ons tuine kom tuismaak het, jy die slangverklikker selde diep in die dorpsgebied sal opmerk, al is hy nie ‘n skaam voëltjie nie. As jy op die rand van jou dorpsgebied of in die Klein-Karoo veld (sy gunsteling habitat!) gaan stap, is die kans egter goed dat jy hierdie lewendige en selfs raserige klein voëltjie sal raakloop. Hy is gewoonlik op die grond aan die beweeg en merk hy gevaar, soos ‘n muishond of ‘n slang, sal hy dié al rasende van struik tot struik volg tot hy buite sy gebied is. Is dit waar die naam Slangverklikker vandaan kom? Moontlik wel.

Ek het onlangs met ‘n afgetrede professor gesels wat die oorsprong van Afrikaanse voëlname navors en hy het vir my gesê dat die Slangverklikker vroeër in die volksmond as ‘Slangwyser’ bekend gestaan het. Hoe ookal, hou hom gerus dop sou jy hom raakloop. Ek het nog maar min voëls gesien wat so vinnig oor ‘n kaal stuk grond kan hardloop soos hy! En rats! Andersins sal hy op ‘n bossie sit en luidkeels vir almal vertel dat hy in die omgewing is. En as jy twyfel of dit ‘n Slangverklikker is waarna jy kyk, kyk na sy stert wanneer hy dit soos ‘n waaier oopmaak (soos wanneer hy wegvlieg van jou af). Hy het duidelike wit punte op die stertvere as uitkenmerk.

‘n Interessante waarneming van ‘n leseres is dié van die bymekaarkom van byna ‘n honderd of meer kwikkies (wagtails) tussen twee koshuise by Langenhoven Gimnasium op Oudtshoorn. Dit gebeur elke aand so net voor sonsondergang, (op die oomblik so vanaf half-sewe) en daar slaap hulle dan, sommer so op die grond, het dit vir my gelyk. Ek sien hulle gewoonlik op plat dakke bymekaarkom. Kwikkies soek gewoonlik enkel of in pare kos (jy het heel waarskynlik ‘n paar in jou tuin), maar het die gewoonte om buite broeityd so in groepe die nag saam deur te bring.

Source: Reinderd Visser
(Illustrasie uit SASOL se “Birds of Southern Africa”)

SOETTAND HEUNINGWYSERS

As jy ‘n gereelde kyker na die natuurdokkies op TV is, is die kanse dalk goed dat jy al ‘n program gesien het waar ‘n spesifieke voël en die taaie ratel mekaar sogenaamd help met ete. Die ratel, met min vrees vir bysteke breek die nes oop en, nadat hy klaar ge-eet het, geniet die voël die stukkies soet wat oorbly. Ek praat hier natuurlik van die Groot Heuningwyser (Greater Honeyguide) en Klein Heuningwyser (Lesser Honeyguide). Verhale het dit dat die heuningwyser die ratel na die bynes lei deur hom met geluide te lok, sodat die ratel dan die oopbreekwerk kan doen (vandaar sy naam), maar ek sien daar is ander wetenskaplikes wat dit bevraagteken. Volgens hulle volg ratels bloot die (veral groot) heuningwysers omdat hulle die gedrag het om mekaar (meestal jong heuningwysers) na ‘n heuningnes te lei.

Die jonges is blykbaar ook die dominerendste by ‘n bynes. Die mens het ook al vroeg aangeleer om heuningwysers te volg om so self toegang tot die soet heuning te kry. Legende het dit juis dat, as jy nie vir die heuningwyser ‘n bietjie heuning en byewaks (beide op hul spyskaart!) agterlos nie, hulle jou volgende keer na ‘n slang sal lei. Hier gaan dit weereens oor die groot heuningwyser, maar daar moet sekerlik nog meer navorsing daaroor gedoen word om te bevestig dat die stories heeltemal waar is.

Groot en klein heuningwysers is beide maar vaal voëls met min werklike uitkenmerke en boonop redelik skugter, maar hul reputasie gaan hulle ver vooruit en ek dink tog dat baie mense van hulle bewus is, al het hulle self heuningwysers nog nie gesien nie! Van uitkenmerke gepraat, ek lees dat die wit van hul buitenste stertvere, (by al die heuningwysers te sien), bedoel is om jonges te stimuleer om die ouers te volg na byneste.

Iets wat ek nie geweet het nie is dat heuningwysers familie is van houtkappers en spegte. Wat erger is, hulle is parasities, met ander woorde hulle lê hul eiers in die neste van ander, en in hul geval in die neste van selfs hul eie families! Ander voëls in wie se neste hulle sal eiers lê is visvangers, spreeus en groot swaels. Hulle verkies neste, of dan gate, wat in die stam van bome gemaak is, en daarom sal hulle hul eiers in veral die neste van veral kleiner houtkappers lê. Interessant, ‘n voëlkyker het iewers in Afrika die geluid van ‘n soort houtkapper gespeel en siedaar, hier kom heuningwysers aan om te kyk waar hul potensiële ouers is!

Die verhaal word nog wreder. Die heuningwyser-kuiken is groter as die pleegma se eie kuikens en hy byt hulle letterlik dood voor hulle groot genoeg is om hulself te kan verdedig. Daarvoor het hy ‘n spesiale haak aan sy snawel, wat hy later verloor. Vabonde! Tog, dis hoe die natuur werk en ons is ook nie altyd minder wreed nie, nie waar nie?

Ek hoor die klein heuningwyser meer gereeld in die Klein-Karoo as die grote, maar beide kom hier voor. Die klein een begin met so ‘n skril fluit en volg dit dan met ‘n aanhoudende “pink-pink-pink-pink”. Die grote se geluid klink of hy sê vic-torrrr – vic-torrrrr – vic-torrrrr!

Skakel my gerus by 072 9033 707 as jy ‘n heuningwyserstorie het om te vertel!

Source: Reinderd Visser
(Illustrasie uit SASOL se “Birds of Southern Africa”)

SPEKVRETERS - VAAL, VROLIKE VLERKVLAPPERTJIES

Al is die spekvreter een van die uiters vaal voëls in ons kontrei, is daar tog baie dorpsmense en boere op die plase wat my gereeld voorkeer en van die Dagbrekertjie (een van sy volksname) op hul werf vertel. En die rede hoekom hy so maklik uitgeken word – al is hy so vaal – is omdat hy die gewoonte het om sy vlerke so koddig te flap-flap wanneer hy kom sit om te bedel vir ‘n versnaperinkie. Jy kan natuurlik ten minste drie verskillende spekvreters in ons kontrei raakloop, maar om hulle van mekaar te onderskei kos ‘n fyn oog. Ek vertel verderaan kortliks waarvoor om uit te kyk, maar fokus vireers op die een wat so mak op die plaas of by jou agterdeur rondwip – die Gewone Spekvreter (Familiar Chat).

Net soos die Kwikkie en die Janfederik het spekvreter se kind ook gou aangepas by die mens. Trouens, sommer van vroeg af, reeds in die tyd van die Voortrekkers. Dis juis by hulle waar hy sy naam blykbaar gekry het. Die pioniers het nie altyd regte ghries vir hul wa-wiele gehad nie en het dikwels vet of spek gebruik. Hierdie voëltjies het gou agtergekom dat wat by die wiel se as uitpeul, eetbaar is en het dan die uitpeulsel gereeld kom afpik. Spekvreters, dus.

Die Gewone Spekvreter is ‘n tipiese Klein-Karoo voël. Hy hou van die droë omgewing en is op sy gelukkigste as hy naby rotsagtige plekke, of geboue as alternatief, kan wees. Dis waarom boere spekvreters so gereeld die die buitegeboue en op kraalmure sal sien. In die dorp sal ‘n paar vir ‘n tydjie op een plek verskyn, om dan net weer skielik te verdwyn en elders te verskyn. Kaas is beslis ‘n lekkerny vir die spekvreter – dis waarvoor hy so parmantig by die agterdeur sal kom bedel – maar sy eintlike kos is ‘n verskeidenheid insekte en vrugte.

Wat die Gewone Spekvreter egter baie interessant maak, is die manier hoe hy sy nes bou. Het jy al op ‘n oop nessie afgekom wat omring is met plat klippies en ander fieterjasies soos stukkies been, droë mis en selfs ‘n spyker of twee? Spekvreter se nes! Hoekom hy so lief is om klippe (tot ‘n kwart van sy eie gewig) nes toe aan te dra, kon ek nêrens raaklees nie, maar dat dit aandag trek, is gewis. Daar was onlangs so ‘n nes in die CP Nel museum.

Om die verskillende spekvreters van mekaar te onderskei is, soos ek reeds gesê het, moeilik. ‘n Mens moet letterlik wag dat hulle wegvlieg, want die duidelikste onderskeid lê in die stertpatrone. Hulle is egter rats en dit kos vinnig kyk! Die Gewone Spekvreter se stert is oranje met ‘n swart onderste-bo T-patroon. Die Vlaktespekvreter (Sicklewinged Chat) lyk baie soos hy, maar sy stert is swart met vaalgeel rande. Die Karoospekvreter (Karoo Chat) is groter en gryser as die ander twee.Sy lang, swart stert het duidelike wit vere aan die kante.

Source: Reinderd Visser
(Illustrasies uit SASOL se “Birds of Southern Africa“)

SPREEUS - VRIENDE OF VYANDE?

In my jongdae op die plantasie het ek ‘n windbuks gehad en my pa was baie streng met wat ek kon skiet en wat nie. Die een voël waaroor ek nie eens hoef te gekibbel het nie was spreeu se kind. Hy kon ‘n gaatjie in jou dak vind wat jy nie eens geweet het bestaan nie en dan kan jy maar weet, dis nesmaak en kort voor lank, luise! Ek wil nog ‘n slimmer voël sien. Dit het soms dae se bekruip gekos om ‘n doodskoot in te kry.

Intussen moes ek uitvind dat ons nie minder nie as 14 soorte spreeus in Suider-Afrika het, waarvan ten minste vier in ons omgewing voorkom. Die karnallie wat ek so gejag het was die Europese Spreeu (European Starling), een van 2 indringerspesies en ‘n nalatenskap van Cecil John Rhodes. Hy het ‘n klomp in 1899 in Kaapstad losgelaat en ek lees hul nasate het Durban reeds in 1970 bereik! Hulle is natuurlik volop op ons dorp en jy sal hulle in groepe op jou grasperk of die sportgronde sien loop op soek na insekte, wurms, sade of selfs vrugte. In die somer lyk hulle swart van ver af, maar in die son en van nader is hul mooierige donkergroen glans en geel bekke duideliker sigbaar. Nou, in die wintertyd, is hulle swaar gespikkeld. Is hulle vriende of vyande? In my oë is hulle morsjorse, maar besluit maar self. (Die ander indringer is die Indiese Spreeu wat jy in Natal en Gauteng kry.)

‘n Ander spreeu wat ook nogal volop in die dorp is, is die Rooivlerkspreeu (Redwinged Starling). Hy is heelwat groter as die Europese Spreeu, het ‘n blouswart glans in die son en die wyfie het ‘n grys kop. Sy vliegvere is rooibruin – vandaar sy naam. Hy eet hoofsaaklik vrugte en bessies en maak nogal mooi geluide – een klink amper soos ‘n uitgerekte “spreeo!” Waar die Europese Spreeu verkies om te stap, hop hy liewer van punt A tot B, hou hom maar dop. Hy maak sy nes onder oorhange en van modder en fyn stokkies. Een interessante plek is tussen die laagste blare van palms en ek sien hulle gereeld in die palms voor die CP Nel museum.

Net buite die dorp en op die plase is nog twee spesies. Die een is amper net so groot soos die Rooivlerkspreeu en het ‘n naam wat hom raak beskryf – Witgatspreeu (African Pied Starling). Hy is, buiten vir die wit onderstewe en pens, donkerbruin met ‘n donkergroen glans, het bleek oë en duidelik sigbare oranje mondhoeke. Sy roep is sag en amper hartseer. Witgatspreeus swerm saam en jy kry hulle op graswelde, rivierlope en sommer langs die pad. Hulle maak in gate in walle en uitgrawings nes – kyk bv. by die uitgrawing kort voor die Welgelegen-afdraai soos jy Schoemanshoek toe ry.

Die laaste spesie – die Lelspreeu (Wattled Starling) – is so groot soos die Europese Spreeu, maar met sy liggrys kleur en swart vlerke verwar jy hulle glad nie. Die mannetjie het in die somer opvallende lelle aan sy (gewoonlik) geel en swart kop. Lelspreeus is lief vir grasveld en ek sien hulle ook dikwels by die rioolwerke.

Buiten vir die Europese Spreeu vind ek die ander drie glad nie so lastig nie – vriende dus. As jy anders voel, laat weet gerus hoekom.

Source: Reinderd Visser
(Illustrasies uit SASOL se “Birds of Southern Africa“)

STRANDKIEWIETE IN KANNALAND?

Noem ‘n voël ‘n kiewiet en ek sal nie ‘n oog knip as jy my vertel hy kom hier in die Klein-Karoo voor nie, maar doop hom “strandkiewiet” en ek loop soek hom veel eerder langs die see as hier. Moenie glo nie, hier by ons is toe wel enkeles met die naam strandkiewiet en ek gesels vandag oor die twee algemeenstes. Strandkiewiete is heelwat kleiner as die gewone kiewiete waarvan ek jou al by ‘n vorige geleentheid vertel het (die Kroonkiewiet en Bontkiewiet), hulle hou gewoonlik van water en is minder opvallend. Merk jy wel een van hulle op is dit darem nie te moeilik om uit te werk na wie jy kyk nie. Trouens, die twee se beskrywende name is byna genoeg om jou daarmee te help – Driebandstrandkiewiet (Threebanded Plover) en Geelborsstrandkiewiet (Kittlitz’s Plover). Eersgenoemde het ‘n donker kroon op die kop en twee duidelike swart bande om die keel met ‘n witte tussen–in.

Die helder rooi om die oog en die basis van die snawel help ook. Die Geelborsstrandkiewiet het presies dit wat sy naam sê -‘n gelerige bors. Dan is daar ook die swart streep deur die oog en om die nek om te help met die uitken. Neem gerus kennis, as jy veral in die somertyd ‘n voël van hul grootte langs ‘n dam of oop rivieroewer sien, kan dit een van baie ander wees so kyk maar dadelik uit vir hierdie merke!! Hierdie ander vales is trekvoëls wat uit die Noordelike halfrond tydens hulle winter by ons kom kuier. Ek oorweeg dit nog of ek jou van die rêrige vaal voëls langs die water gaan vertel – glo my, om hulle uit te ken is nie vir sissies nie!

Die Driebandstrandkiewiet is die meer algemene een hier by ons en semi-getrou aan sy naam sal jy hom meeste van die tyd naby water kry. Hy hou veral van damme en riviere met ‘n breë oewer. Hier sal hy homself letterlik dag en nag besig hou met kos soek. Ironies genoeg sal jy hom min of glad nie langs seewater-strande kry nie, al dra hy die naam strandkiewiet. Hy verkies vars water. Praat van ‘n verwarrende naam! Nesmaak is vir die mannetjie bloot om sy bors teen die sand te druk en in die rondte te draai tot ‘n vlak bakkie in die grond vorm. As vroutjie nie met die holtetjie tevrede is nie, probeer hy maar weer elders. Tipies kiewiet is hulle grondbewoners en dit is ‘n gevaarlike wêreld. Anders as boombewoners waarvan die kuikens feitlik sonder vere gebore word en ten minste twee weke neem om gereed te wees om die nes te verlaat, is dit nodig dat hierdie kuikens sommer dadelik te stap en binne 24 uur self te vreet.

Daar is mos altyd ‘n stroom-op broer of oom of neef in die familie wat gereeld in die verkeerde rigting in beur. Wel, die Geelborsstrandkiewiet is een so ‘n familielid. Strandkiewiete is tipiese watervoëls – jy gaan soek hom gewoonlik reg langs die water – maar nie dié een nie! As die volstruis-boere in die omgewing gereeld kyk watter kleinerige voëls in die omgewing van die voerbakke rond trippel is die kanse redelik goed dat hulle hierdie meneer op ‘n stadium sal raakloop, sommer ver van water af. Ja, hy wei wel nou en dan langs die water, maar sal ewe maklik in die dorre Karoo gaan kos soek (o.a. insekte, erdwurms, spinnekoppe en larwes).

‘n Gewoonte wat hy wel volledig met die ander kiewiete deel, is die gebruik om vyande se aandag van die kuikens af te trek deur weg te stap en die een vlerk gemaak teen die grond te sleep, so asof hy kwansuis beseer is. Wanneer die vyand die aandag op hom fokus, vlieg hy weg en die kuikens is weer veilig.

Hierdie twee is gewoonlik heel jaar hier, so kyk gerus uit vir hulle sodra jy weer in die veld of by ‘n dam of rivier kom.

Source: Reinderd Visser
(Illustrasie uit SASOL se “Birds of Southern Africa“)

STREEK- EN VOLKSNAME

Pietoto; klaaskluitjie; baketoerie; klouterbok; bottergat; skuimogie; geelgat; kuifkop; appelvreter…. Net ‘n paar volksname van die Kaapse Tiptol (Cape Bulbul) wat hier by ons voorkom!! Daar is nog sommer baie ander name – pietpatat; gertcloete, klapperjot, druiwedief, pietblinkgat…

Dit gebeur dikwels dat iemand my in die straat voorkeer en van ‘n bepaalde voël vertel, en wanneer ek vra wat sy naam is, gebruik die persoon ‘n naam wat ek nog nooit van gehoor het nie! En so is dit – voëls het amptelike name (latynse name en ook die amptelike Afrikaanse en ander landstaal name, wat soms tot groot diskussies lei oor wat dan nou die absolute regte naam is!), maar ons as Afrikaanssprekendes was nog altyd goed kreatief en die gee van voëlname het nie hier agtergebly nie. Egte volksname.

So het my paaie ‘n jaar of 3 gelede met Prof. EJM Baumbach gekruis. Hy is gepensioeneer, maar beslis nie afgetree nie! Sy groot passie is juis dit – om soveel van die Afrikaanse streekname van voëls moontlik bymekaar te maak en te boek te stel! Ons het in die proses lang gesprekke gehad oor veral voëlname van ouds en die rol wat die Nederlandse name op ons voëlname gehad het. ‘n Rukkie gelede het hy my toegang gegee tot die vrug van sy arbeid – ‘n boek met ‘n versameling van Afrikaanse Streekvoëlname. Fassinerend!

Ek wil ter wille van die onderwerp ‘n paar van die voëlname wat hy in sy boek het, uitlig. En dan ‘n uitnodiging aan jou rig – as dink jy het ‘n unieke naam vir ‘n bepaalde voël, sms dit gerus aan my. So kan ons dalk egte Klein-Karoo name aan hom voorsien en so help voorbou aan hierdie pragtige versameling streekname.

Een van die mees algemene voëltjies in ons tuine is die Kaapse Glasogie (Cape White-eye). So noem mense hom ook meelogie, kersogie, ringogie en piet-la-pok. Nog een is die pragtige Gewone Janfrederik (Cape Robin-chat). Seker een an die mooiste name vir hom is Jantattarat. ‘n Ander naam wat mense al teenoor my gebruik het is ‘dagbrekertjie’. Van dagbrekertjie gepraat – daar is sommer ‘n lang lys voëls wat mense ‘n dagbrekertjie noem! Kyk hierna – sowel die bontrokkie (stonechat), die mossie (sparrow), die spekvreter (chat) en soms selfs die spreeu (starling) word in verskillende streke ‘n dagbrekertjie genoem!

Ons ken ook almal die Fiskaallaksman (Common Fiscal) wat so op die telefoondraad of op ‘n heining sit en wag om op prooi toe te slaan. Hy het nogal erg beskrywende name: janhanger, kanariebyter, biltongmaker, moordenaarsvoël, klaasskaapwagter, janfiskaal. Terloops, sy latynse naam – lanius collaris – vertaal met ‘slagter met ‘n kraag’. ‘n Regte roofvoël!

En dan is daar die Gewone Tarentaal (helmeted guineafowl) met sy prettige streekname – bankrotvoël, kewerkonstabel, bylkop, poelpetaat, droëkopvoël en belhoender. Wie ken nie die bekende gedig van AG Visser “Die berggans het ‘n veer laat val”, nie? Wel, die berggans verwys na die Kolgans (Egyptian Goose). Die Hoep-hoep (Hoopoe) op die gras in jou tuin het name soos kamvoëltjie, kuifkop en kommandovoël. Wat ek hartseer vind is die name van die pragtige Nonnetjiesuil (Barn owl) – doodsvoël of doodsuil, teenoor ‘n meer gepaste naam, kerkuil (waar hy gereeld nesmaak, soos in die toring op Calitzdorp en Volmoed, as ek reg kan onthou).

En so kan ek aangaan. Daar is nog honderde interessante name! Onthou my uitnodigng – laat gerus weet as jy enige streeksname ken wat jy met my wil deel. My nommer is 0729033707.

Source: Reinderd Visser

SUIDELIKE WATERFISIKAAL - SKUGTER DUETSANGER

‘n Leser het my verlede jaar in verband met ‘n misterieuse voël in haar tuin op Oudtshoorn gekontak. Hy was nogal moeilik te sien, maar het met ‘n hele repertoire van liedere vorendag gekom. Die voël het haar so gefassineer dat sy die moeite gedoen het om sy geluide op te neem en later selfs video-opnames te maak op soek na ‘n antwoord watter voël dit is. Ek was op daardie stadium op reis en tot my skande het ek nie haar navraag opgevolg nie. Sy het haar antwoord uiteindelik by ‘n groot voëlkenner in Kaapstad gekry – en die voël was natuurlik die Suidelike Waterfiskaal (Southern Boubou). Die les hier is – hoor of sien jy iets interessant en jy wonder daaroor, moenie tou opgooi nie, aanhouer wen en so verbreed jy jou kennis van wat in jou tuin of omgewing rondbeweeg.

Kan jy nog die Bokmakierie waaroor ek ‘n jaar of drie gelede geskryf het, onthou? Indien wel, sal jy onthou dat ek vertel het dat die mannetjie en vroutjie byna perfek in duet saamsing. Wel, die Suidelike Waterfiskaal is nog ‘n voël wat van saamsing hou, en net so goed is daarmee. Trouens, laasgenoemde het ‘n groter verskeidenheid van liedjies wat hulle saamsing!! Een van die geluide wat hulle maak het juis aan hulle hul Engelse naam ‘boubou’ gegee. Anders as die vrypostige Bokmakieries wat sommer oop en bloot op die top van ‘n struik sal sit en “bok-bok-makierie-kierie” roep, speel die waterfiskaal eerder wegkruipertjie en hoor jy hom makliker as wat jy hom sal sien.

Met die eerste oogopslag en vir die ongeoefende oog lyk die Suidelike Waterfiskaal nogal baie soos die Fiskaal-laksman (Fiscal Shrike) of selfs meer nog die Fiskaal-vlieëvanger (Fiscal Flycatcher) waarvan ek al vertel het. Ook nie sonder rede nie, hulle is al drie wit en donker, het almal ‘n swart masker oo rdie oë en wit strepe op die vlerke. Jy merk seker ook dat elkeen selfs ‘fiskaal’ in hul name het. Mooi kyk, dus. Die drie se gedrag verskil darem heelwat. Die waterfiskaal is beslis die skaamste en hou meestal tussen struike. Hy soek sy kos ook grotendeels op die grond, waar die laksman en vlieëvanger op ‘n tak of heining sal sit en uitkyk vir prooi.

Daar is ook die roesbruin skynsel op die wit bors wat die waterfiskaal effe anders laat lyk. Van kos gepraat, hy het ‘n uitgebreide vleisdieët wat slakke, wurms, vlieënde insekte en selfs geitjies insluit! Het jy per toeval ‘n paartjie in jou omgewing? Bekyk hulle mooi en jy sal merk dat mannetjie en vroutjie nie presies dieselfde lyk nie. Die donker gedeeltes is by die mannetjie pikswart, terwyl die vroutjie meer ‘n gryserige kleur het. Die vroutjie se bors is weer meer roesbruin as die mannetjie se bors.

Source: Reinderd Visser
(Illustrasie uit SASOL se “Birds of Southern Africa”)

SUIKERBEKKIES - BESIGE NEKTARDRINKERS

Suikerbekkies is nou wel klein, maar hulle is sekerlik van die kleurvolste voëltjies in ons tuine. Kyk jy mooi sal jy sien dat daar tot 4 verskillendes aan jou blomme kom suig. Jy mag dalk selfs dink dat daar 5 soorte is, want daar is vales ook tussenin, maar toemaar, dis net die wyfies. Om die mannetjies se kleure regtig te kan waardeer het jy ‘n verkyker en helder sonlig nodig. Hulle is egter lewendige voëltjies so kyk maar vinnig, hulle is dalk al weer weg voor jy ‘suikerbekkie’ kan sê.

Die grootste van die vier dra die mooi naam Jangroentjie (Malachite sunbird). Jy behoort sy mannetjie a.g.v. sy grootte, sy lang stert en helder groen kleur (veral wintertyd – hy word valer in die somer) eintlik die maklikste te kan raaksien. My ervaring is egter dat hy nie so algemeen in die dorp soos van die ander is nie. Wees maar net geduldig, as jy jou oë oophou sal jy hom uiteindelik raakloop en dis beslis die moeite werd.

Nog een wat nie so algemeen in die dorp is nie, is die Swart Suikerbekkie (Black Sunbird). Sy naam sê hoe hy op ‘n afstand lyk – oënskynlik pikswart. As die son op ‘n helder dag reg val – en beter nog, as jy van naby of deur ‘n verkyker na hom kyk – sal jy egter sien dat daar die mooiste kleure op sy kroon en onder sy keel “weggesteek” is. Die vere op sy kroon is ‘n helder glansgroen en hy het ‘n pragtige glanspers beffie.

Die twee kleintjies, wat amper dieselfde lyk, het ook die langste name – Kleinrooiborssuikerbekkie (Lesser Doublecollared Sunbird) en Grootrooiborssuikerbekkie (Greater Doublecollared sunbird). Eersgenoemde, die kleinste van almal en die mees algemene een in die dorp, het ‘n smallerige rooi streep oor sy bors. Die groter een het ‘n breë rooi borsstreep en ‘n langer snawel. Verder het albei ‘n glansgroen kop, keel en rug, ‘n fyn blou strepie bokant die rooi op die bors en ‘n blou kruis. Hul broeityd is gewoonlik van winter to lente en sal jy geel veertjies by albei se skouers sien uitsteek – regte pronkvere om die meisies te beindruk. Fyn kyk!

Gaan hou jy piekniek in die Swartberg kan jy nog ‘n baie mooi suikerbekkie raakloop. Die Oranjeborssuikerbekkie (Orangebreasted Sunbird), wat lyk soos sy naam sê en net in die Wes- en Suid-Kaap voorkom, is redelik algemeen tussen die proteas, heide en ander fynbos. Luister maar vir die skor, metaalagtige geluid wat hy herhaal.

Plant struike wat blomme met nektar het as jy suikerbekkies na jou tuin wil lok. Jy sal veral gereelde besoekers kry as jy plante het wat gedurende die winter blom (bv. wilde dagga; aalwyn; kanferfoelie). En dan weet ons almal dat suikerbekkies lief is vir nektar, maar moenie verbaas wees as jy, teen die verwagting in, een sien wat ‘n vlieënde insek uit die lug vang en vreet nie. Hulle is selfs lief vir spinnekop se kind en sal hom uit sy web haal en vreet.

Kyk gerus of jy ten minste die vier dorpenaars onder oë kan kry.

Source: Reinderd Visser
(Illustrasies uit SASOL se “Birds of Southern Africa“)

SUPERWEWERS

‘n Leser uit Bridgton het my lentetyd geskakel om uit te vra na die koddige gewoonte van vinke in sy tuin. Die mannetjie sal ‘n nes netjies klaar weef en dan word dit summier weer uitmekaar geskeur. Kom ons gesels vandag oor twee superwewers wat met soveel vaardigheid in ons omgewing nesbou, en soek terselfdertyd na ‘n antwoord op die leser se vraag. Terloops, beide superwewers het ‘n voorliefde vir saad, nektar, blomdele, insekte en brood.

Die eerste superwewer is die Kaapse Wewer (Cape Weaver) en jy kan die mannetjie in die somer aan sy mooi geel oë, roes-oranje kop (wat by die nek en op die lyf na geel oorgaan) en swart, langerige en sterk snawel uitken, terwyl die wyfie maar valerig is. Wintertyd is die mannetjie net so vaal soos die wyfie. Terloops, hy is eintlik spesiaal, want hy kom net in Suid-Afrika voor.

Dit is beslis die moeite werd om te sit en kyk hoe wewers hulle neste bou. Hulle is natuurlik kompulsiewe blaarstropers (tot tuiniers se frustrasie?), maar het die stroke nodig om hul peervormige neste mee te weef. En let veral op hoe die mannetjie, wanneer hy klaar is, onderstebo aan die nes hang en sy vlerke klap en geluide maak om aandag te trek. Hy sal ook aanhou neste bou totdat ‘n wyfie belangstelling toon.

Die mees algemene wewer in ons dorp – veral in die riete langs die Grobbelaarsrivier – en effens kleiner as die Kaapse Wewer, is die Swartkeelgeelvink (Masked Weaver). Gedurende die somer is die mannetjie maklik aan sy swart kop en keel uitkenbaar. In die winter verloor die mannetjie sy broeikleure en dan lyk hy net so vaal soos vroutjie, wat heeljaar so lyk.

Dit is juis Swartkeelgeelvink se mallewales wat mense aan die raai het. Waarom word ‘n oënskynlik netjiese nes na al die moeite weer uitmekaar geskeur? En deur wie? Die kenners sê dat die nessie afgebreek word omdat mevrou nie daarmee tevrede is nie, maar dat dit nie, soos algemeen aanvaar word, sy is wat die afbreekwerk doen nie. Dis die mannetjie self! “Hierdie brouwerk breek jy self af!”, sê sy. Hou sy egter van die nes, sal sy dit self met sagte materiaal uitvoer en dadelik begin broei. ‘n Ander interessantheid is dat die mannetjie vir meer as een wyfie ‘n nes bou (tot soveel as 12 neste per seisoen).

Hy reken seker hy kan met meer as een vrou oor die weg kom – sy doen in elk geval al die grootmaakwerk. “Ek bou die huis, jy maak die kinders groot”, sê hy. En hy bou die hele somer deur neste, met hier en daar herstelwerk op bestaande neste.

Daar is natuurlik ander voëltjies in ons omgewing wat ook pragtige nessies bou – ek dink hier aan o.a. die Kaapse Kapokvoël (Cape Penduline Tit). Sy nes het selfs ‘n vals ingang om slange te kul, maar dis ‘n storie vir ‘n ander dag. En dan is daar nog ‘n mooi wewer wat in die riete langs die rivier nesmaak – die helderkleurige Rooivink (Red Bishop). Sy nes is egter nie so opvallend soos die superwewers s’n nie. Geniet intussen die weefkuns in jou tuin as een van die superwewers by jou nesmaak. Kyk ook of jy die verskil in vorm van die twee se neste kan onderskei.

Source: Reinderd Visser
(Illustrasies uit SASOL se “Birds of Southern Africa“)

SWAELTJIES - DIE SOMERGASTE

Terwyl ‘n mens wintertyd ver sal soek om ‘n swaeltjie in die oog te kry, sien jy hulle in die somertyd sommer oral grasieus rondvlieg en sweef (daarom noem ek hulle prinse van die lug). Dit is mos omdat die meeste swaeltjies rondom April en Mei Noordwaarts land-uit vlug, op soek na warmer plekke. Let wel, ek sê ‘die meeste’, want daar is tog ‘n paar wat heeljaar bly – ‘n mens sien hulle net nie so maklik raak nie. Dit is omdat hulle valer kleure het. Maar kom ons gesels vandag eers oor die gaste wat gedurende die somermaande in ons omgewing kom kuier. Wees net gewaarsku – om swaels van mekaar te onderskei kos maar fyn kyk, hoor. Die meeste van hulle het ‘n donker, glansblou rug en bo-vlerke en ‘n wit onderkant, wat veroorsaak dat hulle in vlug baie dieselfde kan lyk. Ek wys op die belangrikste uitkenmerke.

‘n Baie algemene somerbesoeker kom uit Engeland en Europa (selfs uit Rusland) vir ons kuier – daarom is sy naam ook Europese Swael (European Swallow). Ek lees dat, wanneer hulle migreer, Europese Swaels tot 12000km in 32 dae aflê. Hul voorkoppe en kele is roesbruin met ‘n swart band direk daaronder. Die res van hul onderkante is wit en hulle het ‘n duidelike swaelstert. Jy sal Europese Swaels somertyd saam met ander swaels sien rondvlieg, op soek na veral vlieënde insekte. So nou en dan sal een ‘n kruipende insek, sommer so in vlug, van die grond af oppik. En jy soek verniet na ‘n nes – hulle broei nie hier by ons nie.

Die ander algemene somerkuiergas op die dorp is die Grootstreepswael (Greater Striped Swallow). Die “Groot-” in sy naam is om hom van die Kleinstreepswael (Lesser Striped Swallow, wat elders voorkom en effe kleiner is) te onderskei. Verder het hy (fynerige) strepies wat van bo na onder op sy witterige bors loop. Hy het ‘n roesrooi mussie en ‘n ligte roesrooi kruis. Grootstreepswaels is lief om hul klei-neste met die lang tonneltjies onder ons dakke te bou. Anders as die Europese Swael gaan hulle wintertyd net verder-op in Afrika tot so ver as Tanzanië, Zaire en Zambië. Luister gerus na hul rustige deuntjie terwyl hulle op die draad sit en gesels.

Nog ‘n somerbesoeker wat ek al hier in die omgewing gesien het, maar nie in sulke groot getalle nie, is die mooie Witkeelswael (Whitethroated Swallow). Ek sien Witkeelswaels redelik gereeld langs die Grobbelaarsrivier en buite die dorp op landerye, gewoonlik naby water. Hulle kan moontlik in vlug met die Europese Swaels verwar word, maar het ‘n duidelike swart borsstreep. Hulle broei wel hier by ons en hul nes is ‘n oop klei-doppie. Wintertyd toer hulle nie verder as Zaire nie.

Volgende keer gesels ons oor die swaels wat nie landuit toer nie. En indien jy dalk wonder wie ek as die konings van die lug beskou? Ons roofvoëls natuurlik, en meer spesifiek die majestieuse arende.

Source: Reinderd Visser
(Illustrasies uit SASOL se “Birds of Southern Africa“)

SWAELTJIES - DIE TUISBLYERS EN NOG SOMERGASTE

Jy sal onthou dat ons al oor swaels wat somergaste is gesels het. Kon jy van hulle in jou tuin of omgewing uitken? Vandag gesels ek oor die twee tuisblyers en nog twee, skaarser, somerbesoekers.

‘n Baie algemene swaeltjie waarvoor jy gerus heel jaar kan uitkyk is die Kransswael (Rock Martin). Dis ‘n vaalbruin swaeltjie met ‘n kaneelkleurige onderkant en wat gewoonlik saam met ander swaels by veral hoë geboue rondvlieg. Kyk mooi na sy stert as een dalk naby jou verbyvlieg – wanneer hy sy stertvere (wat feitlik glad nie swaelvormig is nie) oopvlek sal jy duidelike wit venstertjies sien. In die veld sien jy baie Kransswaels na die Swartberge se kant toe, gewoonlik teen die berghange en weg van water af. Hul nessies is ook oop klei-doppies.

Sou jy ‘n groepie vaalbruin swaeltjies, wat baie soos die Kransswael lyk, by die dorp se rivier of by ‘n dam buite die dorp sien rondvlieg, kyk mooi na hul onderkante. As hulle bruin kele, wit pense en meer geswaelde sterte sonder die kenmerkende venstertjies van die Kransswael het, is hulle Afrikaanse Oewerswaels (Brownthroated Martin). Soos hul naam sê, verkies hulle om eerder naby water te bly. Hul nessies is gewoonlik in tonnels in ‘n rivierwal. En hulle bly ook heel jaar.

Al is hulle nie so algemeen by ons nie, moet ek ter wille van volledigheid nog twee somerbesoekers noem. Die een is die Pêrelborsswael (Pearlbreasted Swallow), wat onderkant heeltemal wit is en ‘n soliede donkerblou glansrug het. Hy kom meer algemeen buite op die plase voor, maar as jy gelukkig is kan jy een by die landerye of sportgronde langs die Grobbelaarsrivier sien rondvlieg. Hy broei wel by ons – in ‘n oop klei-dop-nessie – en wintertyd trek hy nie verder as die middel van Afrika nie.

Die Huisswael (House Martin), wat ek nog net by De Rust en Schoemanshoek gesien het, kuier uit Europa by ons. Hy broei nie hier nie en hou veral van skuinstes. Hy kan met die Pêrelborsswael verwar word, want hulle lyk feitlik eenders, maar op die afbeelding kan jy duidelik sien hoe sy wit kruis die soliede donkerblou glans op sy rugkant breek. Mooi kyk!

Maar wat van die swart voëltjies wat soos swaeltjies lyk en met vinnige vlerkklap hoog in die lug ronddraai en sulke skril skreegeluide maak? Is hulle nie ook swaels nie? Nee, hulle is windswaels (swifts) en al kom die woord “swael” in hul naam voor is hulle hoegenaamd nie familie van swaeltjies nie. By ‘n volgende keer vertel ek jou meer van hulle. Windswaels kan seker ook as prinse van die lug beskryf word – hulle bly immers bedags langer as swaels in die lug – maar swaels vlieg en sweef na my mening met meer grasie en daarom kry hulle my stem.

Source: Reinderd Visser
(Illustrasies uit SASOL se “Birds of Southern Africa“)

TARENTAAL, KOLLEVEERNAR

Seker een van die kenmerkendste voëlgeluide met dagbreek is die skril “kek-kek-kek-krrrrr” van ‘n groep Gewone Tarentale (Helmeted Guinea fowl) net nadat hulle wakker geword het en hulle gereed maak vir die dag se aktiwiteite. So koddig soos hulle lyk en klink, so gefassineerd is die mens met hierdie vroegoggend-raasbekke. Kyk ‘n bietjie in jou huis rond of daar nie ten minste een item, kledingstuk, stuk materiaal of skildery is wat ‘n afbeelding of ‘n spikkelveer van die tarentaal op het nie. ‘n Vinnige kykie op die internet het gewys dat die Amerikaners gek is daarna om tarentale as troeteldiere aan te hou en daar is tientalle verskillende kruistelings!

En vir baie is dit ook ‘n gewilde jagvoël. Dit is egter eers wanneer ‘n mens hulle begin dophou dat jy hierdie uiters sosiale voëls se uniekhede en koddighede regtig kan begin waardeer.

Jare gelede, voordat die boerdery-aktiwiteite in Suid-Afrika omstandighede gunstig gemaak het vir verhuising, was daar Suid van die Oranje Rivier en Wes van Uitenhage (dus ook hier by ons) nie ‘n tarentaal in sig nie. As gevolg van beskikbare kos (en tarentale wat deur mense gevang en elders vrygelaat is) het ons gespikkelde vriende met die jare al verder Suid en Wes beweeg en daarom kan ons wat in die Klein-Karoo woon nou ook soggens deur hul geroep wakkergemaak word. Waar hulle nie bedreig word nie, kan hulle nogal mak raak. Maar wat ‘n interessante dagprogram het hulle nie!

Eerste op die lys na ‘n nag se slaap – gewoonlik hoog in ‘n boom – is dorsles. Dan is daar geleentheid vir ‘n bietjie sosialisering. Die mannetjies sal mekaar jaag en speels pik, en hul rue so boggel trek en wye esse gooi (die Engelse noem dit “humpback display”). Dis blykbaar sommer ‘n stamina-toets ook, sodat die vrouens kan sien wie fiks genoeg is om pa vir hul kinders te wees. Terloops, mannetjies loop gewoonlik regop op hul tone, terwyl die wyfies platvoet loop en lyk of hulle lewensmoeg is. Is dit met rede? Wie weet! Maar hoe dit ook al sy, na die rondhollery is dit tyd om die vere reg te stryk en die oggendsonnetjie vir ‘n rukkie te geniet. Eers dan beweeg die groep na die dag se kossoek-area.

Op die warmste deel van die dag is dit siesta-tyd, en laatmiddag, voor slaaptyd, word vir oulaas ‘n ietsie vir die maag gesoek en vir oulaas in koorsang geraas. Interessant, tarentale is buite die broeiseisoen vegetaries, maar met die behoefte aan meer proteiene vreet hulle gedurende die broeiseisoen insekte, slakke en ander bewegende goetertjies.

Tarentale word deur baie diere en voëls as kos beskou. Buiten vir o.a. rooikatte en jakkalse wat op hulle jag maak, sal roofvoëls soos die Kaapse Ooruil en Breekoparend nie ‘n kans op ‘n redelike maklike maaltyd laat verbygaan nie.Vang niks hom nie of hy raak nie siek nie kan ‘n tarentaal tot 5 jaar oud word. Hier is ‘n paar groepe in en om Oudtshoorn, maar ek het ook gemerk dat daar by ‘n groep wat naby die Riempie-uitbreiding rondwei, mak (domesticated) tarentale voorkom. Dit is tarentale wat vroeër met kruisteling as troeteldiere aangehou is, wat ontsnap het en dan by die wildes aangesluit het. Hulle lyk effe valer en anders as die wildes, met ‘n kleiner kam op die kop.

Die van julle wat al in die Krugerwildtuin of in Natal ‘n draai gemaak het, het dalk die ander – selfs nog koddiger! – Kuifkoptarentaal (Crowned Guinea fowl) raakgeloop. Beslis nie ‘n voël wat ‘n skoonheidskompetisie sal wen nie, maar sy kollevere het ‘n pragtige blou skynsel.

Source: Reinderd Visser
(Illustrasie uit SASOL se “Birds of Southern Africa“)

TELEFOONPAALJAGTERS

Vat mens die pad Calitzdorp, George of De Rust toe is dit opvallend hoeveel roofvoëls op die telefoonpale langs die pad sit. En dan praat ek nie van die alomteenwoordige kraaie nie – hulle is darem nie propperse roofvoëls nie (êrens vorentoe meer oor hulle). Nee, ek praat van die jagters met die krom snawels en die skerp kloue. Hier is natuurlik meer jagters in ons omgewing, maar vandag s’n is die mees algemene op ons telefoonpale (mensgemaakte goed wat voëls die keer help, en nie skade bring soos kragdrade waarteen groot voëls vasvlieg nie).

Die eerste twee op ons lys is kleinerige voëls, maar moet hulle beslis nie onderskat nie. Hulle is net so effektief soos hul groter neefs wanneer dit by jag kom. Die baie algemene Blouvalk (Blackshouldered Kite) is ‘n wit-en-grys valkie met swart skouers. Jy sal hom soms in die lug sien fladderhang op soek na ‘n muis, sy stapelvoedsel. Andersins sal hy op ‘n paal of tak sit waar hy sy stert so nou-en-dan koddig op en af wip. Van naby kan jy sy pragtige rooi-oranje oë sien.

Die rooi-bruin Kransvalk (Rock Kestrel) met sy grys kop is ook algemeen maar dalk minder opvallend as gevolg van sy donkerder kleure. Soos sy naam sê verkies hy meer heuwelagtige gebiede, maar hy jag ook van pale af. Met muise, insekte, slangetjies en akkedisse op sy spyskaart het hy ‘n meer uitgebreide dieët as die Blouvalk.

Die Bleeksingvalk (Pale Chanting Goshawk) is seker die mees sigbare jagter vanaf ons telefoonpale langs die pad. Hy is groot en omdat hy dikwels hoog op sy bene staan kyk jy hom moeilik mis. Hy is grotendeels grys en het helder oranje-rooi bene. Wanneer hy vlieg wys daar ‘n duidelike wit streep op sy kruis, en sy vlerkpunte is swart. Sien jy een wat soos hy lyk, maar wat bruinkleurig is, kyk jy na ‘n jongetjie. Op sy spyskaart is veral akkedisse, kleinerige voëls, muise en selfs kleinerige hase. In die Kalahari jag Bleeksingvalke dikwels saam met ratels. Die ratel grawe die muisgate oop en kom een weg, sak singvalk se kind vinnig op hom toe. Gemaklik, nê?

Nog ‘n algemene jagter, maar wat jy net in die somer sal sien, is die Bruin Jakkalsvoël (Steppe Buzzard). Hy kom tot so ver as uit Rusland (12 000km) vir ons kuier. Met ons winter gaan hy terug om o.a. te broei, wat beteken dat hy nie hier nesmaak nie. Dis ‘n bruin voël, maar moeilik om nader te beskryf, omdat daar soveel variasies van hom voorkom. Op die afbeelding is die variasie wat hier die meeste voorkom. Die geleerdes sê hy verkies insekte, maar prooi ook op klein voëls, muise, akkedisse en paddas.

Vir my die mooiste van die klomp, maar die “skaarsste” een op ons pale, is die Rooiborsjakkalsvoël (Jackal Buzzard). Hy is eintlik ook algemeen, maar verkies meer bergagtige gebied en sweef meer wanneer hy jag. Met ‘n bietjie geduld is die kanse egter steeds goed dat jy een sal raakloop. Hy is regtig ‘n pragtige voël met sy swart kop en skouers, geel en swart snawel en rooibruin bors met die spikkels wat onder sy pens verdwyn. Sy Engelse naam het hy gekry omdat hy baie soos ‘n jakkals roep. Hy kom net in Suider-Afrika voor en verkies groter maaltye soos dassies, fisante en selfs pofadders!

Source: Reinderd Visser
(Illustrasies uit SASOL se “Birds of Southern Africa“)

TWEE FISKALE VAN VERSKILLENDE VERE

Die een word soms Janfiskaal genoem, maar hy is beslis ‘n laksman – hy hang dan sy kos op! Nog volksname vir hom is Kanariebyter, Butcherbird en Jacky Hangman. Die ander een lyk baie soos hy, maar is beslis nie ‘n laksman nie. Hy lyk minder wreed, hang nie sy kos op nie en het selfs ‘n mooier stem. Fyn kyk, want albei kom in ons omgewing voor.

Kom ons begin by eersgenoemde, die Fiskaallaksman (Fiscal Shrike). Daar is heelwat stories oor hoe hy aan sy naam gekom het. In die dae van die ou Kaapkolonie het die senior regsoffisier as die fiskaal bekend gestaan en wit en swart gedra. Sommige fiskale het die reputasie gehad dat hulle die reg ferm – tot in die oortreffende trap – toegepas het. So ferm dat die “wreedhede” van die Fiskaallaksman, wat dieselfde kleure dra, met hul dade vergelyk is en hy daarom hul naam ge-erf het. ‘n Ander storie is dat belastinggaarders, wat blykbaar ook as fiskale bekendgestaan het, in die verre verlede so ongewild was dat hulle, om uitkenning te verhoed, die geld met ‘n masker oor hul oë ingevorder het.

Die Fiskaallaksman is die meer opsigtelike van die twee, want hy sit gewoonlik vir lang tye openlik op ‘n paal, telefoondraad of heining. Hy gebruik dit as uitkykpunt op soek na ‘n sappige sprinkaan, akkedis, muis of selfs klein voëltjie. Sy wit bors en swart rugkant met die wit strepe hoog op die vlerke is opvallend, en van naby kan jy sy stewige krompunt-bek sien. Sien hy ‘n eetdingetjie vanaf sy uitkykposisie sal hy daarop toesak, dit vang en (soms lewendig) aan ‘n pendoring of doringdraad ophang. Volgens die geleerdes doen hy die ophangwerk om meer as een rede – o.a. om die kos te stoor, maar dit is ook ‘n handige vashouplek as die prooi groot en ongemaklik is om met die eetslag te hanteer.

Die mannetjie kan ook die wyfie met die hoeveelheid prooi wat hy ophang be-indruk. ‘n Laksman baken vir homself ‘n gebied af en geen ander laksman sal dit naby sy jaggebied waag nie, tensy hy natuurlik lus is vir ‘n geveg. Laksmanne het ‘n skril, raserige stem, hoewel hy tog soms ander voëls se geluide probeer namaak. Luister mooi.

Die Fiskaalvlieëvanger (Fiscal Flycatcher) kan maklik met die laksman verwar word, want jy sal hom ook soms op ‘n oop plek sien sit en wag vir prooi, en hulle trek nogal op mekaar. Daar is egter ‘n paar verskille. Eerstens raas hy glad nie. Trouens, as hy geluide maak is dit sag en nogal melodieus. Sy bek het nie ‘n krom punt nie en is minder stewig, en hy het nie die laksman se regop houding nie. Die wit strepe op sy vlerke sit ook heelwat laer as die van die Fiskaallaksman. Sy prooi is kleiner insekte (sprinkane, miere, wurms) en hy hou van sy kos warm, daarom hang hy dit nie op om eers later te eet nie. Is daar ‘n rede waarom hy soos die laksman lyk? Die natuur is mos vol van insekte en diere wat ander om beskermingsredes naboots (bv. jong jagluiperds wat soos die taai ratel lyk). Die geleerdes sê die antwoord is voorlopig nee, dit is bloot toevallig.

Source: Reinderd Visser
(Illustrasies uit SASOL se “Birds of Southern Africa“)

UILE - JAGTERS VAN DIE NAG

Gevrees en geliefd – twee uiteenlopende beskrywings van ons gevoelens teenoor uile. Ek het dit eerstehands ervaar toe ‘n uil homself een aand teen ‘n muur katswink gevlieg het naby waar ‘n groep van ons gesellig verkeer het. Die meeste van ons het die voël se sagte vere en sterk kloue met groot belangstelling van naderby bekyk terwyl hy bygekom en voor hy uiteindelik weggevlieg het. Daar was egter iemand wat die gebeure erg traumaties ervaar het, omdat uile in haar kultuur nog beskou word as brengers van slegte boodskappe. Soveel so, sê sy, dat as iemand in haar gemeenskap ‘n uil sou vang, hulle dit dadelik sal doodmaak en verbrand. Sy het daardie nag sleg geslaap. En hoeveel bygelowiges voel nie steeds ongemaklik wanneer ‘n uil op die huis se dak sit of iewers in die donker roep nie? Hoe jy dan nou ookal oor hulle voel, uile is hier om te bly en vandag gesels ek oor die twee wat ek al in en om die dorp raakgeloop het.

Maar eers, wat is ‘n uil? Dit is doodeenvoudig ‘n roofvoël wat eens op ‘n tyd besluit het hy verkies om snags te jag. Om daarby aan te pas en beter in die min lig te kon sien, moes albei sy oë vorentoe skuif (arende en valke s’n sit mos aan die kant van die kop). In die proses het die krom snawel afgebuig om sig nog verder te verbeter (dis nie in die pad nie). Die vere het ook verander – hulle is sagter om die voël stiller te laat vlieg (anders hoor die prooi hom mos wanneer hy aankom). Uile se ore het ook aangepas om beter in die donker te kan hoor. Die kenmerkende gesigspatroon verbeter blykbaar ook die gehoor (dit dien as klankbord). ‘n Interessantheid is dat uile – soos wat ‘n kat haarbolle opbring – ook die oorblyfsels (hare, vere, bene, skelet ens) van hul prooi opbring, netjies in ‘n bondeltjie.

Die mees algemene uil hier by ons (en in die land) is die Gevlekte Ooruil (Spotted Eagle Owl) – daar is selfs ‘n klompie broeipare in die dorp! Dis ‘n groot, grys voël met groot, heldergeel oë, fyn dwarsstrepies op die bors en die kenmerkende vere op die kop wat soos ore lyk (die regte ore sit heelwat laer af). Hy eet wat beskikbaar is, maar verkies insekte. Gevlekte Ooruile is nie net die mees algemene uile nie, maar ook die grootste slagoffers wanneer dit by “padsterftes” kom. In die dorp vang veral jong uile insekte wat onder lamppale op die grond kruip en word so raakgery.

Ek het al op ‘n hele paar dooies afgekom (ry veral versigtig in Albertstraat). Op die oop pad sal hulle aan muise of voëls wat in die pad lê, vreet, deur ‘n motor se ligte verblind word en dan self doodgery word.

Die uil wat die aand by ons kom kuier het (en sekerlik ‘n kopseer gehad het daarna) was ‘n Nonnetjie-uil (Barn Owl). Sy goudkleurige rugkant, wit voorkant met fyn spikkels en hartvormige gesig met uitsonderlik klein ogies vir ‘n uil is sy duidelikste uitkenmerke. Dit is nog ‘n uil wat goed by die mens aangepas het en sal sommer maklik in ‘n kas broei wat vir hom teen ‘n paal of boomstam opgehang word. Boere sal kan getuig van Nonnetjie-uile in hul skure. Ek hoor Calitzdorp se NG kerk het ook sy eie broeipaar. En as jy wil hoor van ‘n mens se vriend – dis op rekord dat ‘n Nonnetjie-uilpaar een aand 24 muise binne 15 minute gevang en by hul nes aangebring het!

Source: Reinderd Visser
(Illustrasies uit SASOL se “Birds of Southern Africa“)

VISVANGERS - GEDULDIGE HENGELAARS, MEESTAL

‘n Leser het my in die lentetyd voorgekeer en van ‘n voëlnes in die wal van ‘n gat in haar agtertuin vertel. Die gat sou uiteindelik ‘n swembad word, maar sy het die bou van die swembad as gevolg van die nes met kuikens vir ‘n seisoen uitgestel. Prysenswaardig! En dit was ‘n visvanger se nes – of dan, ‘n Bruinkopvisvanger (Brownhooded Kingfisher).

Visvangers word mos gewoonlik met water vereenselwig – dis immers waar hulle kos is, soos hul naam sê. Dan sal jy dit dalk interessant vind om te hoor dat die Bruinkopvisvanger nie by die reëls vir visvangers hou nie, want hy vang nie vis nie! Hy verkies insekte en daarom sal jy hom eerder weg van water as langs water kry.

Daar is ‘n paar wat gereeld in die lande langs Baron Van Reede straat naby die Riempie-uitbreiding jag. Kyk maar net op die heining of telefoondraad vir ‘n bruinerige voël met donker bo-vlerke, waarvan die rante ‘n blou skynsel het, ‘n blou stert en kruis en ‘n sterk, rooi visvangerbek met ‘n donkerige punt. Naas insekte is krappe, akkedissies, muisies, skerpioene en selfs klein voëltjies en slangetjies op Bruinkopvisvanger se spyskaart!

Gelukkig hou die ander drie visvangers, wat gereeld in ons omgewing te siene is, by die visvanger-reëls en is die kans goed dat jy hulle in die omgewing van die rivier of by ‘n dam sal sien. Die kleinste van die drie is ook die een met die mooiste kleure. Die Kuifkopvisvanger (Malachite Kingfisher) het ‘n helderrooi bek en pote, ‘n helderblou rugkant, ‘n groenblou kuif, ‘n duidelike wit strepie aan sy nek en oranjekleurige onderkant. Jy kan gewoonlik sy kleure waardeer waar hy op ‘n riet of ander uitkykpunt naby water sit en stip na die water kyk, om dan blitsig agter ‘n vissie of paddavissie aan in te duik. Die pragtige blou op sy rugkant is veral mooi sigbaar wanneer hy van jou af wegvlieg.

Die swart en wit Bontvisvanger (Pied Kingfisher) is die mees sigbare visvanger in ons omgewing. Dit is omdat hy so ‘n unieke manier van jag het – hy sal gewoonlik vlieg tot waar hy dink prooi is en dan met vinnige vlerkklap ‘n meter of drie, koponderstebo, bokant die water hang. Sien hy ‘n potensiële happie sal hy in die water duik, met die vis te voorskyn kom, op ‘n tak gaan sit, dit teen die tak doodslaan en dan kop eerste insluk. As jy jou vriende wil be-indruk kan jy vir hulle sê die mannetjie het twee swart strepe op die bors terwyl die wyfie net een het. Is die voël op die afbeelding ‘n mannetjie of ‘n wyfie?

Die Reusevisvanger (Giant Kingfisher) doen sy naam gestand deurdat hy beslis die grootste van ons visvangers is. Met die grootste mond ook! Jy hoef net een oggend deur die skril “wak-wak-wak” wakker gemaak te word om te weet – hier het nou net ‘n Reusevisvanger verbygevlieg! Sy grootte, stewige bek, swart kop en swart rugkant met wit spikkels maak hom onmiskenbaar.

Ek het al ‘n paar in die Riempie-uitbreiding en ander by damme in die omgewing opgemerk. Die mannetjie en wyfie se onderkante lyk verskillend. Op die afbeelding is ‘n mannetjie (bruin onderkant), terwyl die wyfie ‘n swart onderkant het met die bruin laer af. Sy stapelvoedsel is vis, krappe en paddas.

Source: Reinderd Visser
(Illustrasies uit SASOL se “Birds of Southern Africa“)

DIE VOLSTRUIS - LEEU VAN DIE KLEIN KAROO

‘n Reeks artikels oor voëls in die Klein-Karoo sal nie volledig wees as mens nie ten minste iets oor hierdie eienaardige, en tog fassinerende, voël sê nie. Ek het op soek na inligting anders as die algemene swaar geleun op Dawid van Lill se boekie “Wonderlike Diere van Suid-Afrika”. Ek hoop sy feite is min of meer korrek.

Om mee te begin, dis maklik om ‘n volstruis (ostrich) uit te ken. Kyk jy na ‘n voël wat hoër staan as al die ander om hom (tot 2.5m hoog), wat vinniger hardloop (tot 70km/h), swaarder weeg (tot ‘n allemintige 180kg), groter en swaarder eiers lê (tot 1.75kg) en ‘n langer nek en bene as enige ander voël het, kyk jy ongetwyfeld na ‘n volstruis. Maar dit het jy darem geweet, nie waar nie? Dit is regtig ‘n unieke voël hierdie en boonop ‘n voël wat sommer ‘n lang lys rekords op sy kerfstok het, soos ek so flussies genoem het. Daar is nog. Selfs wat hy eet kan hom moeilik nagedoen word.

Jy weet tog self watter snaakse voorwerpe benewens klippe al uit volstruis se maag gehaal is – skoene, vonkproppe, draad, spykers, tennisballe, bottels, geld . . . ! Hy is natuurlik deel van ‘n uitsonderlike groep voëls oor die wêreld, soos die kiwi in Nieu-Seeland, die emoe in Australië en die rhea in Suid-Amerika, wat van vlieg niks wil weet nie. Maar wie wil nou vlieg as jy so vinnig kan hardloop?

Die kenners sê dat daar in Afrika 5 volstruis subspesies was, een het intussen uitgesterf. Tussen die spul is daar boonop in elke streek volstruise met eie kenmerke (hulle praat van die Red-neck van Kenia, die Blue-neck van Zimbabwe en natuurlik die SA Black). Sommige is kleiner as ander en by sommige is daar selfs ‘n verskil in die kleur van hul oë! Maar het jy geweet dat daar heel waarskynlik NIE EEN volstruis in die Klein-Karoo is nie? Wel, beslis nie vir voëlkykers nie. Hulle beskou die volstruise in ons omgewing as niks anders as hoenders nie – “mak” voëls in “hokke”. Die wilde volstruise wat aanvanklik hier was is meeste al uitgebaster en in broeikaste uitgebroei. Om ‘n volstruis op jou jaarlys af te merk (of lewenslys vir toeriste wat na Suid-Afrika toe kom om hul internasionale lys aan te vul) is die naaste merkbare, of “wilde” volstruise, waarskynlik in die Karoo Nasionale Park.

Hier is nog ‘n paar interessante volstruis-feite: ‘n Feit oor die eier wat ek al vergeet het, is dat dit blykbaar die grootste enkele sel is wat in die wêreld bestaan. En het jy geweet dat ‘n volstruis se senings gebruik kan word om ‘n mens s’n te vervang? En dat motorvervaardigers deesdae die vere gebruik om statiese stof van die bakwerk te verwyder voordat hulle dit verf? Is volstruise al as vervoermiddel gebruik? Blykbaar wel, ‘n Egiptiese koningin het 2000 jaar gelede met ‘n sysaal op ‘n volstruis gery, en hulle is selfs voor waens ingespan! Boesmans van ouds het die doppe gebruik om water te stoor, en die Prins van Wallis se wapen het 3 pluime in.

Druk ‘n volstruis sy kop in die sand? Nog nie terwyl ek gekyk het nie. Kuikens (en die ma op die nes) sal egter plat op die grond lê en hul nekke op die grond uitstrek om nie raakgesien te word nie. En as jy gewonder het hoekom volstruise sulke lang nekke het . . . wel . . . . hoe anders dink jy sal die kuikens by die tepels kan uitkom om te suip?

So kan mens aangaan, daar is nog so BAIE oor die volstruis te sê, maar hier roep ek eers halt!

Source: Reinderd Visser
(Illustrasies uit SASOL se “Birds of Southern Africa“)

VREESLIKE VAAL VOËLTJIES - LEWERIKKE

EK dreig al lankal om weer oor die moeiliker identifiseerbare voëls in die Klein Karoo te skryf. Gereelde lesers sal onthou dat ek in ‘n stadium oor die vrolike, vlerkflappende spekvreters (chats) gesels het – sulke enerslykende vaal voëls wat moeilik is om van mekaar te onderskei as jy nie al ‘n bietjie gekonfyt is met voëls uitken nie. Die Engelse noem hierdie tipe voëls El Bee Jay’s (afkorting vir Little Brown Jobs!), en daar is heelparty van hulle. Ek praat in Afrikaans sommer van die VVV’s – ons eie vreemde vlieënde voorwerpe, of dan: Vreeslike vaal voëltjies!

Vandag se klompie, genoem lewerikke (larks), maak deel uit van ‘n groot familie in Suid-Afrika. Daar is meer as 30 van hulle, en in die veld is die een so vaal soos die ander! Van die 30 kom ten minste ses by ons voor (nie almal is afgebeeld nie), en, boeta, hulle sal jou besig hou! Hulle word boonop maklik met die koesters (pipits) verwar. Oor die koesters skryf ek volgende keer.

Een van die lewerikke wat jy straks gereeld sien sonder dat jy dit besef, is die Rooikoplewerik (Redcapped Lark). Hy is so ‘n bietjie kleiner as ‘n kwikkie en lief daarvoor om op of langs teerpaaie en veral grondpaaie te wei. Wanneer ‘n motor nader, sal hy na die padrand toe hardloop of oor die heining vlieg. Kry jy egter die kans om hom van naby te bekyk, sal sy duidelike rooi kop jou vertel wie hy is. Wanneer hy opgewonde raak, wys hy ‘n duidelike kroon.

Die Dikbeklewerik (Large-billed Lark) is die lewerik met seker die mooiste roep – ‘n sagte en amper treurige, maar musikale, melodie. Hou vroegoggend langs die pad stil en klim uit. Die kans is goed dat jy dié lewerik se roep sal hoor as jy binne sy verspreidingsgebied is. Hy is groter as die rooikoplewerik met duidelike strepe op sy bors en hou, soos die rooikoplewerik, van Karooveld, oop grasveld en oorbeweide lande.

Die grootste van die lewerikke is die Karoo-langbeklewerik (Karoo longbilled lark). Waarom so ‘n lang naam? Want daar is vier ander langbeklewerikke elders in die land, elk met sy eie naam (soos die Weskus-langbeklewerik en Kaoko-langbeklewerik). Ek moet erken, van hom het ek nog min hier te siene gekry. Boere het egter dalk al vroegoggend sy pronkroep gehoor of hom in aksie gesien – hy vlieg loodreg in die lug op en dan val hy met ‘n “tjioooooo” (hoog na laag) terug grond toe. Hy verkies eerder kliprante bo die plekke wat eersgenoemde twee verkies.

Twee uiteenlopende maar pragtige voëls as jy hulle eers kan uitken, is die Karoolewerik (Karoo lark) en die Vlaktelewerik (Spike-heeled lark). Die Karoolewerik hou van die klipperige Karooveld, veral waar daar heelwat struike is. Die vlaktelewerik, ‘n roesbruin voëltjie met ‘n dun, langerige snawel en baie kort stert, hou daarvan om in groepies saam te wei. Die laaste lewerik wat ek al hier gesien het, is die Hoëveldklappertjie (Cape clapper lark). Hy kry sy naam van sy pronkvlug. Die mannetjie vlieg Oktober tot Februarie die lug in op, klap-klap sy vlerke hoorbaar en vinnig, en val dan met ‘n “foeeee” (laag na hoog) af grond toe. Kyk gerus uit vir dié vaal insekvreters in jou omgewing.

Source: Reinderd Visser
(Illustrasie uit SASOL se “Birds of Southern Africa“)

Voëls van ons Kontrei 4

Voëls van ons Kontrei 4

VOËLS VAN ONS KONTREI

VREESLIKE VAAL VOËLTJIES - KOESTERS

As jy die lysie van voëls wat in die Klein-Karoo voorkom so volledig moontlik wil hê is dit onvermydelik dat die rêrige vaal voëls ook ter sprake sal kom. Verlede keer het ons juis oor die lewerikke (larks) gesels en glo my, die einde is nog glad nie in sig nie. Vandag dan die tweede van ons familiegroepe VVV’s – of dan Vreeslike Vaal Voëltjies – die Koesters (Pipits) van Kannaland.

Net soos die lewerikke is die koesters ook ‘n groterige familie – so 15 landwyd – waarvan ons definitief twee, maar dalk drie of moontlik selfs vier by ons kry. Die groot probleem is – koesters en lewerikke lyk so na aan mekaar dat jy nie net sukkel om een koester van ‘n ander te onderskei nie, jy kan selfs sukkel om die twee spesies van mekaar te onderskei! Hoe’s daai vir jou?

Kom ek gee eers ‘n riglyn of twee oor hoe om die twee spesies van mekaar te onderskei voor ek oor die koesters selfs gesels. (Glo egter vir my, dit gaan beginners min help. Dis leeuwêreld dié.)
Koesters lyk meer dikwels maer en slank met langer bene; hulle loop meer. Lewerikke lyk gewoonlik meer bonkig/stewig en wip meer. Meeste Koesters wip hulle sterte. Koesters se bene is duidelik pienk of pienkbruin. Lewerikke se bene is meesal ‘n dowwer pienkbruin tot donkerbruin. Koesters vlieg op en dip dan. Hulle vlieg merkbaar golwend. Lewerikke vlieg ook golwend, maar meer reguit en sterk.

As jy na al bogenoemde nog hier lees wil jy regtig meer weet van ons vaal voëltjies! Dankie vir jou deursettingsvermoë.

Die mees algemene koester hier by ons is die Gewone Koester (African Pipit – sy ou naam was Grassveld Pipit). Hy is lief daarvoor om langs die pad te wei, maar sy gunsteling plek hier by ons is oop grasvelde. Staan een dag ‘n bietjie by enige stuk grasveld stil en kyk hoe lank dit neem voor jy ‘n beweging in hierdie oënskynlik voëllose stuk aarde sien. As jy gelukkig is sal een selfs met ‘n “tjissit!” opvlieg en golwend in ‘n rigting vlieg. Kry jy hom van naby te siene sal jy duidelike strepe op sy bors sien en sy buitestertvere is wit. Hy is geneig om sy stert soos ‘n kwikstertjie so 1 tot 3 keer te wip wanneer hy gaan staan.

Koester nommer twee is die Nicholsonse Koester (Long-billed Pipit) en hom kry jy eerder op klipperige heuwelrante met min gras. Sy buitestertvere is meer vaal as wit en die strepe op sy bors is ligter. Hy wip sy stert ook baie min, indien ooit. Wanneer hy opvlieg sal hy ‘n metaalagtige “kilienk” geluid maak.

Die laaste twee het ek nog nie hier gesien nie. Die kanse dat jy die Klipkoester (African Rock Pipit) wel in die Swartberge met geluk of ‘n groot gesoek sal kry, is redelik goed. Dit is ideale habitat vir hom daardie, maar hy ontwyk my al vir jare. Hy is lief vir berghange, steil klipheuwels en Karoo-koppies. Die probleem is, hy is baie skugter, jy moet sy roep ken om hom op te spoor. Hy staan gewoonlik regop op ‘n klip met sy neus in die lug wanneer hy sy “triee-terrooe” liedjie sing. Die Donker koester (Plain-backed Pipit) het ek ook nog net aan die seekant van die Outeniekwas gesien, maar kan wel hier voorkom. Kyk, hy is nou vir jou regtig vaal!! Sy buitestertvere is vaalbruin en verder het hy bitter min uitkenmerke. Sien jy ‘n koester in afgebrande veld moet jy kyk of dit nie hy is nie, dis ‘n gunsteling-kuierplek vir hom.

Source: Reinderd Visser
(Illustrasie uit SASOL se “Birds of Southern Africa“)

VREESLIKE VAAL VOËLTJIES - LANGSTERTJIES

Soos ek in die vorige geselsie gewaarsku het – nog is dit het einde niet! En dan word die VVV’s boonop al hoe kleiner ook nog! Vandag kyk ons na die Klein-Karoo se kleine Langstertjies. Langstertjies het darem een kenmerk wat hulle maklik onderskei van die ander vaal voëltjies – hulle het regtig lang stertjies soos hul naam ons wil laat glo, met drie wat hier by ons voorkom. Wat hulle besonders maak is dat hulle endemies is, m.a.w., jy kry hulle net in Suider-Afrika. Trouens, een kom net in die Karoo-streke voor!

Die eerste twee Langstertjies wat jy hier kry skep nogal probleme wanneer jy hulle van mekaar wil onderskei, juis omdat hulle so na aan mekaar lyk. Dit help nogal as jy weet hoe hul roepe klink en waar om hulle te verwag (hul habitat). Die derde Langstertjie het gelukkig duidelike merktekens op die gesig wat uitkenning vergemaklik. (Langstertjies het almal pienkrooi beentjies.)

Die voorbarige Karoolangstertjie (Karoo Prinia) is die mees algemene langstertjie by ons. Jy kry hom gereeld in sowel die fynbos-areas as ons Karoostruike, wat vertaal met – feitlik orals. Kyk jy na die illustrasie sien jy duidelike strepies op sy geelwit bors. Hy is lief om sy stertjie so te wip-wip en as jy hom steur, sal hy maklik op ‘n takkie gaan sit en luidkeels “tweet-tweet-tweet” protesteer. Pleks hy is nie so voorbarig nie, want so adverteer hy sy teenwoordigheid aan die verkeerde voëls! Diederikke (Diderick Cuckoos) en Meitjies (Klaas’s Cuckoos) stel beslis belang in waar hy is, of sy nes, want hul wyfies lê hul eiers in Karoolangstertjies se neste en die langstertjies moet so die parasiterende kuikens grootmaak!

Heelwat skamer as hy is ons eie Namakwalangstertjie (Namaqua Warbler). Ek sê ‘ons eie’, want hom kry jy net hier by ons en in die Karoo. Ernstige voëlkykers ry van heinde en verre om hom hier te kom soek! Die strepies op sy spierwit bors is ligter en jy kry hom veel eerder in riete naby water en in doringbome in droë rivierlope as in die fynbos en Karoostruike. Hy kom as gevolg van sy skugterheid ook nie so maklik tussen die takke uit soos ons vriend hier bo nie. Sy roep gee hom egter weg – anders as die Karoolangstertjie se “tweet-tweet” klink sy roep byna soos ‘n metaalbal wat op ‘n plaat val – “tiek – – – tiek – – tiek – tiek-trrrrrrrr”.

Dan is daar die Rooioorlangstertjie (Rufous-eared Warbler). Met sy wit oogbank en duidelike rooi wange asook die dun swart band op sy wit bors is hy die maklikste om uit te ken. Jy soek hom ook in droë areas in die Klein-Karoo waar daar net lae struike voorkom (ek sien byvoorbeeld heelwat van hulle in die omgewing van die vliegveld). Hy wei grotendeels op die grond tussen hierdie struike en sal so nou en dan op ‘n die top van so ‘n struik gaan sit om die wêreld te vertel hy is nog baas. Laasgenoemde twee hou van klein vrugte, terwyl al drie se hoofdieët ‘n groot verskeidenheid ongewerweldes is.

Source: Reinderd Visser
(Illustrasie uit SASOL se “Birds of Southern Africa“)

VREESLIKE VAAL VOËLTJIES - TINTINKIES

‘n Mens kan kwalik kleiner as dit gaan. En valer! Sommige van hierdie outjies kan jy feitlik net van hul neefs onderskei deur te weet hoe hul geluide klink en waar jy hulle hoor of sien. Ek stel bekend – die Tinktinkie familie, waarvan seker die heel moeilikste kalante – die Klopkloppies – ook deel is. Die land is boonop vol van beide so waar jy kom, is jy in die moeilikheid. Nie net omdat hulle so eenders lyk nie, maar omdat hul kleurskakerings in die verskillende streke ook nog verskillend is. Maar moenie dat dit jou afskrik nie, as jy in die veld gaan stap, luister en kyk tog of jy nie een van hulle raakloop nie.

Ek het al drie soorte tinktinkies hier by ons raakgeloop en al drie kry jy sommer hier om die dorp. Een wat ek gereeld in die veld naby die dorp (byvoorbeeld agter die hospitaal en naby die nuwe gevangenis) raakloop is die Grysrug-tinktinkie (Grey-backed Cisticola). Hy is lief vir die fynbos in die Swartberg en Outenikwa omgewing, maar is net so tuis in die Karoo-struike van die Klein-Karoo. Soos sy naam sê het hy ‘n grys gevlekte rug en vir wat dit werd is – sy stert is effe langer as ander tinktinkies. Dit is egter sy pragtige roep wat jou aandag sal trek – ‘n borrelklank gevolg deur drie hoë note. Hy is ook glad nie skaam nie.

Sy neef wat meer van water hou en wat jy in die riete langs riviere (ook die Grobbelaarsrivier), by vleie en damme sal kry is die Vleitinktinkie (Levaillant’s Cisticola). Sy rug is donkerder gevlek as die Grysrugtinktinkie en hy het ‘n rooi stertjie. Sy geluid is byna die omgekeerde van eersgenoemde – 1 tot 3 nootjies en dan ‘n borrelgeluid. Ook hy is nie skaam nie – hy sal oop en bloot sit en gesels met wie ookal belangstel om te luister.

Die derde tinktinkie is die feitlik totaal grys Neddikkie (Neddicky) met sy kort stert en roesrooi mussie. As jy op ‘n warm somersdag in die veld kom is die kanse goed dat jy sy treurige en aanhoudende ‘tjirrie-tjirrie-tjirrie’ geluid sal hoor, amper soos ‘n onge-oliede kruiwawiel. Dit is die mannetjie wat besig is om sy gebied te verklaar.

Die enigste van die klopkloppies wat ek al hier raakgeloop het, is die Landeryklopkloppie (Zitting Cisticola, vroeër Fan-tailed Cisticola). Boere sal hom beslis al gehoor het – vroegoggend en hoog bokant lusern landerye, grasvelde en braakland is daar dikwels ‘n aanhoudende ‘tjik . . . tjik . . . tjik’ roep. Dis hy daardie. Ek hoor hulle selfs hier binne die dorp, bokant die landerye langs die rivier. Spoor jy die pronkende mannetjie tussen 10 en 50 meter die lug in op, sal jy sien dat hy met elke ‘tjik’ duik – alles deel van sy pronkvlug om die meisies te beindruk. Gaan sit hy, wikkel hy sy stert wild van kant tot kant. Parmantig!

Daar is nog een groep vales waaroor ek wil gesels – die Sangers. Onthou ook, hoe vaal hulle ookal mag lyk, hulle is almal deel van die omgewing en speel so elkeen hul rol om die eko-sisteme gesond te hou.

Source: Reinderd Visser
(Illustrasie uit SASOL se “Birds of Southern Africa“)

VREESLIKE VAAL VOËLTJIES - SANGERS (1)

Ek sal verstaan as jy teen hierdie tyd die oënskynlik eindelose lys vaal voëls uiters moeilik vind om te verteer. Hoeveel is daar dan? Byt vas, die einde is naby. Tog hoop ek dat dit jou tot dusver onder die indruk gebring het van watter groot verskeidenheid gevleueldes hier in die Klein-Karoo voorkom. Hierdie rubriek is al ‘n hele paar jaar aan die gang en die meer as 130 voëls (gekleurd en vaal) waaroor ek en my voorgangers tot dusver gesels het, kom ALMAL hier in die Klein-Karoo voor!

Vandag se drie is weer van daardie erge vales – kan jy hulle van mekaar onderskei as jy na die afbeeldings kyk? Dink net hoe moeilik dit in die veld sal wees wanneer jy hulle nie langs mekaar sien nie. Ten minste sal jy weet dis ‘n sanger wanneer jy een van hulle raakloop, en hul roepe help darem ook. Voordat ek oor die sangers gesels net eers ‘n opmerking oor hul Engelse name. Die Engelse name van alle Suider-Afrikaanse voëls is onlangs gestandardiseer om in pas te kom met die name van voëls wêreldwyd. In die proses het heelwat voëls se name verander en vandag sien jy ‘n goeie voorbeeld hiervan. (Dieselfde proses sal hom heel waarskynlik binnekort met die Afrikaanse name herhaal).

Kom ons begin by die Kaapse Rietsanger (Lesser Swamp-Warbler, vroeër African Reed Warbler). Hom kry jy nooit vêr van water af nie – hy is altyd tussen riete en ander oewerplantegroei. Trouens, hy is meeste van die tyd naby of op stingels reg langs die waterrand waar hy soek vir kos. Hy is nie ‘n skaam voëltjie nie en het ‘n pragtige, melodieuse, borrel-liedjie.

Die Kaapse Vleisanger (Little Rush-Warbler, vroeër African Sedge Warbler) daarenteen is nogal skugter, maar sy geluid is kenmerkend. Dit klink soos iemand wat ‘n stok teen ‘n fietswiel hou en dan die wiel al vinniger draai – ‘krrup . . . krrup . krrup krup krup-krupkrup.’ Vir wat dit werd is, hy het fyn strepies op sy bors waar eersgenoemde voor heeltemal wit is. Hy is ook effe “verder” van die waterrand af, maar steeds in digte plantegroei naby water.

Ons derde en effe kleiner sanger as die vorige twee, die Kleinrietsanger (African Reed Warbler vroeër African Marsh Warbler), noem ek sommer die drieroep-voëltjie. Hy sê alles drie keer oor, bv. ‘tuk-tuk-tuk/tiek-tiek-tiek/tjerie-tjerie-tjerie’. Hy verskil in nog twee opsigte van die ander 2. Eerstens sal jy hom maklik verder van water af kry (ek het hom al in struike in die dorp, ‘n hele ent weg van die rivier af, gekry), en tweedens hou hy nie van ons winters nie en en wyk dan noordwaarts. Jy sal sy kenmerkende roep dus net in die somer hoor.

As jy dalk in die omgewing van een van ons riviere of damme met riete stap, kyk of luister dan gerus of jy nie een van hierdie sangertjies raakloop nie. Volgende keer vertel ek van nog 3 sangers.

Source: Reinderd Visser
(Illustrasie uit SASOL se “Birds of Southern Africa“)

VREESLIKE VAAL VOËLTJIES - SANGERS (2)

Die naam “Sanger” is eintlik ‘n baie losse begrip vir ‘n groot groep voëls wat onder hierdie versamelnaam ingedeel word. Erger nog, sommige in hierdie groep het selfs nie “sanger” in hul naam nie. Dan is daar boonop voëls wat nie in hierdie groep val nie wat ewe mooi, indien nie mooier nie, kan sing. Dink maar aan die pragtige klanke van die Kaapse Kanarie (Cape Canary) – ‘n saadvreter – waar hy vrolik heel bo in ‘n boom sy liedjies sing. Musiek! Wel, ek het nie die indelings gedoen nie so kom ons beur voort! Ons gesels vir oulaas oor drie klein vaal voëls, wat toevallig ook sangers is. Hulle is lief vir dié areas in die Klein-Karoo waar struike, doringbome en ruigtes meer prominent is. Ek weet nie van die ander dorpe in Kannaland nie, maar ek het nog nie een van hulle in Oudtshoorn self opgemerk nie.

Vandag se vaal sanger nommer 1 is die Kaapse Kapokvoël (Cape Penduline-Tit). Al sien ek hom nie gereeld genoeg nie (ek kom bloot nie genoeg in sy omgewing nie) is hy een van my allergunstelinge, net omdat ek dink dat hy een van die slimste en mooiste nessies van al die voëls in ons omgewing bou! Ek reken hy kry sy Afrikaanse naam van een van die plante waarvan hy sy nessie bou – die sogenaamde Kapokbos (vir die plantkenners – Eriocephalus spesies, onder andere E. ericoides en E. africanus,– dankie Louis van Minwater). Hy gebruik die katoenagtige dons asook spinnekopweb en selfs skaapwol om ‘n sagte, ovaalvormige saknessie te bou. Die afbeelding wys die nessie. Let net mooi op, die opening wat jy sien is ‘n VALS opening om slange en ander potensiële vyande te kul!! Die regte ingang is daaronder weggesteek – so ‘n lippie wat hy met een poot oplig en wat weer platval sodra hy binne is. Net dat jy weet, dit neem tot 30 dae om hierdie meesterstuk te bou wat hy met spinnekopweb aan ‘n tak vasmaak. Uniek! En die egpaar bly heeljaar in hom, nie net wanneer hulle broei nie. Laat hom dus maar hang as jy een raakloop.

Moenie mislei word deur nommer 2 se naam nie – jy moet maar mooi kyk om die Geelpensbossanger (Yellow-bellied Eremomela) se geel pensie raak te sien. As ‘n mens vinnig kyk, verwar jy hom sommer maklik met die Kapokvoël. ‘n Paar minute met ‘n verkyker sal egter sy ware kleure na vore bring – hy is altyd ooraktief aan’t kos soek en sal een of ander tyd sy geel onderkant vir jou flits. Het jou! Hy het ‘n bakvormige nessie en ai, as die Meitjie (Claass’s Cuckoo) dit ontdek, lê sy gou-gou haar eier daarin en bossanger-ma moet ‘n ander ma se kind grootmaak.

Die Hofsanger (Willow Warbler) is vir my een van die daardie merkwaardige voëltjies wat jy dadelik respekteer sodra jy weet wat hy jaar vir jaar vermag! Hy is ‘n somerbesoeker, soos baie ander voëls (byvoorbeeld sommige swaeltjies, ‘ n paar roofvoëls en meeste koekoeke). Die verskil is, hy is klein – op sy swaarste 10 gram (hoeveel weeg die bottertjies wat jy in ‘n restaurant kry? 12 gram?) – en hy vlieg in ons herfstyd van bossie tot bossie tot so vêr as Finland! Hy kan mos nie sweef nie. Net om weer die volgende lente al die pad terug te vlieg hiernatoe.

Source: Reinderd Visser
(Illustrasie uit SASOL se “Birds of Southern Africa“)

KLEURVOLLE SANGERS

Dis nou eers genoeg van Vreeslike Vaal Voëls! Vandag gesels ek wat voorkoms betref oor ‘n paar uiteenlopende voëls, maar wat tog losweg nog onder die sangers gesorteer word.

Die kleinste van die spul dra ‘n mooi naam – Bandkeelkleinjantjie (Bar-throated Apalis). Die swart halssnoer om die keel wys duidelik waar hy sy naam vandaan kry. En om een of ander rede hou ons Afrikaanssprekendes van die naam Jan, want dit kom nogal gereeld by naamgewing van ons voëls voor.

Daar is Janfrederik en Jangroentjie, met ‘n volksnaam soos Jan-Tatterat ook in die rondte. (Ken jy nog ‘n paar voëls waarin die naam Jan voorkom?) Die Bandkeelkleinjantjie is lief vir struike en kan maklik in die tuine op ons dorpe waar daar genoeg struike is gesien word. As insekvretertjie beweeg hy al langs die stamme op op soek na enige klein insekte wat dit sou waag om te beweeg met hom in die omgewing.

Baie voëls het hul name te danke aan die geluide wat hulle maak. Dink maar aan die klompie waaroor ons al in die verlede gesels het – Piet-my-vrou, Hoep-hoep, Hadeda, Bokmakierie en Meitjie. Wel, vandag voeg ons nog een by ons lys – die Bosveldtjeriktik (Chestnut-vented Tit-babbler). As jy lief is om in ons karoo-veld te gaan stap, is die kanse goed dat jy al een of ander tyd ‘n tjrrrriktik-geluid uit ‘n struik hoor kom het – tjeriktik se kind.

Gaan soek hom ‘n slag, dit is ‘n uiters mooi voëltjie! Wat mens eerste opval is sy pragtige kristalhelder oë!

Dan het hy sulke donker strepies onder sy grys bors met die mooi kastaiingbruin onderstertvere as afronding. Pragtig! Hy het ‘n neef wat byna net soos hy lyk wat jy ook hier rond kan opmerk (hy is al selfs op Oudtshoorn gesien!), maar dié is heelwat skaarser, sonder die kastaiingbruin onderstertvere en ook sonder die tjrrriktik geluid. Sy naam is Grystjeriktik (Layard’s Tit-babbler).

Die Grasvoël (Cape Grassbird), is die laaste van ons voëls vir vandag. Soos sy naam sê verkies hy grasse en daarom is dit nie snaaks dat ek hom die gereeldste in die restoides teen die Swartberg-pas sien nie. Hy is glad nie skaam nie en sy kenmerkende roep sal gou jou aandag op hom vestig. Ek glimlag altyd as ek sy deurmekaar stert sien – waar kry hy daardie verslete stert vandaan? Grasvoëls is soos alle sangers insekvreters. Sy kos soek hy op die grond tussen die grasspriete en hy hou van torre, sprinkane en wurmpies, met ‘n saad of twee vir nagereg.

Source: Reinderd Visser
(Illustrasie uit SASOL se “Birds of Southern Africa”)

WINDSWAELS - GEEN DRAADSITTERS

Toe ek oor die verskillende swaeltjies in ons kontrei gesels het, het ek genoem dat hulle glad nie familie van windswaels is nie. Wanneer jy hier klaar gelees het sal jy verstaan hoekom. Daar is maar min ooreenkomste tussen die twee groepe.

Windswaels is letterlik geen draadsitters is nie. Anders as die meeste swaels kan hulle glad nie op ‘n draad of tak, of selfs op die grond, sit nie – hul onderontwikkelde beentjies is nie aangepas daarvoor nie. Daarom verkies hulle om teen ‘n muur, rotswand of boomstam aan hul kort kloutjies te hang. Maar dié doen hulle ook net wanneer hulle nesbou, broei of saans gaan slaap. Verder is hulle heel dag in die lug, druk besig om na vlieënde insekte of fyn donsies te soek.

Ek dink nie dat daar ander landvoëls is wat langer as hulle in die lug bly nie – daar is immers van hulle wat selfs snags in vlug slaap! Swaeltjies sal darem so nou en dan gaan sit om te rus of te gesels. (Seevoëls is, wat lang tye in die lug bly, in ‘n klas van hul eie. Daar is sommiges wat selfs maande in die lug bly!)

As daar waar jy woon windswaels is, hou hulle dop wanneer hulle vlieg – jy kan hulle hoog in die lug opspoor deur te luister vir die skril skreegeluid wat hulle meeste van die tyd maak. Anders as die swaels wat egalig vlerke klap en soms lang ente sal sweef, klap windswaels hul lang, geboë vlerke ongemaklik vinnig en sweef net kort ente. Verder is windswaels donker voëls met wit uitkenmerke hier en daar. Swaels daarenteen het beslis meer kleur.

Swaels gebruik meestal klei om hul neste te bou. Windswaels gebruik die fyn donsies en gras wat hulle in die lug vang (stel jou voor hoe lank dit neem om genoeg bymekaar te maak) om hul neste mee te bou. Hulle plak die neste met speeksel aanmekaar – in Asië is windswaelneste wat net uit speeksel bestaan en word deur die plaaslike mense ge-oes om te eet! Dit gebeur ook dikwels dat ‘n windswael ‘n Grootstreepswael uit sy nes sal dryf om dit dan self te gebruik.

Ek het al vier soorte windswaels by ons opgemerk. Die eerste twee, die Kleinwindswael (Little Swift) met sy ronde stert, en die Witkruiswindswael (Whiterumped swif) met sy swaelvormige stert, is somertyd in groot getalle op die dorp te sien. Laasgenoemde gaan wintertyd Noordwaarts. Die Witpenswindswael (Alpine Swift) hou van die berge en kranse, maar hulle kom tog nou en dan – veral in die wintertyd – op die dorp ‘n draai maak. Hulle is die grootste van ons windswaels en voorwaar ‘n plesier om in vlug dop te hou. Rats en vinnig se moses! Terloops, die vinnigste voël in gelykvlug, teen 170km/h, is juis ‘n soort windswael, maar hy kom nie in Suid-Afrika voor nie. (Die Swerfvalk duik teen tot soveel as 350km/h.)

Hier is natuurlik ‘n windswael in ons kontrei wat heeltemal buite sy verspreidingsgebied kom kuier het – die Palmwindswael (Palm Swift) – wat ongereeld by die CP Nel-museum en Seppie Greeff-gebou se palmbome opgemerk word. Hulle is egter so skaars dat ’n mens hulle net met groot geluk raaksien. Kyk mooi na die illustrasie – die lang, spits stert is ‘n duidelike kenmerk.

Source: Reinderd Visser
(Illustrasies uit SASOL se “Birds of Southern Africa“)

WITOOG - BESOEKERS IN JOU TUIN

Hoe langer ek met hierdie artikels besig is hoe meer kom ek agter dat daar sommer ‘n groot getal lesers is wat – veral as dit by die voëllewe in hul tuine kom – fyn oplet wat om hulle gebeur. Weereens dankie vir al die oproepe en geselsies op straat, ek geniet die uiters interessante gewaarwordinge wat julle met my deel! Hierdie tyd van die jaar is daar die ekstra bonus dat die voëls ywerig nesmaak, kyk gerus hoeveel verskillende voëlneste jy in jou tuin kan tel. Jy sal verras wees hoe vaardig en uitgeslape hulle kan wees. ‘n Spekvreter het juis ‘n interessante nes in die saal van die museum gebou, kompleet met klippies wat paadjie maak tot by die nes.

Lente en vroeg-somer is ook vrugtetyd en dan is voëls vir baie tuiniers nie die gewildste besoekers aan hul tuine nie, veral nie as die voëls vrugtevreters is nie. Vandag se twee – die Kaapse Glasogie (Cape White-eye) en die Kaapse Tiptol (Cape Bulbul) – is ook nie altyd onskuldig nie. Ek ken die frustrasie van ‘n vrug pluk en dan is daar ‘n groot gat in gevreet. ‘n Mens moet seker maar ‘n keuse maak of jy die vrugtevreters in jou tuin hul deel sal gun aldan nie, ek weet dat windbukse hierdie tyd van die jaar oortyd kan werk. Iemand het my juis met trots vertel dat hy al 6 Bont Houtkappers in sy koejawelboom geklits het.

Die glasogie en tiptol is glad nie familie van mekaar nie, ek plaas hulle bloot saam omdat hulle die wit om hul oë in gemeen het wat hulle die kenmerkende kraalogies gee. Die verskil is dat die glasogie (of ook “meel-ogie” in die volksmond) se kraaltjies uit klein, wit veertjies bestaan terwyl tiptol s’n wit, kaal ringetjies is.

Die glasogie is seker een van die bekendste voëltjies in ons tuine, al is hy so klein. Trouens, hy kom wyd oor die wêreld voor. Ek het hom tot in Taiwan raakgeloop! Hy verkies nektar en insekte op sy bord, maar sal nie by ‘n beskikbare vrug verbygaan nie – veral die sap van lemoene en ryp avokadopere skep ‘n groot versoeking! Al het hy nie ‘n lang snawel nie, is sy tong spesiaal aangepas om by die nektar in blomme uit te kom.

En wat hom ‘n bonus in die tuin maak, is dat hy ‘n groot voorliefde vir plantluise het. Sonder glasogies sou die probleem na my mening veel groter gewees het! Glasogies beweeg gewoonlik in groepies deur die takke op soek na versnaperinge. Daar is ook niks met hul stembande verkeerd nie, want hulle is van die grootste raasbekkies vroegoggend met dagbreek. Hulle raak nie so mak soos kwikkies en janfrederikke by jou agterdeur nie, maar sal tog gereeld van die voëlbad in jou tuin gebruik maak.

Daar is drie tiptolfamilies in Suid-Afrika en hulle word hoofsaaklik aan hul oë uitgeken. By ons is die Kaapse Tiptol met die wit ogie, in die droër streke (so na as Prins Albert net anderkant die berg) die Rooi-oogtiptol en meer Oos die Swartoogtiptol. Hulle name in die volksmond is o.a. “Toppie” as gevolg van die kroontjie wat hulle soms wys deur die veertjies te lig, en “Bottergat” as gevolg van hul geel onderkante. Tiptolle is raserige voëls, en die desibels neem dramaties toe as daar gevaar is, soos wanneer ‘n slang, kat of uil dit sou waag om hul gunsteling boom te besoek.

Tiptolle geniet ook insekte en nektar soos die glasogies, maar vrugte is hul groot liefde, wat hulle meer van ‘n vyand kan maak. Iemand het gesê dat dit maklik is om die skade wat voëls in landerye of boorde aanrig vas te stel, maar dat dit onmoontlik is om die goed wat hulle doen deur die eet van skadelike insekte, te meet. Moenie die positiewe rol van die tiptol en glasogie in jou tuin onderskat nie.

Source: Reinderd Visser
(Illustrasies uit SASOL se “Birds of Southern Africa“)

WIT REIERS VAN DIE KLEIN KAROO

Bosluisvoëls – dit is hoe ek die wit Veereiers (Cattle Egret), wat ‘n mens so dikwels op landerye en veral tussen beeste sien, geken het. Ook nie sonder rede nie, want al is bosluise maar ‘n klein deel van hulle diëet, sal hulle nie ‘n bosluis op ‘n bees of perd (en in die wilde areas op buffels en selfs olifante) los nie. Het jy al gekyk hoe hulle op die rug van ‘n koei sit en rondsoek vir ‘n versnaperinkie? Die ander rede waarom hulle so gereeld saam met vee gesien word is omdat, soos die vee loop en wei, insekte tussen hulle bene opvlieg en die reiers hulle dan makliker sien om te vang. Handig, nie waar nie?

Veereiers is geneig om in swerms te wei (ook waar geploeg word) en kan so in die proses groot hoeveelhede sprinkane en wurms verorber, wat hulle natuurlik goeie vriende van boere maak. Ek lees dat hulle al gehelp het om insekplae op plekke onder beheer te bring! Veereiers is die kleinste van ons wit reiers, en in die broeityd vanaf Augustus het die mannetjies sulke pragtige oranje pluimvere (nou nie so groot soos volstruise s’n nie) op die kop, nek en bors. Terloops, volwasse veereiers het ‘n oranje-geel bek en geel bene, net ingeval jy hulle dalk met die ander wit reiers wil vergelyk. Ja, daar is ten minste nog 3 ander wat hier by ons rondloop.

Anders as veereiers wat lief is om eerder weg van water af te jag, sien jy die Kleinwitreiers (Little Egrets) byna altyd by damme of langs riviere. Hulle is maklik om uit te ken, want bekyk jy hul swart bene, sal jy sien dat dit lyk of hulle met hulle pote in geel verf gaan staan het. Die tone is sommer so ‘n helder geel. Hulle is elegante voëls met pragtige wit pluime in die broeityd, en met daardie lang swart snawel vang hulle veral vissies, paddas en water-insekte.

Dis nogal lekker om een dop te hou terwyl hy jag – hy sal soms so met die een voet in die modder trap-trap om potensiële kos op te jaag, net om dan met sulke koddige maar vinnige swenke al agter die systappende padda of vissie aan te hardloop tot hy dit vang.

Die Grootwitreier (Great White Egret) is nie so algemeen hier by ons nie, maar tog ‘n pragtige voël om dop te hou as jy hom wel te siene kry. Hy is wat sy naam sê – groot en wit. En as jy regtig wonder of dit nie dalk ‘n Kleinwitreier is waarna jy kyk nie (veral as die pote onder water is), kyk na sy snawel, dit is duidelik geel, behalwe in die broeiseisoen in die middel van die somer, wanneer dit swart is. Van broeiseisoen gepraat, soos die ander wit reiers het die Grootwitreier-mannetjies ook pragtige pluime op die rug om by die dames mee te spog.

Hulle jag ook langs en in die water. Die Geelbekwitreier (Intermediate Egret) is nog skaarser hier by ons as die Grootwitreier en ‘n ongeoefende oog wat sy geel snawel sien mag hom maklik met eersgenoemde verwar. Hy is darem ietwat kleiner en sy bene is nie heeltemal swart nie.

 

 

 

Source: Reinderd Visser
(Illustrasie uit SASOL se “Birds of Southern Africa“)

WOELIGE KOEKOEKE

Nou ja, vandag leer ons dat mooi en ordentlik nie altyd bymekaar pas nie. Hierdie 3 kalante, wat gereeld by ons in die Klein-Karoo kom kuier, is regtig mooi voëls, maar in die voëlwêreld het hulle maar ‘n vrotterige reputasie! Meer daaroor later, kom ons gee hulle net eers name. Soos die Bokmakierie van verlede keer het al drie van hulle hul Afrikaanse name aan die geluide wat hulle maak te danke. Seker die bekendste is die onmiskenbare roep van die Piet-My-Vrou (Red-chested Cuckoo).

Dan is daar die “die-die-die-diederik” van die Diederikkie (Diederick Cuckoo). En het jy al die duidelike “mei-tjie . . mei-tjie” roep van die gelyknamige Meitjie (Klaas’s Cuckoo) gehoor? Die Engelse name verklap dat hulle deel is van die koekoek-familie – ‘n naam wat natuurlik ook met geluid te make het. In Europa is daar een wat saggies “koek-koek” roep en wat onder andere die inspirasie vir gedigte, musiek en die koekoek-horlosies was. Maar dis waar die inspirasie ophou – hulle is andersins maar karnallies.

Maar waarom Karnallies? Want – as jy nog nie weet nie – hierdie gevleueldes hou nie van self kinders grootmaak nie. Hulle het die kuns vervolmaak om hul eiers in ander voëls se neste te lê en die opvoeding aan die arme surrogaat-moeders (en vaders) oor te laat. Erger nog, die koekoek-kuiken word gewoonlik eerste gebore en begin dadelik om die ander eiers uit die nes te skop. Hy/sy wil ALLEEN eet! Wat ook merkwaardig is, is dat die koekoek se eier meeste van die tyd op ‘n haar na soos dié van die ongelukkige gasvrou s’n lyk. Die “wreedste” vir my is dat koekoeke nogal groterige voëls is en dat die gas-ouers meestal baie kleiner is, tot so klein as suikerbekkies!! Wel, die natuur is nie vir sissies nie en dit is deel van die natuur.

Die Piet-my-vrou se roep is sekerlik nie onbekend onder ons nie, maar dit beteken nie dat jy hom gereeld sal sien nie. Hy is maar sku en sit nie maklik oop en bloot en roep nie. Trouens, hy kan veral in die nag nogal ‘n ergernis wees wanneer hy vir ure aaneen in die donker roep. Gelukkig is hy net gedurende broeityd so aanhoudend. Ander tye is hy stiller. Terwyl manlief roep, is vroutjie natuurlik baie stil en soek na veral Janfrederikke se neste.

Vind sy een sal sy blitsvinnig haar eier lê en een uit die nes haal, net ingeval die gasvrou kan tel. Wel, gasvrou mag dalk kan tel, maar sy is beslis kleurblind, want toevallig lyk die Piet-my-vrou se eier glad nie soos die van die Janfrederik s’n nie. Wintertyd trek Piet-my-vrou en sy familie (al ontmoet die kinders nooit eens hul ouers nie) na die trope vir ‘n lekker warm wintervakansie.

Beide die Meitjie en die Diederikkie trek ook gewoonlik in die winter trope toe, maar ek het al Meitjies gehoor wat in die winter hier roep – seker te lui gewees om die karavaan te pak. Hulle is twee regtige mooi voëls, met die groen rugvere wat glim in die son. Die spikkels op die Diederik se vlerke onderskei hom van die Meitjie. Soos meeste koekoeke is hul gunsteling gereg harige wurms. Wat vir ander voëls giftige kos is, is vir hulle ‘n lekkerny! Diederikke is lief om hul eiers in veral vinke se neste te lê – ek het een dag aanskou hoedat ‘n diederik-wyfie worstel om uit ‘n vink se geweefte nes te kom nadat sy die eier gelê het. Meitjies verkies weer bontrokkies en selfs suikerbekkies se neste. Hoe sy in daardie klein toe nessie kom sal net sy weet! Voorwaar woelige voëls, wat ander se lewens goed kan versuur!!

Source: Reinderd Visser
(Illustrasies uit SASOL se “Birds of Southern Africa“)

Mammals

Mammals

DIFFERENT MAMMALS

Aardvark

Erdvark (Orycteropus afer)Aardvark

Size: Length (including tail) 1,6m; weight 52kg.
Colour: Pinkish or yellowish grey skin sparsely covered in coarse reddish brown hairs. The skin is apt to be stained darker, depending on the colour of the earth in which the animal burrows.
Habitat: Wherever termites and ants are available as food, and where the earth is soft enough for burrowing. The aardvark avoids stony or rocky terrain and high forest, but occurs in open woodland and grassland areas.

Aardwolf

Aardwolf (Proteles cristatus)Aardwolf

Size: Shoulder height 50cm; weight 9 kg.
Colour: Sandy to yellow-brown body with four to eight dark brown, vertical stripes. Black feet and tail tip. Thick, distinctive dorsal mane from back of head to base of tail, which is tipped with black.
Habitat: Open sandy plains and scrubland.

Bat-eared Fox

Bakoorjakkals (Otocyon megalotis)Bat-Eared Fox

Size: Shoulder height 30cm; weight 4kg.
Colour: A brindled greyish brown, with underpartsa little paler. Both the upper side and the end oj bushy tail are black, as are the feet andlegs. Muzzle dark brown to black; chin and area around the mouth black; backs of ears brown, and insides of ears white.
Habitat: Open country with low rainfall: semidesert scrub, grassland, bushveld.

Black-backed Jackal

Rooijakkals (Canis mesomelas)Black-Backed Jackal

Size: Shoulder height 38cm; weight (m) 8 kg, (f) 7kg.
Colour: A predominantly black ‘saddle’, shot through with silver, runs from neck to root of the tail. The long bushy tail is mostly blackish; head, flanks and legs reddish brown. Throat, chest and belly whitish. In the west of the distribu-tionarea, male’s winter
Habitat: A wide range of habitats (excluding forests), particularly drier areas and open terrain.

Cape Fox

Silwerjakkals (Vulpes chama)
Cape Fox
Size: Shoulder height 35cm; weight 3 kg.
Colour: A speckled silvery grey, the underparts being whitish with a huff or reddish tinge to the chest. The hairs of the long,’bushy tail are huff-white at their bases, hut dark brown or black towards the tip. The head is reddish, hut with much white hair on the
Habitat: Open country, whether semi-desert scrub, grassland orfynhos – often in the vicinity of a rocky outcrop.

Caracal

Rooikat (Felis caracal)Caracal

Size: Shoulder height 45cm; weight (m) 15kg, (f)11 kg.
Colour: Coat reddish, varying from pale sandy to brick-red along back with paler, usually spotted, abdomen. The face has black and white markings. The pointed ears end in long black tufts.
Habitat: Open, dry country from semi-desert to savanna. Sleeps in crevices among rocks, stones or fallen trees, dense cover, trees or appropriated burrows.

Chacma Baboon

Kaapse Bobbejaan (Papio ursinus)Chacma Baboon

Size: Length (including tail)(m) 1,5m, ( f ) 1,2m; weight (m)32kg,(f)16kg.
Colour: Dark yellowish brown, sometimes greyish, coat. Pale chest; dark hair along crown and spine. ‘Shepherd’s crook’ tail dark brown. Pink patches around female rump become scarlet and swollen when she is in season.
Habitat: Rocky country, savanna (usually with abundant trees) and mountainous areas. Nearby water essential.

Common Duiker

Gewone duiker (Sylvicapra grimmia)

Size: Shoulder height (m) 50cm, (f) 52cm; weight (m) 18 kg, (f) 21 kg.
Colour: A greyish buff throughout, except for white underparts. Front of forelegs dark brown; dark line runs from forehead down to the nostrils.
Habitat: Bush country, although it happily adapts to other types of habitat, with the exception of thick forests and vegetation-less desert.

Grey Rhebok

Vaalribbok (Pelea capreolus)Grey Rhebok

Size: Shoulder height(m) 0,8m, (f) 0,7 m; weight 20 kg
Colour: Grey-brown or grey above, but slightly yellowish brown on face and legs. Underparts, including underside of tail, white. Whitish patches around eyes, and on muzzle and chin.
Habitat: Rocky hills or mountain slopes, and rocky plains with grass cover.

Klipspringer

Klipspringer (Oreotmgus oreotragus)
Klipspringer
Size: Shoulder height (m) 60cm, (f) 65cm; weight (m)
Colour: From yellow to grey, speckled with brown; the top
Habitat: Rocky locations, including mountains and gorges.

Kudu

Koedoe (Tragelaphus strepsiceros)Kudu

Size: Shoulder height (m) 1,45m, (f) 1,25m; weight(m) 250 kg, (f) 200 kg.
Colour: Greyish fawn, with narrow, vertical white stripes on sides and rump, a short ridge of white hair along the centre of the hack, and a white chevron between the eyes. Males have a brown and white fringe from throat to base of neck.
Habitat: Savanna woodland or scrub, especially close to water and rocky terrain.

Leopard

Luiperd (Panthem pardus)
Leopard
Size: Shoulder height 75cm; weight (m) 60 kg, (f)32kg.
Colour: Ground colour is off-white to golden, with black spots on the legs, shoulders, head and hindquarters, and irregular, light-centred ‘rosettes’ scattered profusely over the back and sides.
Habitat: Wide range of habitats includes open savanna, forested terrain, mountains and rocky hills.

Mountain Reedbuck

Rooiribbok (Redunca fulvorufula)Mountain Reedbuck

Size: Shoulder height (m) 0,8m, (f) 0,7m; weight (m) 30 kg, (f) 28 kg. Only males carry the short, ridged, forward-curving horns.
Colour: The soft, woolly coat is reddish grey or grey fawn. Undersides, including underside of short brown bushy tail, are white. Black gland patches under ears.
Habitat: Dry, grassy hill- slopes and lower mountain-slopes, usually near water.

Porcupine

Ystervark (Hystrix africaeaustralis)Porcupine

Size: Length 84cm; weight 17kg.
Colour: White, black-ringed quilb and spines cover flanks, tail and upper part of body, while the head carries a crest of flexible black spines with white tips. Remainder of body has coarse black hair, fading to brown in older animals.
Habitat: A wide variety of habitats including mountains, though not forests or dry desert.

Rock Hyrax

Dassie (Procavia capensis)Rock Hyrax

Size: Length 55cm; weight(m)3,75kg, (f) 3,55kg.
Colour: Various shades of brown, from dark brown to yellow-grey, with brindling. Neck and flanks lighter than back. Throat and belly lighter brown, but not whitish. A patch of long black hair covers dorsal gland in centre of back.
Habitat: Rocky outcrops in the form of koppies, krantzes and mountain slopes.

Small Grey Mongoose

Kleingrysmuishond (Galerella pulverulenta)

Size: Length (including extended tail) 64 cm; weight (m)900g,(f)680g.
Colour: Speckled dark grey (but lighter grey in dry regions). Underparts occasionally lighter and less speckled.Small Grey Mongoose
Habitat: Wide range of habitats, from dry bush country to rocky slopes and forested areas, and from coast to Karoo.

Springhare

Springhaas (Pedetes capensis)Springhare

Size: Length (including tail) 80cm; weight 3 kg.
Colour: Varies from pale reddish brown to yellowish grey, and with a slightly darker tail broadly black at the tip. The underparts (including tail) and insides of legs white or whitish yellow. Large, dark eyes which shine bright yellow-orange in torchlight.
Habitat: Sandy ground covered with scrub, low bush or low grass; this includes the fringes of cultivated land and vleis.

Steenbok

Steenbok (Raphicerus campestris)Steenbok

Size: Shoulder height 52cm; weight 11 kg. Only the ram has horns – usually about 9cm long.
Colour: Varies above from a rich reddish brown to a lighter reddish fawn. There is a dark patch above the nose, and a dark marking on the forehead. Throat, eyebrows, abdomen, underside of tail and insides of legs are white. Upperside of tail reddish fawn.
Habitat: Prefers flat, open country, grassy or lightly wooded, and avoids mountain slopes. Cover is essential.

Suricate

Stokstertmeerkat (Suricata suricatta)Suricate

Size: Length (including tail) 50cm; weight 730g.
Colour: Varies from silver-grey to greyish brown, with irregular, often indistinct brown or black bands across the back, from shoulders to base of tail. Head and throat often whitish, with dark nose, ears and circles around eyes. The tip of the tail is also dark.
Habitat: Arid, open country, including scrub, grassland and fynbos in the southwestern Cape.

Yellow Mongoose

Witkwasmuishond (Cynictis penicillata)Yellow  Mongoose

Size: Length (including tail) 50cm; weight 590 g.
Colour: A varied spectrum, from brindled grey in the north of the distribution area (Botswana) to reddish yellow or yellowish brown in the south (Cape) – with intermediate gradations of colour. Southern specimens have a white- tipped tail; Botswana specimens have uniformly grey tails. The eyes are yellow.
Habitat: Open country, from semi-desert scrubland to grassland in the vicinity of vleis. The species avoids deserts, thick bush and forests.